Wat bejaardes doen
DIE atleet het sy doelwit goed bekyk en toe begin hardloop. Hy het sestien meter ver gehardloop, sy glasveselpaal in die grond gesteek en grasieus oor die dwarsbalk, 2,82 meter hoog, geseil. Was dit tydens ’n hoërskoolse atletiekbyeenkoms? Nee. Die atleet was sewentig jaar oud, en volgens The Wall Street Journal was dit ’n byeenkoms vir 600 atlete van ongeveer dieselfde ouderdom. By dieselfde byeenkoms het ’n sewe-en-sewentigjarige man die 100 meter in 15,7 sekondes afgelê en het ’n sewentigjarige ’n spesiale werpskyf 27,4 meter ver gegooi.
Verbaas dit jou om te hoor dat sewentigjariges nog aan atletiekbyeenkomste deelneem? Hulle kan weliswaar nie ewenaar wat hulle in hulle twintigerjare gedoen het nie. Maar die feit dat party nog steeds ’n werpskyf kan gooi, 100 meter kan nael en kan paalspring, toon iets belangriks. Dit toon dat bejaardes nie as nutteloos “afgeskryf” moet word net omdat hulle ’n sekere aantal jare gelewe het nie. Tensy daar siekte intree, het bejaardes baie meer fisiese potensiaal as wat mense gewoonlik by hulle verwag.
Geld dit ook vir hulle geestesvermoë? Met ander woorde, kan bejaardes nuwe dinge leer en ’n nuwe lewenswyse aanneem? Soms is dit die bejaardes self wat hulle potensiaal op hierdie gebied kleineer. Hulle deins moontlik terug van die uitdaging om iets nuuts te leer en sê: ‘Ek is te oud om te leer.’ Maar is dit noodwendig die geval? Op watter ouderdom vervaag die vermoë om te leer?
Die groei- en leerproses
Dit is interessant om daaraan te dink dat die persoon wat sê “Ek is te oud om te leer” eens ’n nuuskierige blinkoog-kleuter was. Die woorde ‘Waarom?’ ‘Waar?’ ‘Wanneer?’ ‘Hoe?’ ‘Wie?’ is die deel van seuntjies en dogtertjies se woordeskat wat die meeste gebruik word. Daar bestaan geen twyfel oor hulle begeerte om te leer nie.
Partymaal wens ouers dat hierdie begeerte nie so sterk was nie en dat hulle kinders ’n rukkie lank moet ophou vrae stel. Maar die Bybel verwys na die belangrikheid van die dinge wat ’n kind op hierdie ouderdom leer wanneer dit sê: “Oefen die seun volgens die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie.”—Spreuke 22:6.
Dit is nie lank voordat die kind begin skoolgaan nie, en ’n aantal jare lank is sy vernaamste daaglikse projek om nuwe kennis oor verskillende onderwerpe in te neem. Sy natuurlike begeerte om te leer word tot ’n mate deur sy onderwysers bevredig. Hy leer nuwe begrippe, nuwe vaardighede, en die wêreld gaan geleidelik voor hom oop.
Maar die skooljare gaan gans te gou verby, en ’n jong volwassene betree die wêreld. Hy moet nou leer hoe om met volwassenes om te gaan en vaardighede verkry om ’n bestaan te maak. In die meeste gevalle kry hy ’n vaste betrekking, en dit is waar die leerproses begin afneem. Die meeste jong volwassenes trou, maak kinders groot, gaan gebuk onder druk en verantwoordelikhede en hou geleidelik op om hulle lewens met nuwe kennis te verryk.
Wanneer die kinders groot is, vind die ouers dat hulle nou meer tyd tot hulle beskikking het. Maar in die meeste gevalle het die patroon om nie te leer nie, posgevat. Hulle is nie geneig om nuwe dinge te begin ondersoek of vrae te stel soos hulle gedoen het toe hulle jonk was nie. In Japan sê party dat hulle in ’n ander tydvak gebore is. ’n Man sal sê: ‘Ek is in die Meiji-tydvak gebore.’ Dit was die politieke tydvak wat in 1912 geëindig het. Omdat hy ten minste sewentig jaar oud is, meen hy dat sy dae om dinge te leer, verby is en dat hy nooit nuwe gedagtes in hierdie moderne, onbegryplike tydvak kan leer nie.
Maar is dit noodwendig die geval? Namate ’n persoon ouer word, verander sy liggaam wel. Sy gewrigte word strammer, sy spiere minder buigsaam, sy gesig ’n bietjie dowwer en sy gehoor ’n bietjie swakker. Maar tensy hy siek word, bring dit slegs ’n vertraging mee, nie ’n einde aan alle bedrywighede nie. Die feit dat ’n groep persone wat ouer as sewentig is ’n atletiekbyeenkoms kon hou, staaf dit. Geld dieselfde vir die verstand? Of kan ’n persoon te oud wees om te leer?