Is God ’n tydhouer?
AS DIE Skepper van alle dinge is Jehovah God die skepper van tyd. ’n Mens kan hierdie feit bespeur as jy die eerste boek van die Bybel lees. In Genesis 1:1, 14 lees ons: “In die begin het God die hemel en die aarde geskape. En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare.”
Jehovah het aldus groot tydaanwysers daargestel—die aarde wat om sy as draai, die maan wat om die aarde wentel, terwyl albei om die son wentel om vir ons dae, maande en seisoene te gee. Hierdie hemelliggame help ons om te weet hoe laat dit is, sonder dat die werking of verstelling daarvan ons iets kos of ons verantwoordelikheid is.
Waarom tydbewus wees?
Jehovah is tydbewus en hy wil hê dat ons ook tydbewus moet wees. Ons is gemaak om tydbewus te wees. Maar nie al God se knegte gebruik hulle tyd verstandig nie. Party het nagelaat om hulleself op hoogte te hou van God se rooster.
In die sewende eeu v.G.J. het God se uitverkore volk byvoorbeeld geen verskoning gehad om nie te weet hoe laat dit was nie. Die profeet Jeremia het geskryf: “Selfs ’n groot sprinkaanvoël aan die hemel ken sy bepaalde tye, en ’n tortelduif en ’n swaweltjie en ’n kraanvoël neem die tyd van hulle koms in ag; maar my volk ken die reg van die HERE nie” (Jeremia 8:7). Diere weet instinktief wanneer hulle op seisoensveranderinge moet reageer. Maar ondanks herhaalde pogings om tot hulle verstande en harte deur te dring, wou die Israeliete nie weet dat die tyd vir God aangebreek het om hulle te oordeel nie, of liewer, hulle het nie omgegee nie.
Wat van ons? Weet ons waar ons in die tydstroom is? Jehovah het altyd ’n vasgestelde tyd gehad om sy wil en oordeel bekend te maak. In die apostel Paulus se toespraak aan die Atheners het hy gesê: “God het dan die tye van onkunde oorgesien en verkondig nou aan al die mense oral dat hulle hul moet bekeer, omdat Hy ’n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ’n Man wat Hy aangestel het” (Handelinge 17:30, 31). Glo jy dat daardie ‘oordeelsdag’ ophande is? Of dink jy dat die tyd daarvoor nog lank nie aangebreek het nie?
Gedurende die eerste eeu het die tyd aangebreek vir die man wat God sou gebruik om die aarde te oordeel om op aarde te verskyn. Sy koms was ’n baie belangrike datum in God se rooster, soos die Bybel sê: “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ’n vrou, gebore onder die wet” (Galasiërs 4:4). Die koms van God se Seun, Jesus Christus, was presies op tyd.
Hierdie koms van Christus in die eerste eeu het ’n oordeelstyd vir die stad Jerusalem beteken. In die jaar 33 G.J. het Jesus daardie inwoners gewaarsku teen ’n komende vernietiging deur ’n vyandelike leër. Hy het gesê: “Hulle sal jou en jou kinders in jou teen die grond verpletter, en hulle sal in jou nie een klip op die ander laat bly nie, omdat jy die tyd waarin jy geïnspekteer is, nie onderskei het nie” (Lukas 19:44, NW). Sewe-en-dertig jaar later is daardie profesie vervul. Sou jy, as jy destyds gelewe het, geweet het waar jy in die tydstroom staan? Sou jy geweet het dat dit God se tyd was om sy Seun na die aarde te stuur en om oordeel aan Jerusalem te voltrek?
Hoe kon jy dit geweet het? En hoe kan jy vandag weet waar jy in die tydstroom staan? Hoe kan jy weet of daardie voorspelde ‘oordeelsdag’ naby is of nie?
Raadpleeg God se rooster
Net soos ons ’n rooster wat die aankoms- en vertrektye aangee, moet raadpleeg voordat ons per trein of vliegtuig reis, het ons ook ’n rooster nodig om te weet wat God wil hê ons moet doen en wanneer. Die Bybel is God se rooster. Deur hierdie Boek te raadpleeg, kan ons vasstel wat die vasgestelde tyd is vir gebeure wat mense raak. Al die eerste-eeuse Jode moes byvoorbeeld voorbereid gewees het vir die koms van die Christus. Waarom? Omdat God lank tevore deur sy profeet Daniël voorspel het dat die Messias of Christus in die jaar 29 G.J. sou kom (Daniël 9:24-27). Trouens, die Jode in die eerste eeu wat Daniël se profesie geken het, het sy verskyning in daardie einste jaar verwag (Lukas 3:1, 2, 15). Joodse geleerde Abba Hillel Silver het geskryf: “Die Messias is omstreeks die tweede kwart van die eerste eeu G.J. verwag.”
Dieselfde kan van ons dag gesê word. Deur die Bybel se rooster te gebruik, kan ons vasstel dat dit nou die tyd is vir Christus se onsigbare teenwoordigheid as Koning.a Sy koms om God se oordeel aan die goddelose te voltrek en sy duisendjarige ‘dag om die wêreld in geregtigheid te oordeel’ is gevolglik baie naby.—Handelinge 17:31; Daniël 4:10-17; Mattheüs 24:7-31; Lukas 21:24; Openbaring 20:4-15.
Geloof beïnvloed ons beskouing van tyd
Negentien eeue gelede het diegene wat nie God se rooster verstaan het nie en wat ongeduldig geraak het omdat Jehovah se vasgestelde tyd vir sy Seun se koms nie aangebreek het nie, wonderlike seëninge verbeur. As ons rusteloos word en vra: “Waar is die belofte van sy wederkoms?” sal ons vandag eweneens God se guns verbeur omdat ons nie weet waar ons in die tydstroom is nie (2 Petrus 3:4). Weens hulle milieu het hierdie rustelose gees oor die eerste-eeuse Christengemeente in Efese gehang en ’n groot bedreiging vir hulle geloof ingehou. Vind jy dat jou geloof verswak weens jou ongeduld met God se rooster? Wat kan ons leer uit die apostel Paulus se raad aan die Efesiërs?
Die nie-Christelike Grieke in Efese het nie geglo dat tyd lineêr is nie. Griekse filosofierigtings het die sikliese beskouing van tyd verkondig. Gebeure word outomaties herhaal, dit wil sê, die lewe kan in eindelose kringlope herhaal word. Indien ’n persoon sy tyd in een lewensiklus verkwis het, kon hy dit alles in ’n toekomstige lewe terugkry. Sulke denke kon die Christene in Efese onverskillig gemaak het teenoor Jehovah se rooster vir gebeure, onder meer die oordeel.
Daarbenewens was die Christene in Efese omring deur genotsugtige mense, en dit het groot druk op hulle uitgeoefen om hulle bewustheid van God se rooster te laat verslap. Indien hulle sou glo dat dit verstandig is om net vir die hede te lewe deur wellus te botvier en selfbevrediging na te jaag, sou hulle geensins verskil het van die diere wat geen begrip van die verlede of die toekoms het nie, slegs van die hede. Indien hulle die toekoms wou beërf, moes hulle hierdie geskiedkundige feit onthou: “Dit moet julle weet dat geen hoereerder of onreine of gieraard, wat ’n afgodedienaar is, ’n erfdeel het in die koninkryk van Christus en van God nie.”—Efesiërs 5:5.
In die daaropvolgende verse waarsku Paulus daardie Christene om deeglik bewus te wees van waar hulle in die tydstroom is. Anders kon hulle mislei word om te dink dat hulle genoeg tyd het om hulle onchristelik te gedra en hulle dan te bekeer sonder om geestelik onder te gaan. Hy het gesê: “Laat niemand julle met ydel woorde verlei nie, want daardeur kom die toorn van God . . . beproef wat die Here welbehaaglik is” (Efesiërs 5:6, 10). In die lig van God se rooster het ons gedrag dus wel ’n uitwerking op ons toekoms.
Hoe kon daardie Efesiërs God se goedkeuring wegdra? Hoe kan ons? Deur ‘die tyd uit te koop’. Deur te “verstaan wat die wil van die Here is” (Efesiërs 5:16, 17). Wanneer moet dit gedoen word? Nou! Waarom? Omdat ons dalk nie nog ’n geleentheid sal hê om dit te doen nie. Sedert 1914 vind talle gebeure plaas wat in die Bybel voorspel is as tekens van die “laaste dae”. Al hierdie dinge is deur een geslag gesien, wat dit laat lyk asof tyd vinniger verbygaan. Ons wil nie bevind word met geen tyd meer om ’n goeie verhouding met Jehovah en sy aangestelde Regter op te bou nie, nie waar nie?—Mattheüs 24; Markus 13; Lukas 21; 2 Timotheüs 3:1-5; 2 Petrus 3:10, 11.
’n Hulp om tydbewus te wees
God het gereël vir ’n toegewyde, gees-gesalfde groep mense om ons te help om tydbewus te wees. Hierdie “getroue en verstandige dienskneg” gee vir ons geestelike “voedsel op tyd” en spoor ons aan om ‘altyd oorvloedig te wees in die werk van die Here’ (Mattheüs 24:45; 1 Korinthiërs 15:58). Sodoende kan ons nou sowel as in die toekoms nuttig wees in God se diens. Maar dit sal iets van ons verg. Tyd. Ons almal het elke week dieselfde hoeveelheid tyd tot ons beskikking—168 uur. Hoe goed bestee jy
jou tyd? Toon dit dat jy werklik weet hoe laat dit uit God se oogpunt is?
‘Ek het geen tyd nie’, sal baie sê. Dit is waarom jy bereid moet wees om tyd by ander bedrywighede in jou lewe uit te koop. Stokperdjies, musiek, ontspanning en sekulêre werk ding almal mee om jou tyd. En nuwe uitvindsels, soos TV-videospeletjies, kan geweldig tydrowend wees. Dit is moontlik aangenaam of nodig om ’n deel van jou tyd aan heilsame ontspanning te wei. Maar toon jou lewe, in die lig van jou kennis van God se rooster, dat jy jou tyd waarlik op ’n gebalanseerde wyse bestee?
Watter digter se woorde wil jy hê moet in jou geval waar wees? Hierdie een:
“Tyd vlie, sê jy? Tog nie!
Helaas, Tyd bly, ons vlie.”
Of hierdie een:
“Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd.”—Psalm 145:2.
Dit sal daarvan afhang of jy werklik weet waar jy in die tydstroom is.
[Voetnoot]
a Kyk “Let Your Kingdom Come” hoofstuk 14, uitgegee deur die Wagtoringgenootskap, vir nadere inligting.
[Prente op bladsy 5]
’n Vlugrooster toon vir reisigers aankoms- en vertrektye
Die Bybel se rooster toon vir ons wanneer God se gebeure gaan plaasvind
[Venster op bladsy 7]
BEWYSE VAN CHRISTUS SE TEENWOORDIGHEID AS HEMELSE KONING
Het jy die volgende waargeneem?
Globale oorlog Mattheüs 24:3, 7
Meer misdadigheid Mattheüs 24:12
Hongersnode Markus 13:8
Globale predikingswerk Markus 13:10
Aardbewings Lukas 21:11
Pessiektes Lukas 21:11
Vrees vir die toekoms Lukas 21:26
Selfsug 2 Timotheüs 3:2
Genotsug 2 Timotheüs 3:4