ONS MOET ‘HARD WERK en ONSSELF INSPAN’
“Hiervoor werk ons hard en span ons ons in, omdat ons ons hoop gevestig het op ’n lewende God, wat ’n Redder is van alle soorte mense, in die besonder van getroues.”—1 Tim. 4:10, NW
1-3. Waarom is dit gepas dat Christene vandag aandag skenk aan hulle gesindheid teenoor werk?
GENIET JY dit om hard te werk? Hou jy daarvan om jou in te span vir iets wat die moeite werd is en om iets te voltooi? Dan is jy anders as baie mense van vandag.
2 Jy het seker al opgemerk dat, hoewel daar nog altyd luiaards was, die teësinnigheid om te werk blykbaar toeneem (Spr. 20:4; 19:24; 2 Thess. 3:11). Dit blyk uit raad soos: ‘Vat dit kalm. Moet jou nie ooreis nie.’ Aanvanklike teësinnigheid in harde werk kan maklik ’n minagting vir alle werk word.
3 As Christene meen ons ongetwyfeld dat ons nie daardie gees het nie. Dit sal egter onrealisties wees om te dink dat ons immuun is wanneer die wêreld oor die algemeen so ’n sterk en deurdringende invloed het. Ons kan daarby baatvind deur van tyd tot tyd ons beskouing van werk te ondersoek, want ons beskouing kan ons deelname aan Christelike bedrywighede wat vir God belangrik is, beïnvloed.
WERKERS WAT ONS KAN NAVOLG
4. Hoe belangrik is werk?
4 Baie mense wat die lewe en die waardes daarvan waargeneem het, het kommentaar gelewer oor die belangrikheid van werk. Duitse staatsman Karl. W. von Humboldt het gesê: “Die mens het werk net so nodig as kos en slaap.” Daardie feit op sigself gee baie mense ’n rede om besig en produktief te wees. Maar Christene het nog ’n rede om ’n waardering vir harde werk op te bou: Jehovah en Jesus Christus het hierin vir ons ’n voorbeeld gestel wat ons moet navolg.—Ef. 5:1; 1 Kor. 11:1.
5, 6. Watter voorbeeld stel Jehovah en Jesus ten opsigte van werk?
5 Die ganse heelal—van die ontsagwekkende termonukleêre son tot die delikate skoenlapper—getuig dat God ’n werker is. Al sy sigbare skeppings is sy “werke”. En sy voortdurende beskerming van sy knegte en die leiding wat hy aan hulle gee, is “werke” wat ons moet waardeer (Ps. 145:4-6, 10; 8:5-10). Sy Seun is ook ’n harde werker. Nadat Jesus sy timmermanswerk in ’n Galilese dorpie gestaak het, het hy honderde kilometer oor die warm, stowwerige platteland afgelê om mense te help—om te genees, om te preek, om te onderrig (Matt. 4:17, 23-25; Luk. 8:1; 9:57, 58). Alhoewel Christus volmaak was, het hy moeg en honger geword omdat hy lank en tot laat gewerk het.—Matt. 21:18; Mark. 1:32, 35; 6:32-34; Joh. 4:3-6, 34.
6 Ons kan dus daarvan seker wees dat nòg God nòg Jesus traag is. Christus het gesê: “My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook” (Joh. 5:17). Trouens, hy het verduidelik dat sy “werke”—die dinge wat hy met God se steun gedoen het—getuig het van die feit dat hy God se goedkeuring het (Joh. 10:25, 38). En dit raak ons lewens. Die vervulling van al ons Bybelse verwagtings hang af van wat Jesus as ’n hardwerkende aanbidder van God gedoen het.
7. Wat moet ons benadering wees wanneer ons oor ons beskouing van werk nadink?
7 Elkeen van ons kan en moet nadink oor ons beskouing van werk en ons werkpatroon. Ons hoef nie hierin oorkrities of te veeleisend met onsself te wees nie. Ons het almal ons fisiese beperkings asook beperkende omstandighede. En Jesus se handelwyse toon dat ons met reg rus, ontspanning, aangename assosiasie en sekere geriewe kan geniet (Mark. 6:31; Luk. 5:29; 7:34; Joh. 2:2-10; 12:2, 3). Maar dit is juis die onvolmaaktheid wat ons so bewus maak van ons behoefte aan rus wat ons te veel kan wil laat rus, soos beklemtoon deur die Bybel se waarskuwings oor luiheid. Net soos kos beter smaak wanneer ons honger het, is rus en ontspanning aangenamer nadat ons hard gewerk het.—Pred. 2:24; 5:11, 17.
8, 9. Wanneer moet Christene hardwerkend wees?
8 Die woord “werk” kan ons veral laat dink aan die sekulêre werk wat baie van ons doen om lewensbenodigdhede te bekom. Die Bybel toon dat ons dit pligsgetrou en vlytig moet doen (Spr. 10:4; 22:29). Dit moet ook geld vir ons pligte in die huis en selfs ons studies op skool, want alle aspekte van ons lewe kan getuig van die verbetering in ons omdat ons Christelike beginsels toepas. Die apostel Paulus het geskryf: “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie, omdat julle weet dat julle van die Here die erfenis as vergelding sal ontvang.”—Kol. 3:23, 24.
9 Maar kom ons kyk nou na een besondere deel van ’n Christen se lewe—sy lofprysing aan God deur te preek en te onderrig. Hierdie werk is lewensbelangrik, want daardeur kan ons ‘onsself red sowel as die wat ons hoor’.—1 Tim. 4:16.
10, 11. Watter spesiale redes het ons om hardwerkend te wees wanneer ons die Christelike geloof verkondig?
10 Let daarop dat Paulus nie te kenne gegee het dat ’n Christen slegs in sy eie redding moet belangstel nie. Dit moet sy begeerte wees om ander te help om Jesus as die Christus te aanvaar en om die godvrugtige toewyding te beoefen wat “die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het” (1 Tim. 4:8). Nadat Paulus hierdie vooruitsig gemeld het, het hy geskryf:
“Want hiervoor werk ons hard en span ons ons in, omdat ons ons hoop gevestig het op ’n lewende God, wat ’n Redder is van alle soorte mense, in die besonder van getroues.”—1 Tim. 4:10, NW.
11 Dink daaraan. Redding deur God—ewige lewe in geluk—word voorgehou aan “alle soorte mense”. Maar wie sal eindelik gered word? Slegs die “getroues”, diegene wat geloof verkry en beoefen. Omdat hy dit besef het, kon die apostel sake nie kalm vat, enigsins ’n normale lewe lei en soms, wanneer dit gerieflik was, met ’n paar ander oor hierdie moontlike redding gesels nie. Nee! Die vooruitsig dat ander die Christelike boodskap kon leer en op die weg na redding kon kom, was vir Paulus so aangrypend, van sulke oorwegende belang, dat hy ‘hard gewerk en homself ingespan het’. Is dit hoe jy daaroor voel? Dink na oor jou aktiwiteit gedurende die afgelope maand of ses maande. Is dit vir jou—en vir ander, God inkluis—baie duidelik dat jy hard werk en jouself inspan?
WERK HARD OM DIE KONINKRYKSBOODSKAP TE VERKONDIG
12. Wat is die verband tussen werke en redding?
12 Christene weet dat hulle nie gered kan word bloot deur sekere werke te verrig asof hulle daardeur regverdiging en redding verdien nie (Rom. 3:28). Dit is nietemin so dat ons, as ons ware geloof het, werke as gevolg van daardie geloof sal hê (Jak. 2:18-26). Dit is dus gepas om biddend aandag te skenk aan ons geloof en ons werke.
13. Wat sou Jesus se dissipels volgens hom na sy dood doen?
13 Deur ‘hard te werk en onsself in te span’, soos Paulus gedoen het, kan ons ’n aandeel hê in die vervulling van ’n profetiese waarheid wat Jesus geuiter het. Dink daaraan—jy kan help om Jesus se woorde waar te bewys. Watter woorde? Hulle is geuiter in antwoord op Filippus se versoek: “Toon ons die Vader” (Joh. 14:8). Jesus het gesê:
“Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. . . . Die woorde wat Ek tot julle spreek, spreek Ek nie uit Myself nie; maar die Vader wat in My bly, Hy doen die werke. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.”—Joh. 14:9, 10, 12.
14, 15. Het Jesus in Johannes 14:12 bedoel dat sy volgelinge groter wonderwerke sou verrig? Waarom sê jy so?
14 Hoe kon Jesus se dissipels groter werke as hy doen? Kan jy deelneem aan die verrigting van sulke groter werke? Die Bybel toon dat God party Christene in staat gestel het om groter werke te verrig, soos om duiwels uit te dryf, siekes te genees en, in ’n paar gevalle, die dode op te wek. Dit was om te wys dat hy nou met die Christengemeente gehandel en hulle geseën het (Hand. 3:2-8; 5:12-16; 9:36-40; 16:16-18). Maar was daardie werke groter as Jesus s’n? Hy het almal wat na hom gekom het, genees, en party selfs op ’n afstand, duisende op wonderdadige wyse gevoed, die dode opgewek en natuurkragte beheer (Matt. 8:5-16, 23-27; 14:14-33; Joh. 11:39-44). Daarbenewens sou die wonderdadige gawes van die gees wat party Christene gehad het, eindig of tot niet gaan (1 Kor. 13:8-10). Hoe sou Christene dan groter werke as Jesus doen?
15 Jesus het gespreek wat sy Vader wou hê hy moes spreek. Hy het die meeste, blywendste nut gestig, nie deur sy wonderwerke nie, maar deur sy wonderlike leer oor die Koninkryka (Luk. 4:32, 43). Na sy opstanding het Jesus sy volgelinge beveel om ‘dissipels van al die nasies te maak en hulle te leer’ (Matt. 28:19, 20). Ja, Christene moes ’n ontsaglike getuieniswerk verrig. Dit sou op ’n groter skaal wees as Jesus se predikingswerk, oor ’n langer tyd en aan baie meer mense. So sou hulle groter werke as hy doen.
16. Sou Jesus se werk met sy dood en hemelvaart eindig?
16 Jesus se predikings- en onderrigtingswerk oor die Koninkryk sou nie met sy dood en hemelvaart eindig nie. Hy sou voortgaan om die belangrike onderrigveldtog uit die hemel te rig, maar sou dit deur sy volgelinge doen. Lukas sê voorts dat Jesus, voor sy hemelvaart, verder “oor die dinge van die koninkryk van God” met sy dissipels gespreek het (Hand. 1:3). Eindelik het hy vir hulle gesê: “Julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.”—Hand. 1:8.
17, 18. Hoe het Jesus se volgelinge op Pinksterdag van 33 G.J. begin om sy woorde oor groter werke te vervul?
17 Hulle het dadelik groter werke as Jesus begin doen. Op Pinksterdag 33 G.J. het Jesus heilige gees uitgegiet op die 120 dissipels wat in Jerusalem gewag het. Wat het hulle toe gedoen? Voedsel vermeerder? Vir mense boerderymetodes geleer? Selfs siekes genees? Nee, hulle het begin om te spreek, om “die groot dade van God” te verkondig (Hand. 2:1-11). Die apostel Petrus het by daardie geleentheid so ’n oortuigende getuienis gelewer dat duisende van sy hoorders Christus aangeneem het.
18 Dit moes ’n groot werk gewees het om soveel nuwe gelowiges daardie dag te doop. Hulle het moontlik na baddens dwarsoor die stad gegaan. Teen die einde van die dag het die dissipels klaarblyklik verslag gelewer oor wat gedoen is, want die verslag sê dat ‘omtrent drieduisend siele die woord aangeneem het en gedoop is’. Van omtrent 120 tot meer as 3 000 (’n vermeerdering van meer as 2 500 persent) in een dag (Hand. 1:15; 2:41). Hulle het voorwaar begin om groter werke as Jesus te doen.
19. Was dit ’n werk net vir die apostels of ouere manne in die gemeentes?
19 Maar party Christene sal vandag dink: ‘Ek is nie ’n Petrus of Paulus nie. Was hulle nie die soort persone wat groter werke as Jesus sou doen nie?’ Dit is ’n geldige vraag. Die boek Handelinge toon dat die apostels, spesiale evangeliste en geestelike ouere manne in die gemeentes inderdaad die Koninkryk verkondig het. Maar let op hierdie geskiedkundige feit wat deur die dissipel Lukas verstrek word: “Daar het in dié tyd ’n groot vervolging teen die gemeente in Jerusalem ontstaan, en almal is verstrooi oor die streke van Judea en Samaria, behalwe die apostels” (Hand. 8:1). En wat het hierdie verstrooide Christene, jonk en oud, mans en vroue, gedoen? “Die wat verstrooi was, het die land deurgegaan en die woord van die evangelie verkondig” (Hand. 8:4). Ja, almal het gepreek.
20. Waarom is dit nou veral belangrik dat ons deelneem aan die vervulling van Johannes 14:12?
20 Ware Christene doen vandag die predikings- en onderrigtingswerk waarmee Jesus begin het en waarmee hulle eerste-eeuse broers en susters voortgegaan het. Maar huidige gebeure wat Bybelprofesie vervul, toon vir ons dat God binnekort ’n einde aan die huidige goddelose stelsel van dinge gaan maak en aldus die huidige verkondiging van die “evangelie van die koninkryk” gaan beëindig (Matt. 24:14). Elkeen kan homself dus afvra: ‘Het ek op die oomblik ’n volle aandeel aan die lewensbelangrike werk waarvan Jesus in Johannes 14:12 gepraat het? Werk ek hard en span ek myself in? Sal ek tevrede wees dat ek ’n volle aandeel aan hierdie werk gehad het wanneer dit volbring is?’
HOEVEEL VERWAG GOD VAN ONS?
21-23. Hoe kan ons ons omstandighede weer ’n slag in oënskou neem?
21 Terwyl ons ’n bevredigende aandeel in die Christelike predikingswerk het, moet ons nie geldige Skriftuurlike verpligtinge teenoor ons gesin, familielede, werk of skool verwaarloos nie (1 Tim. 5:8). God wil ook nie hê dat ons skuldig moet voel wanneer ons daardie verpligtinge nakom nie; ons moet dit blymoedig doen. Maar ons kan soms ons tyd en bedrywighede in oënskou neem.
22 Baie van ons kan baat vind by gebalanseerde selfondersoek en selfdissipline. As ’n mens baie van die onnodige dinge in die handhawing van ’n ordentlike lewenstandaard uitskakel, kan dit help.
23 Niemand moet kritiseer wat ander op hierdie gebied doen nie. Die belangrike saak is om te ontleed of ons persoonlik steeds ’n groot waardering toon vir die rol wat ons moet vervul om groter werke as Jesus te doen.
24. Watter goeie voorbeeld het ’n arm weduwee vir ons gestel?
24 Ons gee moontlik alles wat ons het om te gee, hoewel dit minder is as wat die gesondheid en omstandighede van ’n ander hom toelaat om te gee. Maar hoeveelheid op sigself is nie die maatstaf nie. Dink aan Jesus se gunstige kommentaar oor die arm weduwee wat twee muntstukkies wat “baie min werd” was, bygedra het. Daardie muntstukke (lepta) was ongeveer gelyk aan een 64ste van ’n dagloon. Waaraan is dit gelyk in die geldeenheid waar jy woon? Jesus het haar nogtans geprys, want sy het “alles ingegooi wat sy gehad het, alles waarvan sy moes lewe” (Markus 12:41-44, NAB). Ons kan ook van sulke goedkeuring verseker wees indien ons alles wat ons kan in die getuieniswerk gee—indien ons hard werk en onsself inspan.
25. Wat het Maria kort voor Jesus se dood vir hom gedoen?
25 Ons kan ook dink aan die keer toe Maria, Lasarus se suster, Jesus met ’n duur, gegeurde olie gesalf het. Party dissipels het gekla, want die olie was 300 pennings werd. As ’n mens sabbatdae en feesdae in ag neem, was dit wat ’n arbeider in ’n hele jaar verdien het. Hoeveel verdien jy, of ’n lid van die gesin, in ’n jaar? (Joh. 12:3-8; Matt. 20:2). Jesus het die volgende van Maria se daad gesê:
“Sy het ’n goeie werk aan My gedoen. . . . Wat sy kon, het sy gedoen. Sy het vooruit al my liggaam vir die begrafnis gesalf. Voorwaar Ek sê vir julle, oral waar hierdie evangelie oor die hele wêreld verkondig word, daar sal ook gespreek word van wat sy gedoen het, tot ’n gedagtenis aan haar.”—Mark. 14:6-9.
26, 27. In watter opsig was Maria voorbeeldig?
26 Let op daardie woorde: “Wat sy kon, het sy gedoen.” Daar is geen aanduiding dat Maria die mag gegee is om wonderwerke te verrig nie: sy kon nie ’n apostel wees nie, ook nie ’n ouere man toe die Christengemeente gestig is; en sy kon dalk ook nie uitgebreide reise met die “evangelie” onderneem nie. Maar “wat sy kon, het sy gedoen”. Wat beteken dit? In party tale bevat die uitdrukking “Doen wat jy kan” die gedagte van ‘Moet jou nie ooreis nie; vat dit kalm.’ Maar dit is nie wat Jesus bedoel het nie. Maria het haar waarlik ingespan. Party Bybelvertalings het die woorde soos volg vertaal: “Sy het alles gedoen wat sy kon”, of: “Sy het alles gedoen wat sy by magte was om te doen.”—C. K. Williams; W. Barclay.
27 Dit was nie ’n alleenstaande voorval nie, want dit was Maria se gewoonte om ten volle van haarself te gee. Maria het vroeër getoon waar haar hart was deur aan die voete van Jesus te sit en na sy woord te luister (Luk. 10:38-42). Sy het nou voortgegaan om hierdie voortreflike prediker, Jesus, te ondersteun. En dit is interessant dat Jesus Maria se daad met die wêreldwye predikingswerk verbind het deur te sê dat sy onthou sou word waar die “evangelie” verkondig word. Sy het belanggestel in die predikingswerk. En Jesus ook, reg tot sy dood.
28. Watter soort geloof is die Christelike godsdiens, en wat beteken dit vir ons?
28 Is ons soos daardie twee vroue wat alles gegee het wat hulle gehad het? Stel ons intens belang in die predikingswerk waarmee Jesus Christus begin het toe hy op aarde was en nou deur middel van Christene dwarsoor die aarde voortsit? Ons behoort. God stel intens daarin belang. Toe die Christelike geloof op Pinksterdag van 33 G.J. begin het, was dit ’n geloof wat op prediking ingestel was en God het dit met sy gees gesteun. Hy doen dit nog steeds, want hy het nie verander nie. Hy is “’n lewende God”, want hy lewe self en bied lewe vir alle ware aanbidders aan. Die Christelike godsdiens van vandag moet dus ’n geloof wees wat op prediking ingestel is, en is dit nog steeds. En Christene het alle rede om geesdriftige werkers te wees in die diens van God, “wat ’n Redder is van alle soorte mense, in die besonder van getroues”.—1 Tim. 4:10, NW.
[Voetnoot]
a Jesus se wonderwerke het baie in hom laat belangstel. Dit is egter merkwaardig dat hy nie as die “Wonderdoener” of iets soortgelyks bekend gestaan het nie. Hy was by uitstek bekend as die “Meester” (leraar).—Matt. 8:19; 19:16; 26:18; Markus 4:38; Joh. 3:2.
[Prent op bladsy 16]
Hulle het alles gedoen wat hulle kon