Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 2/1 bl. 21-26
  • Die gees van die Christelike bediening

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die gees van die Christelike bediening
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Pionierdiens en die Christelike bediening
  • Ons moet ons gawes gebruik
  • Pionierdiens—’n gesinsaangeleentheid
  • Openbaar die gees van die bediening
  • Die seëninge van die pionierbediening
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1997
  • Pioniers bring en ontvang seëninge
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • “Jy sal ’n goeie pionier wees!”
    Ons Koninkryksbediening—2010
  • Jehovah onderskraag sy leër voltydse knegte
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 2/1 bl. 21-26

Die gees van die Christelike bediening

“Wees vurig van gees; dien die Here.”—ROMEINE 12:11.

1. Hoe bewys ’n individu dat hy ’n bedienaar is?

DAAR is slegs een manier waarop ’n persoon kan bewys dat hy ’n Christenbedienaar is—deur sy dade. Dit blyk uit die betekenis van die Griekse woord vir bedienaar, di·a’ko·nos. Een deskundige sê: “Di·a’ko·nos sien op die dienaar in sy bedrywigheid vir die werk . . . Die woord sien op iemand wat die bevele van ’n ander, veral dié van ’n heer, uitvoer” (Studies in the Vocabulary of the Greek New Testament, deur Kenneth S. Wuest). Die skrywer beklemtoon hier dat wanneer ’n persoon ’n bedienaar is, hy nie soseer ’n posisie beklee nie, maar besig is om iets te doen.

2. Watter bewys is daar dat Timotheüs en Paulus ware bedienaars van God was?

2 Die apostel Paulus het byvoorbeeld van Timotheüs gesê: “Maar julle ken sy beproefdheid, dat hy, soos ’n kind teenoor sy vader, saam met my in die evangelie gedien het” (Filippense 2:22). Timotheüs het hard gewerk in die bediening. Niemand wat sy onbaatsugtige arbeid gesien het, kon getwyfel het dat hy ’n ware bedienaar van God is nie. Paulus het ook aan die Christene in Korinthe geskryf: “Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan. Dit is tog duidelik dat julle ’n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie maar met die Gees van die lewende God” (2 Korinthiërs 3:2, 3, NTP). Wie kon daaraan twyfel dat Paulus ’n bedienaar van God was wanneer hy hierdie florerende gemeente gesien het en geweet het dat God dit deur Paulus se bedieningswerke in aansyn gebring het?

3. Beskryf die gees van ’n ware Christenbedienaar.

3 Onthou egter dat bedienaarskap nie bloot iets vormliks is nie. Ons moet die gees van die Christelike bediening verkry. Timotheüs het saam met Paulus “gedien”. Die apostel self het gesê: “Weë my as ek die evangelie nie verkondig nie!” (1 Korinthiërs 9:16). Hy het ook geskryf: “Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad mag word nie; maar in alles beveel ons ons aan as dienaars van God, met baie geduld, in verdrukkinge, in node, in benoudhede.” Ja, Paulus het toewyding, ywer en dringendheid aan die dag gelê, asook ’n bereidwilligheid om enigiets te verduur wat nodig was om sy bediening as ’n Christen te vervul, selfs om ‘alles prys te gee’ (2 Korinthiërs 6:3-10; Filippense 3:8). Alle ware Christenbedienaars moet ’n soortgelyke gees hê.—Lukas 9:23, 24.

4. Hoe kan ’n persoon ’n bedienaar wees as hy die meeste van sy tyd aan die nakoming van ander verpligtinge wy?

4 Net soos in die dae van die apostels is party bedienaars vandag manne of vroue met ’n gesin en sekulêre werk. Ander is skoliere. Hoe kan hulle dan sê dat hulle bedienaars is? Wel, hulle kom hulle ander verpligtinge na en geniet ’n redelike hoeveelheid ontspanning. Maar hulle bediening is nie vir hulle van minder belang as hierdie ander dinge nie. Hulle pas dit ook nie maar net om hulle ontspanning in of wy net ’n bietjie tyd elke maand daaraan as ’n soort gebaar nie. Hulle “soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid”.—Mattheüs 6:33.

Pionierdiens en die Christelike bediening

5. Wat is ’n goeie manier om die gees van die Christelike bediening te openbaar?

5 Diegene wat so ’n gees openbaar, is ware Christenbedienaars, al het hulle ook gesinsverantwoordelikhede of sekulêre verpligtinge. Maar party kan die gees van die bediening in ’n besonder lonende wyse openbaar. Hoe? Deur pionierdiens (voltydse predikingswerk) te doen—hetsy ’n beperkte tyd lank as hulppioniers of langer. Hulle kan dalk selfs by een van die Wagtoringgenootskap se takkantore werk of sendingwerk doen of reisende bedienaars wees wat verskillende gemeentes besoek en opbou.

6. Wat is party van die geldige redes waarom elke getuie van Jehovah wat in die posisie verkeer om pionierdiens te doen dit behoort te doen? (Lukas 6:46-49)

6 Waarom doen baie van Jehovah se Getuies pionierdiens wanneer hulle, indien hulle ’n bietjie minder tyd aan die diens van God wy, die lewe vir hulself geriefliker kan maak? Omdat hulle Jehovah wil loof en vir ander van sy voornemens wil vertel. Hulle weet ook dat ‘die wêreld en sy begeerlikheid verbygaan, maar dat hy wat die wil van God doen, vir ewig bly’ (1 Johannes 2:17). Omdat hulle dit en God se beloftes glo, wil hulle graag soveel tyd moontlik wy aan die verkondiging van die goeie nuus sodat diegene wat gehoor gee ook die wil van God kan doen en die ewige lewe kan verkry. Hulle weet bowendien dat ons in die tyd lewe wanneer “hierdie evangelie van die koninkryk . . . verkondig [sal] word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Hulle onthou dat Jesus vir sy volgelinge gesê het: “Die oes is wel groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here van die oes, dat Hy arbeiders in sy oes mag uitstuur” (Mattheüs 9:37, 38). Hulle besef dat hierdie gebed vandag selfs meer gepas is as in Jesus se dag. Maar hoe kan hulle hierdie gebed in opregtheid doen as hulle self nie so ’n volle aandeel moontlik in die Christenbediening het nie?

7. Watter vraag moet elke Christenbedienaar homself afvra?

7 Elke Christenbedienaar moet waarlik biddend oorweeg of hy pionierdiens kan doen of nie. ’n Egpaar in Suid-Afrika wat al vyftien jaar lank pionierdiens doen, het gesê: “Waarom doen ons pionierdiens? Sou ons dit ooit voor Jehovah kon verantwoord as ons dit nie gedoen het nie?” Baie wat nie pioniers is nie, kan gerus die verwante vraag stel: ‘Kan ek werklik die feit dat ek nie ’n pionier is nie voor Jehovah verantwoord?’

Ons moet ons gawes gebruik

8. Hoe kan talle jongmense, net soos Timotheüs, in die posisie verkeer om pionierdiens te doen?

8 Timotheüs het ’n besondere geestelike gawe gehad wat hy met goeie gevolg in sy bediening gebruik het (2 Timotheüs 1:6). Ons ontvang nie vandag besondere gawes van die gees nie, maar ons het ander gawes, en hierdie gawes maak dit dikwels moontlik om pionierdiens te doen. Jongmense wat matrikuleer, het byvoorbeeld gawes. Hulle het geleerdheid. Net soos Timotheüs het hulle ook hulle jeug. Hulle het gesondheid en krag, en is ongekunsteld en onbekrompe. Hulle allergrootste gawe is moontlik tyd. Hulle gaan oor die algemeen nie gebuk onder talle verantwoordelikhede nie. Die jeug is dus ’n uitstekende tyd om pionierdiens te oorweeg.—Prediker 12:1.

9. Watter gawes het ouer persone en ander wat hulle in staat stel om te pionier?

9 Ouer persone het ook gawes. ’n Afgetrede egpaar met volwasse kinders het moontlik ook tyd wat hulle kan gebruik om pionierdiens te doen. Hulle is dikwels finansieel bestendig, het waardevolle lewensondervinding verkry en het oor baie jare ’n reputasie vir getroue diens gekry (Spreuke 16:31). Al hierdie dinge kan in die pionierdiens gebruik word. Ander het ook gawes. Party huisvroue het die gawe om te organiseer, sodat hulle hulle gesinsverantwoordelikhede kan nakom en pionierdiens kan doen. Party gesinshoofde met ’n soortgelyke gawe kan pionierdiens doen terwyl hulle geestelik en materieel vir hulle gesinne sorg. Het jy die gawe om te praat, te onderrig of met mense klaar te kom? Dink net in watter groter mate sulke gawes in die pionierdiens gebruik kan word.

10. (a) Waarom huiwer party om pionierdiens te doen, maar hoe het een jong paartjie hierdie probleem opgelos? (b) Hoe kan ’n persoon wat dit moeilik vind om te preek, baat vind by die pionierdiens?

10 Party huiwer om pionierdiens te doen omdat hulle wonder of hulle kop bo water sal kan hou. ’n Verloofde paartjie het hierdie vrees saam bespreek. “Ons het tot die slotsom gekom dat dit te wyte was aan ’n gebrek aan vertroue in Jehovah se vermoë om te voorsien”, het hulle gesê: “Nadat ons Mattheüs 6:25-33 hersien het, waar Jesus geleer het dat al die lewensbenodigdhede voorsien sou word indien ons eers die koninkryk soek, het ons ons dit ten doel gestel om gewone pioniers te word.” Kort daarna is hulle getroud, het hulle uit goed besoldigde betrekkings bedank en het hulle pioniers geword. Ander vind weer die predikingswerk self moeilik. Is dit met jou die geval? Dan kan pionierdiens help. Trouens, die beste manier om gewoond te raak aan die huis-tot-huis-bediening is om ’n ruk lank pionierdiens te doen. Een bedienaar wat hulppionierdiens gedoen het, het gesê: “Daar was ook ’n ander seën. Ek was meer ontspanne in my huis-tot-huiswerk. In plaas daarvan om elke deur te vrees, het ek daarna begin uitsien om met mense te gesels.”—Kyk Filippense 4:13.

Pionierdiens—’n gesinsaangeleentheid

11. Hoe is Timotheüs geseën in die opleiding wat hy “van kleins af” ontvang het?

11 Timotheüs is “van kleins af” progressief vir die bediening voorberei (2 Timotheüs 3:14, 15). Sy moeder en grootmoeder het klaarblyklik die gees van die Christelike bediening gehad en het hom daarmee besiel. Toe Paulus in Listre aangekom het, was Timotheüs, wat deur niks verhinder is nie, gereed om by hom aan te sluit in die voltydse predikingswerk.—Handelinge 16:1-5.

12. Hoe het baie ouers getoon dat hulle die gees van die Christelike bediening het?

12 Baie Christene is vandag bly dat hulle ouers ’n soortgelyke gees geopenbaar het. Alice, ’n Ghanese bedienares, het gesê: “Feitlik al die Getuies wat by ons tuisgegaan het, was voltydse predikers. . . . Watter voorreg was dit tog om in so ’n teokratiese huis groot te word! My vader het ’n begeerte na die voltydse predikingswerk by al sy kinders ingeskerp en die broers en susters wat sulke werk gedoen het as voorbeelde voorgehou. Dit was net logies dat ek dadelik as ’n gewone pionier ingeskryf het nadat ek die skool verlaat het.” Ed, ’n jong bedienaar in die Verenigde State, het gesê: “Myns insiens was die feit dat beide my ouers twaalf jaar lank sendelinge in Suid-Amerika was en selfs daarvoor pioniers was iets wat my baie gehelp het. Hulle het dus altyd die vreugdes en voorregte van die pionierdiens aan my voorgehou, asook die seëninge wat Jehovah op pioniers uitstort . . . Dit is iets wat alle ouers behoort te doen, want dit het my beslis gehelp. Hulle kan jongmense aanspoor om Jehovah van ganser harte en soveel moontlik te dien.”

13. Hoe word pioniers gehelp om probleme te bowe te kom?

13 Die pionierdiens verg opofferinge, maar ware bedienaars is bereid om hierdie opofferinge te maak as gevolg van hulle liefde vir Jehovah. Daarby is die beloninge groot. Michael en Theresa, ’n egpaar in die Verenigde State, het dit soos volg gestel: “As jy geestelik sterker wil word, is dit waar jy moet wees—in die pionierdiens. Jy word meer afhanklik van Jehovah en minder afhanklik van jouself. Hoewel ons as pioniers finansiële probleme gehad het, het Jehovah altyd in ons behoeftes voorsien. Dit is die veiligste plek om te wees.”

14, 15. (a) Hoe doen die ouers van pioniers soms ook opofferinge? (b) Watter voorbeelde hiervan het ons in Bybeltye? (c) Hoe kan ouers vandag die gees van die Christelike bediening aan die dag lê?

14 Die ouers van pioniers doen ook opofferinge. Dit is vir hulle moeilik om te sien hoe hulle kinders “die nessie verlaat” en op ’n ander plek, moontlik in ’n ander land, pionierdiens gaan doen. In sekere opsigte is sulke ouers soos Hanna en Elkana, wat hulle eersgeborene, Samuel, gestuur het om Jehovah by die tabernakel in Silo te dien (1 Samuel 1:1-3, 24-28). Of ons kan hulle vergelyk met Jefta, wat sy enigste dogter aan Jehovah se diens afgestaan het en sodoende enige vooruitsig op kleinkinders prysgegee het (Rigters 11:36-40). Jehovah onthou en beloon gewis die onselfsugtigheid van sulke ouers.

15 Dit verg dalk selfs finansiële opofferinge. In party lande maak ouers op hulle kinders staat om vir hulle te sorg wanneer hulle bejaard is. Maar ouers wat waarlik die gees van die Christelike bediening het, aarsel nie as gevolg hiervan om hulle kinders aan te spoor om pioniers te word nie. Toe ’n jong Ghanese man, ene Justice, pionierdiens wou doen, het sy moeder ingestem en besluit om op Jehovah staat te maak vir lewensbenodigdhede. Later het sy vir haar seun gesê dat Jehovah op wonderlike wyse vir haar gesorg het sedert sy daardie besluit geneem het. Dit is nog ’n manier om ‘eers God se koninkryk te soek’, en Jehovah versaak nie diegene wat dit doen nie.—Mattheüs 6:33, 34.

16. Waarom moet diegene in die voltydse diens aangespoor word om daarmee voort te gaan so lank omstandighede dit toelaat?

16 Dit is jammer om van tyd tot tyd te hoor van ouers wat hulle kinders probeer oorreed om uit die pionierdiens te tree—nie omdat hulle hulle hulp nodig het nie, maar omdat hulle meen dat hulle kinders lank genoeg in hulle toewysings was en dat dit nou tyd is om huis toe te kom, ’n gesin te hê en ’n “normale” lewe te lei. Maar ons lewe nie in normale tye nie, en namate die einde van hierdie stelsel nader kom, sal almal se lewe al hoe minder normaal word. Pioniers, lede van Bethelgesinne, reisende bedienaars en sendelinge moet aangespoor word om te volhard.—Titus 2:12.

Openbaar die gees van die bediening

17. (a) Hoe strek die werk van pioniers en ander voltydse knegte die gemeentes tot voordeel? (b) Hoe kan almal toon dat hulle die gees van die Christelike bediening het? (Hebreërs 13:15, 16)

17 Die apostel Paulus het geskryf: “[God] het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus” (Efesiërs 4:11, 12). Daar is vandag reisende bedienaars, pioniers en sendelinge wat die meeste van hulle tyd aan die ‘evangelisasiewerk’ wy, asook lede van Bethelgesinne wie se bedieningswerk ander vorme van diens aan die gemeentes insluit. Hulle help om die gemeentes op te bou. (Vergelyk Handelinge 16:4, 5.) Alle Christenbedienaars behoort gevolglik in die voltydse diens belang te stel. As hulle pioniers kan word, moet hulle dit doen. As hulle self nie pioniers kan wees nie, moet hulle diegene wat dit kan doen, aanspoor om dit te doen.—Romeine 12:11.

18. Waarom is die Christelike bediening vandag van lewensbelang?

18 Daar bestaan ’n groot behoefte aan toegewyde getuies van Jehovah met so ’n gees. Duisende reageer nog steeds gunstig op die verkondiging van die goeie nuus, selfs in gebiede wat oor die jare heen dikwels ’n getuienis ontvang het. Vir hierdie persone wat gunstig gereageer het, het die feit dat ’n Christenbedienaar die tyd afgestaan het om hulle te besoek en vir hulle van God se voornemens te vertel hulle die geleentheid gebied om die ewige lewe te verkry (Romeine 10:13, 4; 1 Timotheüs 4:16). Hoeveel wag nog om die goeie nuus te hoor? Laat ons, of ons nou pioniers kan wees of nie, met ’n gevoel van dringendheid en die gees van selfopoffering te werk gaan. Mag ons gewillig wees om hard te werk in die Christelike bediening.—Galasiërs 6:10.

Besef jy ten volle

◻ Wat dit beteken om die gees van die Christelike bediening te hê?

◻ Wat ’n “vormlike” bediening is, en wat daarmee skort?

◻ Waarom alle Christenbedienaars in die pionierdiens belang behoort te stel?

◻ Hoe alle toegewyde Getuies ’n pioniergees kan openbaar?

◻ Waarom die Christelike bediening vandag van lewensbelang is?

[Prent op bladsy 22]

Alle ware Christenbedienaars het die gees van Paulus en Timotheüs

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel