Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 1/15 bl. 21-27
  • Kampvegters vir Koninkrykswaarheid kom byeen

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Kampvegters vir Koninkrykswaarheid kom byeen
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Koninkrykswaarheid beklemtoon
  • Bedienaars van Koninkrykswaarheid
  • Lewe volgens beginsels van die waarheid
  • Hou vas aan profetiese waarheid
  • „Koninkryksvermeerdering”-byeenkomste—Ryk, geestelike feeste!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Christene aanbid met gees en waarheid
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Vasbeslote om God se weg van die lewe te volg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Onderrigters van God se woord word aangespoor om hulle opdrag uit te voer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 1/15 bl. 21-27

Kampvegters vir Koninkrykswaarheid kom byeen

JEHOVAH se volk is kampvegters vir Koninkrykswaarheid. Hulle skep groot behae daarin. En hulle verheug hulle altyd wanneer hulle uitgenooi word na ’n spesiale byeenkoms wat gereël word deur die Wagtoringgenootskap, want hulle weet dat dit ’n tyd vir omgang, bemoediging en goeie raad sal wees. Die “Koninkrykswaarheid”-Streekbyeenkomste van 1982 bevestig dit beslis.

Koninkrykswaarheid beklemtoon

Toe hulle hulle sitplekke ingeneem het vir Donderdagmiddag se openingsessie het die afwagting toegeneem terwyl die byeenkomsgangers die gedrukte program bestudeer het en die talle lewensbelangrike onderwerpe gesien het wat bespreek sou word. Trouens, “Waarheid” is daardie hele middag beklemtoon—nie net waarheid oor die algemeen nie, maar eerder “Koninkrykswaarheid”, wat die voornemens van Jehovah God met die mens, die aarde, die ganse heelal en Sy eie wonderlike Naam insluit.

Kennis van die waarheid en optrede wat ten volle met daardie kennis strook, is gevolglik beklemtoon. Dit is weliswaar nodig om juiste kennis van die elementêre leerstellings van die Bybel te verkry, maar die doel is om Jehovah se aanbidders in staat te stel om hierdie leerstellings op doeltreffende wyse aan die mense te leer wat hulle in die predikingswerk van huis tot huis teëkom. Dit is ook baie belangrik om te besef dat Jehovah die enige God van waarheid, die enigste bron van alle waarheid, is en dat hy teëgestaan word deur goddelose, onsigbare vyande wat talle subtiele liste gebruik om mense van God en geregtigheid af te keer! Die gehoor het veral die informasie waardeer oor die onderduimse, subtiele metodes wat Satan en sy agente gebruik in hulle pogings om ons geloof te ondermyn.

Die program het ook deeglik aandag geskenk aan maniere om daardie bose geeste te beveg en die oorwinning te behaal. Ons moet almal besef dat die vyand probeer om die gees van selfsugtige onafhanklikheid, egoïsme, te bevorder en probeer om ons in geslagsonsedelikheid te verstrik. Ons moet God ken en liefhê en die dinge haat wat hy haat. As ons sy naam dra, sal ons hom of sy gemeente lojale getuies beslis nie smaad wil aandoen nie. Ons moet bowenal van sy krag gebruik maak deur opregte gebed, en ons moet na aan sy beskermende, sigbare organisasie bly.

Die programrede van die byeenkoms het die aandag gevestig op die lewensbelangrike geskil ten opsigte waarvan elke persoon vroeër of later standpunt moet inneem. Die keuse is tussen Satan, sy demonmagte en al sy wêreldlike organisasies met hulle propaganda en Jehovah, die almagtige Soewerein en sy wonderlike beloftes wat deur sy Koninkryk vervul gaan word. Daardie geskil gaan binnekort besleg word. Daar is geen neutrale gebied nie. As ons dadelik en positief optree, kan ons verseker wees van Jehovah se beskerming en seën.

Bedienaars van Koninkrykswaarheid

Dit was die tema van Vrydag se program, en dit het elkeen inderdaad gehelp om te besef dat dit Jehovah se wil is dat ons bedienaars van sy koninkryk moet wees, daardie koninkryk van huis tot huis moet verkondig en sodoende nog ander moet help om aan die vereistes te voldoen om in so ’n bevoorregte bediening by ons aan te sluit. In die lig van die dringendheid van die tyd waarin ons lewe, behoort ons almal na maniere te soek om ons aandeel in hierdie Godgegewe diens te vergroot, hetsy as deeltydse of as voltydse verkondigers. Enkele demonstrasies het getoon hoe ons ernstige oorweging kan skenk aan die nodigheid om ons “heilige diens” as individue en gesinsgroepe uit te brei.—Romeine 12:1, NW.

Daardie middag is al Jehovah se bedienaars gewaarsku dat die vyande waarteen hulle op hulle hoede moet wees, nie slegs die voor-die-hand-liggendes ‘buitekant’ is nie, maar diegene wat bely dat hulle van ons is maar wat nogtans listig probeer om ons geloof en diens te ondermyn. Die spreker het gesê: “Hulle skep die indruk dat aangesien Jehovah so ’n liefdevolle God is, hy net wil hê dat ons goeie persone moet wees, fisies vir ander moet sorg en ons naaste moet liefhê.” Sulke beskouings kan gevaarlik wees, want dit neem nie die gebod in aanmerking wat elk van Christus se volgelinge opgelê is nie, naamlik: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies.”—Mattheüs 28:19.

Party bevraagteken die nodigheid vir ’n organisasie en beweer dat ’n persoon net op sy eie die Bybel hoef te lees. Die flagrante inkonsekwensie van hierdie standpunt kan gesien word wanneer sulke persone hulle eie organisasie stig en hul eie voorgeskrewe studiekursus loop, een wat op menslike wysheid gebaseer is.

Wanneer ons voor sulke negatiewe en teenstrydige argumente te staan kom, is die raad van die Heilige Skrif duidelik: Laat hulle staan. Bly weg van hulle af. Gaan voort met jou kosbare bediening (Mattheüs 15:14; Romeine 16:17, 18, NTP). Openbare debatte met diegene wat verdeeldheid veroorsaak, sal van ’n gebrek aan goeie oordeel getuig. Elkeen van ons moet sy deel doen om die huisgenote van die geloof te help om die regte gesindheid te behou teenoor diegene wat Jehovah, sy organisasie en sy georganiseerde volk belaster. Die Koninkryksverkondiging sal met welslae voltooi word, want Christus Jesus beloof om “al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” met sy knegte te wees.—Mattheüs 28:20.

Na die drama wat Vrydag aangebied is, was daar min droë oë in die gehoor. Almal is diep geroer toe hulle gesien het hoe goed opgeleide kinders persone wat nie belangstel nie kan help om hulle denke te verander en te besef hoe nuttig dit is om God se raad aan te neem en te volg!

Dit was uiters gepas dat ons, na hierdie voortreflike dekking van “Bedienaars van Koninkrykswaarheid”, die geleentheid gehad het om vroeg daardie aand van huis tot huis te preek. Baie verkondiger het later vreugdevol vertel hoe goed die huisbewoner hulle ontvang het. Een verkondiger het gesê: “Dit was ’n bevredigende afsluiting vir ’n dag wat gewy was aan ’n bespreking van ons heerlike bediening.”

Lewe volgens beginsels van die waarheid

Dit was die tema van Saterdag se program, ’n tema wat beklemtoon het dat ons die dinge wat ons by hierdie byeenkoms geleer het, moet toepas. As kampvegter vir Koninkrykswaarheid moet ons volgens die beginsels van daardie waarheid lewe.

Na ’n bespreking van die dagteks het ons na ’n simposium van drie sprekers geluister wat God se vereistes vir jonk en oud, kinders en ouers, uiteengesit het. Daar is getoon dat as ’n mens suksesvol wil wees, jy gesinsake volgens Jehovah se beginsels moet behartig. Liefde, ’n kardinale eienskap van ware Christene, maak dit vir kinders en ouers moontlik om harmonies saam te werk.—Johannes 13:34, 35.

Deur toesprake en demonstrasies het ons tydige vermaninge oor die gevaar van permissiwiteit ontvang. Dit het tot talle probleme en moeilikhede aanleiding gegee en moet met ferme getrouheid aan Bybelbeginsels teëgewerk word. Op baie gebiede van ons Christelike lewens moet sulke beginsels dus strenger toegepas word. Hoewel dit ons beperk, is daar gesien dat talle lastige situasies sodoende voorkom of met welslae hanteer is.

Musiek het veral in die soeklig gekom. Ons het geleer dat musiek die gees kan verhef of kan verderf. Dit word gebruik om Satanisme en onsedelikheid by mense in te skerp. Die Christen moet dus net so versigtig wees wat sy keuse van musiek betref as wat hy is wanneer hy besluit na watter TV-programme hy gaan kyk.

Saterdag se sessies het geëindig met die opwindende toespraak: “Die waarheid wat lei tot ’n aardse paradys.” Die spreker het ons herinner aan die feit dat Christus Jesus die aandag gevestig het op die Koninkryk en ’n aardse paradys. Christus het byvoorbeeld voor Pilatus getuig dat Hy inderdaad ’n koning was en dat hy gestuur is om vir die waarheid te getuig. En nadat die oortreder wat langs Jesus aan ’n folterpaal gehang het, gesê het: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom”, het Jesus geantwoord: “Voorwaar ek sê vandag vir jou: Jy sal saam met my in die Paradys wees” (Lukas 23:42, 43, vgl. NW; Johannes 18:36, 37). En hoe wesenlik is die hoop om vir ewig in die aardse paradys te lewe tog vir diegene wat God en geregtigheid vandag liefhet!

Hou vas aan profetiese waarheid

Die tweede spreker op Sondagoggend se program het daarop gewys dat ons vandag te kampe het met ’n toestand soortgelyk aan dié waarmee Christene in die eerste eeu te kampe gehad het. Daar was persone wat wou terugkeer na armoedige, eerste beginsels, soos die filosofie van mense en argumente oor woorde—dinge wat nie opbouend is nie en ook niks met verlossing te doen het nie (Galasiërs 4:9). Die hedendaagse gevare sluit in: ’n mens kan toelaat dat ’n begeerte na meer as die lewensbenodigdhede posvat en ons gedagtes en ons tyd in beslag neem; ’n soeke na wêreldlike vermaak, wat dikwels onrein en ook tydrowend is; geslagsonsedelikheid met sy talle gevare. As ons die ewige lewe wil beërf, moet ons aan die waarheid en die weg van die waarheid vashou. Tot voordeel van al die aanwesiges is daar onderhoude gevoer met persone wat al lank kampvegter vir Koninkrykswaarheid is. Hulle ondervindinge het getoon dat dit moontlik is om aan Jehovah en sy beginsels lojaal te bly ondanks beproewings en moeilikhede.

Dit is gevolg deur die toespraak “In slagorde aaneengesluit”, wat gebaseer was op die teks in 1 Kronieke 12:38. Terwyl die spreker uitgewei het oor die feit dat Christene in ’n stryd gewikkel is en dat daar van hulle verwag word om getrou te wees as soldate van Jesus Christus, ontbering te verduur en eenheid in die geledere te bewaar, het ’n duidelike strydkreet weerklink. Sedert ons monstering in die Here se leër, veral nadat ons ons toegewy en laat doop het, moet elke ander lewensbedrywigheid ondergeskik wees aan ons diens aan Jehovah se groot Veldkommandeur, Jesus Christus. Net soos ons Leier en Bevelvoerder moet ons immer in gedagte hou dat die heilige naam van ons God en Maker by hierdie oorlog betrokke is.

Aangesien ons stryd ’n geestelike is, is ons wapens ook geestelik, maar “kragtig deur God om vestings neer te werp”, soos ydel, menslike filosofieë, dinge wat strydig is met die Woord van waarheid, listige leerstellings van duiwels en aansporing om ons persoonlike gemak en welsyn eerste te stel en Jehovah se diens tweede (2 Korinthiërs 10:4). Die spreker het wyslik opgemerk: “Ons twyfel tog sekerlik nie daaraan dat Jehovah se Veldmaarskalk opgewasse is teen die taak om te sorg vir diegene wat hy vir sy leër gewerf het nie! As ons bekommerd is oor materiële behoeftes, is dit ’n dringende aanmaning om ons sorge op Jehovah en Christus te werp.” As ons in slagorde aaneensluit, beteken dit dat ons ten nouste saamwerk met die enige, sigbare organisasie wat Jehovah vandag gebruik. Elkeen van ons moet goed toegerus wees en die geestelike kampanje onder aanvoering van die Leier, Christus, daadwerklik ondersteun.

Die oggendprogram is toe afgesluit met nog ’n treffende drama. Dit het die onverskrokke diens van die profeet Jeremia uitgebeeld terwyl hy baie jare lank ’n boodskap verkondig het wat ongewild was by die oorgrote meerderheid van sy tydgenote, onder meer die koning, die vorste en die valse profete. Toe ons gesien het hoedat Jeremia dreigemente en geweld onverskrokke verduur het terwyl hy ander aangespoor het om lojaal aan Jehovah te bly, was dit ’n kragtige vermaning dat daar vandag van Jehovah se volk verwag word om getrou voort te gaan om die boodskap oor Jehovah se vinnig naderende oordele aan hierdie hele wêreld onder Satan te verkondig—’n boodskap wat waarlik ongewild is. Ons put egter vreugde uit die wete dat menigtes as gevolg van ons lojale diens uit ’n gedoemde geslag gered gaan word en veilig tot in God se nuwe stelsel bewaar sal word.

Die openbare toespraak oor die onderwerp “Die waarheid wat jou kan vrymaak” is vroeg daardie middag gehou. ’n Groot, afwagtende gehoor het geluister terwyl die spreker feit na feit gemeld het om te toon dat hierdie wêreld se heersers en vername manne nie van armoede, geweld of onveiligheid ontslae kan raak nie. Hy het voorts uit die Heilige, Skrif gewys dat Jehovah, die alvermoënde God, beloof om al hierdie dinge en nog veel meer te doen, en in staat is om dit te doen. Jehovah sal ontslae raak van alle oorsake van geween en trane, en hy sal siekte, pyn en die dood wat ons van die sondaar Adam geërf het, tot niet maak. En dit is nie al nie. Hy sal verantwoordelik wees vir die opstanding van menigtes wat die geleentheid gebied sal word om vir ewig op ’n paradysagtige aarde te lewe.

Daarna was daar ’n kort hersiening van die bevredigende geestelike feesmaal wat Jehovah vir ons by die “Koninkrykswaarheid”-Streekbyeenkoms voorgesit het. Ons beker met seëninge van Jehovah af het beslis oorgeloop! En met watter gevolg? Ons was toe gereed vir die slottoespraak wat ons almal aangespoor het om voort te gaan met die verkondiging van Koninkrykswaarheid solank Jehovah dit toelaat. Ons weet ons is op die regte pad. Ons geledere is gesuiwer van vitters, klaers en eiesinniges. Nou seën Jehovah ons met vermeerderinge, soos blyk uit die verslae wat van oor die hele wêreld instroom. Meer verkondiger wy meer tyd aan die veldbediening. Baie meer doen hulppionierdiens en voltydse pionierdiens. Die getal Bybelstudies wat in die huise van nuwe belangstellendes gehou word, het dramaties toegeneem. Daar bestaan geen twyfel oor die duidelike leiding wat Jehovah se gees en sy organisasie ons gee nie.

Was ons, toe ons die byeenkomsterrein verlaat het en na ons tuisgemeentes vertrek het, nie daarvan oortuig dat Jehovah en sy Koning, Christus Jesus, met ons was nie? Is ons nie daarvan oortuig dat hulle mildelik in ons behoeftes voorsien het sodat ons goed toegerus is om eensgesind as kampvegters vir Koninkrykswaarheid met die verkondiging van die evangelie voort te gaan nie? Alle lof en eer gaan aan die God wat groot is in geregtigheid en waarheid!

[Prente op bladsy 22]

Christelike kinders kan ander oorreed!

Sowaar! God se naam is Jehovah

’n Voormalige teenstander wys op die Naam

[Prente op bladsy 23]

Jeremia word deur teenstanders geslaan

. . . in die blok

. . . word uit die modderput gered

[Prent op bladsy 24]

Die ordening van bedienaars deur doop

[Prent op bladsy 25]

Spesiale sitplekke vir bejaardes

[Prent op bladsy 26]

Gerieflike voedselverskaffing

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel