Glimlag vir ’n vreemdeling
“Toe twee dames vir hierdie skrywer geglimlag het, het ek ’n oomblik lank gewonder of ek hulle al tevore ontmoet het” het Kazuhiko Nagoya, ’n skrywer vir Tokio se Daily Yomiuri, in sy rubriek “Spice of Life” geskryf. “Aan die manier waarop hulle geglimlag het, het dit gelyk asof hulle my van ’n vorige vergadering herken het en bly was om my weer te sien.” Maar dit was nie die geval nie: “Ek het hulle gesigte goed bekyk en gevind dat hulle wildvreemdes was.” Toe nog twee persone dit doen, het hy gesê: “Ek was baie bly. Dit is hoe daardie mense vir ’n vreemdeling glimlag wanneer hulle hom by enige van hulle vergaderinge sien.”
Watter mense verwelkom ’n vreemdeling op hierdie manier? “Die plek was Okoku Kaikan (die Koninkryksaal)” het mnr. Nagoya gesê, “een van die talle plekke in Japan waar [Jehovah se Getuies] vergader.” Hy het ook opgemerk: “’n Merkwaardige feit omtrent die mense wat drie keer per week in die saal vergader, is dat almal ywerige beoefenaars van die Christelike godsdiens is en dat nie een van hulle die vergaderinge met ’n traak-my-nie-agtige houding of bloot uit gewoonte bywoon nie. Dit is die krag van geloof wat hierdie manne, vroue en kinders, wat mekaar as ‘kyodai’ (broer) of ‘shimai’ (suster) aanspreek, bymekaarbring. En die krag van geloof het oor die jare heen al hoe meer mense na die vereniging aangetrek.”
Die skrywer het ten slotte vertel van nog ’n besoek aan die Koninkryksaal: “Toe ek na die vergadering op die punt gestaan het om te vertrek, het ’n seuntjie, omtrent tien jaar oud, na my gekom en gesê: ‘Ons is bly dat u vandag gekom het. Kom gerus weer.’ Hy het daardie besondere glimlag gehad. Ek was bly, want dit was die eerste keer dat ’n vreemde kind van daardie ouderdom vir my geglimlag het en so met my gepraat het.”