“’n Heuglike middag” in Abidjan
DIT is ’n heuglike middag vir die Ivoorkus”, het A. D. Schroeder, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, gesê toe hy die toewydingsprogram vir die nuwe takgebou in Abidjan geopen het. Die 500 gaste wat op 27 Februarie 1982 aanwesig was, het alle rede gehad om so te voel. Nie alleen was die pragtige, nuwe gebou op sigself ’n rede tot blydskap nie, maar dit was ook ’n duidelike blyk dat Jehovah hulle pogings in die sendingveld in die Ivoorkus en Opper-Volta geseën het.
In 1971 het die Wagtoringgenootskap ’n tak in Abidjan geopen om toesig te hou oor die predikingswerk in hierdie twee lande. Dit het bestaan uit ’n kantoor en blyplek vir vier in ’n klein derdeverdieping-woonstel. Die werk het so vinnig gevorder dat dit nie lank was voordat hierdie kantoortjie nie meer die werklas kon behartig nie. In 1978 is ’n stuk grond in Deux Plateaux, ’n ontwikkelende voorstad dertien kilometer van die middestad af, vir ’n nuwe tak gekoop.
Die bouwerk het op 1 Junie 1980 begin. Vrywilligers van die sestien gemeentes in Abidjan het feitlik al die werk gedoen. Elke Sondag het vier gemeentes elk vyf-en-twintig vrywilligers, onder meer moeders met babas op hulle rûe, gestuur om aan die projek te werk. Dit het eindelik 30 000 man-ure beloop, wat gelykstaande is aan veertien persone wat ’n jaar lank veertig uur per week werk. Twee Getuies met bou-ondervinding uit Frankryk het ’n jaar lank met die projek kom help. Dit, tesame met materiaal wat òf gratis òf teen kosprys voorsien is deur broers en belangstellendes, het dit moontlik gemaak om die gebou op te rig teen die helfte van die koste van selfs die laagste raming van privaat aannemers.
Kom ons besigtig gou die gebou. (Kyk na die tekening hierbo.) Net nadat ons by die hoofingang ingegaan het, loop ons twee verdiepings met ’n trap op, verby twee groot houers vol tropiese plante en blomme, tot in die voorportaal met sy marmervloer. Regs is daar ’n groot Koninkryksaal met sitplek vir 200 mense. Links is daar drie kantore en drie slaapkamers. Op die volgende verdieping is daar nog vyf slaapkamers, ’n wassery, ’n kombuis, ’n eetsaal en ’n biblioteek met ’n deur na ’n daktuin bo-op die Koninkryksaal. Op die grondverdieping is die verskepingsafdeling, die timmerwinkel en ’n motorhuis.
Die gaste by die toewydingsprogram, waarvan baie in kleurryke stamdrag geklee was, was klaarblyklik beïndruk. Hulle was baie opgewonde en vol waardering, nie net oor hierdie puik nuwe fasiliteit nie, maar veral oor die lof en eer wat dit sal bring aan die gelukkige God, Jehovah, wat verantwoordelik is vir die vermeerdering. Dit was inderdaad “’n heuglike middag”.