Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w83 1/15 bl. 4-6
  • Sal jy ooit in ’n gelukkige wêreld lewe?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Sal jy ooit in ’n gelukkige wêreld lewe?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat die Koninkryk gaan doen
  • Iets nuuts op die horison
  • Geluk wat jy kan smaak
  • Daar wag ’n wereld sonder pyn
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1980
  • ’n Nuwe wêreld is ophande!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Wat is God se Koninkryk?
    Wat leer die Bybel werklik?
  • ’n Nuwe hemel en ’n nuwe aarde
    Openbaring—Sy groot klimaks is op hande!
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1983
w83 1/15 bl. 4-6

Sal jy ooit in ’n gelukkige wêreld lewe?

DIEGENE wat liefhebbers van God is—“sy volk”—het grondige redes om na ’n gelukkige wêreld uit te sien (Romeine 15:10). Hoewel die onmiddellike toekoms vir die wêreld droewig lyk, laat die God van die hemel sy “evangelie van die heerlikheid” oor die hele aarde verkondig, en dit is voorwaar ’n verblydende boodskap (1 Timotheüs 1:11). Binnekort sal die langbeloofde hemelse koninkryk van die Messiaanse Koning Jesus Christus die onrusbarende neigings wat vandag so duidelik op aarde te sien is, stuit en die probleme wat die mense nou teister, wegneem. Daardie koninkryk staan op die punt om ’n gelukkige wêreld in te lui.

Wat die Koninkryk gaan doen

Bestaan daar kommer oor die oorbevolking van die aarde? Dit sal nie vir Jehovah God of die Koning Jesus Christus ’n probleem skep nie. Dit was oorspronklik God se voorneme dat mense ‘die aarde moes vul’, nie oorvol moes maak nie. Ongeag hoe dit gedoen word, ons kan daarvan seker wees dat God se wil in hierdie verband sal geskied.—Genesis 1:27, 28; Jesaja 45:18.

Sal daar, onder die heerskappy van God se koninkryk, ’n ontstellende kloof tussen die rykes en die armes wees? Hoegenaamd nie! Daar is eerder betroubaar in die Skrif voorspel dat God se welwillende Koning “die behoeftige [sal] red wat daar roep om hulp”.—Psalm 72:1, 12, 13.

Bestaan daar rede tot wanhoop oor slinkende hulpbronne en die omgewing se verlies aan “lewensonderhoudende vermoëns”? Moet ons wanhopig wees omdat pryse tot ver buite die bereik van die gemiddelde persoon styg? Hoewel die onmiddellike toekoms niks goeds op hierdie gebied voorspel nie, beloof God se Woord, die Bybel: “Mag daar volop graan in die land wees, mag dit selfs bo-op die bergtoppe wuif (Psalm 72:16, NTP). Klink dit na ’n aarde beroof van hulpbronne met ’n omgewing sonder essensiële “lewensonderhoudende vermoëns”? Of dui die Skriftuurlike belofte op so ’n tekort aan lewensmiddele dat ’n bevredigende lewe op aarde onmoontlik sal wees? Natuurlik nie.

Sal die wêreld, onder Koninkryksheerskappy, “kwesbaarder wees vir natuurrampe sowel as ontwrigting wat deur mense veroorsaak word”? Nee, want God gaan “oorloë” binnekort vir ewig “laat ophou”. Onder die bestuur van die Koninkryk sal woestyne bloei en sal skadelike dinge nie meer ’n gevaar vir gesondheid en die lewe inhou nie. Grenslose geluk sal ontbering en verdriet vervang.—Vergelyk Psalm 46:2, 10; Jesaja 35:1-10; 65:25.

Iets nuuts op die horison

Een van die talle verblydende profesieë wat wonderlike seëninge vir die mensdom voorspel, is soos volg deur die Christenapostel Johannes opgeteken:

“Ek het ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde gesien, want die eerste hemel en die eerste aarde het verbygegaan; en die see was daar nie meer nie. En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:1-4.

Party van die uitdrukkings is hoogs simbolies, maar die gedagte van groot seëninge is onmiskenbaar. Die “nuwe hemel” is die hemelse koninkryk van Jesus Christus en sy 144 000 medekonings en -priesters (Romeine 8:16, 17; Openbaring 14:1-4; 20:4). Die “nuwe aarde” is nie ’n nuwe aardbol nie, maar ’n nuwe mensegemeenskap op hierdie einste aarde waarvan al die lede volkome onderdanig is aan Christus se koninkryk sonder enige rasse-, nasionale of taalskeidsmure. (Vergelyk Psalm 96:1.) Dit sal volg op die vernietiging van die teenswoordige simboliese “hemel” en “aarde”. Die beloofde nuwe aardse gemeenskap sal regverdig wees, want hoewel die letterlike seë sal voortbestaan, sal die figuurlike “see”—rustelose, opstandige, goddelose mense—nie langer bestaan nie. Christus se hemelse medeheersers sal die “nuwe Jerusalem”, ’n bestuursorganisasie vir die regverdige mensegemeenskap, uitmaak. God sal deur middel van verteenwoordigers by hierdie mense op aarde woon totdat hulle aan die einde van ’n duisendjarige oordeelsdag deur Christus, “die Lam van God”, ten volle met hom versoen is.—Johannes 1:29, 36; Openbaring 20:6.

Onder Koninkryksheerskappy sal daar baie redes vir geluk bestaan. Droefheid, geween en moeite weens verskeie oorsake sal weggeneem word. Die dood wat van sondige Adam, die eerste man, geërf is, sal tot die verlede behoort (Romeine 5:12). Watter groot, wêreldwye oorsaak van trane sal dan verdwyn het! En watter redes tot blydskap sal dan tog bestaan wanneer mense uit die grafte opstaan in plaas van sterf as gevolg van Adam se handelwyse, wanneer sy afstammelinge gered is van die uitwerking van sy sonde, en wanneer volmaakte menslike gesondheid die talle kwale vervang het wat die mensdom nou teister! Dan het ‘die eerste dinge voorwaar verbygegaan’.

‘Dit is sommer wensdenkery!’ sal iemand uitroep. Glad nie, want nadat die apostel Johannes die “nuwe hemel” en die “nuwe aarde” gesien het wat groot seëninge vir die mensdom sal meebring, het hy bygevoeg: “En Hy wat op die troon sit [Jehovah God], het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar” (Openbaring 21:5). Ja, ons kan dit glo.

Daar is waarlik ’n ander wêreld op die horison. Die bestaan daarvan sal nie afhang van menslike veranderinge in “openbare beleid” om die mensdom te red van die droewige gevolge van “verlore geleenthede” nie. Nee, al die goeie dinge wat in die Skrif beloof is, hang van die uitvoering van die onstuitbare, immer geslaagde goddelike wil af.

Geluk wat jy kan smaak

Wie sal al hierdie seëninge van God af geniet? Vir wie sal daar eindelose rede tot geluk wees? Vir almal wat gebruik maak van God se voorsiening vir die ewige lewe! Hierdie wonderlike seën is moontlik gemaak deur Jehovah, die ‘God van liefde’, deur sy Seun, Jesus Christus.—1 Johannes 4:8, 9; Johannes 3:16.

Dit is die “evangelie” van sulke wonderlike dinge wat Jehovah se Getuies na alle regskape persone probeer bring. Dit is waarom hulle van huis tot huis getuig net soos Jesus se apostels en sy ander dissipels gedoen het (Handelinge 5:42; 20:20). Jy kan ongetwyfeld sien waarom die Getuies beweeg word om die vreugdevolle Koninkryksboodskap met ywer en opgewektheid van hart te verkondig. Dit is sulke besonder goeie nuus!

Maar wat gaan jy omtrent sulke verblydende nuus doen? Jy kan die ewige lewe in geluk op ’n paradysaarde onder Koninkryksheerskappy geniet. Maar dan moet jy juiste kennis van die Bybel verkry. As jy dit nog nie gedoen het nie, kan jy gerus jou geleenthede benut om die Skrif met Jehovah se Getuies te bespreek. Jesus het gesê dat juiste kennis van sy hemelse Vader en homself ‘die ewige lewe beteken’.—Johannes 17:3.

’n Gelukkige wêreld is voor die deur. Maar jy het nou reeds grondige redes om bly te wees. Nie alle seëninge van God of redes tot blydskap sal eers in die toekoms verwesenlik word nie. Dit is nou moontlik om ‘Jehovah met ’n vrolike hart’ te dien, en as ons God behaag, ly dit geen twyfel dat ‘ons al ons dae bly kan wees’ nie. Lees die artikels op bladsye agt tot twintig om uit te vind waarom.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel