Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 10/15 bl. 4-7
  • Te oud om te leer?—“Nooit!”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Te oud om te leer?—“Nooit!”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Tyd om ’n nuwe koers in te slaan
  • Om besluite te neem
  • Ondanks siekte
  • Waarom hulle “Nee!” sê
  • Die Christengesin help die bejaardes
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1993
  • Ware Christene eer bejaardes!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1987
  • Versorging van bejaardes—’n toenemende probleem
    Ontwaak!—1991
  • Die verouderingsproses—’n realistiese beskouing
    Ontwaak!—1993
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 10/15 bl. 4-7

Te oud om te leer?—“Nooit!”

IS DIT moontlik om te oud te wees om te leer? Wel, kyk ’n bietjie na ’n paar van die prestasies van bejaardes. Op die ouderdom van twee-en-negentig het komponis Irving Berlin nog steeds musiek gekomponeer, en pianis Arthur Rubinstein het nog steeds uitvoerings gehou op die ouderdom van vier-en-negentig. Op die ouderdom van twee-en-negentig het regter Oliver Wendell Holmes begin om Grieks te bestudeer. Op die ouderdom van tagtig het Moses ’n nuwe loopbaan as volksleier en openbare spreker onderneem (Exodus 7:7). En die apostel Johannes moes in sy negentigerjare gewees het toe hy gebruik is om sy bekende Evangelie en die boek Openbaring te skryf.

Nee, bejaardheid hoef nie die verstand se bedrywighede te beperk nie. Daar is kwale wat bejaardes se dinkprosesse vertraag. Die algemeenste een is Alzheimer-siekte, soms seniliteit genoem, wat fisiese agteruitgang in die brein veroorsaak. ’n Paar ander kwale het soortgelyke simptome. Maar die oorgrote meerderheid bejaardes ly nie aan sulke kwale nie.

In toetse aan Cambridge-Universiteit Engeland, het party bejaardes net so goed gevaar soos die jong studente het. Dr. Weinberg, ’n psigiater en erkende deskundige op die gebied van veroudering, berig dat tensy ’n persoon ’n siekte opdoen, sy verstand tot op ’n rype ouderdom krag en leervermoë behou—veral as bejaardes fisies aktief bly en meng met mense wat vir hulle omgee. “Bejaardes se toekoms is rooskleurig”, sê die sewentigjarige dr. Weinberg, “solank hulle nuuskierig bly en hulle die begeerte behou om te leer en te ontwikkel.”

In party mense se geval was dit beslis waar. Trouens, dr. Weinberg se verklaring is ongetwyfeld op ’n merkwaardiger manier gestaaf en wat selfs hy voorsien het.

Tyd om ’n nuwe koers in te slaan

Beskou byvoorbeeld die geval van Alice Okon in Nigerië. Haar seun was ’n Christen wat sy geloof uitgeleef het, en hy het sy moeder aangespoor om die Bybel te lees en te leer van die hoop wat dit voorhou. Sy het eindelik ingestem om die Bybel te bestudeer, haar geloof is versterk en op die ouderdom van tagtig is sy in water gedoop as blyk van haar vasbeslotenheid om God die res van haar lewe te dien.

Sy glo vas aan die verklaring: “So liefhet God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Johannes 3:16). En omdat sy nou daardie geloof het, sien sy met vertroue uit na die ewige lewe wat God beloof het. Op die ouderdom van tagtig was sy beslis nie te oud om te leer nie.

Om besluite te neem

Bejaardes kan moeilike besluite neem en die gevolge daarvan dra. Nege-en-sewentigjarige Paul Inyang Atua, wat ook in Nigerië woon, moes ’n moeilike besluit neem. Hy het sy hele lewe lank na ’n godsdiens gesoek wat Bybelwaarheid leer. Eindelik het die Christengetuies van Jehovah hom besoek, en hy het geweet dat hy gevind het waarna hy gesoek het. Maar ander was nie ingenome met sy besluit nie.

’n Predikant van ’n geloof waarmee Paul tevore geassosieer het, het hom besoek. Toe hy ’n Bybel op die tafel in Paul se huis sien, het hy dit gegryp, dit ’n valse godsdiensboek genoem en dit stukkend geskeur. Daarna moes Paul hierdie woedende man kalmeer en probeer om van die Bybelwaarhede wat hy geleer het, te verdedig.

Die predikant was nie tevrede nie. Hy is smoorkwaad daar weg en het probeer om vervolging teen Paul aan te blaas. Bowendien wou Paul se medestatsbewoners hom as statskaptein aanstel om sy aandag van sy pasgevonde geloof af te lei. Paul het hulle aanbod van die hand gewys omdat hy geweet het wat hulle beweegrede was.

Toe moes Paul nog ’n moeiliker stap doen. Die Bybel deel ons mee dat ’n Christen “die man van een vrou” moet wees as hy God wil behaag (1 Timotheüs 3:2). Paul moes dus, met die inagneming van Christelike beginsels, reëlings tref om ’n monogamis te word. En dit is wat hy gedoen het. Hy het sy huwelik laat registreer en kon eindelik gedoop word.

Onthou, Paul was nege-en-sewentig jaar oud toe hy hierdie groot veranderinge in sy lewe aangebring het. Hy sê: “Al het al hierdie veranderinge in my oudag plaasgevind, is ek Jehovah dankbaar dat hy my die geleentheid gebied het om my laaste dae aan sy diens te wy.” Paul het ook nou ’n baie rooskleuriger beskouing van die toekoms as wat hy tevore gehad het. Te oud om te leer? Nie nege-en-sewentigjarige Paul Inyang Atua nie!

Ondanks siekte

Bejaardes het soms gesondheidsprobleme, maar dit hoef hulle nie te verhinder om weetgierig of leergierig te wees nie. ’n Voltydse evangeliedienares genaamd Michiyo Fujimi het gevind dat dit die geval is. Michiyo het mense in die noordelike deel van Honsjoe-eiland, Japan, besoek toe sy bejaarde mnr. Kato ontmoet het.

Mnr. Kato het Michiyo se aandag getrek toe hy gesê het: “Die God van die Christelike geloof wil hê dat mense moet lewe, nie moet sterwe nie, nie waar nie?” Dit was ’n interessante opmerking. Maar dit was moeilik om ’n gesprek te voer, want die bejaarde man was feitlik stokdoof. Hy het egter daarvan gehou om te lees, en Michiyo het Bybeltydskrifte by hom gelaat. Sy het probeer om hom te help om die Bybel te bestudeer, maar hy het skynbaar nie die reëling begryp nie. Drie jaar lank het sy dus gereeld Bybeltydskrifte vir hom gebring om te lees. Sy het geleer om sy vrae met potlood en papier te beantwoord.

’n Paar maande gelede het mnr. Kato—nou negentig jaar oud—te kenne gegee dat hy ’n paar dinge wou bespreek. Hy het ’n deeglike kennis van die Bybel verkry uit die dinge wat hy gelees het. ’n Tydskrifartikel het voorgestel dat hy met Jehovah se Getuies in verbinding tree, aangesien hulle hom kon help om God se wil te doen. Hy het gevra: “Hoe kan ek in aanraking kom met Jehovah se Getuies?”

Michiyo het haar voorvinger teen haar neus gedruk—’n Japannese gebaar wat beteken: “Ek is een.” Ja, sy was een van Jehovah se Getuies. Die bejaarde man was verheug en wou weet waar die Koninkryksaal geleë is. Hy het ook daarvan te wete gekom uit die dinge wat hy gelees het. Ondanks sy doofheid bestudeer hierdie bejaarde man nou die Bybel deur middel van skriftelike kommunikasie. Hy verkry ’n duidelike begrip van Bybelwaarhede en assosieer met mede-Christene. Is mnr. Kato op die ouderdom van negentig te oud om te leer? Beslis nie!

En ook nie mev. Takahashi nie. Vergeleke met mnr. Kato is sy jonk—sy is “net” drie-en-sewentig jaar oud! Maar sy het ’n probleem. Drie-en-veertig jaar gelede het sy blind geword, en sy het nooit die geleentheid gehad om Braille te leer nie. Maar toe Jehovah se Getuies met haar in aanraking gekom het, het sy gesê dat sy graag die Bybel wou leer ken, en daarom het twee evangeliedienaars dit saam met haar bestudeer. Omdat sy blind was, moes sy alles wat sy geleer het uit die hoof leer; op die ouderdom van drie-en-sewentig het mev. Takahashi dus begin om dele van die Bybel uit die hoof te leer.

Nou woon sy gereeld godsdiensvergaderinge by ondanks haar gebrek en ouderdom. En hoewel sy aan reissiekte ly, het sy 600 kilometer ver gereis om ’n godsdiensbyeenkoms by te woon. Sy is verlede jaar gedoop. Te oud om te leer? Mev. Takahashi het nie so gedink nie!

Waarom hulle “Nee!” sê

Ja, soos dr. Weinberg gesê het: “Bejaardes se toekoms is rooskleurig solank hulle nuuskierig bly en die begeerte behou om te leer en te ontwikkel.” Diegene wat op hulle oudag meer omtrent God en sy voornemens wil weet en die begeerte ontwikkel om meer omtrent hom te leer en groter geloof te verkry, het ’n rooskleurige toekoms.

Hulle besef dat hulle lewe tot op hede—hetsy sewentig, tagtig of negentig jaar of meer—’n gawe van God was. Hulle besef ook dat hoewel hulle bejaard en ervare is, hulle nog steeds dinge kan leer. Trouens, in God se oë is hulle nie werklik so oud nie. Die Bybel sê dat “een dag by die Here soos duisend jaar is en duisend jaar soos een dag” (2 Petrus 3:8). Volgens hierdie berekening het ’n tagtigjarige man slegs sowat twee uur lank gelewe! Selfs ’n bejaarde persoon kan gevolglik leer uit die wysheid van God, wat “van ewigheid tot ewigheid” lewe.—Psalm 90:2.

God bied bowendien aan almal, jonk en oud, die vooruitsig om in die toekoms net so lank soos hy te lewe. Jesus Christus het gesê: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het” (Johannes 17:3). Is dit moontlik om te oud te word om hierdie aanbod van God te aanvaar? Rondom die wêreld antwoord bejaarde manne en vroue: “Nooit!”

[Prent op bladsy 5]

ln toetse aan Cambridge-Universiteit, Engeland, het party bejaardes net so goed gevaar soos die jong studente

[Prent op bladsy 6]

Hoewel Iwaji Kato feitlik stokdoof is, was hy op die ouderdom van negentig nie te oud om die ware godsdiens te leer ken nie

[Prent op bladsy 7]

Tei Takahashi, drie-en-sewentig jaar oud en blind, vertel vir ander wat sy geleer het

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel