Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 11/15 bl. 18-23
  • “Geliefdes, . . . Bly in die liefde van God”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Geliefdes, . . . Bly in die liefde van God”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Spotters voorspel
  • Hoe om in God se liefde te bly
  • Die nodigheid om barmhartigheid aan ander te bewys
  • Skryf heerlikheid, majesteit, krag en mag aan God toe
  • Neem Judas se boodskap ter harte!
  • Bybelboek nommer 65—Judas
    “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • ‘Stry kragtig vir die geloof’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • ‘Stry hard vir die geloof’!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
  • Ons moet hard stry om in die waarheid te bly
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2019
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 11/15 bl. 18-23

“Geliefdes, . . . Bly in die liefde van God”

“Julle, geliefdes, meet egter voortgaan om julle lewe te bou op julle allerheiligste geloof. Bid altyd deur die krag van die Heilige Gees. Bly in die liefde van God”—Judas 20, 21, NTP.

1, 2. Watter vermaning, benewens waarskuwings, tref ons in die brief van Judas aan?

JEHOVAH se onverdiende goedheid blyk uit sy handelinge met diegene wat hom liefhet. Deur sy geïnspireerde Woord toon hy wat hy van hulle verlang. En hoe dankbaar kan ons tog wees dat ’n deel van God se Woord, die brief van Judas, waarskuwings bevat wat ons kan help om ’n regte verhouding met Jehovah God te bewaar!

2 Maar Judas rig nie alleen die nodige waarskuwings nie. Hy toon ook wat ons moet doen om geestelik sterker te word en om ‘in God se liefde te bly’. Ons sal gevolglik groot baat vind by ’n bespreking van die laaste deel van Judas se brief.

Spotters voorspel

3, 4. Na watter “woorde” van Jesus se apostels het Judas verwys?

3 Judas het sy lesers aan iets belangriks herinner toe hy geskryf het:

“Maar julle, geliefdes, moet die woorde onthou wat tevore gespreek is deur die apostels van onse Here Jesus Christus, dat hulle vir julle gesê het: In die laaste tyd sal daar spotters wees wat volgens hul eie goddelose begeerlikhede wandel. Dit is hulle wat skeuring maak, sinnelike [dierlike, NW] mense wat die Gees nie het nie” (Judas 17-19).

Judas het veel gesê om die “goddelose mense” wat in die gemeente ingesluip het aan die kaak te stel. Toe het Judas medegelowiges wat hy baie liefgehad het smekend aangespreek en hulle versoek om die woorde te onthou wat tevore deur Jesus se apostels gespreek is. As hulle aan daardie woorde teruggedink het, sou dit alle opregte Christene beweeg het om “kragtig te stry vir die geloof”.

4 Die apostel Paulus het mede-opsieners gewaarsku dat manne uit hulle sal “opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Handelinge 20:29, 30). Hy het vir Timotheüs gesê dat ‘sommige in die laaste tye van die geloof afvallig sou word’ (1 Timotheüs 4:1, 2). En die apostel Petrus het spesifiek gewaarsku dat ‘daar aan die einde van die dae spotters sou kom wat sê: Waar is die belofte van sy wederkoms?’—2 Petrus 3:1-4.

5. Wat het die “goddelose mense” wat in die gemeente ingesluip het met getroue Christene gedoen, en hoe moes godvresende persone daarop gereageer het?

5 Die ontvangers van Judas se brief het dus goeie rede gehad om te verwag dat “spotters” hul verskyning sou maak in die tydperk wat die einde van die Joodse stelsel onmiddellik voorafgegaan het. Dit is nie onwaarskynlik nie dat die “goddelose mense” wat in die gemeente ingesluip het, gespot het met getroue gelowiges wat Jehovah se regverdige standaarde nageleef het en nie saam met die “valse broeders” losbandig wou wees nie. Maar dit was noodsaaklik dat godvresende persone ‘kragtig stry vir die geloof’, selfs al is hulle bespot deur valse leraars wat “volgens” hulle eie onsedelike “goddelose begeerlikhede” gewandel het en daardeur aangedryf is.—Vergelyk 2 Korinthiërs 11:26; Galasiërs 2:4, 5.

6. Wat het die goddelose spotters probeer doen, al het God die eenheid verseker van diegene wat hom liefhet?

6 Hoewel God deur sy gees die eenheid verseker het van diegene wat hom liefhet, het daardie goddelose spotters “skeuring” probeer maak en gepoog om ’n skeidingswerk onder Jehovah se volk te doen (Judas 19; Psalm 133:1-3; 1 Korinthiërs 1:10). Alhoewel die spotters sleg gepraat het van die getroue, verantwoordelike manne in die gemeente, het die goddelose mense hul bewondering uitgespreek vir individue uit wie hulle voordeel kon trek (Judas 8, 16). Net soos die Fariseërs het hulle neergesien op die nederige, godvresende lede van die gemeente. In plaas daarvan om saam met die Here te versamel, het hulle probeer verstrooi. Selfs vandag nog probeer party om die onbestendiges weg te trek na privaat groepies, kamma vir “Bybelstudie”. Dit kan nooit liefde vir God, Christus en die Christengemeente bevorder nie.—Lukas 11:23.

7. Waarom is die “goddelose mense” gepas “dierlik” genoem?

7 Daardie manne is gepas ‘dierlik’ of ‘sinnelik’ genoem, want hulle was voelende wesens wat geswig het voor vleeslike sensasies, drange en neigings. Alhoewel hulle gemeen het dat hulle geestelik verlig was, het Judas hulle beskryf as mense “wat die Gees nie het nie”. Daardie “sinnelike mense” het in werklikheid nie Jehovah se gees gehad nie, kon nie geestelike sake begryp nie en het skaars bo die vlak van redelose diere uitgestyg. As ons Jehovah se gees het en “die dieptes van God” verstaan, moet ons ons hemelse Vader innig dankbaar wees.—1 Korinthiërs 2:6-16.

Hoe om in God se liefde te bly

8. Waarna het die uitdrukking “allerheiligste geloof” moontlik verwys?

8 Judas het vervolgens ’n smekende versoek gerig met die woorde:

“Maar julle, geliefdes, moet julleself opbou in jul allerheiligste geloof en in die Heilige Gees bid en julleself in die liefde van God bewaar, terwyl julle die barmhartigheid van onse Here Jesus Christus tot die ewige lewe verwag” (Judas 20, 21).

Judas het liefdevol getoon hoe sy dierbare medegelowiges in die liefde van Jehovah kon bly. As ’n mens sy raad wou volg, sou dit beslis beteken dat jy geloof, ’n vrug van God se gees, moes aankweek (Galasiërs 5:22, 23, NW). Maar in die lig van Judas se vroeëre verwysing na ‘die geloof wat aan die heiliges oorgelewer is’ (v. 3), kan die uitdrukking “allerheiligste geloof verwys het na die hele versameling Christelike leerstellings, onder meer die evangelie van redding. Die grondslag van sulke ware geloof is Christus, en dit is die “allerheiligste geloof genoem omdat dit op die God van heiligheid gerig was en uitsluitlik op sy heilige Woord gebaseer was.—Handelinge 20:32; 1 Korinthiërs 3:10-15.

9. Wat moet ons doen om ‘ons in ons allerheiligste geloof op te bou’?

9 As Christene ‘hulself in hul allerheiligste geloof wil opbou’, of dit wil versterk, moet hulle God se Woord persoonlik en as ’n gemeente naarstig bestudeer. As ons die Skrif dikwels met mede-Christengetuies van Jehovah bespreek en die evangelie aan ander verkondig, sal dit die indruk wat die Bybel op ons harte maak, vergroot. Maar al hierdie dinge kan slegs met opregte gebed bereik word. ’n Individu ‘bid in die heilige gees’ wanneer hy onder die invloed daarvan bid en sy gebed met die dinge in Jehovah se Woord strook. Daarbenewens toon die Skrif, wat onder inspirasie van God se gees geskryf is, vir ons hoe om te bid en waarvoor om in gebed te vra. Ons kan byvoorbeeld met vertroue bid dat God ons met sy heilige gees moet vervul. As ons ‘in die heilige gees bid’, sal ons gebede ’n regte harttoestand openbaar, een waarvoor God lief is. Ons sal aldus beskerm word teen onbehoorlike invloede, onder meer die beskouings van enige “goddelose mense” wat dalk in die gemeente insluip.—Lukas 11:13; Romeine 8:9, 26, 27.

10. Wat moes Judas se medegelowiges doen om ‘in God se liefde te bly’?

10 Om ‘in God se liefde te bly’, moes Judas se medegelowiges Jehovah se gebooie en dié van Sy Seun bewaar (Johannes 15:10; 1 Johannes 5:3). Woorde en gedrag wat deur God goedgekeur word, is nodig om in God se liefde te bly. Omdat die getroues onvolmaak en sondig is, sal hulle, as hulle in God se liefde wil bly, voortdurend Jehovah se barmhartigheid nodig hê wat bewys word deur Jesus Christus en moontlik gemaak word deur die losprysoffer van onse Here (Romeine 5:8; 9:14-18; 1 Johannes 4:9, 10). Die voortdurende betoning van goddelike barmhartigheid aan Jesus se getroue volgelinge bring eindelik die ewige lewe mee.—Johannes 3:16.

Die nodigheid om barmhartigheid aan ander te bewys

11. Wat het Judas oor barmhartigheid gesê, en tussen wie moes daar onderskei word wanneer dit bewys word?

11 Aangaande die nodigheid om barmhartigheid te bewys, het Judas gesê:

“En aan sommige wat twyfel, moet julle barmhartigheid bewys; maar ander moet julle met vrees red deur hulle uit die vuur te ruk: en ook die kleed moet julle haat wat deur sonde bevlek is” (Judas 22, 23).

Indien Judas se medegelowiges steeds goddelike barmhartigheid wou ontvang, moes hulle barmhartig wees teenoor ander wie se ewige lewe op die spel was (Jakobus 2:13). Maar as die getroues steeds ‘barmhartigheid wou bewys aan sommige wat twyfel’, moes hulle onderskei tussen diegene wat in aanmerking gekom het vir barmhartigheid en die ‘dromers’.

12. (a) Watter twyfelgedagtes het sommige miskien gekoester omdat hulle deur die “goddelose mense” beïnvloed is? (b) Hoe is dit moontlik om ‘sommige uit die vuur te ruk’?

12 Deur hulle valse leer, murmurering, klaery, ensovoorts het die “goddelose mense” twyfelgedagtes gewek by persone wat geestelik onbestendig was. Omdat hulle geskok was oor die trotse woorde van die valse leraars, het die twyfelaars miskien gewonder of toegewyde Christene werklik Jehovah se volk is en het hulle miskien opgehou om saam met hulle te aanbid en die evangelie te verkondig. Sulke onbestendiges het gevaar geloop om in die “vuur” te beland of vir ewig vernietig te word. (Vergelyk Mattheüs 18:8, 9; 25:31-33, 41-46.) Maar deur hulle met geestelike vermaning en gebed te hulp te snel, kon bestendige Christene, veral gemeente-opsieners, hulle red “deur hulle uit die vuur te ruk”.—Galasiërs 6:1; Jakobus 5:13-20.

13. (a) Hoe het party ‘hulle onderkleed bevlek’? (b) Hoe kan draers van ‘bevlekte klere’ ‘gered’ word?

13 Sommige het moontlik geswig voor die besoedelaars van die vlees en saam met hulle in onsedelikheid verval, of so nie in geestelike owerspel (Jakobus 4:4). Deur hulle skuldig te maak aan dierlike gebruike het hulle as ’t ware ‘die onderkleed bevlek’. Hulle het hulle innerlike persoonlikheid as ware Christene, soos ’n kledingstuk wat teen die vel gedra word, bevlek. (Vergelyk Openbaring 3:4, 5.) Getroue getuies van Jehovah was op hulle hoede sodat hulle nie hulle kleed, die Christelike persoonlikheid, op hierdie manier sou bevlek nie, want dit het Jehovah God mishaag en kon vernietiging meebring. Maar, godvresende persone, veral die aangestelde ouere manne, het medelydend probeer om die onbestendige draers van ‘bevlekte klere’ na die weg van redding terug te help. Indien eiesinnige persone waarlik berouvol was, sou dit moontlik wees om hulle te “red” van die dood in goddelike onguns waarheen ’n onrein weg hulle sou lei.—Spreuke 28:13.

Skryf heerlikheid, majesteit, krag en mag aan God toe

14, 15 (a) Wie kon Judas se gesalfde mede-aanbidders van struikeling bewaar, en waarin kon ’n persoon struikel? (b) Hoe kon getroue, gesalfde getuies van Jehovah ‘onbevlek’ voor God gestel word? (c) Waarna sien die “groot menigte” uit?

14 Judas het ten slotte sy lesers aan God opgedra en gesê:

“Aan Hom wat magtig is om julle van struikeling te bewaar en julle onbevlek en met vreugde sy heerlikheid te laat aanskou, aan die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here, aan Hom behoort die heerlikheid en die majesteit, die krag en die mag, van alle ewigheid af, ook nou en tot in alle ewigheid! Amen” (Judas 24, 25, NTP).

Nadat Judas geïnspireerde waarskuwings gerig en betroubare raad gegee het, moes hy medegelowiges wat in geestelike gevaar verkeer het aan God se sorg toevertrou. Slegs Jehovah kon hulle die “goddelose mense” in hulle midde met welslae laat weerstaan. Judas het dus gepas sy brief afgesluit met ’n lofbetuiging aan die Allerhoogste.

15 Judas se gesalfde mede-aanbidders kon hulle vertroue stel in Jehovah as die Een ‘wat magtig is om hulle van struikeling te bewaar’. God kon hulle beskerm sodat hulle nie in oortreding verval nie en sodat hulle nie swig voor die versoeking om onsedelik te wees nie, iets wat die goddelose besoedelaars van die vlees hulle aangespoor het om te doen. Ja, Jehovah kon die godvresendes bewaar vir “struikeling” in growwe sonde en die vernietiging wat op onberouvolle, sinnelike valse Christene wag. Daarbenewens kon Jehovah sy getroue getuies “sonder gebrek voor sy heerlikheid” of “voor sy heerlike persoon” stel (AB; NW, uitgawe van 1950). Hulle sal geestelik onbevlek kan staan danksy God se onverdiende goedheid (Efesiërs 2:1-7; Kolossense 1:21-23). Getroue, gesalfde getuies van Jehovah wil hê dat Jesus Christus hulle moet opwek en hulle in geestelike volmaaktheid voor die “heerlike persoon” van God moet stel (Johannes 5:25; 11:24, 25). Dit sal gewis groot “vreugde” vir hulle meebring. Die “groot menigte” sien eweneens daarna uit om deur “die groot verdrukking” gelei te word en om verdere voorregte in “heilige diens” te geniet terwyl hulle hier op aarde tot menslike volmaaktheid vorder.—Openbaring 7:9, 10, 14-17, vgl. NW.

16. (a) Waarom kan Jehovah “die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here” genoem word? (b) Wat het Judas aan God toegeskryf, en waarom was dit gepas?

16 Jehovah is, soos Judas gesê het, “die enigste God, ons Verlosser deur Jesus Christus ons Here”. Jehovah word dikwels in die Skrif as ’n Verlosser geïdentifiseer (Psalm 106:21; Jesaja 43:3, NW; Jeremia 14:8; Lukas 1:46, 47,  NW). Hy is die Een wat verlossing deur die Here Jesus Christus voorsien het (Mattheüs 20:28; Johannes 3:16; Romeine 5:8; 1 Johannes 4:9, 14). Judas het dus gepas “heerlikheid” (Grieks, doxa), wat luisterrykheid aandui, aan Jehovah toegeskryf. (Vergelyk Psalm 29:1,  2, vgl. NW.) Hy het ook “majesteit” (Grieks, megalōsynē), wat “hoogheid” van ’n koninklike aard aandui, aan God toegeskryf (Int). Dit is ’n gepaste erkenning van Jehovah se vorstelike oppergesag as “Koning van die eeue” (1 Timotheüs 1:17). Kratos, of “krag” is ook aan Jehovah toegeskryf, en slaan klaarblyklik op sy heerskappy, hetsy in die hemel of oor die aarde. (Vergelyk Daniël 4:25; Openbaring 11:16-18.) Judas het verder “mag” (Grieks, exousia) aan God toegeskryf, want Jehovah het die mag en vermoë om op te tree soos dit Hom behaag.—Daniël 4:34, 35.

17. Waarom was Judas se toeskrywing aan God gepas (a) “van alle ewigheid af”? (b) “nou”? (c) “tot in alle ewigheid”?

17 Judas het gepas heerlikheid, majesteit, krag en mag aan Jehovah toegeskryf, “van alle ewigheid af”, of “voor alle tyd” soos mense dit ken, want Jehovah is God “van ewigheid tot ewigheid” (Judas 25, vgl. NW, uitgawe van 1950, voetnoot; Psalm 90:2). Jehovah se aanbidders skryf hierdie dinge “nou” dit wil sê, toe Judas geskryf het sowel as vandag, tereg aan Hom toe. Jehovah verdien bowendien hierdie toeskrywing “tot in alle ewigheid” want hy sal nooit sterf nie en sal altyd getroue lowers hê (Habakuk 1:12, NW; Psalm 148). By sy slotwoorde, wat feitlik ’n gebed is, voeg Judas “Amen” of “Laat dit so wees”. En alle getroue Christengetuies van Jehovah stem hartlik met sy lofbetuiging saam.

Neem Judas se boodskap ter harte!

18. Wat het ons uit Judas se brief geleer aangaande (a) valse leraars? (b) ‘losbandigheid’? (c) ongelowigheid? (d) eerbied vir gesag? (e) murmurering en klaery? (f) vleiery ter wille van selfsugtige voordeel?

18 Judas se brief het vandag groot betekenis vir Jehovah se Getuies. Ons moet God se Woord aanhang en valse leraars tot elke prys vermy (Job 13:16; 27:8, 9; Jeremia 17:13; Judas 4, 19). Die getroues moet alle aanleiding om hulle skuldig te maak aan ‘losbandigheid’ weerstaan (Judas 3, 4, NTP; Genesis 39:7-12). Ons moet ook nie ongelowig word nie, want dit kan ons ons ewige lewe kos (Hebreërs 3:12; Judas 5). Judas se boodskap moet ons ook beweeg om gesag wat deur God daargestel is te respekteer en om enige versoeking te weerstaan om sleg te praat van diegene wat gemeentelike verantwoordelikheid getrou nakom (Hebreërs 13:17; Judas 8, 9). In plaas daarvan om te murmureer en te kla, moet ons liewer deur Judas se brief beweeg word om liefde aan Jehovah God en ons medegelowiges te bewys (Mattheüs 22:37-40; Johannes 13:34, 35; Romeine 13:8-10; Judas 16). Judas se woorde help ons ook om ander nie ter wille van selfsugtige voordeel te vlei nie, daar dit een van die slinkse weë is wat ons vir Jehovah verfoeilik maak.—Spreuke 3:32, NW; Judas 16.

19. Waarom moet ons Judas se goddelik geïnspireerde boodskap ter harte neem?

19 Laat ons dus almal, as toegewyde Christengetuies van Jehovah en sy dierbare Seun, die gewigtige en liefdevolle boodskap van die dissipel Judas ter harte neem. (Vergelyk Jesaja 43:10-12; Handelinge 1:8). Sy woorde sal ons help om selfs met vaster tred op “die pad van die lewe” te loop (Psalm 16:11). Mag ons steeds ‘op ons hoede bly ooreenkomstig Jehovah se woord’, met inbegrip van Judas se brief (Psalm 119:9-16, NW). So sal ons daarin slaag om “kragtig te stry vir die geloof en sal ons, met hulp van bo, ‘in die liefde van God bly’.

Onthou jy hierdie gedagtes?

◻ Wie het gewaarsku dat daar ‘in die laaste tyd spotters sou wees’, en waarom het Judas die aandag hierop gevestig?

◻ Wat is die “allerheiligste geloof” en hoe kan ons onsself daarin opbou?

◻ Hoe kon Judas se medegelowiges ‘in God se liefde bly’?

◻ Waarom het party belydende Christene barmhartigheid nodig gehad, en hoe kon hulle ‘uit die vuur geruk word’?

◻ Waarom was dit gepas dat Judas heerlikheid, majesteit, krag en mag aan Jehovah God toegeskryf het?

◻ Watter probleme help Judas se boodskap ons om die hoof te bied, sodat dit goed sal wees as ons dit ter harte neem?

[Prent op bladsy 19]

Jehovah se getroue getuies van die eerste eeu het ‘kragtig gestry vir die geloof’, selfs al het valse leraars met hulle gespot

[Prent op bladsy 20]

‘Bid in die heilige gees’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel