Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 9/15 bl. 27-31
  • Vooruitgang in Ecuador

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vooruitgang in Ecuador
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Vroeë pogings beloon
  • Lonende werk in Quito en Guayaquil
  • Teenstand
  • Vreedsame uitbreiding
  • Die “Klein Vatikaan” gee die stryd gewonne
  • Die werk brei uit na die suide
  • Hulp uit die buiteland
  • Meer werk lê voor
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 9/15 bl. 27-31

Vooruitgang in Ecuador

OP ONTMOET af in Ecuador. Hier, in die kleinste nasie aan die weskus van Suid-Amerika, ontmoet die noordelike en suidelike halfrond by die ewenaar. Die ‘noorde’ is hier letterlik net ’n tree van die ‘suide’ af.

As ’n mens na Ecuador se vorm op ’n kaart kyk, herinner dit jou dalk aan ’n skilder se palet, met die Golf van Guayaquil as ’n vingeropening. Groen woude, branders met wit kruine, netjiese vallei-landerye, kronkelende riviere en breë riviermonde buig voor die toringhoë, sneeubedekte Andes-pieke onder ’n blou hemel. Versengende tropiese temperature en verfrissende lenteweer word gelyktydig die hele jaar deur geniet. Voeg hierby die helder kleure van die groot landerye waar koffie, kakao, piesangs, rys, katoen, meloene, appels, druiwe, pynappels, papajas en die inheemse naranjilla gekweek word, en jy het ’n kunstenaarsparadys.

Ecuador se bevolking is net so interessant en uiteenlopend soos sy topografie. Spanjaarde met ligte velle, kleurryk geklede boorlinggroepe, Swart mense uit Afrika en Jamaika, ’n aansienlike aantal Oosterlinge en ’n verskeidenheid Europese nasionaliteite kan maklik onderskei word. Maar die meeste van die meer as 8 644 000 bewoners, wat baie gasvry is en maklik glimlag, is ’n mengsel van verskillende rasse.

Nadat die Katolieke Kerk in Ecuador 300 jaar lank die monopolie gehad het, het dit die algemeen aanvaarde godsdiens geword. Maar sowat 40 jaar gelede het veranderinge begin intree en tye van Bybelse verkwikking duur tot vandag toe voort. Jehovah se Getuies het ’n rol in hierdie verandering gespeel, en hulle verhaal is een van toewyding en deursettingsvermoë. Terwyl dit lyk of sekere godsdiensinvloede afneem, het die ware Christelike godsdiens inderdaad in Ecuador vooruitgang gemaak.

Vroeë pogings beloon

Kom ons gaan terug na 1935. In daardie depressiejaar het Theodore Laguna en ’n metgesel die boodskap oor God se koninkryk na Ecuador gebring. Gedurende die 10 maande wat hulle daar vertoef het, het hulle 1 432 uur gepreek, en party van die saadjies wat destyds gesaai is, het op vrugbare grond geval en 40 jaar later goeie vrug gedra.

Teen 1946 was die Wagtoring-Bybelskool Gilead besig om honderde ywerige sendelinge op te lei. In September van daardie jaar het gegradueerdes Thomas en Mary Klingensmith saam met Walter en Willmetta Pemberton vol geesdrif vir die predikingswerk in Ecuador se hoofstad, Quito, aangekom. Dit was vir hulle ’n groot uitdaging om met hulle beperkte kennis van Spaans deur die skans van drie eeue se tradisie te dring. Die gebruik van getuieniskaarte, plate met Bybel-toesprake daarop en baie gebaretaal het gelei tot die eerste georganiseerde vergadering van Jehovah se Getuies aldaar in Oktober 1946. Die sendelinge se pogings is geseën met ’n opkoms van agt persone, onder meer een Ecuadoriaan. En die volgende maand het sewe Ecuadoriane en die vier sendelinge in die Magdalena-deel van Quito gepreek.

Ramón Redín en Pedro Tules was onder die sewe persone wat in Augustus 1947 hulle toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer het. Op die ouderdom van 82 dien broer Redín nog steeds as ’n spesiale pionier of voltydse Koninkryksverkondiger. Broer Tules, wat nou al meer as vier-en-dertig jaar lank in die voltydse diens is, was (in 1951) die eerste Ecuadoriaan wat Gileadskoolopleiding ontvang het.

Lonende werk in Quito en Guayaquil

Ons kom nou by 1948. Daardie jaar het nog ses Gilead-sendelinge na Quito gekom, en ses ander is na die hawestad Guayaquil gestuur.

Lottie Foster, nou in haar tagtigerjare, was een van die wat in 1948 na Equador gekom het, en sy woon nog steeds hier. “Ek was een van die wat geplant en natgemaak het” sê suster Foster van haar drie-en-dertig jaar as sendeling, en voeg by: “Ek het baie regstreeks gehelp om hulle lewens aan God toe te wy. Maar in baie gevalle het ek lektuur versprei en studies begin en dan het die mense verhuis. Later sou ek hulle dan by een van ons groot byeenkomste raakloop en verneem dat hulle gedoop is en mooi vorder. . . . Dit is waarlik Jehovah wat laat groei.”—1 Korinthiërs 3:6-9.

Fern Noboa het ook in 1948 na Ecuador gekom. Saam met haar gesin dien suster Noboa nog steeds in ’n land wat sy haar tuiste gemaak het. Sy vertel: “In die Magdalena-deel van Quito het die priester met sy fiets deur die strate gery om sy gepeupel bymekaar te maak om ons te verdryf. Ons is ten minste een keer onder die klippe gesteek.”

Maar die vervolging was tevergeefs, en Jehovah het die Koninkrykspredikingswerk geseën. Daar is gevolglik vandag veertien gemeentes in Quito.

Guayaquil, die handelstad aan die Stille Oseaan, het ook in 1948 Bybelwaarheid begin hoor. Albert en Zola Hoffman was onder die eerste pioniers in daardie stad. Suster Hoffman het haar aardse loopbaan getrou in 1975 voltooi, maar Albert sê die volgende van daardie eerste vrugbare pogings:

“Ons het in pare gewerk om mekaar met Spaans te help. Ons het net vir die mense gesê dat ons ’n wonderlike en belangrike boodskap het en dan die grammofoon aangeskakel. Mense sou om ons saamdrom en dan het ons lektuur aangebied, veral die boek ‘Die waarheid sal julle vrymaak’, wat een van die stad se gewildste publikasies geword het. . . . Vier belangstellendes het ons eerste vergadering bygewoon.”

In Maart 1949 het N. H. Knorr (die destydse president van die Wagtoringgenootskap) Ecuador vir die eerste keer besoek. In Quito het 82 na hom geluister terwyl hy sy toespraak by kerslig gehou het. Nadat die sendelinge slegs twee en ’n half maande in Guayaquil gearbei het, het ’n skare van 280 aldaar byeengekom om na broer Knorr te luister.

Tot op daardie tydstip het die Genootskap se kantoor in New York toesig gehou oor die Koninkrykspredikingswerk in Ecuador. Maar met drie-en-vyftig bedrywige Koninkryksverkondigers en goeie vooruitsigte op uitbreiding is ’n takkantoor in Guayaquil geopen.

Teenstand

Die ywerige Koninkryksgetuieniswerk het nie onopgemerk gebly nie. Ander kerke het bekommerd geraak. Dit is eienaardig dat dit nie die Katolieke Kerk, wat sê dat dit 95 persent van die bevolking verteenwoordig, was wat aanvanklik onrus gestook het nie, maar ’n Protestantse evangeliese groep. Die aanvalle op die Getuies in die amptelike evangeliese tydskrif het egter die belangstelling van denkers gewek, en baie van hulle het eindelik die ware Christelike godsdiens aangeneem.

Die Rooms-Katolieke Kerk het nie afsydig gebly nie. In 1951 het gepeupelgeweld in Quito uitgebreek. Maar Jehovah se volk het dadelik stappe gedoen om ‘die evangelie te verdedig en te bevestig’ (Filippense 1:7). Artikel 168 van Ecuador se Grondwet waarborg vryheid van gewete in alle opsigte en op alle terreine, onder meer die vrye beoefening van ’n persoon se verkose godsdiens.

Quito se vernaamste koerant het die Getuies se reg op vryheid van aanbidding verdedig. Die regeringsowerheid het die geestelikes gewaarsku, en die geestelike wat verantwoordelik was vir die gepeupel moes die vernedering verduur om te beloof dat hy sou toesien dat so iets nie weer gebeur nie.

Party priesters het klaarblyklik gemeen dat hulle ’n outonome gesag is, en eerlank was daar nog gepeupelgeweld teen Jehovah se Getuies. Verdere beroepe op die bevoegde regeringsowerheid het gelei tot ’n kabelgram van die Departement van Staatsbestuur op 3 Desember 1952. Dit het gespesifiseer dat Getuie-sendelinge die “nodige beskerming” teen gewelddadige aanvalle moet geniet. Hierdie kabelgram, wat in die kantore van al die provinsiale goewerneurs in die land op lêer geplaas is, is tot vandag toe die amptelike gesindheid teenoor die wetlike posisie van Jehovah se Getuies.

Gehoorsaamheid aan die wet is egter ’n ander saak. Minder as twee jaar daarna het ’n gepeupel van 200 ’n byeenkoms van Jehovah se volk in Riobamba ontwrig. Weer eens het die geestelikes se pogings geboemerang, want koerante dwarsoor die land het die Getuies se reg op vryheid van aanbidding verdedig.

Vreedsame uitbreiding

Die dekade van die vyftigerjare was ’n tyd vir groei en versterking. Broers N. H. Knorr en M. G. Henschel het Ecuador besoek, en nuwe sendelinghuise is geopen, ’n Reisende opsiener het toe begin om die vyf gemeentes gereeld te besoek. Op die oomblik is daar ses kringe in die land.

Ruimte vir vergaderinge en die nodige takfunksies was baie beperk. In 1955 is daar dus grond gekoop om takfasiliteite te bou. Daar is in Oktober 1956 met die uitgrawings begin, en in Mei 1957 is ’n mooi, stewige gebou voltooi. Daar was ruimte vir uitbreiding en die Koninkryksaal het maklik sitplek aan 300 verskaf. Teen die vroeë sewentigerjare was die behoefte aan verdere uitbreiding duidelik. In Desember 1974 is ’n gebou voltooi wat die bergplek verviervoudig het en huisvesting aan tot 24 sendelinge voorsien. En in 1981 het ons net buitekant Guayaquil ’n stuk grond gekoop vir ’n byeenkomsterrein, ’n pakhuis en moontlik ander fasiliteite.

Die “Klein Vatikaan” gee die stryd gewonne

In 1953 is sendelinge na Cuenca, Ecuador se derde grootste stad, wat soms die “Klein Vatikaan” genoem word, gestuur. Die vordering was stadig en die sendelinge het in 1955 ander toewysings ontvang. Maar die saadjies het op goeie grond geval. Een jong persoon, Carlos Sanchez, het die waarheid herken. “Toe ek die vergaderinge begin bywoon het” vertel hy, “was ek so skaam en selfbewus dat ek die mus wat ek gedra het oor my gesig probeer trek het sodat ander my nie kon sien nie.” Vandag straal sy gesig van die waarheid wat sy lewe verander het. Alhoewel sy onderlyf verlam is weens ’n ernstige motorongeluk, gaan broer Sanchez voort om ywerig na ander waarheidsoekers te soek.

Cuenca—die “Klein Vatikaan”—het verander, en ’n geestelike het ’n aandeel hieraan gehad. Harley Harris, die huidige takkoördineerder in Ecuador, onthou hoedat hy en drie ander sendelinge en ’n spesiale pionier in 1966 ’n gesamentlike poging begin aanwend het om ’n gemeente aldaar te stig. Hy sê:

“In ons werk van huis tot huis het ons begin hoor van ’n Spaanse priester . . . wat in die Kerk gesê het dat indien mense oor die Bybel praat, ander na hulle moes luister aangesien die Bybel die waarheid bevat. . . . Ek het ’n gesprek van twee uur met hom in die sendelinghuis gevoer. Hy wou graag ’n Bybel hê en was baie ontvanklik. Omdat hierdie priester mense nie volgens hulle inkomste vir kerkdienste laat betaal het nie, aangesien hy gemeen het dat ’n Mis ’n Mis is en almal dieselfde laat betaal het, het hy hom die toorn van die biskop op die hals gehaal en is hy na sy geboorteland, Spanje, teruggestuur. Sy kommentare het nietemin gehelp om die boeie om baie mense se verstande los te maak, met die gevolg dat ons predikingswerk al hoe meer vrug afgewerp het. Nou, in 1982, is daar drie aktiewe gemeentes van Jehovah se volk in Cuenca.

Die werk brei uit na die suide

Van 1 Oktober 1956 af was die hele suidelike provinsie El Oro die toegewese gebied van Carl Dochow en Nicolas Wesley. In die ontwikkelende landbousentrum Machala het hulle agttien maande lank gewerk voordat hulle een nuwe Koninkryksverkondiger in die veld gekry het. “Maar toe het die werk begin vooruitgaan” sê broer Dochow. “In 1960 was ’n reusetree vorentoe die verkryging van die heel eerste Koninkryksaal wat ten volle aan ’n gemeente van Jehovah se Getuies behoort het [in hierdie land waar sale vantevore net gehuur is] . . . Dit is sedertdien vergroot en verbou en strek ware aanbidding inderdaad tot eer.”

Machala het nou drie gemeentes, met nog ses elders in die provinsie. En vandag is die meeste Koninkryksale in Ecuador die eiendom van die plaaslike gemeentes.

Hulp uit die buiteland

Tydens die internasionale byeenkoms van Jehovah se Getuies in die stad New York in 1958 is gesinne genooi om in lande te dien waar die behoefte aan Koninkryksverkondigers groter was. Daar is beraam dat Ecuador meer van hierdie hulp ontvang het as enige ander Suid-Amerikaanse land. In 1959 het broer Knorr ’n gehoor van 120 wat hierheen verhuis het, toegespreek. Verskeie van hierdie gesinne dien nog steeds in Ecuador.

Meer werk lê voor

Sedert die een-en-veertigste klas van Gileadskool in 1966 is dosyne sendelinge na Ecuador gestuur. Die resultate is uiters bemoedigend.

Daar is vandag 112 gemeentes in Ecuador. Alhoewel sekere dele van die land nog nie die Koninkryksboodskap gehoor het nie, word pogings aangewend om hierdie ontoegekende gebied te dek. Die besondere opkoms by die Here se Aand-maal toon duidelik dat daar nog ’n groot potensiaal vir uitbreiding is. Met ’n hoogtepunt van 5 666 Koninkryksverkondigers is die Gedenkmaal in 1981 deur 26 576 bygewoon.

Dit is duidelik dat Jehovah die Koninkrykspredikingswerk in hierdie land steun. Terwyl die valse Christendom se invloed in Ecuador afneem, verheug ons ons oor die feit dat die ware Christelike godsdiens vooruitgang maak tot Jehovah se ewige eer.

[Kaart/Prent op bladsy 27]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Quito

Riobamba

Guayaquil

Cuenca

Machala

Golf van Guayaquil

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel