Tyd—Wat is dit?
HOE laat is dit? Hoe dikwels het jy al daardie vraag gestel? Terwyl jy hierdie bladsy lees, kom die drang miskien by jou op om na jou polshorlosie of die horlosie teen die muur te kyk. Waarom? Omdat die mens baie bewus is van die verloop van tyd, amper asof hy nie kan lewe as hy nie weet hoe laat dit is nie.—Psalm 90:12; Prediker 3:11, NW.
Die meeste van ons se lewens word elke dag deur die horlosie beheer. Ons slaap, staan op, eet, werk en onthaal, nie altyd wanneer ons daarna voel nie, maar wanneer die wysers van die horlosie vir ons sê om dit te doen. En dit is eienaardig, maar wanneer ons na ’n horlosie kyk, doen ons dit miskien nie soseer omdat ons wil weet hoe laat dit is nie, maar omdat ons wil weet hoeveel tyd oor is voordat dit of dat gedoen moet word.
Alle lewende dinge het skynbaar ’n innerlike horlosie. Baie plante en diere het byvoorbeeld in hulle akkurate meganismes wat vir hulle sê wanneer dit tyd is om te blom of te trek, wat die geval ook al mag wees. Sonder dat ons daarvan bewus is, word chemiese stowwe in ons vrygestel en word liggaamsfunksies gereguleer deur biologiese klokke. Dit herinner ’n mens aan die spreukwoord wat sê: “Alles het sy bepaalde uur” nie waar nie?—Prediker 3:1.
Hoe sou jy tyd beskryf? Party sal sê dat tyd ’n manier is waarop mense sake beskou of dat dit die afstand tussen twee gebeurtenisse is. Dit beteken gevolglik dat indien niks gebeur nie, daar geen tyd sou wees nie. Maar om te definieer wat tyd nou eintlik is, is net so verbysterend soos om te verduidelik wat universele ruimte is. Maar sekere aspekte van tyd is bekend.
Feite omtrent tyd
Ons weet in watter rigting tyd beweeg—vorentoe. Dit beweeg net in een rigting. Die verlede is verby en sal nooit herhaal word nie. Ons foute het hulle spoor in die sand des tyds gelaat, en so ook ons goeie dade. Ons lewe altyd in die hede en gaan die toekoms tegemoet, maar ons kan nooit teruggaan en ons foute ongedaan maak nie. Daarom is dit so belangrik om in die hede goeie besluite te neem sodat ons ’n beter eerder as ’n smartlike toekoms kan hê.—Spreuke 3:1, 2.
Ons weet hoe om tyd te meet. In die verre verlede was die mens tevrede om die son, die maan en die sterre die verloop van tyd te laat aandui. Vir baie was dit tyd om werk toe te gaan wanneer die son soggens opgekom het, en tyd om te gaan slaap wanneer die son saans ondergegaan het.
Namate die samelewing ingewikkelder geraak het en mense vinniger kon reis, het dit vir die mens al hoe belangriker geword om tyd te meet. As gevolg van die mens se vindingrykheid het ’n mag der menigte uitvindsels om dit te doen hul verskyning gemaak—die sonwyser, brandende kerse, die uurglas, die meganiese horlosie en, vandag, die atoom horlosie. Al hierdie dinge dien as liniale om ’n onsigbare stroom genaamd tyd te meet. As gevolg van die mens se obsessie om tyd akkuraat te meet, het baie persone die kloof tussen ’n taakgeoriënteerde gemeenskap en ’n tydgeoriënteerde gemeenskap oorbrug.
Maar waarom lyk dit by een geleentheid asof die tyd verbyvlieg en of dit by ’n ander geleentheid om kruip? Dit is omdat tyd aan gebeurtenisse gemeet kan word. ’n Tydperk van onbedrywigheid voel langer as ’n tydperk van bedrywigheid, en hoe groter ons belangstelling in die dinge wat ons doen, des te vinniger verloop die tyd oënskynlik. As ’n taak ons verveel, voel dit asof die tyd langsaam verbygaan. Moes jy al ooit vir iemand sit en wag? ’n Ledige uur wat so bestee word, voel eindeloos—een gebeurtenis. Maar gestel dat jy in daardie selfde uur talle opeenvolgende take moes verrig, soos om ’n maaltyd vir onverwagte gaste voor te berei (aartappels moes skil, die skaapboud in die oond moes steek, die groente moes kook, die tafel moes dek, gou die meubels moes afstof en jouself vir die gaste moes opknap). Dan sou dit voel asof daardie uur teen supersoniese snelheid verbyvlieg, want dit moes met ’n klomp take gevul word.
Ons bewustheid van die verlede, die hede en die toekoms onderskei ons van diere. Diere lewe in ’n voortdurende hede, maar hoewel mense in die hede lewe, kan hulle ondervindinge van die verlede gebruik om toekomstige behoeftes te voorsien. En namate die jare verstryk en ons meer lewenservaring verkry, lyk dit asof die tyd al hoe vinniger verbygaan. Moet ons dus, namate ons ouer en meer bewus van ons eie sterflikheid word, nie meer aandag skenk aan die lewe en hoe ons dit lei nie?—Psalm 90:10.
Die digter Henry Austin Dobson se opmerkings oor tyd is so waar:
“Tyd vlie, sê jy? Tog nie!
Helaas, Tyd bly, ons vlie.”
Maar moet dit altyd die geval wees? Nie as ons werklik weet hoe laat dit is nie. Die mens kan tyd bereken, teorieë daaroor vorm, dit akkuraat meet. Maar weet hy hoe laat dit in God se oë is? Waar staan ons met betrekking tot Sy rooster?