Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 10/15 bl. 12-15
  • Koninkryksprediking in dele van Panama

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Koninkryksprediking in dele van Panama
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • In Cayo Paloma en Tobobe
  • In Chiriquí
  • Ter see
  • In Camarón
  • In Tolé
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 10/15 bl. 12-15

Koninkryksprediking in dele van Panama

WAT is jy bereid om te verduur om God te dien? Sal jy deur ’n oerwoud loop? Gestel die moontlikheid bestaan dat jy wilde diere sal teëkom? Sal jy die see aandurf?

Ek en my vrou nooi jou om ons te vergesel terwyl ons ’n paar van die gemeentes van Jehovah se Getuies in net een kring in Panama besoek. Dan kan jy self sien wat Christene in daardie land in Sentraal-Amerika doen om hulle God, Jehovah, te dien.

In Cayo Paloma en Tobobe

Ons eerste besoeke was in die provinsie Bocas del Toro aan die Karibiese kus. Die Guaymí-Indiane, ’n kort, blas, gespierde volk met steil, swart hare, woon hier. In Cayo Paloma en in die Tobobe-gemeente daarnaby word die meeste Koninkrykspredikingswerk in die Guaymí-dialek gedoen, hoewel dit soms nodig is om ook in Spaans sowel as Engels te getuig. Een van ons Guaymí-broers by name Ignacio praat al drie tale. Hy en sy vrou, Virgilia, het drie kinders; hulle is nogtans spesiale pioniers, voltydse verkondigers van die goeie nuus.

Om vir die mense in hierdie gebied te preek, moet ons langs die pragtige strande en oor rotsagtige heuwels en kranse loop. Ander gebiede word per boot bereik. Ignacio reis soontoe in sy cayuco (boomkano) met ’n buiteboordmotor. Aangesien die mense hier die gebruik het om kaalvoet te loop, is ek en my vrou dikwels die enigstes wat skoene dra. Maar ons het gou gevind hoe prakties dit is om kaalvoet op die strand te loop.

Wanneer ons by ons eerste huis in die gebied aankom, sien ons dat daar geen deur is om aan te klop nie. Die meeste huise het net ’n deuropening, en party het min mure, indien enige. Dit is prakties in die warm tropiese klimaat. Die bamboeshuise met dakke van palmtakke staan op stelte. ’n Boomstomp waarop trappe uitgekap is, dien as ’n leer om die huis binne te gaan. Besoekers loop gewoonlik sommer in en gaan sit op die vloer of op ’n bank voordat hulle die huisbewoner groet. Daarna luister al die aanwesiges gewoonlik hoflik terwyl ’n getuienis gegee word. Omdat dit ’n landbougemeenskap is, sal diegene wat nie kontant het nie dikwels plaasprodukte vir ons Bybellektuur verruil.

Natanael en Oliva is nog ’n pionier-egpaar. Hulle reis gereeld van Cayo Paloma na hulle gebied in Buena Vista, ’n kusdorpie in die Chiriquí-strandmeer. Dit is vir my en my vrou ’n groot avontuur om die predikingswerk saam met hulle te doen. Ons steek die skiereiland oor deur ongeveer drie uur lank deur digte, donker oerwoud te loop waar die lug gevul is met die sang van tropiese voëls. Ons dra stewels weens die modder en die slange. Ons moet ook ’n kapmes saamdra vir gebruik in ’n noodgeval. Soms moet ons ons verdedig teen perdebye en ander insekte. En ons moet talle stroompies oorsteek met behulp van “brûe” in die vorm van boomstompe wat omgeval het. Natanael en Oliva dra die nodige items in ’n chacara, ’n los geweefde, handgemaakte sak. Hy dra syne oor sy skouer, maar sy sit die band oor haar voorkop en dra die sak op haar rug.

Nadat ons ’n ver ent geloop het, kom ons by ’n stadig vloeiende, groen rivier. Ons reis ’n halfuur lank per cayuco stroom af, aanvanklik deur vlak water in die skadu van groot mosbedekte bome. Dan word die rivier wyer en kom ons by die see. In Buena Vista het Natanael ’n tweede huis teen ’n heuwel naby die strand. Hierdie huis dien as die plaaslike Koninkryksaal, waar veertig of vyftig persone gereeld vergader. Selfs in hierdie afgeleë plek dra ons Christenbroers wat dele op die vergaderingprogramme behartig, baadjies en dasse. Die vergaderinge word deels in Spaans en deels in Guaymí gehou.

In Chiriquí

Om van Buena Vista by die provinsie Chiriquí te kom, moet ’n mens eers ongeveer vyf uur lank per cayuco vaar deur water wat wemel van die haaie. Daarna volg ’n treinrit van een uur en dan ’n rit van ’n halfuur in ’n ligte vliegtuigie oor die bergreeks na die deel van die land aan die Stille Oseaan.

Die skilderagtige dorpie Boquete is hoog in ’n koel bergpas geleë. In hierdie klein gemeente is ’n Christin wat beslis ’n goeie voorbeeld van volharding stel. Hoewel haar man nie een van Jehovah se Getuies is nie, woon sy Sondae gereeld die vergaderinge by. Sy word gewoonlik deur die meeste van haar vyf kinders vergesel, indien nie deur almal nie. Sy woon hoog in die berge en moet vergaderinge toe loop—nie net ’n paar minute of ’n halfuur nie, maar amper drie uur lank! Sy en haar kinders kom dikwels na sononder by die huis aan nadat hulle die hele pad opdraende geloop het in ’n gebied waar daar slange en soms poemas is. Maar sy doen dit gereeld en vreugdevol om geestelik by die vergaderinge baat te vind.—Hebreërs 10:24, 25.

In ’n ander deel van Chiriquí genaamd Bijagual word die predikingswerk van huis tot huis soms te perd gedoen. Maar as ’n persoon dit te voet doen, moet hy gedurende die reënseisoen deur modder loop en oor plasse spring, terwyl hy gedurende die droë seisoen deur fyn, poeieragtige stof loop. Ondanks sulke toestande bring die getuieniswerk hier ook sy seëninge mee.

In hierdie gebied waar tabak verbou word, het baie hulle tabakboerdery, hulle enigste bron van inkomste, gestaak toe hulle die waarhede van God se Woord geleer het (2 Korinthiërs 7:1). Dit was die geval met ene Baltazar. Na ’n lang tydperk van besluiteloosheid het hy opgehou om tabak te plant, sy huwelik gewettig en is hy saam met sy vrou gedoop. Na die eerste seisoen waarin hy ander gewasse gekweek het, het hy gesê dat hy ekonomies selfs beter daaraan toe was as voorheen.

Ter see

Ek en my vrou wil jou graag voorstel aan Luis, Gumercinda en hulle drie kinders, wat verbonde is aan ’n gemeente op die kus aan die Stille Oseaan se kant. In Januarie 1974 het ’n spesiale pionier genaamd Antonino Luis se huis in Horconcitos gehuur, met Luis se vader as tussenganger. Aangesien Luis ’n plasie op die eiland gehad het, het hy eers vier of vyf maande later dorp toe gekom. Antonino het toe vir hom begin getuig. Toe Luis na die eiland teruggekeer het, het hy begin om die Bybellektuur wat hy geneem het, te lees en vir ander te vertel wat hy geleer het. Eindelik het hy en Gumercinda saam gestudeer, en elke keer wanneer hulle dorp toe gekom het, het hulle Antonino met vrae bestook. Ondanks baie teenstand en spot deur familielede en vriende, het hulle gesê dat hulle gedoop wou word.

Hulle sou tydens ’n kringbyeenkoms in Februarie 1975 gedoop word. Toe die byeenkoms ophande was, het die hele gesin in ’n bootjie geklim en die eiland Donderdagoggend om 2-uur verlaat. Maar in Februarie raak die see baie onstuimig. Hulle moes dus terugkeer wag. Teen 11 vm. het die wind gaan lê en was die see kalmer, en het hulle weer vertrek. Om 2 nm., toe hulle amper in die middel van die baai was, het die see weer onstuimig geraak, het die bootjie rondgedobber en het die water begin inloop. Aangesien die kus nog ver weg was, het hulle tot agter ’n klomp groot rotse geroei. Teen 11-uur daardie nag het die wind effens bedaar sodat hulle Horconcitos Vrydag om 5 vm. bereik het. Alhoewel hulle rooigebrand en moeg was, het hulle die volgende dag ’n bus na die byeenkomsterrein gehaal en hulle Sondag vreugdevol laat doop.

Het Jehovah sulke inspanning geseën? Beslis. Luis is nou ’n bedienings-kneg in die gemeente. En hy het een van sy broers gehelp om hom toe te wy en te laat doop.

In Camarón

In Camarón, in die provinsie Chiriquí, is daar ’n gemeente wat feitlik geheel en al uit Guaymí-Indiane bestaan. Om hulle te besoek, ry ons so ver as wat ons kan per motor, ongeveer ’n halfuur van die hoofweg af. Daar wag die broers ons met perde in. Nadat ons ’n rivier oorgesteek het, ry ons tot in die berge. Sowat twee uur later kom ons by die huis van mede-gelowiges aan wat vir ons ’n huisie gee vir ons verblyf. Na ’n heerlike maaltyd en ’n bad in die spruit, rus ons vir die vergadering die volgende oggend. Van hier af moet ’n mens omtrent ’n uur en ’n kwart berg op loop om by die Koninkryksaal in Camarón te kom. Ander broers moet ook lang afstande te voet aflê om daar te kom. Jy sal sien dat die Koninkryksaal met sy sinkdak geen mure het nie. Maar daar is ’n uithangbord, die jaar se Bybelteks en ’n batteryaangedrewe platespeler vir die Koninkryksliedere.

Na die vergadering gaan ons na die naaste gebied om te preek. Dit is net vyf-en-twintig minute te voet daarvandaan. Dit is nie lank voordat ons die paar huise aldaar besoek het nie. Waar is die volgende gebied? Omtrent nog ’n uur se loop daarvandaan!

In Tolé

Vind jy dit soms moeilik om in jou gebied te preek? Dan nooi ek en my vrou jou om ons te vergesel terwyl ons die goeie nuus in Tolé verkondig. Ons verlaat die Pan-American-snelweg in heuwelagtige gebied. ’n Rukkie later ry ons die dorpie Tolé binne, waar die Koninkryksaal langs die hoofpad geleë is. Die Getuies word dikwels deur Katolieke nonne gevolg wat dan die Bybellektuur wegneem wat by huisbewoners gelaat is. Verskeie opregte persone het desondanks Bybelwaarheid aangeneem.

Daar is byvoorbeeld ’n ouer Getuie aan wie ons jou wil voorstel. Hy het jare gelede begin belangstel omdat ’n winkeleienaar wat ’n Getuie is nie tabak aan hom wou verkoop nie. Omdat hy die Christenvergaderinge waardeer, het hy ses uur lank te perd gery om dit by te woon. Maar hy het besluit dat dit beter sou wees om nader aan die Koninkryksaal te trek. Nou woon hy net vier uur daarvandaan! Op pad vergaderinge toe moet hy ’n rivier drie keer te perd oorsteek. Doen hy dit voortdurend? Ja, hy doen dit nou al meer as tien jaar lank!

Ek en my vrou het dit geniet om jou ’n idee te gee van die omstandighede waaronder ons gemeentes besoek en die predikingswerk in dele van Panama doen.—Bygedra.

[Prent op bladsy 12]

Op pad na ons predikingsgebied

[Prent op bladsy 14]

Die Koninkryksaal in Camarón

[Kaart op bladsy 13]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Panama

Cayo Paloma

Buena Vista

Tobobe

Chiriqui

Bocas del Toro

Boquete

Bijagual

Horconcitos

Camarón

Tolé

Boca Brava

Stille Oseaan

Karibiese See

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel