Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 9/15 bl. 18-26
  • Wat die geboorte van die nasie vir die mensdom beteken

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Wat die geboorte van die nasie vir die mensdom beteken
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’n “Teken” onder die nasies
  • Die ware aanbidding van Jehovah word herstel
  • ’n Lig vir die nasies
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom II
  • Jehovah seën rein aanbidding
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom II
  • Die geboorte van ’n koninklike nasie in ’n pasgebore land
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Jehovah God bewys barmhartigheid aan ’n oorblyfsel
    Jesaja se profesie—Lig vir die hele mensdom I
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 9/15 bl. 18-26

Wat die geboorte van die nasie vir die mensdom beteken

1, 2. (a) Beantwoord Jehovah sy eie vrae in Jesaja 66:9 regstreeks? (b) Watter oproep laat hy volgens Jesaja 66:10-14 hoor?

IN PLAAS DAARVAN om sy eie vrae in Jesaja 66:9 met ’n eenvoudige “Nee!” te beantwoord, het God Jesaja beweeg om hierdie triomfantelike oproep te uiter:

2 “Wees bly saam met Jerusalem en juig oor haar, almal wat haar liefhet! Wees vrolik saam met haar, baie vrolik, almal wat oor haar treurig gewees het! sodat julle kan suig en versadig word aan die bors van haar vertroostinge; sodat julle kan uitdrink en julle verlustig in die oorvloed [tepel, NW] van haar heerlikheid. Want so sê die HERE: Kyk, die vrede lei Ek na haar toe soos ’n rivier en die rykdom van die nasies soos ’n oorlopende stroom; en julle sal suig, julle sal op die heup gedra word en op die knieë getroetel word. Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos; en julle sal in Jerusalem getroos word. En julle sal dit sien, en julle hart sal vrolik wees, en julle gebeente sal groei soos die jong gras; dan sal die

hand van die HERE bekend word aan sy knegte, en Hy sal op sy vyande grimmig wees.”—Jesaja 66:10-14.

3. Waarmee is die herstelde Joodse ballinge vergelyk, wat het hulle geniet, en wie se hand sou hulle in hierdie saak sien?

3 Die ballinge wat teruggekeer het, is dus vergelyk met pasgebore babas wat drink. Vir die Joodse ballinge by die riviere van Babilon het uitdrukkings soos om aan die bors te suig en aan die tepel te drink, aangedui dat ’n ander Jerusalem op die terrein van die vernietigde hoofstad gebou sou word; ook dat sy ’n bevolking van baie burgers of inwoners en die baie ander burgers van haar ryk sou bemoeder. (Vergelyk Lukas 13:34.) Net soos moeders destyds in die Midde-Ooste gedoen het, sou herboude Jerusalem haar kinders wydsbeen op haar linker- of regterheup laat sit om hulle te dra; en, wanneer sy gaan sit het, sou sy hulle liefdevol op haar skoot troetel. Die Jode wat Jehovah se sigbare organisasie daar in die sesde eeu v.G.J. liefgehad het, sou hulle hieroor verheug het, en hulle sou ophou treur oor die feit dat daar gedurende die sewentig jaar van hulle ballingskap in ’n heidense land geen Jerusalem as hoofstad van Jehovah se uitverkore volk was nie. Hulle vreugde was soos dié wat beskryf is in Psalm 126, in teenstelling met die droefheid wat in Psalm 137 uitgedruk is. Jehovah se knegte het sy hand in hulle verlossing gesien.

4, 5. (a) Hoe het die oorblyfsel gereageer op die openbaring van God se “hand” om hulle ontwil, en wat het hulle duideliker as ooit besef? (b) Vir watter ander optrede het die tyd destyds aangebreek? (c) Hoe beskryf Jesaja dit?

4 Dit was eweneens die geval met die lede van die geestelike “nasie” wat in 1919 G.J. “gebore” is. Na hulle verbasende bevryding van die beperkings wat hulle gedurende die Eerste Wêreldoorlog opgelê is en die gevaar dat hulle uitgewis kon word, het hulle grenselose vreugde gesmaak. Hulle droefheid het verbygegaan. Hulle het duideliker as ooit tevore besef dat Jehovah hulle God is en dat hy ’n sigbare organisasie het, net soos hy ’n onsigbare organisasie in die hemele het wat vir hom soos ’n vrou is. Hierdie onsigbare organisasie is vir die oorblyfsel ’n “moeder” die “Jerusalem daarbo” (Jesaja 54:1-6; Galasiërs 4:26). Toe hulle dus byeengebring is na hulle gedesorganiseerde toestand gedurende die Eerste Wêreldoorlog, het hulle hulle daarin verheug om deur hierdie geestelike “moeder” die hemelse “vrou” van God hulle Vader, gesoog, gedra en getroetel te word. As “knegte” wat aan Jehovah toegewy is deur hulle ouer Broer, Jesus Christus, is hulle vertroos deur die wete dat Jehovah se “hand” vir hulle aan die werk was. Die tyd het andersyds vir hom aangebreek om “op sy vyande grimmig [te] wees”. Dit sluit diegene in wat die verkondigers van sy pasgebore koninkryk vyandig gesind is, want wie vyande van sy toegewyde volk is, is ook sy vyande. Waar Jehovah vertel hoe hy sy grimmigheid gaan uitstort, sê hy voorts:

5 “Want kyk, die HERE sal kom in vuur, en sy waens soos ’n stormwind, om in hittigheid sy toorn te openbaar en in vuurvlamme sy dreiging. Want met vuur en met sy swaard sal die HERE strafgerig hou oor alle vlees, en hulle wat deur die HERE verslaan is, sal baie wees. Die wat hulleself heilig en hulleself reinig vir die tuine, terwyl hulle die een nadoen wat in die middel staan; wat varkvleis eet en verfoeisels en muise—almal saam sal hulle tot niet raak, spreek die HERE. Maar Ek ken hulle werke en hulle gedagtes; die tyd kom dat Ek al die nasies en tonge versamel; en hulle sal kom en my heerlikheid sien.”—Jesaja 66:15-18.

6. Hoe het die Israeliete van Jesaja se dag hulle verbond verbreek en hulself verontreinig?

6 In die dae toe Jesaja daardie woorde geskryf het, meer as ’n eeu voor die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J., het die Israeliete hulle volksverbond met Jehovah, die wetsverbond waarvan die profeet Moses die middelaar was, gruwelik geskend. Hulle het hulleself geheilig en hulleself gereinig vir afgodediens in spesiale tuine en het God se wette wat hulle verbied het om sekere dinge te eet, verbreek. Hulle het hulself verontreinig en hulself besoedel voor die God van hulle verbond en het niks tot sy eer gedoen nie.

7. (a) Hoe het Jehovah in ooreenstemming met die bepalings van sy verbond opgetree om die geskil te besleg? (b) Met wie het God vandag ’n soortgelyke geskil?

7 Hy het dus sy vurige, stormagtige oordele aan daardie verbondsverbrekers voltrek in volle ooreenstemming met die bepalings van sy verbond. Hy het die teregstelling-“swaard” opgeneem om die geskil wat hy met alle Joodse vlees gehad het, te besleg. Dit is geen wonder dat net ’n paar duisend die genadelose vernietiging van Jerusalem oorleef het, slegs om weggevoer te word na ’n lang ballingskap in heidense, afgodsaanbiddende Babilon nie. Al die omliggende nasies en taalgroepe was verplig om hierdie openbaring van Jehovah se heerlikheid as die God wat getrou is aan sy verbond en nie lieg nie, te aanskou. Al hierdie dinge herinner ons plegtig aan die feit dat dieselfde God ’n veel groter geskil met die hedendaagse valse Christendom het, wat beweer dat sy eertydse Israel as Jehovah God se volk vervang het. Hy sal sy “swaard” van vergelding tot sy eer gebruik om haar geheel en al te vernietig.

’n “Teken” onder die nasies

8, 9. (a) Nadat Jehovah watter dinge voortgebring het en na watter ondervinding van sy volk in oorlogstyd het Jehovah sy voorneme tot sy heerlikheid volbring? (b) Hoe het hy sy voorneme in Jesaja 66:19, 20 uiteengesit?

8 Tot sy internasionale heerlikheid het hierdie almagtige God sy onveranderlike voorneme volbring met betrekking tot gebeure nadat hy gesorg het dat “’n land op een enkele dag gebore” word en nadat hy gesorg het dat “’n nasie met een slag gebaar” word. Terwyl ons sy woorde in Jesaja 66:19, 20 lees, kan ons dink aan wat hy op heerlike wyse gedoen het sedert die geboorte van die “nasie” wat uit die oorblyfsel geestelike Israeliete bestaan in 1919, en nadat hulle gedurende die Eerste Wêreldoorlog opgehou het om ’n georganiseerde volk te wees en min hoop gekoester het om daardie wêreldbotsing te oorlewe. Hy het gesê:

9 “En Ek sal ’n teken [ōth, Hebreeus; signum, Latynse Vulgata] onder hulle doen [stel, NW], en vrygeraaktes uit hulle stuur na die nasies, na Tarsis, Pul en Lud, wat die boog span, na Tubal en Jawan, na die ver kuslande [verafgeleë eilande, NW] wat my tyding nie gehoor en my heerlikheid nie gesien het nie; en hulle sal my heerlikheid onder die nasies verkondig. En hulle sal al julle broers bring uit al die nasies as offergawe aan die HERE, op perde en op waens en in draagstoele en op muilesels en op kamele na my heilige berg, na Jerusalem, sê die HERE, net soos die kinders van Israel die spysoffer in ’n rein voorwerp bring na die huis van die HERE.”

10. Wat is die “teken” wat God onder die nasies ‘gestel’ het?

10 Wat is die “teken” wat Jehovah sedert die Eerste Wêreldoorlog onder die nasies ‘gestel’ het? Dit is ’n lewende “teken”. Vroeër in Jesaja se profesie het hierdie woordvoerder van Jehovah gesê: “Hier is ek en die kinders wat die HERE my gegee het—tot tekens en sinnebeelde is ons in Israel, vanweë die HERE van die leërskare wat op die berg Sion woon” (Jesaja 8:18). In Hebreërs 2:11-13 haal die Christenapostel Paulus daardie profetiese woorde aan en pas hy dit op Jesus Christus en sy geesverwekte dissipels toe: “Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie, wanneer Hy sê: . . . Hier is Ek en die kinders wat God My gegee het.”

11. Wat verkondig diegene wat daardie “teken” uitmaak sedert 1914 dwarsoor die wêreld, en waarom moes hulle versamel word?

11 In ooreenstemming daarmee is die “teken” wat Jehovah gestel het onder die nasies van die aarde, vir wie “die tye van die nasies” in 1914 verstryk het, die geestelike “nasie” waarvan die lede God se koninkryk, wat aan die einde van die “vasgestelde tye van die nasies” in 1914 in die hemele gebore is, wêreldwyd verkondig het (Lukas 21:24, AB; NW; Mattheüs 24:14). Dit is met daardie doel dat Jehovah die oorblyfsel geestelike Israeliete wat deur die hewige vervolging tydens die Eerste Wêreldoorlog verstrooi is, versamel het.

12. (a) Wie sou gevoeg word by die oorblyfsel wat die Eerste Wêreldoorlog oorleef het? (b) Veral wanneer is daar begin om die “vrygeraaktes” uit te stuur?

12 Maar daar was nog ander wat gebring en by daardie geestelike Israeliete wat die Eerste Wêreldoorlog oorleef het, gevoeg moes word om die oorblyfsel van Christus se geestelike “broeders” op hierdie tydstip voltallig te maak (Mattheüs 25:40). Dit is veral sedert die eerste algemene byeenkoms van die Internasionale Bybelstudente in Cedar Point, Ohio, V.S.A., in die noordelike somer van 1919, dat Jehovah begin het om “vrygeraaktes” uit die oorspronklike oorblyfsel na die “nasies” te stuur. Hy het dit nog opvallender gedoen by die byeenkoms van die IBSA in 1922 by dieselfde kusoord ’n entjie van Sandusky, Ohio, af, toe die president van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap sy besielende toespraak aan die byeenkomsgangers tot ’n hoogtepunt gevoer het met die dramatiese woorde: “Adverteer, adverteer, adverteer, die Koning en sy koninkryk.” Daarna het die gemeentes van die oorblyfsel geestelike Israeliete hulle gereedgemaak vir die verkondiging van God se opgerigte koninkryk “tot ’n getuienis vir al die nasies” deur alle lede na die arbeidsveld te laat gaan, “van huis tot huis” en in die openbaar. Almal was ambassadeurs van die Koninkryk!—Handelinge 20:20, NW.

13. Wie word ter vervulling van Jesaja se profesie uit al die nasies versamel, en as ’t ware met watter vervoermiddels wat vinniger as die voet is?

13 Ter vervulling van Jesaja se profesie het dit gelei tot ’n wonderlike insameling van die oorblyfsel van die geestelike broederskap, as ’t ware met alle vervoermiddels wat vinniger as die voet is. Jehovah het gesê dat hy die “vrygeraaktes” selfs na afgeleë lande sou stuur. Hy het dit gedoen deur die “vrygeraaktes” te stuur wat die Eerste Wêreldoorlog oorleef het, asook die hongersnode, pessiektes en aardbewings wat die lewensgevaarlike tydperk van 1914-1918 G.J. gekenmerk het, en veral ook die hewige vervolging van die toegewyde Bybelstudente wat dwarsoor die wêreld ywerig met die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap saamgewerk het. Die vervolging in die besonder het party geestelik laat sterf, sodat hulle nie na die Eerste Wêreldoorlog meegedoen het aan die herinsameling van die oorlewende oorblyfsel nie, selfs nie eens nadat die publikasies van die Genootskap en die reisende verteenwoordigers wat die gemeentes besoek het ’n beroep tot eendragtige optrede gedoen het nie.

14. Wat het die “vrygeraaktes” wat uitgestuur is, verkondig, en hoe onkundig was die mense in party van die plekke waarheen hulle gestuur is?

14 Maar die getroues het gedoen soos Jehovah voorspel het, want hulle het sy “heerlikheid onder die nasies verkondig” (Jesaja 66:19). Daardie gehoorsame “vrygeraaktes” het na alle toeganklike lande en “nasies” gegaan, selfs na “verafgeleë eilande” om die heerlikheid van Jehovah se koninkryk te verkondig wat nou in die hemele in die hande van sy heersende Koning, Jesus Christus, opgerig is. Baie in daardie nasies en afgeleë eilande het nog nie eens ’n tyding oor die ware God, Jehovah, gehoor nie en het nog nooit besef dat sy glorieryke koninkryk in die hemele gebore is soos die voorspelde tekens van die tye toon nie.—Openbaring 12:1-5, 10.

15. In watter geestelike toestand moet daardie geestelike “broers” wat as ’n “offergawe aan die HERE” gebring word, bly, en waarom?

15 Almal wat die “vrygeraaktes” as hulle geestelike “broers” gebring het, het hulle “as offergawe aan die Here” gebring, nie aan ’n menseleier van ’n godsdienssekte of aan ’n aardse politieke wêreldmoondheid wat mense se steun probeer werf nie. Die “offergawe” moes rein wees om vir Jehovah aanneemlik te wees. Dit is waarom die profesie sê dat wanneer die lewende “offergawe” gebring word, dit is “net soos die kinders van Israel die spysoffer in ’n rein voorwerp bring na die huis van die HERE” (Jesaja 66:20). Dit is waarom daardie geestelike “broers” wat die “offergawe” uitmaak, geen deel van hierdie wêreld moet wees nie. Ja, hulle moet hulle “vlekkeloos . . . bewaar van die wêreld” (Jakobus 1:27). Hulle moet neutraal bly teenoor die besoedelende politiek van hierdie onrein stelsel. Dit is waarom Jehovah gesê het dat hulle “na my heilige berg, na Jerusalem,” gebring sou word. Dit is nie die hedendaagse Jerusalem, die hoofstad van die politieke Staat Israel nie. Die nasie waarvan dit die hoofstad is, is 85 persent Joods en ’n lid van die Verenigde Volke-organisasie wat gestig is om wêreldvrede en -veiligheid te bewaar.

16. Waarom het Jehovah vandag niks in die Midde-Ooste wat sy “heilige berg” genoem kan word nie?

16 Die hedendaagse Jerusalem in die Midde-Ooste het nie ’n “heilige berg” wat Jehovah in ’n godsdienstige sin sy eie kan noem nie. Waarom nie? Want ’n Mohammedaanse heiligdom, die Rotskoepel, pryk nou op die berg wat eens sy “heilige berg” was. Dit word nie gebruik om Jehovah te aanbid nie, maar vir die aanbidding van Allah, ’n naamlose godheid.

17. Wat is die “heilige berg . . . Jerusalem” waarheen daardie geestelike “broers” dus sedert die geboorte van die nasie in 1919 gebring word?

17 Wanneer al die pertinente dinge eerlik in ag geneem word, word ’n betekenisvolle feit duidelik: In die hedendaagse vervulling van Jesaja 66:20 het “my heilige berg” betrekking op ’n moederorganisasie van die geestelike Israeliete, naamlik die “Jerusalem daarbo” wat in Galasiërs 4:26 gemeld word. Dit is die Sion wat volgens Jesaja 66:8 “haar kinders gebaar” het. Daardie “kinders” maak die “nasie” uit wat in die na-oorlogse jaar 1919 “met een slag gebaar” is. In die lig hiervan is daardie geestelike “broers” wat sedert die geboorte van die “nasie” deur die “vrygeraaktes” gebring is, “as offergawe aan die HERE” gebring en in aanraking gebring met sy koninklike organisasie, die “Jerusalem daarbo” wat afgebeeld is deur die herboude, aardse Jerusalem van die ou tyd. Omdat hulle as “haar kinders” voortgebring is, is hulle ingelyf by die sigbare, aardse deel van Jehovah se universele organisasie om geestelike Jerusalemmers te wees.

Die ware aanbidding van Jehovah word herstel

18. Wat was die mees gepaste ding wat die “nasie” op hulle terrein van bedrywigheid kon doen aangesien Jehovah belowe het om party lede van die pasgebore “nasie” ook as “priesters en Leviete [te] neem”?

18 Het daardie pasgebore “nasie” die volle aanbidding van die een lewende en ware God, Jehovah, op hulle na-oorlogse terrein van geestelike bedrywigheid hervat? Dit sou uiters gepas wees, noudat hulle bevry is van oorheersing deur Babilon die Grote, die wêreldryk van valse godsdiens. En dit is presies wat hulle gedoen het, in ooreenstemming met Jehovah se beloofde optrede teenoor die pasgebore “nasie” in Jesaja 66:21: “En ook sal Ek uit hulle priesters en Leviete neem, spreek die HERE.” Ons moet onthou dat die Israeliete gedurende die sewentig jaar van hulle ballingskap in antieke Babilon, van 607 tot 537 v.G.J., die dienste van die Aäronitiese hoëpriester en onderpriesters en van hulle diensknegte, die Leviete, ontneem was aangesien die tempel waar hulle gedien het, vernietig was. In Hosea 3:4, 5 het Jehovah dit akkuraat voorspel:

19. Hoe het Jehovah die herstelling van sy aanbidding in Hosea 3:4, 5, voorspel?

19 “Want die kinders van Israel sal ’n lang tyd bly sit . . . sonder slagoffer en sonder klippilare en sonder efod en huisgode. Daarna sal die kinders van Israel hulle bekeer en die HERE hulle God soek en Dawid hulle koning [die Messias], en met siddering aankom na die HERE en na sy goedheid in die laaste van die dae.”

20. Wat moes in daardie geval gebou word, en waar, en om in watter allerbelangrikste behoeftes te voorsien?

20 Jehovah sou dus nie alleen hulle Bevryder uit Babilon wees nie, maar ook in hulle allerbelangrikste behoeftes, hulle geestelike behoeftes, voorsien. Hy sou ’n egte hoëpriester saam met sy onderpriesters in hulle amp herstel, en hulle sou bygestaan word deur ’n groep Leviete. Die tempel in Jerusalem sou gevolglik herbou moes word, sodat hulle aldaar hulle dienste kon verrig wat so belangrik was vir die “nasie” wat “met een slag gebaar” is. Dit sou plaasvind in die “land” wat “op een enkele dag gebore” is, hulle geliefde tuisland. Ja, al het dit ook onwaarskynlik gelyk.—Jesaja 66:8.

21. Watter soortgelyke ding het sedert 1919 in ’n geestelike sin in die geval van die pasgebore “nasie” gebeur?

21 In ’n geestelike sin was iets soortgelyks die geval met die oorblyfsel van geestelike Israel sedert Jehovah God hulle in die na-oorlogse jaar 1919 G.J. uit Babilon die Grote (die wêreldryk van valse godsdiens) bevry het. Hy het eers in hulle geestelike behoeftes voorsien. Hy het hulle begrip van die amp van die Messiaanse Koning, Jesus Christus, as Hoëpriester van God, opgehelder. Hy het hulle gereinig van enige godsdiensonreinhede wat hulle oorgehou het weens hulle omgang met Babilon die Grote en hulle gevangenskap aan haar. As lede van “’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk [deur die allerhoogste God] as eiendom verkry” het hulle duideliker as ooit besef hoe en waarom hulle volkome neutraal teenoor die politieke aangeleenthede van die huidige wêreld moes staan. Hulle het besef dat die tyd vir die een lewende en ware God aangebreek het om ‘vir homself ’n naam te maak’. En hulle het bewus geword van hulle verpligting om God se persoonlike naam, Jehovah, bo alle ander name te verhef. Hulle het gesien dat hulle verpligting is om getuies te wees van hierdie God wie se naam eeue lank oorskadu is, en in die onvergeetlike jaar 1931 het hulle die naam “Jehovah se getuies” aangeneem.—1 Petrus 2:9; Jesaja 43:12, NW; 63:12.

22. Wat is die allerbelangrikste geskil, die allerbelangrikste Bybelleerstelling, en waarom?

22 Al verdien dit baie aandag in die geïnspireerde Bybel, is die redding van die mensdom van sonde en die dood en gevangenskap aan Satan die Duiwel en sy organisasie nie die allerbelangrikste saak, die allerbelangrikste leerstelling in die Heilige Bybel nie. Dit is soos die hoofartikel met die opskrif “Onkreukbaarheid” in The Watchtower van 15 Augustus 1941 gesê het: “Jehovah se voorneme dat sy regverdige Regering oor die wêreld moet heers, word herhaaldelik in die Skrif beklemtoon. Sy Regering is die Teokrasie waarvan hy Christus Jesus die Koning gemaak het. . . . Die hoofgeskil wat deur Satan se uittartende uitdaging geopper is, was en is die geskil van UNIVERSELE HEERSKAPPY” (Paragrawe 1, 19). Die allerhoogste God se hoofvoorneme is gevolglik om sy universele soewereiniteit, wat hy alleen uitoefen, te regverdig. Hy sal dit binnekort met “die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God” by die slagveld genaamd Armageddon op heerlike wyse doen (Openbaring 16:14-16). Dit is die plig, die voorreg, die eer van die “heilige volk” geestelike Israel, om onkreukbaarheid teenoor Jehovah se universele heerskappy of soewereiniteit te handhaaf en aldus te toon dat die Duiwel ’n leuenaar is.

23. Watter pogings van die vyandelike nasies is ter vervulling van Jehovah se woorde in Jesaja 66:22 verydel?

23 Reg tot vandag toe het die wêreldlike nasies van Satan se sigbare organisasie gefaal in al hulle pogings om Jehovah se “nasie” wat in 1919 in sy pasgebore “land” “gebore” is, uit te wis. Dit is ter getroue vervulling van die versekering wat die Universele Soewerein in Jesaja 66:22 gegee het: “Want soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor my aangesig sal bestaan, spreek die HERE, so sal julle nageslag en julle naam bestendig wees.”

24. (a) Waarvan verseker die permanensie van God se nuwe hemel en nuwe aarde die oorblyfsel van geestelike Israel? (b) Waarby sal die oorblyfsel mettertyd ingelyf word?

24 Ondanks alles wat Satan die Duiwel en sy onsigbare demone en sy sigbare, aardse organisasie in die nabye toekoms aan hulle sal probeer doen, sal die oorblyfsel van geestelike Israel en sy naam nie uitgewis word nie. Die sigbare, aardse saad van Satan se organisasie en hulle name sal nie veel langer bestaan nie. Maar in skerp teenstelling daarmee sal die saad van Jehovah se universele organisasie, die oorblyfsel van geestelike Israel, voortbestaan; en die naam daarvan sal ook nie deur sy vyande uitgewis word en vergete raak nie. Net so seker soos wat die nuwe hemele en die nuwe aarde wat die Universele Soewerein Jehovah maak vir ewig sal bestaan, sal die oorblyfsel van geestelike Israel en sy waardige naam vir ewig bestaan. Dit beteken nie dat die oorblyfsel van geestelike Israel vir ewig op die aarde sal bly nie. Nee, maar hulle sal mettertyd weggeneem word en in “die nuwe hemel” by hulle Hoëpriester, Jesus Christus, aansluit en sal dan as onderpriesters by die geestelike tempel dien.

25. (a) Wanneer het Jehovah begin om daardie “nuwe hemel” te “maak”? (b) Veral van wanneer af het toekomstige lede van die “nuwe aarde” hulle verskyning gemaak?

25 Jehovah God het begin om “die nuwe hemel” aan die einde van die “vasgestelde tye van die nasies” in 1914 G.J. te maak toe hy sy verheerlikte Seun Jesus Christus op die hemelse troon geplaas het om as die Koning van die konings en die Here van die here te heers. Dit is “die Seun van Dawid” en toe hy ’n volmaakte man op die aarde was, het die Universele Soewerein Jehovah ’n verbond vir ’n ewige koninkryk met hom gesluit (Mattheüs 21:15). Die Koning Jesus Christus heers van sy hemelse troon af oor ons aardbol. Die skepping van “die nuwe aarde” beteken nie of vereis nie dat ons letterlike aarde vernietig moet word nie. Nee, want die planeet Aarde “bly vir ewig staan” (Prediker 1:4). God se koninkryk in die hande van Christus sal dit in ’n ewige Paradys omskep. Die skepping van die “nuwe aarde” bots nie met daardie wonderlike feit nie, maar beteken dat Jehovah ’n nuwe mensegemeenskap gaan skep wat in volle harmonie met hom en sy regverdige “nuwe hemele” is (2 Petrus 3:13). Daar lewe reeds miljoene toekomstige lede van daardie “nuwe aarde”-gemeenskap op die aarde. Hulle het veral sedert die jaar 1935 G.J. hul verskyning gemaak.

26. (a) Hoe het Jesaja 66:12 gewys op die koms van hierdie “groot menigte” wat met die oorblyfsel geestelike Israeliete sou assosieer? (b) Waar dien hierdie “menigte” Jehovah nou?

26 Hulle kom uit al die nasies, rasse, volke en tale en het hulle aan Jehovah God toegewy deur Christus die Hoëpriester en hulle toewyding gesimboliseer deur in water gedoop te word in navolging van hulle Goeie Herder, Jesus Christus (Johannes 10:14, 16). Vroeër, in Jesaja 66:12, het Jehovah gesê dat hy “die rykdom van die nasies soos ’n oorlopende stroom” sou lei na die oorblyfsel van geestelike Israel, wat die “Jerusalem daarbo” verteenwoordig. Sedert 1935 word “die rykdom van die nasies” na die geestelike oorblyfsel gelei in die vorm van die “groot menigte” “ander skape” van die Goeie Herder, die heersende Koning Jesus Christus (Openbaring 7:9-17). As gevolg van hulle lojaliteit aan Jehovah se Teokratiese Regering in die hande van Christus het die Goeie Herder hulle met die oorblyfsel geestelike Israeliete tot “een kudde” saamgevoeg. Hulle word na Jehovah se geestelike tempel gebring wat “’n huis van gebed genoem word vir al die volke” (Jesaja 56:7; Markus 11:17). By God se geestelike tempel vir sulke internasionale gebed verrig die glorieryke “groot menigte” “dag en nag vir hom heilige diens”.—Openbaring 7:15, NW.

27, 28. Hoe gereeld vergader die “groot menigte” uit “alle vlees” saam met die oorblyfsel, en watter vrugte werp hulle deelname aan die getuienis werk af?

27 Hierdie wonderlike hedendaagse verwikkeling strook met wat Jehovah voorts in Jesaja 66:23 sê: “En elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat sal alle vlees kom om te aanbid voor my aangesig, sê die HERE.”—Haggai 2:7-9.

28 Volgens verslae hou die “groot menigte” uit “alle vlees” gereeld vergaderinge saam met die oorblyfsel van geestelike Israel, as ’t ware “elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat”. Hulle neem lojaal saam met die gesalfde oorblyfsel deel aan die openbare getuieniswerk en aan die huis-tot-huis-getuieniswerk sodat Jesus se voorspelling oor die “voleinding van die wêreld” vervul kan word: “Hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies” (Mattheüs 24:3, 14). Daardie mense uit “alle vlees” wat gehoor gee aan die predikingswerk “kom om te aanbid” voor die Soewerein Jehovah.

29, 30. (a) Hoe toon Jesaja 66:24 dat daardie aanbidders uit “alle vlees” die “groot verdrukking” waarmee hierdie stelsel eindig, sal oorlewe? (b) Waarvan sal hulle die fondament vorm, en wie sal hulle daarna voorgaan in die aanbidding van die Maker van hemelse en aardse dinge?

29 As oorlewendes van die “groot verdrukking” wat vir die wêreld voor die deur is, sal hulle sien hoe Jehovah sy universele soewereiniteit regverdig deur sy vyande en hulle vyande in daardie wêreldwye “verdrukking” te vernietig. Te dien effekte sluit Jesaja sy profesie af met die woorde: “En hulle [die oorlewendes van die verdrukking] sal uitgaan en die lyke sien van die mense wat teen My opgestaan het; want hulle wurm sal nie sterwe en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie, en hulle sal afgryslik wees vir alle vlees.”—Jesaja 66:24.

30 Net soos die vervloekte “bokke” van Jesus se gelykenis wat gedurende hierdie “voleinding van die wêreld” vervul word, sal diegene wat teen die Soewereine Heer Jehovah opstaan, “weggaan in die ewige straf” ewige vernietiging (Mattheüs 24:3; 25:31-46). As die fondament van die “nuwe aarde” sal daardie sagmoedige erfgename van die paradysaarde al die verresenes wat in die vlees op aarde opgewek is, in hul midde verwelkom. Hulle sal al sulke verresenes voorgaan in die verenigde aanbidding van die geregverdigde Maker van die “nuwe hemel” en die “nuwe aarde”.—Jesaja 65:17; 2 Petrus 3:13.

[Venster op bladsy 21]

Hoe sal jy die volgende vrae, wat op Jesaja 66:8-20 gebaseer is, beantwoord?

Vers 8: Hoe is die geestelike “nasie” van Jehovah in 1919 in sy geestelike “land” “gebore”?

Verse 9-14: Hoe het Jerusalem haar “kinders” gevoed en liefdevol versorg? Hoe geld dit vir geestelike kinders in ons dag?

Verse 15-18: Watter gebruike het daartoe gelei dat Jerusalem in 607 v.G.J. vernietig is, en wat voorspel dit vir vandag?

Verse 19, 20: Watter “teken” het Jehovah onder “die nasies” gestel? Waarom?

Hoe sal jy die volgende vrae oor Jesaja 66:19-24 beantwoord?

Vers 19: Hoe is die “vrygeraaktes” na die “nasies” gestuur? Met watter gevolg?

Vers 20: Hoe het “die kinders van Israel” ’n “offergawe” na Jehovah se huis gebring?

Vers 21: Hoe is party geneem om as “priesters” te dien?

Vers 22: Watter versekering gee Jehovah in verband met sy herstelde volk waar hy na die sekerheid van “die nuwe hemel en die nuwe aarde” verwys?

Vers 23: Hoe sien ons dat “alle vlees” Jehovah “elke maand op die nuwemaan en elke week op die sabbat” aanbid?

Vers 24: Watter lot van mense wat teen Jehovah opstaan, sal die oorlewendes van die “groot verdrukking” aanskou?

[Prent op bladsy 18]

Net soos ’n moeder versorg Jerusalem haar “kinders” liefdevol

[Prent op bladsy 24]

Omdat hulle “vrygeraaktes” is wat uit “Babilon die Grote” gekom het, verkondig Jehovah se Getuies die Koninkryksboodskap

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel