Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 2/1 bl. 16-21
  • Wie is vandag God se bedienaars?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wie is vandag God se bedienaars?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Bedienaar” in die Bybel
  • Die grootste bedienaar van die Woord
  • Die Christenbedienaar
  • God se hedendaagse bedienaars
  • Wie is vandag God se bedienaars?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2000
  • Wie is ’n bedienaar?
    Ontwaak!—2000
  • Wie is God se dienaars?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
  • Moet alle ware Christene bedienaars wees?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 2/1 bl. 16-21

Wie is vandag God se bedienaars?

“Ons . . . het Timotheüs, ons broer en God se bedienaar in die evangelie van Christus, gestuur.”—1 THESSALONICENSE 3:1, 2, “AMERICAN STANDARD VERSION”; KYK OOK DIE “AUTHORIZED VERSION”, “NEW WORLD TRANSLATION”.

1, 2. (a) Lyk dit of almal wat daarop aanspraak maak dat hulle bedienaars van God is hulle bediening behoorlik vervul? (2 Korinthiërs 11:13-15) (b) Waarom is dit belangrik om vandag God se ware bedienaars te kan herken? (2 Korinthiërs 5:18),

IN Sentraal-Amerika het geordende bedienaars van die Woord onlangs gehelp om ’n revolusie te organiseer wat ’n regering tot ’n val gebring het. In die Verre Ooste het ’n geordende bedienaar ’n lokval gereël waarin twee persone dood is. In suidelike Asië het geordende bedienaars arbeiders wat nie grond besit nie in hulle stryd teen die “verdrukkers” georganiseer.

2 Hierdie manne het almal beweer dat hulle Christenbedienaars is. Maar is hulle? Is dit wat ’n bedienaar van God behoort te doen? Dit is ’n belangrike vraag, aangesien dit grootliks deur die bedrywigheid van God se ware bedienaars is dat mense van hom leer en die geleentheid kry om vir ewig te lewe (1 Korinthiërs 3:5, NW; Johannes 17:3). Ons moet God se ware bedienaars kan herken. Maar hoe kan ons dit doen? Slegs die Bybel kan ons help.

“Bedienaar” in die Bybel

3. (a) Wat is party van die gebruike van die Griekse woord di·a’ko·nos? (b) Wat is die mees verhewe soort bediening?

3 Eerstens, wat is ’n bedienaar volgens die Bybel? In die oorspronklike taal van die Christelike Griekse Skrifte was die woord vir “bedienaar” (Engels, “minister”) di·a’ko·nos. Hoewel daar verskeie teorieë oor die oorsprong van hierdie woord bestaan, is die betekenis daarvan goed bekend. Dit beteken basies “’n dienaar”. In die Evangelies word di·a’ko·nos en verwante woorde dikwels gebruik met verwysing na diens aan diegene wat aan tafel is (Lukas 4:39; Johannes 2:5, 9). Maar in die Grieks van Jesus se dag het die woord dikwels ’n meer verhewe konnotasie gehad. In nie-Bybelse dokumente is dit gebruik met verwysing na godsdiensampsdraers, en in die eerste vertaling van die Hebreeuse Skrifte in Grieks is dit gebruik om hofdienaars en dienaars van die Persiese koning Ahasveros te beskryf (Ester 1:10; 6:3, Septuaginta). Die mees verhewe bediening waarin ’n mens natuurlik kan wees, is die diens van die allerhoogste God, Jehovah.

4. Hoe beskou ’n ware bedienaar van God homself?

4 Hoe beskou ’n ware bedienaar homself in die lig van die feit dat dit so ’n groot voorreg is om ’n bedienaar van God te wees? Hy moet nie trots of vol eiewaan wees nie. Hy aanvaar beslis nie vleiende titels soos “heilige vader” of “eerwaarde” nie (Mattheüs 23:8-12). Jesus het eerder getoon dat ’n ware Christenbedienaar nederig sou wees. Hy het gesê: “Elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees.”—Mattheüs 20:26, 27.

5. Wie se bevele gehoorsaam God se bedienaars, en wie vind baat by hulle bediening?

5 ’n Dienaar gehoorsaam sy heer se bevele. Maar in die proses kan sy werk iemand anders tot voordeel strek. As sy heer byvoorbeeld gaste het, gehoorsaam die dienaar sy heer deur in die behoeftes van die gaste te voorsien. Omdat Christenbedienaars “dienaars van God” en “dienaars van Christus” is, gehoorsaam hulle die bevele wat God deur sy Seun, Jesus Christus, gegee het (2 Korinthiërs 6:4; 11:23). Maar hulle werk strek ander mense tot voordeel. Paulus was byvoorbeeld ’n bedienaar vir “heidene” (Efesiërs 3:1-7). Sy bediening het groot seëninge meegebring vir diegene wat gunstig gereageer het. En dit het Jehovah God en Jesus Christus, wie se bevele hy gehoorsaam het, tot eer gestrek.

Die grootste bedienaar van die Woord

6. (a) Wie was die grootste bedienaar van die Woord? (b) Wie se bevele het hy gehoorsaam, en ten behoewe van wie was hy ’n bedienaar?

6 Maar wat moet ’n bedienaar nou eintlik doen? Ons kan hierdie vraag beantwoord deur te kyk na die bedrywighede van die grootste bedienaar van die Woord wat ooit gelewe het, Jesus Christus. Jesus het gesê dat “die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ’n losprys vir baie” (Mattheüs 20:28). Wie se bevele het Jesus as ’n bedienaar gehoorsaam? Ten behoewe van wie was hy ’n bedienaar? En hoe? Jesus het die bevele van sy hemelse Vader gehoorsaam (Johannes 8:28). Hy was aanvanklik slegs vir die Jode ’n bedienaar (Romeine 15:8). Maar sy bediening het eindelik alle regskape persone tot voordeel gestrek.—Johannes 3:16.

7. (a) Wat het Jesus as ’n bedienaar gedoen? (Markus 1:38) (b) Wat het Jesus nie gedoen nie?

7 Wat het Jesus as ’n bedienaar gedoen? Hy het hom onder meer glad nie met die politiek bemoei nie. Hy het by ten minste twee geleenthede die kans gehad om ’n politieke standpunt in te neem, maar hy het geweier (Markus 12:13-17; Johannes 6:15). Waarom? Omdat sy bediening bo die politiek verhewe was, en die voordele wat dit ingehou het, onder meer die ewige lewe, veel groter was as dié wat politieke optrede inhou. ’n Bedienaar van God kan bowendien nie ’n bedienaar van hierdie wêreld wees nie (Mattheüs 6:24). Jesus het gevolglik immer gesorg dat hy “nie van die wêreld is nie” (Johannes 17:14; Jakobus 4:4). Maar Jesus het gepreek en ander geleer. Hy het God se naam in die openbaar bekend gemaak. Hy het verkondig dat God se koninkryk die enigste hoop vir die mensdom is. Hy het vir sy dissipels God se hoë morele standaarde geleer en hulle opgelei om hom in die bediening te volg. Laastelik, hy het sy bediening tot ’n hoogtepunt gevoer deur sy lewe vir die mensdom op te offer.—Mattheüs 4:17; 5:27-32; 20:28; Johannes 17:3-6.

8. Waarom bestudeer hedendaagse, ware bedienaars van God Jesus se bediening noukeurig?

8 Jesus is ’n voorbeeld vir almal “om sy voetstappe noukeurig na te volg” (1 Petrus 2:21, NW). Slegs diegene wat Jesus Christus se bediening noukeurig navolg, kan hulle vandag met reg God se bedienaars noem. As ons ondersoek instel na die bedrywigheid van Christenbedienaars in die jare na Jesus se dood sal ons sien wat dit behels het.

Die Christenbedienaar

9. Hoe is Jesus sowel as Paulus as bedienaars bekwaam?

9 Eerstens, wat het ’n dienaar van God in daardie dae as ’n bedienaar gekwalifiseer? Die meeste bedienaars in die valse Christendom ontvang vandag dokumente van ’n kweekskool of universiteit wat hulle status aangee. Dit is hulle kwalifikasies. Maar Jesus het nie so ’n dokument gehad nie. Hy was ’n gekwalifiseerde bedienaar omdat God hom as sodanig gesalf het (Lukas 4:18, 19). Die apostel Paulus het eweneens gesê: “Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van ’n nuwe verbond te wees” (2 Korinthiërs 3:5, 6, NTP). God maak dus sy eie bedienaars bekwaam. Hoe?

10. Hoe het Timotheüs sy basiese opleiding ontvang om ’n bedienaar te wees?

10 Beskou die voorbeeld van Timotheüs, wat “God se bedienaar in die goeie nuus omtrent die Christus” was (1 Thessalonicense 3:2, NW). Paulus het aan hom geskryf: “Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het, en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.”—2 Timotheüs 3:14, 15; kyk ook verse 16 en 17.

11. Met wie se hulp het Timotheus hom vir die bediening bekwaam?

11 Beteken dit dat Timotheüs bloot die Bybel gelees en sodoende ’n bedienaar geword het? Nee. Ander bedienaars het hom eers daarvan “verseker”. Wie was hulle? Aangesien hy die Skrifte “van kleins af” geken het, moes hy ten minste ’n basiese onderrig van sy moeder en grootmoeder ontvang het, daar sy vader klaarblyklik nie ’n gelowige was nie (2 Timotheüs 1:5). Toe Paulus Timotheüs die eerste keer ontmoet het, het hy daarbenewens reeds “goeie getuienis gehad van die broeders in Listre en Ikonium” (Handelinge 16:2). Sy geloof is dus verder ontwikkel deur sy omgang met mede-Christene in hierdie gemeentes. Daarbenewens het verantwoordelike broers, en veral die bestuursliggaam van die Christengemeente in Jerusalem, in daardie dae aan verskillende gemeentes briewe geskryf om hulle geloof te versterk, en het reisende opsieners hulle deur hulle besoeke opgebou.—Hebreërs 10:23; Handelinge 15:22-32; 1 Petrus 1:1.

12. Wanneer het Timotheüs ’n bedienaar geword, en hoe het hy daarna voortgegaan om vordering te maak?

12 Op die een of ander stadium het Timotheüs se geloof, wat deur sulke studie en omgang versterk is, hom beweeg om hom te laat doop as ’n simbool van sy toewyding aan God, om Hom vir die res van sy lewe te dien (Mattheüs 28:19, 20; Hebreërs 10:5-9). Hy het toe logies ’n bedienaar van God geword. Maar sy vooruitgang het nie daar opgehou nie. Sy bedieningsvermoë is verder versterk deur ’n spesiale geestelike gawe en deur persoonlike onderrig en opleiding wat hy van die apostel Paulus ontvang het. En Timotheüs het voortgegaan om vordering te maak deur sy persoonlike studie en omgang met ander Christene (1 Timotheüs 4:14; 2 Timotheüs 2:2). Timotheüs was aldus ’n ‘bedienaar van die evangelie’. Wat het hy in daardie hoedanigheid gedoen?

13. Wat was Timotheüs se bedieningsverantwoordelikhede?

13 Hy het besondere pligte gehad, aangesien hy ’n reisgesel van Paulus was. Omdat Timotheüs ’n ouere man was, het hy hard gewerk om sy mede-Christene te onderrig en te versterk. Dit was deel van sy bediening (1 Timotheüs 4:6). Maar net soos in die geval van Jesus was die vernaamste deel van sy bediening die verkondiging van die evangelie (Mattheüs 4:23). Die apostel Paulus het aan Timotheüs gesê: “Maar wees jy in alles nugter; ly verdrukking; doen die werk van ’n evangelis; vervul jou bediening.”—2 Timotheüs 4:5.

14. Hoe toon die Skrif die verband tussen geloof en die predikingsbediening?

14 Van wie, benewens Timotheüs en Paulus, is daar verwag om aan die Christelike bediening deel te neem? Net die ouere manne of die spesiale reisende verteenwoordigers? Nee. Die apostel Paulus het gewys op die feit dat die verkondiging van die evangelie die vrug was van die geloof wat alle Christene veronderstel was om te besit. Hy het gesê: “Met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.”—Romeine 10:10.

15, 16. Wie se verantwoordelikheid was dit om aan die Christelike bediening deel te neem, en waarom sê jy so?

15 Beteken dit dat almal wat waarlik die Christelike geloof besit Christelike bedienaars moet wees wat die evangelie verkondig? Ja. Paulus se woorde was gerig aan die hele gemeente in Rome, nie net aan die ouere manne nie (Romeine 1:1, 7). Die hele gemeente in Efese moes geskoei wees met “die bereidheid vir die evangelie van vrede” (Efesiërs 6:15; 1:1). En almal wat die brief gehoor het wat aan die Hebreërs gerig was, moes “die belydenis van die hoop onwankelbaar vashou” (Hebreërs 10:23). Onthou ook dat almal, manne en vroue, op Pinksterdag saam “die groot dade van God” in die openbaar verkondig het.—Handelinge 2:1-21; 1:14.

16 Daarbenewens het Jesus kort voor sy hemelvaart vir sy volgelinge gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mattheüs 28:19, 20). Almal wat in al die verskillende nasies gehoor gegee het, moes nie net hoorders wees nie. Hulle moes dissipels wees, met alles wat dit behels het.—Lukas 10:1; 14:27, 33; Johannes 13:35; 15:8; Handelinge 1:8.

God se hedendaagse bedienaars

17. Wat is ’n paar belangrike dinge wat deur die Christelike bediening ingesluit word? (Mattheüs 22:37-39)

17 Tot dusver het ons gesien dat die ware Christenprediker hom nie met die politiek bemoei nie en afgeskeie van die wêreld is. Hy is nederig en handhaaf die hoë morele standaarde wat Jesus sy volgelinge geleer het. Hy is God se bedienaar en volg Christus na. Hy moet dus nie sy eie kop volg of die waarheid verwater sodat dit vir ander aanneemliker is nie. Sy bedieningswerk strek nietemin sy medemens, gelowiges sowel as ongelowiges, tot voordeel.—Mattheüs 20:28; 26:39; 1 Petrus 4:8-10.

18. Wie is vandag God se ware bedienaars, en waarom sê jy so?

18 Net soos in die geval van Jesus en Timotheüs is die predikingswerk ’n kardinale deel van ’n hedendaagse Christen se bediening. Wat preek hy? Wel, verlossing word steeds verkry op grond van Jesus se offer. En diegene wat gered wil word, moet steeds Jehovah se naam aanroep (Handelinge 4:12; Romeine 10:13). Die koninkryk is boonop steeds die enigste hoop vir die geteisterde mensdom. Jesus het gevolglik voorspel: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Mattheüs 24:14). Dit is God se ware bedienaars wat hierdie profesie vervul en hierdie waarhede aan ander leer. En wie doen hierdie Godgegewe werk? Slegs Jehovah se Getuies.—Jesaja 43:10-12.

19. Watter verskillende dinge is nodig om vandag ’n bedienaar van God te wees?

19 Hoe voldoen ’n persoon aan die vereistes om ’n bedienaar te wees? Net soos Timotheüs: Deur ’n sterk geloof in God se voornemens te bou deur middel van ’n studie van die Bybel; deur daardie geloof te versterk deur omgang met ander Christene; deur in water gedoop te word as simbool van ’n toewyding wat in gebed regstreeks tot God gedoen is om hom voortaan te dien; en deur leiding en voorligting van die Bestuursliggaam van die Christengemeente te aanvaar (Hebreërs 10:23-25; Mattheüs 24:45-47). Wie het ’n aandeel in hierdie bediening? Almal met ’n opregte, werkende geloof in God se voornemens, op grond van juiste kennis. Deelname aan die bediening as Christengetuies van Jehovah is ’n bewys van die egtheid van daardie geloof.—Jakobus 2:17.

20, 21. (a) Weens watter gebreke van die Christendom se bediening is dit goed dat God vandag bedienaars verwek het? (b) Wat is die omvang van hulle bediening?

20 In hierdie laaste dae verkondig baie bedienaars in die valse Christendom ’n “sosiale evangelie”, bemoei hulle hulle met die politiek of bevraagteken hulle die bestaan van God en die toepaslikheid van die Bybel. En die Christendom se lekedom stel nie juis daarin belang om bedienaars te wees nie. Ons is dus dankbaar dat God bedienaars verwek het wat die mensdom voortdurend op sy naam attent maak en regskape persone help om die lewensbelangrike waarhede van God se Woord, die Bybel, te leer ken. Daar is meer as tweemiljoen van hierdie bedienaars rondom die wêreld wat met God se hulp die hele mensdom bedien.

21 Maar hoe kan ’n persoon bewys dat hy een van hulle is? Die volgende artikel sal dit breedvoeriger bespreek.

Wat deel die volgende tekste ons omtrent die Christelike bediening mee?

◻ Markus 1:38

◻ 1 Timotheüs 4:6

◻ 2 Timotheüs 4:5

◻ Romeine 1:1, 7; 10:10

◻ Mattheüs 24:14; 28:19, 20

◻ Romeine 10:13

◻ Johannes 17:16

[Prent op bladsy 17]

Is dit wat God se bedienaars moet doen?

[Prent op bladsy 18]

Bedieningswerk kan onderrigting in die gemeente behels

[Prent op bladsy 19]

Almal met ware geloof behoort as Christenbedienaars te dien

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel