Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 11/15 bl. 27-29
  • Waarom dit erken wanneer jy verkeerd het?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom dit erken wanneer jy verkeerd het?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom ons dit nie wil erken nie
  • Slegte gevolge
  • Voorbeelde uit die verlede
  • Goeie gevolge
  • Hulpmiddele om die neiging teë te staan
  • Waarom moet ’n mens ’n fout erken?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Hoe kan ek my foute regstel?
    Antwoorde op 10 vrae wat jongmense vra
  • Wat moet ek doen wanneer ek foute maak?
    Jongmense vra
  • Die regte beskouing van foute
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2017
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 11/15 bl. 27-29

Waarom dit erken wanneer jy verkeerd het?

“DIE enigste mense wat geen foute begaan nie, is dooie mense.” Dit is van onvolmaakte mense gesê. En wanneer jy daaroor nadink: Wie het nie soms verkeerd nie? Wie begaan nie foute nie?

God se Woord, die Heilige Bybel, toon duidelik dat ons almal foute begaan, want dit sê: “Daar is geen regverdige mens op die aarde wat goed doen sonder om te sondig nie.” In die Bybel beteken die Hebreeuse en die Griekse woorde wat met “sonde” vertaal word letterlik “om te kort te skiet”—om nie aan God se vereistes te voldoen nie.—Prediker 7:20.

Dit is so maklik om ’n fout te begaan, om verkeerd te hê—ja, om te sondig. Maar hoe moeilik is dit tog om dit te erken! Vind jy nie, as jy ’n eggenoot en vader is, dat jy probeer skerm wanneer jy aan jou vrou of kinders moet bely dat jy verkeerd het nie? Vind jy nie, as jy in ’n posisie van toesig is, dat jy huiwer om aan jou ondergeskiktes te erken dat jy verkeerd het nie? Wel, dit geld ook vir vrouens, kinders, werknemers en persone in ander omstandighede.

Waarom ons dit nie wil erken nie

Dit is skynbaar die menslike natuur om onsself te wil regverdig. Hoe het ons ouers tog nie gesukkel om ’n bekentenis en ’n verskoning uit ons te trek toe ons as kinders verkeerd gedoen het nie! Al het ons grootgeword, openbaar ons moontlik ’n soortgelyke gesindheid. ’n Persoon probeer miskien rasionaliseer dat sy optrede nie werklik verkeerd was nie, dat dit eintlik iemand anders se skuld was, of dat buitengewone omstandighede daarvoor verantwoordelik was.

Dit lyk asof dit veral vir persone in posisies van verantwoordelikheid moeilik is om te erken dat hulle verkeerd het. Waarom? Dit is ongetwyfeld in talle gevalle te wyte aan trots. Hulle is bekommerd oor wat ander sal dink; hulle wil “die skyn red”. Die versuim om te erken dat ’n mens verkeerd het, kan andersyds ook te wyte wees aan ’n gevoel van onveiligheid. ’n Persoon kan dink dat hy sy posisie ontneem sal word as hy erken dat hy ’n fout begaan het.

Party individue huiwer ongetwyfeld om te erken dat hulle verkeerd het of verkeerd gehad het weens die prys wat hulle dalk vir hulle fout sal moet betaal. ’n Spoorwegwerker het moontlik ’n ernstige ongeluk veroorsaak weens nalatigheid. Maar as hy erken dat hy ’n fout begaan het, kan hy sy werk verloor of selfs tronk toe gaan. En in die geval van ’n geneesheer is ’n duur wanpraktykgeding miskien aanhangig gemaak, en sal dit hom en sy versekeringsmaatskappy ’n groot bedrag uit die sak jaag as hy erken dat hy ’n fout begaan het.

Dit is natuurlik ook moontlik dat ’n persoon dit moeilik kan vind om sake in die regte lig te sien. Die Bybel sê: “Die afdwalinge—wie bemerk hulle?” Daarbenewens kan die hart emosies koester wat ons verhinder om te erken dat ons verkeerd het. Ja, “bedrieglik is die hart bo alle dinge . . . wie kan dit ken?”

—Psalm 19:13; Jeremia 17:9.

Slegte gevolge

Kortsigtige eiebelang kan ons onsself laat regverdig eerder as om te erken dat ons ’n fout begaan het. Maar ongeag hoe ons redeneer, as ons weier om ’n fout te erken, het dit slegte gevolge. Dit kan byvoorbeeld gespanne verhoudinge meebring met lede van ons gesin of met diegene saam met wie ons werk of aanbid. Wanneer ons weier om te erken dat ons verkeerd het, beproef ons ander se geduld of verloor ons hulle respek. En ons veroorsaak heel waarskynlik ’n kloof wat vrye kommunikasie bemoeilik.

Iets wat nog ernstiger is, is die feit dat ons ’n skuldige gewete kry as ons weier om te erken dat ons ’n fout begaan het, veral as iemand anders die skuld kry vir wat ons gedoen het. En as ons daarvan terugdeins om een fout te erken, kan dit ’n gewoonte word. As ons geweier het om klein foute te erken, sal ons dalk eerlank weier om groot foute te erken, en dit sal tot ons ondergang lei. Ons gewete kan gevolglik, selfs in ’n geval van ernstige sonde, toegeskroei raak soos met ’n brandyster (1 Timotheüs 4:1, 2). So ’n handelwyse sal bowenal ons verhouding met ons Skepper, Jehovah God, skaad.

Voorbeelde uit die verlede

As ons weier om te erken dat ons ’n fout begaan het deur die skuld op ander te probeer afskuif, beland ons in slegte geselskap. Die eerste man, Adam, het ‘die vrou wat God hom gegee het’ vir sy ongehoorsaamheid geblameer. Eva het op haar beurt die slang geblameer. God het egter nie hierdie verskonings aanvaar nie, maar het die eerste mensepaar aanspreeklik gehou. Dan was daar koning Saul, wat in gebreke gebly het om God se oordeel ten volle aan die goddelose Amalekiete te voltrek. Toe Saul daarna uitgevra is, het hy die volk die skuld gegee. Maar God het ook nie daardie verskoning aanvaar nie.—Genesis 3:12-19; 1 Samuel 15:15-23.

Die Bybel bevat andersyds voorbeelde om te toon dat ons dit moet erken wanneer ons ’n fout begaan het. Daar is onder meer die voorbeeld van Juda. Hy het verkeerd gehad in sy handelinge met sy weduwee-skoondogter Tamar. Toe hy gekonfronteer is met sy verantwoordelikheid vir haar swangerskap, het Juda erken: “Sy het reg teenoor my” (Genesis 38:26). Maar hy het ten minste erken dat hy ’n fout begaan het.

Dan was daar koning Dawid. Hy het verskeie dinge gedoen om sy sonde met Batseba te verberg. Toe die profeet Natan hom daarmee gekonfronteer het, het Dawid erken: “Ek het gesondig teen die HERE!” (2 Samuel 12:13). Ja, sodoende het Dawid erken dat hy gesondig het.

Goeie gevolge

Ons kan gerus hierdie eertydse voorbeelde onthou en dit erken wanneer ons ’n fout begaan het. Dit lei onder meer tot beter verhoudinge met ons gesin. Ons sal ook beter met ons opsieners klaarkom omdat ons nie hulle geduld so baie beproef nie. Dit is betekenisvol dat ons in die Skrif meegedeel word: “As die toorn van die heerser teen jou opkom, verlaat nie jou pos nie, want bedaardheid voorkom groot foute”—ja, selfs baie ernstige oortredings.—Prediker 10:4.

Gestel ons is in ’n posisie van verantwoordelikheid. Gewilligheid om te erken dat ons ’n fout begaan het, sal die respek van ons ondergeskiktes afdwing. En met so ’n gesindheid sal ons in die posisie verkeer om ons swakhede te bemeester.

Dit is veral belangrik dat ons ’n skoon gewete en ’n goeie verhouding met ons God bewaar. As ons dus ’n ernstige fout begaan het, moet ons eerstens erken dat ons gesondig het. In ernstige gebed moet ons ons hemelse Vader se barmhartige vergifnis deur Jesus Christus vra (Psalm 103:10-14; 1 Johannes 2:1, 2). En laat ons die geestelike hulp wat beskikbaar is ten volle benut (Jakobus 5:13-16). Dit is die verstandige weg, want God se Woord sê vir ons: “Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind.”—Spreuke 28:13.

Hulpmiddele om die neiging teë te staan

Dit is duidelik dat ons hulp nodig het as ons hierdie neiging om dit nie te erken wanneer ons ’n fout begaan het nie, wil baasraak. ’n Sin vir humor sal dikwels help, veral as die oortreding of fout nie te ernstig of groot was nie. Een goeie huisvrou het byvoorbeeld eenkeer ’n klomp borde gedra toe sy gestruikel en die hele klomp laat val het. Daarop het sy uitgebars van die lag, want sy kon net nie glo dat so iets met haar kon gebeur nie. En tog het dit! Ja, ’n sin vir humor sal ons dikwels help om onsself nie te ernstig op te neem nie, iets wat dikwels daarvoor verantwoordelik is dat ons nie wil erken dat ons ’n fout begaan het nie.

Eerlikheid en empatie speel ook ’n rol. Indien sekere persone daarop geregtig is om te weet dat ons ’n fout begaan het, moet ons bereid wees om die fout te erken. Veral empatie moet ons beweeg om ons fout te erken as ’n ander persoon andersins die skuld daarvoor sal kry en as gevolg van ons fout sal ly. Jesus se volgende woorde is hier van toepassing: “Soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.”—Lukas 6:31.

Nederigheid sal ons ook help om ’n fout te erken. Wanneer ons daaroor nadink, grens die versuim om ’n fout te erken mos aan huigelary, nie waar nie? Nòg die trotsaard nòg die huigelaar dra God se goedkeuring weg.—Spreuke 21:4; Jakobus 3:17.

’n Intieme verhouding met Jehovah sal van die allergrootste hulp wees om ons ons foute te laat erken. Waarom? Omdat ons geneig sal wees om al ons probleme en foute in nederige gebed met hom te bespreek. As ons dan seker is van sy hulp en barmhartigheid, sal ons die ongeëwenaarde “vrede van God” besit.—Filippense 4:6, 7.

Laat ons dan, aangesien ons almal foute begaan, ons foute erken. Laat ons dit nederig erken wanneer ons verkeerd het. Laat ons ons dan daarop toelê om te verbeter, tot ons eie voordeel en dié van ander.

[Prent op bladsy 28]

Dawid het bely: ‘Ek het gesondig teen Jehovah!’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel