Goeie nuus bereik die “Leeuberge”
’n Aangrypende verhaal van Koninkryksuitbreiding in Sierra Leone
EK WAS baie verbaas om ’n moderne stad te sien wat baie skoner is as baie stede in die meeste dele van die wêreld. Teerstrate, besige winkels, nuwe motors en ’n eindelose massa mense wat verbystroom. Daar was die groot populierboom waaraan slawe in daardie vroeë dae vasgemaak was toe opperhoofde gevangenes of lede van hulle eie stamme waarvan hulle nie gehou het nie as slawe verkoop het.” Dit was die woorde van ’n toeris wat Freetown, die hoofstad van Sierra Leone, besoek het.
Die naam Sierra Leone, wat “Leeuberge” beteken, dateer uit die dae toe die Portugese avonturier Pedro de Sintra die gebied in 1462 die eerste keer bereik het. Hierdie land is geleë aan die suidwestelike kus van Wes-Afrika en het ’n bevolking van meer as 3 000 000.
Jehovah se Getuies is nie nuwelinge in Sierra Leone nie. Publikasies van die Wagtoringgenootskap word al ten minste van 1915 af daar gelees. Hierdie publikasies is saamgebring deur persone van die Wes-Indiese eilande wat na Sierra Leone gekom het om werk te soek. Een van hierdie persone was Alfred Joseph van Barbados. Hy het begin om Bybelwaarheid aan ander te verkondig. Toe hy die belangstelling onder die plaaslike mense sien, het hy aan die Wagtoringgenootskap geskryf en hulp gevra om na die belangstelling om te sien. ’n Paar maande later het W. R. (Bible) Brown en sy vrou uit Trinidad, Wes-lndië, daar aangekom.
Broer Brown se eerste toespraak was oor die gedagteprikkelende onderwerp “Waar is die dode?”
en dit is mondelings geadverteer. Het die mense van Freetown die uitnodiging aangeneem? Laat Alfred Joseph antwoord: “Ons was verheug oor die opkoms. Die meeste predikante van Freetown, omtrent twintig, het opgedaag vir die toespraak, maar die meeste van hulle het hulle godsdiensgewaad uitgetrek om minder opvallend te wees. In die groot gehoor van 500 wat die Wilberforce Memorial Hall gevul het, was daar ’n jong kweekskoolstudent, M. A. Garber. Hy en die hele gehoor het aandagtig geluister na die toespraak van een uur waartydens die Skrifaanhalings deur middel van lanternskyfies vir die gehoor vertoon is. Kragtige toesprake het sulke skares getrek dat een ou inwoner van Freetown dit soos volg gestel het: ‘Die plaaslike kerke moes hulle aanddienste kanselleer, want al die lidmate het na “Bible” Brown se toesprake gaan luister.’”
Teen die einde van 1923 is veertien persone gedoop, onder meer Garber. Die groepie was baie bedrywig in die evangelisasiewerk. Dit blyk dat die meeste predikingswerk tot 1927 tot die hoofstad beperk was. Maar van 1928 af het die Bybelstudente reise na die provinsies onderneem. Diegene in Freetown wat nie saam kon gaan nie, het gehelp om die reise na die binneland te finansier. Voor die reënseisoen is daar elke jaar in die buitegebiede van huis tot huis gepreek en toesprake gehou. Die eerste Sondag van elke maand is opsy gesit om na die statte terug te gaan en belangstelling verder aan te wakker. Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog is die publikasies van die Wagtoringgenootskap verbied en is party selfs by die doeanekaai verbrand. Die getuieniswerk het nietemin voortgegaan.
Gedurende die daaropvolgende jare was daar geen noemenswaardige vermeerderinge in die getal persone wat die Bybelboodskap aangeneem het nie. Maar onder diegene wat dit wel aangeneem het, was daar manne wat merkwaardige ywer en deursettingsvermoë getoon het. Een van hulle was Zachaeus Martyn. Voor sy dood op die ouderdom van sewe-en-negentig het hy vertel: “Niemand het ooit met my die Bybel bestudeer nie. Maar in 1941 was ek vasbeslote om een van die vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon. Nadat ek dit die derde Sondag gedoen het, het ek geweet waar ek moes wees. Toe ek na Gloucester, my tuiste in die berge, teruggekeer het, het ek die plaaslike Anglikaanse Kerk versoek om my naam van die ledelys te skrap. ’n Goeie vriend wat ook ’n kerkganger was, het met my geraas en gesê: ‘Oubaas, as jy aanhou om daardie [agt kilometer] berg op en berg af na die saal van daardie mense te loop, sal jy binne ’n jaar dood wees.’ Hy het gekyk hoedat ek vyf jaar lank twee maal per week berg op en berg af loop, en toe het hy dood neergeslaan. Dit was dertig jaar gelede, en ek voel steeds fiks.”
Die goeie nuus bereik die Kisi-sprekendes
Van 1957 af het baie lede van die stam wat Kisi praat die leerstellings van die Bybel aangeneem. Hierdie stam word aangetref in die driehoek wat Sierra Leone, Liberië en Guinea insluit. Die mense is hoofsaaklik animiste en het die Moslems se invloed lank weerstaan. Alhoewel hulle veelwyfery beoefen en te kampe het met die probleem van ongeletterdheid, het baie hulle ou weë versaak en hulle lewens na Bybelstandaarde begin skik. Deur die Kisi-sprekendes in Sierra Leone en Liberië het die goeie nuus hulle stamgenote in Guinea bereik. Die gevolg is dat daar nou meer as 150 Getuies in Guinea is wat uit hierdie stam kom.
Hoe het die Kisi-sprekendes in Sierra Leone gereageer? ’n Reisende opsiener het omstreeks 4 nm. in Koindu aangekom, en die Getuie wat hom genooi het, het hom meegedeel dat daar om 6 nm. ’n toespraak sou wees. Die reisende opsiener het gesê: “Ek het beswaar gemaak, aangesien niemand geweet het dat daar ’n toespraak sou wees nie. Maar hy het daarop aangedring en gesê dat die stadsomroeper dit sou adverteer. Ons het geëet en gebad. Nog voordat ek vir die toespraak kon aantrek, het die mense begin kom. Daar was eerlank negentig persone, meestal mans. Nadat ek ’n uur lank gepraat het, het ek opgehou en vir hulle gesê dat dit die einde van die toespraak was. Maar niemand het geloop nie. Hulle wou vrae stel. Dit het voortgeduur tot omstreeks 9 nm., toe ’n storm die meeste van hulle huis toe laat gaan het. Maar omtrent twintig mans het tot 2 vm. gebly.”
Hierdie mense het gou gereageer. Kort daarna het vyf persone begin om die Bybel se boodskap aan ander te verkondig, toe tien, toe vyftien en twintig. Toe die reisende opsiener dit hoor, het hy getwyfel of hierdie mense werklik die soort geloof het wat van ware Christene geverg word. Gelukkig het hulle daardie soort geloof gehad. Party van daardie eerste groepie verkondig nog steeds die goeie nuus.
Wanneer die nederige Kisi-sprekendes die Bybel se boodskap aangeneem het, het hulle ernstige probleme en groot teenstand ondervind. ’n Reisende opsiener berig: “Baie moes bittere vervolging verduur weens hulle strenge neutraliteit ten opsigte van politieke geskille en omdat hulle nie langer aan heidense godsdiensritusse en -seremonies wou meedoen nie. Party is deur hul stamgenote ter dood veroordeel. In die lig van die omstandighede blyk dit dat die tussenkoms van engele voorkom het dat die vonnisse voltrek is. Baie Getuies het in die veld ingevlug om hulle lewens te red totdat die burgerlike owerhede die gevalle kon ondersoek. In die meeste gevalle het die polisie die broers beskerm. Toe twee manlike Getuies se huise afgebrand is en hulle vasgebind en geslaan is, is die skuldiges gestraf. Die magistraatshof het die opperhoof sy bestuurspersoneel so te sê ’n jaar lank ontneem. Later het hierdie opperhoof groot belangstelling in Jehovah se Getuies getoon. In 1968, toe hulle ’n kringbyeenkoms in sy dorp gehou het, het hy slaapplek aan besoekende byeenkomsgangers gebied en ’n groot koei geskenk.”
Die werk gaan voort
Dit is veral sedert 1959 dat al hoe meer persone begin het om die goeie nuus in Sierra Leone te verkondig. 19 Augustus 1967 was ’n besonder heuglike dag, want toe is ’n nuwe takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Freetown toegewy. Die gebou, wat deur ’n tropiese tuin omring word, is in een van die spog-woonbuurte geleë en bevat ’n mooi Koninkryksaal. Die gebou het die aansien van die werk van Jehovah se Getuies in baie mense se oë laat styg. Dit het ook sekere godsdienskritici, wat gesê het dat Jehovah se Getuies nie ’n vastrapplek in Sierra Leone sal kry nie, die swye opgelê.
Vandag besoek meer as 550 Getuies gereeld die huise van hulle bure om hulle te help om meer omtrent God se voornemens te wete te kom. Dit sluit voormalige veelwywers en ’n gewese priesteres en profetes van ’n spiritistiese kerk in.
Jehovah se Getuies in Sierra Leone sien daarna uit om nog baie mense te help om van ware aanbidding te leer. Hulle is vasbeslote om “altyd oorvloedig in die werk van die Here” te wees.—1 Korinthiërs 15:58.