“Werk julle eie heil uit”
“Werk julle eie heil uit met vrees en bewing.”—Filippense 2:12.
1. (a) Wie of wat loof Jehovah sonder woorde, en hoe is dit moontlik? (b) Wie nog word genooi om dit te doen?
JEHOVAH se werke loof hom. “Loof Hom, son en maan, loof Hom, alle ligtende sterre!” Al kan hulle nie praat nie, verkondig hulle sy lof. So ook die berge en heuwels, die plante en diere, die voëls en kruipende diere (Psalm 148:3, 9, 10; 19:2-5). Hoe is dit vir hulle moontlik om hom sonder woorde te loof? Dit is moontlik omdat werk die werker weerspieël. Dit is spesifiek gemeld in verband met Jehovah se werke: “Sy onsigbare [eienskappe] kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid” (Romeine 1:20, vgl. NW). As stom skeppingswerke hom moet loof, hoeveel te meer nie diegene wat kan praat nie! Dit is dus gepas dat Psalms 146 tot 150 begin en eindig met die wekroep tot mense: “Halleluja!” of “Loof Jah!”—AB; NW.
2. Watter werke moet ons Christelikheid weerspieël?
2 Net soos Jehovah se werke hom weerspieël, weerspieël ons werke ons. Toon hulle dat ons rykdom najaag of lowers van Jehovah is? Die vernaamste werk wat Christene nou moet doen, is om Jesus se woorde te vervul: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” Sy afskeidswoorde aan sy volgelinge was: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Mattheüs 24:14; 28:19). Terwyl ons ‘kragtig van huis tot huis getuig’, moet ons predikingswerk van hoë gehalte wees. So kan ons ’n goeie naam by die Konings Jehovah en Christus Jesus verkry. “Sien jy ’n man wat vaardig is in sy werk—hy kan voor konings staan.”—Handelinge 20:20, 21; Spreuke 22:29.
3. Hoe word ons vir hierdie werk opgelei, en waarom moet ons bedrewe daarin word?
3 Die Bybel is aan ons gegee vir die nodige onderrig en opleiding, sodat “die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus”. Daarom moet jy jou deur middel van privaat en groepstudie, deur middel van die gereelde bywoning van gemeentelike vergaderinge en deur middel van deelname in opleidingsprogramme jou daarop toelê “om jou beproef voor God te stel as ’n werker wat hom nie hoef te skaam nie, wat die woord van die waarheid reg sny” (2 Timotheüs 3:17; 2:15). Satan, die god van die teenwoordige goddelose wêreld, het ’n magdom van godsdiensleuens saamgeweef en sprei dit soos ’n sluier oor die nasies uit sodat die ongelowiges verblind word vir die verligtende goeie nuus van Christus se koninkryk. Maar Jehovah se Woord is soos ’n tweesnydende swaard en Jehovah se Getuies moet dit bedrewe hanteer om die verblindende sluier aan flarde te kap en die lig tot in die eerlike verstande en harte van sagmoedige manne, vroue en kinders te laat skyn.—2 Korinthiërs 4:3, 4.
Aanneemlike lofoffers
4. Waarmee word ons lof vergelyk, en watter versuim word in Maleagi 1:6-8 beskryf?
4 Ons lofbetuigings aan Jehovah word vergelyk met die offerandes wat deur die Mosaïese wet vereis is: “Laat ons dan gedurig deur Hom aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely.” Woorde word ook vergelyk met die “offerdiere [van] ons lippe” (Hebreërs 13:15; Hosea 14:3). Die offers wat onder die Wet gebring is, moes vlekkeloos wees, en priesters wat hierdie vereiste geïgnoreer het, is deur Jehovah bestraf, soos beskryf in Maleagi 1:6-8:
“’n Seun eer die vader, en ’n kneg sy heer. As Ek dan ’n Vader is, waar is my eer? En as Ek ’n Heer is, waar is die vrees vir My? sê die HERE van die leërskare aan julle, o priesters, wat my Naam verag! Maar julle sê: Waardeur het ons u Naam verag? Julle bring spys wat verontreinig is, op my altaar, en dan vra julle: Waardeur het ons U verontreinig? Deurdat julle sê: Die tafel van die HERE is veragtelik. En as julle ’n blinde dier bring om te offer, is dit geen kwaad nie! En as julle ’n lam of ’n siek dier bring, is dit geen kwaad nie! Bring dit tog vir jou goewerneur! Sal hy ’n welgevalle aan jou hê of jou goedgesind wees?”
5. Hoe kan ons sorg dat ons nie gebreklike lofoffers bring nie?
5 Is ons offers vandag, die “offerdiere [van] ons lippe” en ons “vrug van die lippe” so vlekkeloos moontlik? Het ons ons lofoffers deur middel van studie en die opleiding en beoefening van ons vermoëns so goed moontlik gemaak? Soek ons na woorde van waarheid en peins ons daaroor, om dit by die mense se huise op ’n aangename wyse aan te bied? “Behalwe dat die Prediker ’n wyse was, het hy die volk nog kennis geleer en het oorweeg en ondersoek; hy het baie spreuke opgestel. Die Prediker het gesoek om welgevallige woorde te vind en wat reg geskrywe is—woorde van waarheid.”—Prediker 12:9, 10.
6. Hoe kan ons dit vir mense makliker maak om die Koninkryksboodskap aan te neem?
6 Dit is vir mense moeilik om te erken dat hulle verkeerd het en dat hulle hulle denke moet verander, veral waar dit kom by iets so emosioneels soos hulle godsdiensbeskouings. Probeer ons om dit vir hulle makliker te maak? Stel ons onsself in hulle plek, soos die apostel Paulus gedoen het? Hy het gesê: “Vir die Jode het ek soos ’n Jood geword om die Jode te win; vir die wat onder die wet is, soos een wat onder die wet is, om die wat onder die wet is, te win. Vir die wat sonder die wet is, soos een sonder wet—al is ek nie sonder die wet van God nie, maar onder die wet van Christus—om die wat sonder die wet is, te win; vir die swakkes het ek soos ’n swakke geword om die swakkes te win; vir almal het ek alles geword om in alle geval sommige te red. En ek doen dit ter wille van die evangelie, dat ek ’n deelgenoot daarvan kan word.”—1 Korinthiërs 9:20-23.
7. Hoe kan ons meer oorredingskrag hê wanneer ons preek?
7 Is ons simpatiek en vriendelik en spreek ons woorde wat heel? “’n Wyse van hart word verstandig genoem, en soetheid van lippe vermeerder die lering [oorredingskrag, NW]. Vriendelike woorde is soos ’n heuningkoek: soet vir die siel en ’n genesing vir die gebeente.” Studeer ons ten einde insig aan die dag te lê wanneer ons vir ander van God se koninkryk getuig, en vermeerder ons aldus die oorredingskrag van ons woorde? “Die hart van die wyse maak sy mond verstandig en vermeerder die lering [oorredingskrag, NW] op sy lippe” (Spreuke 16:21, 24, 23). Sout maak kos wat andersins laf of smaakloos sou wees smaakliker, en Paulus gebruik hierdie feit om te toon dat die geestelike voedsel wat ons vir ander aanbied aangenaam moet wees om in te neem: “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel, sodat julle kan weet hoedat julle iedereen moet antwoord.”—Kolossense 4:6.
Versier jou leer met goeie werke
8. Wat is noodsaaklik as ons nie as huigelaars veroordeel wil word nie?
8 Benewens werke in verband met die verkondiging van die goeie nuus, is werke in die vorm van dade wat met ons leer strook ook noodsaaklik as ons nie as huigelaars veroordeel wil word nie. Die apostel Paulus was terdeë hiervan bewus. Hy het sekere Joodse leraars van sy dag betig omdat hulle hieraan skuldig was: “Jy dan, wat ’n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat ’n mens nie mag steel nie, steel jy? Jy wat sê dat ’n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel? Jy wat ’n afsku van die afgode het, pleeg jy tempelroof? Jy wat jou op die wet beroem, onteer jy God deur die oortreding van die wet?” (Romeine 2:21-23). Paulus was duidelik bewus van hierdie gevaar in sy geval en het gesê: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie.”—1 Korinthiërs 9:27.
9. Watter argumente weerlê die godsdiensdwaalbegrip ‘Eenmaal gered, altyd gered’?
9 Dit toon dat Paulus nie die beskouing wat talle godsdiensbeoefenaars vandag het, naamlik, ‘Eenmaal gered, altyd gered’, onderskryf het nie. Nadat ons Jesus as ons saligmaker en vrykoper aangeneem het, en ons ons lewens aan Jehovah God toegewy het, is dit slegs die begin van die weg na redding, nie die einde nie. Paulus vermaan ons dus om ‘met eerbied en ontsag voort te werk aan ons verlossing’ (Filippense 2:12, NTP). Waarom “voortwerk” en waarom met “eerbied en ontsag” as dit ’n geval van ‘Eenmaal gered, altyd gered’ is? Dit is moontlik om afvallig te word en onmoontlik vir sommige afvalliges om hulle weer te bekeer, omdat hulle “die Seun van God weer kruisig”. En Jesus self het gesê dat iemand “jou kroon kan neem”. In sy opmerkings oor “die voleinding van die wêreld” het hy ook gesê: “Wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Hebreërs 6:4-6; Openbaring 3:11; Mattheüs 24:3, 13). Dit is ons huidige naam by God wat tel, nie wat ons eens was nie, hetsy goed of sleg (Esegiel 33:12-16). Dit is waarom ons ons steeds moet toelê op Koninkrykspredikingswerk en moet voortgaan om ons reg te gedra, en albei dinge moet doen met ’n heilsame vrees om te kort te skiet.
10. Wat moet ons leer versier, en met watter gevolge?
10 Christene word vermaan om ‘matige gewoontes te hê, gesond van verstand en eerbiedig te wees, nie kwaadsprekers of strawwe drinkers te wees nie, liefde aan gesinslede te betoon, rein in gedrag sowel as spraak en harde werkers te wees’. Waarom? “Sodat die woord van God nie belaster word nie.” En deur sulke gedrag sal hulle ook “die leer van God, ons Verlosser, in alles kan versier”. Deur hierdie versiering, naamlik goeie gedrag, by hulle predikingswerk te voeg, word Jehovah se Getuies “’n voorbeeld van goeie werke” (Titus 2:1-10, vgl. NW). “Beveel die rykes in die teenwoordige wêreld” het die apostel Paulus beveel, “om nie hoogmoedig te wees nie en ook nie hulle hoop te stel op die onsekerheid van die rykdom nie, maar op die lewende God wat ons alles ryklik verleen om te geniet; dat hulle goed moet doen en ryk wees in goeie werke, vrygewig, mededeelsaam, en vir hulle ’n skat weglê, ’n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf.”—1 Timotheüs 6:17-19.
11. Watter lewensbelangrike doel dien die teenwoordige lewe, al is dit kort en vol moeilikheid?
11 Die teenwoordige lewe, soos die wêreld dit lei, is nie werklik lewe nie. “Sy wat losbandig is, is lewendig dood” (1 Timotheus 5:6). Hierdie lewe dien egter een belangrike doel, dit bied ons naamlik die geleentheid om “ryk [te] wees in goeie werke”, ‘om ’n goeie fondament vir die toekoms te lê’, om ‘die ewige lewe te verwerf in die ryk van Jehovah se koninkryk in die hande van Christus. Ons kan alles besit wat hierdie lewe aanbied, maar as ons nie goeie werke het nie, sal dit ’n verkwisting en nutteloos wees. Hierdie lewe is kort en vol moeilikheid en pyn, verdriet en lyding, smart en teleurstelling, goddeloosheid en dood. Dit is kort, maar lank genoeg sodat ons ryk kan word in goeie werke as ons nie versuim nie. Sulke werke verskaf aan ons vreugde en tevredenheid, vrede en vergenoegdheid, sin en ’n doel, geestelike gesondheid en die ewige lewe.
Verkwikkende werk met verlossing in die vooruitsig
12. Wat is vir getroue getuies van Jehovah uitputtend, maar wat verkwik hulle?
12 Hoewel dit dalk vreemd klink in hierdie tye van groot onverskilligheid en teenstand, is dit vir pligsgetroue getuies van Jehovah uitputtend as hulle oor Jehovah se koninkryk swyg. Dit is vir hulle ’n verligting en verkwikkend om te praat. Toe Jeremia besluit het om nie meer te preek nie, was die boodskap soos ’n vuur in sy gebeente, en het hy eindelik uitgeroep: “Ek het my moeg gemaak om uit te hou, maar kon nie” (Jeremia 20:9). Dit was vir Elihu ’n verligting om waarhede waaroor hy lank moes swyg, te lug: “Ek is vol woorde; die gees in my binneste dring my. Kyk, my binneste is soos wyn wat geen opening het nie, soos nuwe leersakke wil dit bars. Ek wil spreek om lug te kry” (Job 32:18-20). Nadat Elihu hierdie werk verrig het, was hy verkwik. God was verkwik nadat hy sy skeppingswerk voltooi het. Dit was vir Jesus soos verkwikkende voedsel om Jehovah se werk te doen. En die predikingswerk is nou vir Jehovah se Getuies verkwikkend. Hulle “vaar op met vleuels soos die arende”.—Jesaja 40:31.
13. Wat moet ons nou doen. en vir wie en hoe is dit nuttig?
13 Dit is nou die tyd om God se Woord die Bybel te bestudeer, om nie meer aan hierdie ou goddelose stelsel gelykvormig te wees nie, om verander te word deur jou gemoed te vernuwe. “Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie.” “Die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig” (1 Johannes 2:15, 17; Romeine 12:2). Rus jouself toe om treurendes met die goeie nuus van God se koninkryk te vertroos. Versier jou leer deur geestelike vrugte in jou persoonlike lewe te dra—“liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Galasiërs 5:22). Help sagmoediges om hulle gemoed te vernuwe, om ryk te word in goeie werke en om vir ewig op ’n paradysaarde te bly (Psalm 37:11, 29). Help hulle om hulle heil uit te werk terwyl jy aanhou om joune uit te werk.
14. (a) Watter vermaning is gegee oor hoe om heil of redding te verkry, en waarom is dit nou so tydig? (b) Wat kan ons wees en doen as ons dit op onsself toepas?
14 Hierdie dae is kritiek en die tyd is min, en daarom vermaan God: “Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig.” “Wees standvastig, onbeweeglik, altyd oorvloedig in die werk van die Here, omdat julle weet dat julle arbeid in die Here nie tevergeefs is nie.” “Wees nie traag in die ywer nie; wees vurig van gees; dien die Here” (2 Timotheus 4:2; 1 Korinthiërs 15:58; Romeine 12:11). Op al hierdie maniere moet julle “julle eie heil uit[werk] met vrees en bewing . . . sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld, deurdat julle die woord van die lewe vashou”.—Filippense 2:12, 15, 16.
◻ Hoe loof Jehovah se werke hom?
◻ Watter soort offers is vandag vir God aanneemlik?
◻ Hoe kan ons dit vir ander makliker maak om die Koninkryksboodskap aan te neem?
◻ Met watter goeie werke moet ons ons leer versier?
◻ Watter werk is vir God se knegte verkwikkend?
◻ Waarvoor is dit nou die tyd?
[Prent op bladsy 21]
Jehovah se grootse werke toon watter soort God hy is. Ons werke sê watter soort persone ons is
[Lokteks op bladsy 22]
Soek ons na woorde van waarheid en peins ons daaroor, om dit by die mense se huise op ’n aangename wyse aan te bied?
[Lokteks op bladsy 23]
Dade wat met ons leer strook, is noodsaaklik as ons nie as huigelaars veroordeel wil word nie
[Prent op bladsy 24]
Die verkondiging van Bybelwaarhede aan ander is ’n verkwikkende werk