“Kyk, die Here het gekom met sy heilige tienduisendtalle”
“Kyk, [Jehovah] het gekom met sy heilige tienduisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het.”—Judas 14, 15.
1. Hoe moet Jehovah as die Opperregter beskou word?
JEHOVAH, die Opperregter, verdien respek (Jesaja 33:22). Tog bejeën baie hom met groot minagting. Sulke verwaande oortreders het die “goddelose mense” ingesluit waarvan die dissipel Judas in sy goddelik geïnspireerde brief geskryf het. Maar niemand kan God ongestraf minag nie, want daar bestaan geen twyfel dat ‘Jehovah gaan kom om gerig te hou oor al die goddelose mense’ nie.—Judas 14, 15; Job 9:1-4.
2. (a) Watter punte het ons bespreking van Judas se brief tot dusver onder ons aandag gebring? (b) Wat behoort Judas se verdere raad vir ons te doen?
2 Ons vroeëre bespreking van Judas se brief het die nodigheid beklemtoon om valse leraars en voornemende besoedelaars van die vlees te weerstaan, maar om ag te slaan op Skriftuurlike waarskuwings en gesag te respekteer wat deur God daargestel is (Judas 1-10). Mag Judas se verdere raad nou ons eerbied vir die Opperregter verhoog sodat ons onversetlik onder sy getuies sal staan met die ewige lewe in die vooruitsig.
“Wee hulle”
3. Waaraan was Kain skuldig?
3 Aangaande die “goddelose mense” wat Jehovah getrotseer het, het Judas geskryf:
“Wee hulle, want hulle het die weg van Kain bewandel en om loon hulleself in die verleiding van Bileam gestort en in die verset [opstandige praatjies, NW] van Korag omgekom” (Judas 11).
Deur te sê “wee hulle” het Judas getoon dat daar onheil wag op die “goddelose mense” wat in die gemeente van Jehovah se volk ingesluip het. (Vergelyk Lukas 11:42-47, 52.) Daardie mense het “die weg van Kain bewandel”. Hoewel God Abel en sy offer van dierevleis en bloed goedgekeur het, is Kain se bloedlose offer, wat in die verkeerde gees gebring is, verwerp. Kain was ongelowig en het nie die heerlikheid of eer wat God aan Abel verleen het, gerespekteer nie. In jaloesie en haat het Kain selfs ’n goddelike waarskuwing in die wind geslaan en sy broer vermoor.—Genesis 4:2-8; Hebreërs 11:4; 1 Johannes 3:12.
4. (a) Wat was “die weg van Kain”? (b) Waarom moet jy ‘Kain se weg’ vermy?
4 Dit was hoofsaaklik vir Jehovah dat Kain minagting getoon het, en sy oneerbiedige weg is “die weg van Kain” genoem. Net soos sy uitdagende optrede en goddelose beweegrede heeltemal verkeerd was, so is dit ook vandag die geval met enige persoon wat bely dat hy een van Jehovah se Getuies is maar wat probeer om God se genade te verander in ’n verskoning vir losbandigheid. So ’n persoon bewandel Kain se “weg”. Net soos Kain, wat sy broer gehaat en vermoor het, is sulke individue ‘moordenaars’, want hulle haat getroue Christene wat Jehovah met Sy diens vereer het (1 Johannes 3:15). God het Kain vervloek, en met die Vloed is sy afstammelinge uitgewis. Net so wag daar “wee” op diegene wat ‘Kain se weg’ bewandel, want dit mishaag Jehovah en lei tot vernietiging.
5. (a) Watter weg het Bileam ingeslaan? (b) Wie het hulself in Judas se dag “in die verleiding van Bileam gestort”? (c) Wat sal gebeur met enigiemand wat nou probeer om Jehovah se volk deur middel van valse leerstellings en die bevrediging van dierlike drifte te verderf?
5 Die goddelose besoedelaars van die vlees het hulle ook “om loon . . . in die verleiding van Bileam gestort”. Omdat Bileam voor Moabitiese koning Balak se herhaalde aanbiedings van ’n beloning geswig het, het hy probeer om die Israeliete drie keer te vervloek, maar Jehovah het elke keer die vloek in ’n seën verander. Daarop het hebsugtige Bileam vir Balak aan die hand gedoen dat indien Israel verlei kon word om ander gode te aanbid en hulle aan dierlike drifte oor te gee, God selfs Sy eie volk sou vervloek. Hierdie bose raad is gevolg, en weens die Israeliete se losbandigheid is 24 000 van hulle gedood deur ’n plaag wat God gestuur het en deur regstreekse teregstelling (Numeri 22:1-25:9; Openbaring 2:14). Later is Bileam self om die lewe gebring deur diegene wat hy probeer vervloek het (Numeri 31:8). Daar wag eweneens onheil op enigiemand wat beweer dat hy een van Jehovah se Getuies is maar wat hebsugtig is en probeer om Jehovah se volk te verderf deur middel van valse leerstellings en die bevrediging van dierlike drifte. Daar was sulke gevalle in ons dag, en getroue, toegewyde getuies van Jehovah moet op hulle hoede wees!
6, 7. (a) Waaraan was die Leviet Korag skuldig? (b) Wat het met Korag en sy trawante gebeur? (c) Hoe moet ons “opstandige praatjies” beskou?
6 Nog ’n waarskuwende voorbeeld wat deur Judas verstrek word, was dié van die Leviet Korag, wat sy toevlug tot “opstandige praatjies” geneem het. Aangevuur deur ambisie het hy Moses valslik daarvan beskuldig dat hy selfsugtig gereël het dat sy eie broer, Aäron, die hoëpriester word, en het hy Aäron daarvan beskuldig dat hy die eer van die priesterskap vir homself en sy huis ingepalm het. Korag het nie die heerlikheid of eer wat God aan Aäron en sy seuns verleen het, gerespekteer nie, maar het in opstand gekom teen diegene wat deur God aangestel is.
7 Hoewel Korag en sekere Rubeniete wat hulle aan sy kant geskaar het, uit Egipte gered is, het hulle nooit die Beloofde Land binnegegaan nie. Die aarde het eerder oopgegaan en party van hulle is lewend begrawe, terwyl ander verteer is deur vuur van Jehovah af. Daarna het 14 700 Israeliete wat oor hierdie oordeel van Jehovah gemurmureer het, gesterf weens ’n plaag van Jehovah af (Numeri, hoofstuk 16). Die voltrekking van God se oordeel aan die opstandige “goddelose mense” was so seker, dat Judas gesê het dat hulle “omgekom” het. Dit was feitlik gedaan! Hierdie dinge behoort ons aan te spoor om “opstandige praatjies” te vermy!
8. Watter betekenis het die waarskuwende voorbeelde van Kain, Bileam en Korag vandag?
8 Ja, daar wag gewis wee op enigiemand wat ’n weg van opstand teen Jehovah en sy organisatoriese reëlings bewandel. Judas het getoon dat daar “wee” wag op diegene met ’n gebrek aan liefde en geloof (soos Kain), wat (soos Bileam) graag betaal wou word vir leerstellings wat losbandigheid in die hand gewerk het, en wat (soos Korag) geen eerbied gehad het vir gesag wat deur Jehovah verleen is nie. En Judas se woorde bevat beslis ’n sterk waarskuwing vir enigiemand wat bely dat hy een van Jehovah se Getuies is maar wat God se teokratiese reëling vir ons dag kritiseer of minag.
Waarskuwende gelykenisse
9. Waarom is die goddelose, valse leraars vergelyk met “klippe wat onder die water verborge is”?
9 Waar Judas sy waarskuwing voortsit, gebruik hy gelykenisse:
“Hierdie mense is die klippe wat onder die water verborge is by julle liefdemaaltye, terwyl hulle saam met julle feesvier, herders wat hulself sonder vrees voed; waterlose wolke, deur winde heen en weer gedrywe; bome in die herfstyd, maar vrugloos, twee maal gestorwe, ontworteld; woeste golwe van die see, wat hul eie oorsake van skande opskuim; sterre sonder vaste bane, waarvoor die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word” (Judas 12, 13, NW).
Die valse leraars was onder meer soos “klippe wat onder die water verborge is”. Hierdie manne het voorgegee dat hulle gelowiges liefhet en was gevolglik soos skerp klippe onder die water wat swemmers kon stukkend sny en doodmaak en skepe kon laat sink. Tensy Jehovah se Getuies voortgaan om “kragtig te stry vir die geloof kan sulke bedrieglike leraars onbestendige individue ‘aan die geloof skipbreuk laat ly’.—1 Timotheüs 1:19.
10. (a) Wat was die vroeg-Christelike “liefdemaaltye” moontlik, en met watter beweegrede het die “goddelose mense” dit bygewoon? (b) Wat moet by Jehovah se Getuies se gesellighede vermy word?
10 Hierdie “goddelose mense” het die Christene se “liefdemaaltye” bygewoon. Sulke geleenthede was moontlik feeste waarheen ryk Christene arm medegelowiges genooi het. Maar die voornemende besoedelaars van die vlees het dit met slegte beweegredes bygewoon. (Vergelyk 2 Petrus 2:13.) Daar is eweneens vandag sekeres wat probeer om gesellighede onder Jehovah se Getuies te verander in geleenthede vir brassery, wêreldlike liedjies en danse. Getroue Christengetuies moet nooit toelaat dat dit by hulle gesellighede gebeur nie.
11. (a) Watter soort herders was die goddelose, valse leraars? (b) Wat moet lojale Christene se gesindheid vandag teenoor sulke valse leraars wees?
11 Die goddelose, valse leraars was ook soos herders wat die kudde geplunder en geslag het om hulself te klee en te voed. Hulle het probeer om die onbestendiges op ’n verkeerde weg te lei en het nie vir hulle behoorlike geestelike voedsel gegee nie. (Vergelyk Esegiel 34:7-10.) Hoe noodsaaklik tog dat lojale Christene vandag die beskouings van sulke valse leraars verwerp!
12. Hoe was die valse leraars van Judas se dag soos waterlose wolke wat deur die wind rondgedrywe is?
12 Die valse leraars van Judas se dag was ook soos bedrieglike wolke wat die belofte van broodnodige reën ingehou het, maar wat in werklikheid waterloos was en deur winde voortgedryf is. Daardie mense is deur winde van dwaalleer rondgedryf, en omdat hulle soos “waterlose wolke” was, was hulle geestelik leeg en nutteloos. Jehovah se Getuies moet oppas vir al sulke vermetele, valse leraars.
13. Waarom was die valse leraars soos vruglose bome wat “twee maal” gesterf het en ‘ontwortel’ is?
13 Omdat daardie gemene mense nie die vrug van God se heilige gees gehad het nie, was hulle soos bome sonder vrugte in die herfs, aan die einde van die vrugtetyd. Hulle was soos bome wat ‘twee maal gesterf’ het of “morsdood” was (NTP). Daardie mense het in die gemeente “ingesluip” deur voor te gee dat hulle geestelik lewend was nadat hulle formeel in water gedoop is. Maar aangesien hulle geen vrug tot eer van God gedra het nie, moes hulle behandel word soos onvrugbare vrugtebome in eertydse Palestina behandel is. Hulle is ontwortel en vernietig sodat die belasting op vrugtebome nie op hulle gehef sou word nie. Die feit dat hulle “ontworteld” was, het duidelik getoon dat daardie onberouvolle, afvallige leraars vernietig sou word.
14. In watter sin was die valse leraars soos “woeste golwe van die see”?
14 Omdat daardie valse leraars nie God se heilige gees gehad het nie, was hulle ook soos “woeste golwe van die see”. Hulle was woes soos onstuimige golwe van die see wat slyk en seewier opwerp. Daardie rustelose, dierlike mense het eweneens klaarblyklik luid hul geloof bely, maar hulle goddelose dade en leerstellings het hulle geïdentifiseer as smerige oortreders wat hulle moes skaam.—Jesaja 57:20, 21.
15. Soos watter soort sterre was die valse leraars, en wat is vir hulle bewaar?
15 Aangesien daardie valse leraars nie op die gebied van geregtigheid koersvas was nie, was hulle soos “dwaalsterre” (AB). Dit sou natuurlik onmoontlik wees om op die sterre te stuur as hulle onvoorspelbaar gedwaal het. Net soos in die geval van sterre met geen “vaste bane” nie, kon daar eweneens nie op daardie afvalliges staatgemaak word vir betroubare geestelike leiding nie. Vir daardie valse ligte het God niks behalwe die ewige “donkerheid van die duisternis” “bewaar” nie, en dit het beteken dat hulle vir ewig vernietig sou word. Daar bestaan inderdaad baie redes waarom getroue Christengetuies van Jehovah valse leraars en hulle leerstellings heeltemal verwerp.
Jehovah hou ’n gerig
16. Wie was Henog, en wat het hy geprofeteer?
16 As bewys dat Jehovah teen die goddelose optree, het Judas gesê:
“En Henog, die sewende van Adam af, het ook teen hulle geprofeteer en gesê: Kyk, [Jehovah] het gekom met sy heilige tienduisendtalle, om gerig te hou oor almal en al die goddelose mense onder hulle te straf oor al hulle goddelose werke wat hulle goddelooslik gedoen het, en oor al die harde woorde wat die goddelose sondaars teen Hom gespreek het” (Judas 14, 15).
As ons van Adam, die eerste mens, af reken, was Henog “die sewende”. Set, Enos, Kenan, Mahalalel en Jered was tussenin (Genesis 5:3-18). “Henog het met God gewandel” deur ’n weg te bewandel wat gestrook het met Jehovah se geopenbaarde waarheid (Genesis 5:24; Hebreërs 11:5). Henog was omring deur geestelike verdorwenheid, maar hy het moedig as God se profeet gedien.
17. Hoe het Judas moontlik van Henog se profesie te wete gekom?
17 Hoe Judas van Henog se profesie te wete gekom het, word nie geopenbaar nie. Dit verskyn nie vroeër in die goddelik geïnspireerde Skrifte nie. Jesus het moontlik Henog se profesie in ’n preek aangehaal, waarna dit mondelings oorgelewer is. Maar daar is geen bewys dat Judas ’n soortgelyke verklaring wat in die apokriewe Boek van Henog aangetref word, aangehaal het nie. Aangesien Judas onder goddelike inspirasie geskryf het, staaf die feit dat hy Henog se profesie by sy brief ingesluit het die egtheid van daardie woorde.
18. (a) Waarom kan daar gesê word dat Henog ook aangaande die valse leraars van Judas se dag geprofeteer het? (b) Wat sou die Opperregter, volgens Henog se profesie, doen met diegene wat Hom minag?
18 Henog “het ook teen [die valse leraars van Judas se dag] geprofeteer” klaarblyklik omdat wat hy aangaande vroeëre oortreders voorspel het ook op hulle van toepassing was. Jehovah, die Opperregter, wat deur die goddelose of oneerbiedige mense geminag is, sou sy oordeel aan hulle voltrek. Jehovah sou met sy “heilige tienduisendtalle” dit wil sê, ’n magdom van regverdige engele, kom om dit te doen. (Vergelyk Deuteronomium 33:2; Daniël 7:9, 10.) Die vernaamste Een onder daardie “heilige tienduisendtalle” is die Messias, deur middel van wie Jehovah kom en oordeel vel.—Lukas 1:35; Johannes 5:27; Handelinge 17:30, 31.
19. (a) Hoe het die “goddelose mense” net soos die goddelose van Henog se dag, “harde woorde” teen Jehovah gespreek? (b) Wat sou beslis met goddelose besoedelaars van die vlees gebeur? (c) Hoe moet Jehovah se Getuies hulle dus gedra?
19 Jehovah het hierdie goddelose of oneerbiedige persone genoeg geleentheid gebied om hulle skuld te toon, byvoorbeeld deur hulle ‘losbandigheid’. Hulle goddeloosheid is deur hulle gemene dade en woorde geopenbaar, en dit is op daardie grondslag dat hulle skuldig bevind en deur God ‘veroordeel’ is. Net soos die goddelose mense van Henog se dag “harde woorde” teen God gespreek het, het daardie “goddelose mense” heerskappy verag en diegene aan wie Jehovah ’n mate van heerlikheid verleen het, belaster (Judas 8-10). Hulle het gevolglik “harde woorde” teen Jehovah gespreek en is veroordeel. Getrou aan Henog se profesie het God oordeel aan die goddelose voltrek met die vloed van Noag se dag. Die voltrekking van goddelike oordeel aan die goddelose besoedelaars van die vlees was dus seker, en Jehovah se Getuies kan verwag om ’n soortgelyke voltrekking van oordeel in ons dag te sien. Ons moet dus gewis oppas wat ons doen en sê sodat ons God kan behaag en aan vernietiging kan ontkom.
Vermy murmurering en trotse woorde
20. Hoe moet Jehovah se knegte die murmurering en klagtes van die “goddelose mense” beskou?
20 Met verwysing na ander goddelose karaktertrekke het Judas geskryf:
“Hulle is murmureerders wat oor hul lot klae, en volgens hulle begeerlikhede wandel; en hulle mond spreek trotse woorde, terwyl hulle mense vlei [persoonlikhede bewonder, NW] ter wille van voordeel” (Judas 16).
Christengetuies van Jehovah word vermaan: “Doen alles sonder murmurering” (Filippense 2:14, 15). Maar daardie “goddelose mense” was “murmureerders” soos die Israeliete wat teen Moses en Aäron gemurmureer het en wat gevolglik in die woestyn moes sterf omdat hulle in werklikheid teen God gemurmureer het (Numeri 14:1-38; 1 Korinthiërs 10:10). Die dierlike mense het ook ‘oor hul lewenslot gekla’, net soos die wêreldlike armes sal kla omdat hulle nie ryk is nie, ensovoorts. Net soos ware Christene van Judas se dag steun Jehovah se Getuies vandag op hemelse wysheid en die hulp van God se gees om moeilike omstandighede te verduur. Laat ons nooit soos die goddelose murmureerders van Judas se dag wees nie!
21. (a) Hoe het die “goddelose mense” ‘volgens hulle begeerlikhede gewandel’? (b) Hoe het daardie eiesinnige individue ‘mense gevlei ter wille van voordeel’, en waarom was dit verkeerd?
21 Daardie eiesinnige mense ‘het volgens hulle begeerlikhede gewandel’, daar hulle beheer is deur hulle onsedelike, sinlike drange maar nie deur die gebooie van God of sy Seun nie. (Vergelyk Jakobus 4:1-3.) En hoewel ‘hulle mond trotse woorde gespreek het’, of hulle ‘grootgepraat het’ (NTP), het hulle party persone uitgesoek vir wie hulle dan bewondering geveins het. (Vergelyk Psalm 140:11, NW; Titus 1:10, 11; 2 Petrus 2:18, 19.) Daardie onsedelike mense ‘het mense gevlei ter wille van voordeel’. Hulle het die guns en steun van die rykes, die vernames of ander probeer verkry in die hoop om materieel of sosiaal daarby baat te vind. Maar dit was verskriklik selfsugtig en het daardie oortreders verblind vir die baie meer verhewe, godvrugtige doelwit om Jehovah se guns na te streef. Hulle het dus nie die Opperregter gerespekteer nie en is gevolglik deur hom tot vernietiging gevonnis.
22. Wat het Judas tot ons voordeel geskryf, soos blyk uit ons bespreking tot dusver, en wat sluit die laaste deel van sy brief in?
22 Judas het nie doekies omgedraai toe hy medegelowiges aangespoor het om ‘kragtig vir die geloof te stry’ nie. Hy het die aandag gevestig op Skriftuurlike waarskuwings teen onsedelikheid, opstandigheid en murmurering, en hy het geen twyfel gelaat oor die sekerheid van die voltrekking van goddelike oordeel nie. Hoe tydig tog dat Jehovah se Getuies oor hierdie sake nadink! Soos ons sal sien, het die laaste deel van Judas se brief, wat hartgrondige smeking insluit, ook groot betekenis vir Jehovah se aanbidders.
Kan jy hierdie vrae beantwoord?
◻ Wat was “die weg van Kain” en waarom moet Jehovah se volk dit vermy?
◻ Wie het hulle “in die verleiding van Bileam gestort” en waarom moet jy dit vermy?
◻ Watter waarskuwende voorbeeld bevat die geval van die Leviet Korag vir ons?
◻ Hoekom kon die “goddelose mense” wat Judas bespreek, vergelyk word met vruglose bome wat “twee maal” gesterf het en ‘ontwortel’ is?
◻ Wat het Henog voorspel, en wat moet sy woorde ons beweeg om te doen?
◻ Wat moet ons gesindheid teenoor murmurering en ‘vleiery ter wille van voordeel’ wees in die lig van Judas se raad?
[Prent op bladsy 15]
Net soos onvrugbare vrugtebome ontwortel is, wag vernietiging op onberouvolle, afvallige leraars