Buitestaanders se reaksie
DIE stad Atlanta se owerhede het hulle volle samewerking gegee. Die hoofinspekteur, mnr. Gardner, het van ons rooster gehoor, maar sy inspekteurs werk nie Saterdae en Sondae nie. Hy het dus toegelaat dat gelisensieerde Getuie-ambagsmanne die inspeksies uitvoer. Daarbenewens het ’n geregistreerde en gelisensieerde argitek die terrein van tyd tot tyd gedurende die naweek besoek om toe te sien dat die gebou aan al die graafskap se bouregulasies voldoen.
Die drie netwerktelevisiestasies se filmspanne was ook op die bouterrein. Een van die nuusmanne was so beïndruk dat hy lank aangebly het nadat die res van sy filmspan weg is, en hy het sy program vir die 23ste afgesluit met die woorde: “Die broers en susters sal môre terug wees, en ons ook.”
Meer as ’n honderd-en-sestig kilometer van Dunwoody af het ’n Getuie die volgende oggend van huis tot huis gepreek. By ses verskillende deure is daar vir hom gesê: “Julle is mos die mense op TV wat daar in Atlanta die Koninkryksaal in net twee dae bou.”
’n Sakeman in Atlanta het daardie naweek gaste gehad. Vroeg daardie Saterdagoggend het hulle by die terrein verbygery en gesien hoe die mure opgerig word. Hulle was verbaas oor die bedrywigheid en het daardie dag asook die volgende dag elke twee ure teruggekeer om te sien watter vordering gemaak is. Daarna het hierdie sakeman vir mense in die Filippyne, Mexiko en baie van die Westelike state van hierdie gebeurtenis vertel.
Op die 23ste is ’n verkeerskonstabel van die Dekalb County Police Department aangesê om die verkeer naby die Koninkryksaal te reël. Haar kaptein het verduidelik dat ’n kerk daarnaby opgerig word, maar sy het gesê dat daar geen kerk in daardie gebied gebou word nie. Alhoewel sy seker was dat die kaptein dit verkeerd gehad het, het sy nietemin gegaan. Toe sy daar aankom, het sy in die middel van die pad stilgehou, die verkeer versper en uitgeroep: “Ek glo dit nie! Dit was nie gister daar nie!”
’n Getuie werk by die Perimeter Marriott-Hotel in Atlanta as ’n kelner. Die restaurantbestuurder het saam met sy besoekende ouers geëet en vir die Getuie gevra om vir hulle te vertel van die kerk wat in twee dae gebou word. Sy vader het vinnig geantwoord: “Dit kan nie gedoen word nie! Ek is al jare lank in die boubedryf en ek weet dit kan nie gedoen word nie!” Hy het toe gevra: “Aan watter kerk behoort jy?” Toe hy meegedeel is dat dit Jehovah se Getuies is, het hy gesê: “Hulle kan dit doen!” Hy was opsigter by ’n byeenkomssaal wat die Getuies gebruik het en het gesien hoe hulle saamwerk. “Geen ander geloof kan dit doen nie” het hy gesê, “maar Jehovah se Getuies kan.”
’n Stroom motors het gedurende die twee dae by die bouterrein verbygery om te sien wat gedoen word. Baie het stilgehou om by ons in te loer. Daar was soms tot agthonderd nuuskierige bure en verbygangers op die terrein. Party van hulle het saam met die werkers geëet. Die kafeteria-afdeling het gedurende die twee dae drieduisend-vyfhonderd gratis maaltye voorgesit.
’n Paar dae na die saal gebou is, het ’n verkoopman ’n Getuie besoek. Hy het oor die TV-nuus van die saal gehoor en was baie beïndruk. Dit het hom herinner aan “miere op ’n miershoop”. Sy gesin was godsdienstig, maar hy was ontnugter deur godsdiens. Hy het toe gesê: “As enige godsdiensgroep so doeltreffend kan saamwerk en ’n gebou in een naweek kan oprig, moet hulle iets hê wat ander gelowe nie kan aanbied nie.” Later het hy en ’n metgesel ’n vergadering in die Koninkryksaal bygewoon.
’n Vader was baie ontsteld toe sy dogter een van Jehovah se Getuies geword het en wou glad nie na haar verduidelikings luister nie. Maar hy gesels nou graag oor die oprigting van die Koninkryksaal in Dunwoody en het vir sy dogter gesê: “Ek is trots op die feit dat jy een van hulle is.”