’n Jesuïet vind die waarheid
Soos vertel deur Julio Iniesta García
WAT kom in jou gedagte op as jy die woord “Jesuïet” hoor? Dit lok onmiddellik by baie mense ’n reaksie uit wat wissel van diepe eerbied tot intense afsku. Vir die deursnee-Katoliek is dit Sinoniem met ’n hoogs gedissiplineerde groep priester-onderrigters en sendelinge. Vir baie nie-Katolieke is die betekenis dié wat deur party woordeboeke verstrek word: “’n skynheilige bedrieër”.
Tot November 1977 was ek ’n geordende priester van die Sosiëteit van Jesus, of die Jesuïete-orde, soos hulle algemeen bekend staan. Toe het ek dit verlaat. Miskien wil jy graag weet waarom ek ’n Jesuïet geword het en wat my laat besluit het om die priesteramp na vyf-en-twintig jaar vaarwel te sê.
Vroeë lewe in Katolieke Spanje
Ek is in die noordelike lente van 1918 gebore, die derde kind van ’n gesin waarin daar later tien kinders was. My vader het ’n kroegrestaurant met die naam Nigeria in Murcia in die suidooste van Spanje gehad. Soos feitlik elke Spanjaard van daardie tyd het ek die gewone Katolieke godsdiensopvoeding gekry, wat beteken het dat ons Sondae die Mis bygewoon het. Vrydae belydenis gaan doen het, ensovoorts.
As ’n jongeling was ek geestelik rusteloos en het ek ’n sterk begeerte gehad om God en my naaste te dien. Ek het dus besluit om by die Marianiste-gemeente in Murcia aan te sluit. Dit was ’n groep jongmense, hoofsaaklik studente, en hoërskoolleerlinge, onder die leiding van Jesuïete. Mettertyd is ek aangestel as woordvoerder vir die sendingveld en het ek ’n intense begeerte gehad om ’n Katolieke sendeling te wees. Kort daarna het die bittere ondervindinge van die Spaanse Burgeroorlog my selfs meer oortuig van die nodigheid om God en my medemens te dien.
Tronkstraf as gevolg van gewetensbesware
In 1936 het die Spaanse Burgeroorlog uitgebreek. Op die ouderdom van agttien is ek opgeroep om ’n bewind te verdedig wat in my oë ateïsties was. Aangesien ek dit as onmenslik beskou het om die wapens teen my Katolieke broers op te neem, het ek geweier om my vir krygsdiens aan te meld. Ek is gevolglik in hegtenis geneem en later tot twintig jaar harde arbeid gevonnis. Op die ouderdom van agttien het daar oënskynlik ’n ewigheid in die tronk op my gewag. Na enkele maande is ek verplaas na ’n dwangarbeidskamp in San Pablo de los Montes in die provinsie Toledo, in sentrale Spanje.
Nadat ek agttien maande lank daar was, waartydens ons baie honger gely het en voortdurend in die skadu van die dood gelewe het, het Franco se troepe die oorwinning behaal en is ons bevry. Baie verlig het ek na my tuiste in Murcia teruggekeer.
Ek het baie gely en het ook gesien hoe ander ly, maar ek het nie my geloof in God verloor nie. Omdat daar soveel boosheid in die wêreld was, het my begeerte om ’n sendeling te wees selfs sterker geword. As gevolg van my kontak met die Jesuïete het ek my dit ten doel gestel om my vir lidmaatskap in daardie Sosiëteit te bekwaam. Dit was glad nie maklik nie. Die dissipline van die Jesuïete verg die geloftes van gehoorsaamheid, armoede en kuisheid. Ek het die ongetroude staat aanvaar, al het ek die natuurlike begeertes van enige jong man gehad. Maar dit was my hartsbegeerte om God te dien en ’n sendeling te wees.
Strawwe opleiding om ’n Jesuïet te word
In 1947 het die Jesuïete-vaders my aan verskeie toetse van gehoorsaamheid en nederigheid onderwerp om te sien of ek voldoen het aan die vereistes om ’n novise te word. Tot my vreugde is ek tot die gedissiplineerde lewe van die Sosiëteit van Jesus toegelaat en ingelyf. Uiteindelik, in my laat twintigerjare, was ek besig om my as sendeling te bekwaam. Maar twaalf jaar van harde studie en strawwe karaktertoetse het nog voorgelê.
My eerste twee jaar as ’n novise het byvoorbeeld dertig dae ingesluit waartydens ek knegsdienste moes verrig soos om vloere te skrop en toilette skoon te maak. Ek onthou een geleentheid toe ek eindelik ’n vloer klaar geskrop het en ’n “broer” gekom het om my werk te inspekteer. Om my nederigheid en gehoorsaamheid te toets, het hy moedswillig die emmer vuil water omgestamp sodat ek die vloer van vooraf moes skoonmaak.
Ek het nog dertig dae lank dorpies saam met ’n ander novise besoek, en ons het ons onderhou met die aalmoese wat ons gekry het. Daarna moes ek nog dertig dae in ’n hospitaal werk tussen pasiënte met aansteeklike siektes.
In 1949 het ek aan kweekskole in San Cugat del Vallés, Barcelona, en Buenos Aires, Argentinië, begin studeer. Die leerplanne het kursusse in filosofie, sielkunde, teologie, sedeleer en die priesteramp ingesluit. Dit was gedurende daardie tydperk dat ek my eerste sendelingtoewysing ontvang het as ’n onderwyser aan die San Calixtus-skool, La Paz, Bolivia.
Op die ouderdom van nege-en-dertig het die langverwagte dag van my ordening as ’n Jesuïete-priester eindelik op 29 Julie 1957 aangebreek. In die teenwoordigheid van die diosesaan-biskop het ek op die vloer van die Teologiese Fakulteitkerk in San Cugat del Vallés neergebuig as ’n blyk van onderdanigheid en gehoorsaamheid.
Ek het na Bolivia teruggekeer waar ek verkies het om onder die armer mense te werk. Ek is aangestel as gemeentelike priester in Uncía, ’n myngemeenskap hoog in die Andesgebergte. Ek het later as gemeentelike priester van Santa Vera-Cruz in Cochabamba gedien. ’n Deel van my werk was om onderwys te gee en ek kon meehelp om sewe laerskole en hoërskole vir die armes op te rig. In 1972 het ek weer ’n ander toewysing ontvang, hierdie keer na die San Miguel-gemeente in die stad Sucre.
My eerste bedenkinge
Dit was terwyl ek in die armer gemeentes van Bolivia gearbei het dat ek bedenkinge begin koester het. Dit was aanvanklik nie oor die Kerk nie, maar oor sy verteenwoordigers. Ek moes byvoorbeeld elke maand ’n sekere persentasie van die kollektes en betalings vir spesiale Misse, huwelike, begrafnisse, ensovoorts aan die plaaslike biskop gee. Aangesien my gemeente arm was, was die biskop se deel nooit baie indrukwekkend nie. Dit het my altyd diep seergemaak wanneer hy die koevert oopgemaak en minagtend gesê het: “Is dit nou die miserabele ou bydraetjie wat jy vir my bring?” Die ‘weduwee se twee geldstukkies’ was klaarblyklik nie vir hom belangrik nie.—Lukas 21:1-4.
Ek het my gemeentelede nie laat betaal vir die priesterlike dienste wat ek gelewer het nie, en dit het ’n bron van onenigheid geword. Ek was diep onder die indruk van wat ek in die Evangelies gelees het: “Julle het dit verniet ontvang, verniet moet julle dit gee” (Mattheüs 10:8). Maar ek is meegedeel dat hierdie revolusionêre stap nie toelaatbaar was nie ‘sodat die belange van medepriesters in ander gemeentes nie in die gevaar gestel sou word nie’.
Nog ’n faktor wat my ontstel het, was die hiërargie se gewilligheid om plaaslike, heidense opvattings en gebruike in verband met die aanbidding van die Cristo de la Vera-Cruz (die Christus van die Ware Kruis), wie se beeld in my gemeente se kerk was, te aanvaar en toe te laat. Dit was in talle gevalle ’n regstreekse openbaring van duiwelse dweepsug. Daarbenewens het hierdie godsdiensfeeste dikwels met dronkenskap gepaard gegaan, maar geen amptelike beswaar is ooit teen hierdie heidense swelgpartye geopper nie.
Na vyf jaar in Sucre het ek verlof gevra om my siek vader in Spanje te besoek. Stel jou voor hoe verbaas ek was om na my aankoms in Barcelona uit te vind dat my susters, Lola (Dolores) en Angelita (Angeles), die Bybel saam met ’n groep Christene bekend as Jehovah se Getuies bestudeer het. Die verandering in Lola het my veral beïndruk, want sy het voorheen nooit veel aandag aan geestelike sake geskenk nie, en hier het sy nou die Bybel bestudeer! Aangesien ek geen kontak met die Getuies in Bolivia gehad het nie, het ek besluit om hulle leerstellings te ondersoek. My susters het vir my die boek “Make Sure of All Things; Hold Fast to What Is Fine” gegee, en ek het dit dadelik gelees. Ek was aangenaam verras om te sien dat die Getuies hulle opvattings geheel en al op die Bybel baseer. Ek het die Bybel van kleins af gerespekteer en het dit as grondslag vir my daaglikse bepeinsing gebruik in plaas van die geskrifte van die kerkvaders of die lewens van die “heiliges”.
’n Uitdaging aan my Katolieke teologie
Ek wou nou die Getuies in aksie sien om te sien of hulle dade met hulle woorde strook. My susters het my genooi om na die Koninkryksaal te kom waar die plaaslike Getuies hulle vergaderinge hou. Ek het daardie eerste vergadering vol nuuskierigheid en baie skepties bygewoon. Maar my reaksie was baie positief. Ek is beïndruk deur daardie nederige manne, vroue en kinders wat bowenal probeer het om God se wil te doen. Hier voor my oë was iets wat ek tevergeefs in Bolivia tot stand probeer bring het—’n groep ware Christene. Dit moes gewis die werk van die heilige gees wees.
Hoewel ek saamgestem het met baie dinge wat ek in hulle boek gelees het, was daar verskeie leerstellings wat ek nie kon aanvaar nie. Ek is voorgestel aan een van die ouere manne in die gemeente, Enrique Lleida, ’n man in sy vroeë vyftigerjare wat destyds by ’n chemikaliefabriek gewerk het. Ek onthou dat ons ’n lang gesprek in sy motor gevoer het, en daar het ek my hoofbesware teen die Getuies se leerstellings geopper. Anders as Jehovah se Getuies was ek oortuig van die liggaamlike teenwoordigheid van Christus in die hostie (brood) tydens die Mis, en het ek ook geglo dat my siel uiteindelik saam met Christus, wat ook God is, sou wees. My twyfelgedagtes is nie in net een gesprek uit die weg geruim nie. Maar toe het my vader gesterf en het ek na Bolivia teruggekeer.
Boliviaanse Getuies besoek my
Op my versoek het ek ’n nuwe toewysing ontvang en is ek teruggestuur na die Santa Vera-Cruz-gemeente in Cochabamba. Daar het ek my weer voorgeneem om na die waarheid te soek en ‘alle dinge te beproef’ ten einde nie ’n verkeerde stap te doen nie (1 Thessalonicense 5:21). Twee nederige Boliviaanse Getuies het my besoek. Dit was Ginés Navarro, ’n Spanjaard van Katalonië, en Ariel Araoz, ’n boorling van Bolivia. Ek is beïndruk deur hulle nederigheid en oortuiging. Hulle het nie probeer om my by ’n hewige argument te betrek nie, iets wat ek waardeer het; daar was eerder net ’n wisseling van gedagtes.
Ondanks my besige rooster is reëlings getref vir ’n stelselmatige studie van die Bybel met behulp van die boek “Make Sure of All Things; Hold Fast to What Is Fine”. Baie aande na die Mis het ek my skrede na die Koninkryksaal gewend waar dit vir my ’n genot was om God se Woord te hoor en om Die Wagtoring te bestudeer.
Katolieke dogma versus Bybelleer
Een van die leerstellings wat ek waarskynlik die maklikste verwerp het, was dié oor die onsterflike siel, met al die dinge wat daarmee gepaard gaan (foltering in die helse vuur, die vaevuur, limbus, ensovoorts). ’n Baie eenvoudige teks het die saak vir my opgeklaar. Dit was Genesis 2:7, wat lui: “En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ’n lewende siel geword.” Die verslag sê nie dat ’n lewende siel wat na die dood sou voortleef aan die mens gegee is nie, maar dat hy een geword het. Ek is dus ’n siel, het ek geredeneer. Dit het mooi ooreengekom met die vertaling van 1 Korinthiërs 15:45 in Spaans deur José María Bóver, een van my professore by die San Cugat-kweekskool. Daardie teks lui: “So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ’n lewende siel geword.” Die sterflikheid van die siel is duidelik bevestig toe ek Numeri 23:10 in die Spaanse Bóver-Cantera-Bybel nageslaan het, want daardie teks lui: “Mag my siel die dood van die opregtes sterwe!”
Die grootste slag was toe ek besef het dat Christus nie God is of kan wees soos die Drie-eenheidsleer leer nie. Die teks in Johannes 1:1 was my steunpilaar, totdat ek die Griekse teks noukeurig bestudeer het en besef het dat Christus goddelik kon wees, naamlik ’n goddelike oorsprong kon hê, sonder om die almagtige God te wees. Dit, tesame met ander tekste, het my gehelp om Jesus se rol beter te begryp, naamlik dat hy aan sy Vader onderdanig is en altyd daarna streef om sy Vader te loof.—1 Korinthiërs 15:28; Johannes 14:28; Mattheüs 24:36.
Met hierdie eenvoudige lig uit die Heilige Bybel en bykomende navorsing, het ek my weg gevind uit die teologiese duisternis wat my soveel jare verblind het. Ek het besef dat al my gevorderde studie in die teologie en filosofie nie die praktiese vrugte van egte Christelikheid voortgebring het nie. Ek kon nie daardie vrugte in die Katolieke Kerk sien nie.—Mattheüs 7:16, 17; Galasiërs 5:22.
’n Skok vir my owerstes
Ek was daarvan oortuig dat die Katolieke Kerk met verloop van eeue van Bybelwaarheid afgedwaal het en dit deur menslike tradisies en filosofie vervang het, en dat dit nie net mense, enkele individue, was wat te kort geskiet het nie. Ek het gevolglik besef dat ek nie langer in my hart ’n Katoliek was nie.
Ek het besluit om persoonlik my bedanking aan die Provinsiale Owerste van die Sosiëteit van Jesus te gee en hom te vra dat ek van my geloftes vrygestel word. Hoe geskok was hy tog toe hy my versoek gehoor het! Hy het my gevra of ek dit gedoen het omdat ek wou trou. Ek het vir hom gesê dat dit nie die geval was nie, omdat daardie gedagte destyds nog nie by my opgekom het nie. (Nadat ek egter ’n gedoopte Getuie geword het, het die situasie verander en is ek in Oktober 1978 met ’n dierbare Christenweduwee getroud.) Hy het onder meer gesê: “Julio, ek het jou nog altyd vir ’n gebalanseerde persoon aangesien. Maar nou lyk dit vir my asof jy ’n psigiater behoort te besoek.”
Ons het ’n lang gesprek gevoer waartydens ek my argumente aangaande die gebreke van die Kerk aangevoer het. Sy antwoord was: “Ek erken dat baie van die dinge wat jy sê waar is. Maar meen jy nie dat dit juis om daardie rede jou plig is om in die Kerk te bly sodat jy, saam met ander, kan probeer om die Kerk se foute reg te stel nie?”
Ek het geantwoord: “As al hierdie dwalinge gebaseer is op ’n leerstelling wat as onfeilbaar bestempel word, is dit onmoontlik om hierdie dwalinge reg te stel, aangesien die onfeilbaarheid eers verwyder sal moet word.” Toe het ek gesê: “Kyk, ek het diep oor die saak nagedink en ek het probeer om die Evangelie toe te pas. Ek het gesien dat dit onmoontlik is omdat die Kerkowerheid van my verwag om dinge te doen wat daarteen indruis. Sou dit dan nie beter wees om van kerk te verander aangesien ek nie die Kerk kan reghelp of verander nie? As ek dit nie kan reghelp nie, is dit beter om dit te verlaat en na die ware kerk te soek.”
Ek het later weer met die Provinsiale Owerste gepraat oor my voorneme om te bedank. Hy het my versoek om weer oor die saak na te dink. Ek wou die saak nie verder uitstel nie en daarom het ek ’n ultimatum aan hom gestel: Laat my terugkeer na Spanje om hierdie vraag wat my ewige lewe raak deeglik te bestudeer, so nie sal ek my gemeente verlaat en saam met Jehovah se Getuies in Bolivia gaan woon om die saak daar te gaan bestudeer.
Die laaste voorstel was vir hulle ondenkbaar, aangesien dit ’n groot opskudding in godsdienskringe in Bolivia sou veroorsaak. Toestemming is eindelik verleen dat ek na Spanje kon terugkeer en by my suster Lola kon gaan woon.
Uiteindelik vry!
Nadat ek in Desember 1976 in Spanje aangekom het, het ek alle Katolieke godsdiensgebruike gestaak en ’n nuwe lewe saam met die Christengetuies van Jehovah begin lei. Hierdie drastiese verandering het nie sonder probleme geskied nie. Wie wou ’n agt-en-vyftigjarige gewese Jesuïetepriester in Spanje in diens neem? Ek het eindelik werk gekry as ’n privaat onderwyser, en ek het ook my eie besigheidjie. Ek het genoeg vir elke dag, en dit is al wat ek wil hê.
In 1977 het die Provinsiale Owerste van die Boliviaanse Sending Spanje aangedoen op pad na Rome. Hy wou weet wat my finale besluit was. Toe ek hom meegedeel het dat ek by my besluit gebly het, het hy my versoek om my redes op skrif te stel sodat hy dit aan die Algemene Kongregasie en aan die Generale Owerste van die Sosiëteit van Jesus in Rome kon voorlê.
Met sy terugkeer uit Italië het hy vir my gesê: “Volgens wat hulle my in Rome meegedeel het, is dit die eerste keer in die geskiedenis dat ’n Jesuïet versoek het om die Sosiëteit te verlaat omdat hy die waarheid geleer het. Asof die Jesuïete, met al hulle studie, nie weet wat die waarheid is nie!”
Menslike teologie ’n klomp “drek”
Wanneer ek aan my jare van kweekskoolopleiding terugdink, begryp ek nou dat al die teologie en filosofie wat ek geleer het in werklikheid ’n hoop drek is vergeleke met die waarheid van God se Woord. Dit het die ware wysheid wat van Jehovah deur Christus kom en aan die nederiges van hart meegedeel word vir my verberg. Die apostel Paulus sê immers: “Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie?” (1 Korinthiërs 1:20). Saam met Paulus kan ek nou sê: “Ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry.”—Filippense 3:8.
Uiteindelik het my vrystellingsbriewe, gedateer 11 November 1977, gekom. Vol dank teenoor Jehovah het ek hulle geteken.
Op 27 November van daardie jaar is ek gedoop deur by ’n kringbyeenkoms van Jehovah se Getuies in water ondergedompel te word. Sodoende het ek in die openbaar blyk gelewer van my toewyding aan Jehovah in ooreenstemming met Jesus se voorbeeld en die opdrag wat hy aan sy volgelinge gegee het (Mattheüs 28:19, 20). Wat tevredenheid en vreugde betref, het daardie dag die dag van my ordening as ’n Jesuïete-priester sowat twintig jaar tevore verreweg oortref. Ek het nou ’n Christengetuie van die Soewereine Heer Jehovah geword.
Sedert my doop het ek talle ryke seëninge ontvang. Ek neem gereeld deel aan die gewone Christelike predikingswerk en het die voorreg om etlike tuis-Bybelstudies saam met belangstellendes te hou. Ek is gelukkiger as ooit tevore daar ek nou Christus se voorbeeld volg soos in God se Woord uiteengesit. Ek het die ware God, Jehovah, en die mense wat goddelike liefde bewys, gevind. My lang soektog na die waarheid het geëindig. Het joune?
[Lokteks op bladsy 11]
‘Jy sal dalk graag wil weet wat my beweeg het om die priesteramp na vyf-en-twintig jaar van sendingwerk vaarwel te sê’
[Prent op bladsy 14]
Gewese Jesuïet Iniesta verlaat die bad na sy Christelike doop