Die geboorte van ’n koninklike nasie in ’n pasgebore land
“Word ’n land op een enkele dag gebore? Of word ’n nasie met een slag gebaar? Want Sion het weë gekry, meteens haar kinders gebaar.”—Jesaja 66:8.
1. Wat het die Internasionale Bybelstudente op 26 Julie 1931 by hulle byeenkoms in Columbus, Ohio, gedoen, en watter soortgelyke stap is daarna oor die hele wêreld gedoen?
MEER as ’n halfeeu gelede—op Sondagmiddag, 26 Julie 1931, om presies te wees—het ’n volk die wêreldarena as voorstanders van ’n naam betree. Op daardie onvergeetlike dag het die duisende Internasionale Bybelstudente, wat vir ’n algemene byeenkoms in Columbus, Ohio, V.S.A., byeen was, eenparig ’n resolusie aangeneem waarin hulle verklaar het dat hulle voortaan verkies om op die Bybelse naam “Jehovah se getuies” genoem te word (Jesaja 43:10-12, NW). Kort daarna het al die gemeentes van die Internasionale Bybelstudente rondom die aardbol daardie voorbeeld gevolg en die unieke naam formeel aangeneem. Hulle het die nuwe naam bly behou!
2. (a) Wat het die draers van daardie Bybelse naam sedertdien verduur? (b) Watter gerusstellende woorde vind hulle in Jesaja 66:5?
2 As gevolg van daardie eerbare naam het daardie getuies van die Allerhoogste God hulle die haat van die wêreld op die hals gehaal, selfs die haat van die valse Christendom, wie se lede beweer dat hulle die godsdiensbroers is van almal wat bely dat hulle dissipels van Jesus Christus is. Hierdie godsdienshaat het so erg geword dat dit aanleiding gegee het tot gewelddadige vervolging, sodat baie gedood is. Ter bemoediging van die draers van die naam wat die waardigheid van daardie naam ophou, weerklink hierdie gerusstellende woorde, wat deur een van die Bybel se grootste profete vir ons bewaar is, deur meer as 2 500 jaar heen: “Hoor die woord van die HERE, julle wat vir sy woord bewe! Julle broers, julle haters wat julle verstoot om my Naam ontwil, sê: Laat die HERE heerlik word, dat ons julle vreugde kan aanskou [“Hy moet ook met verheuging van julle kant verskyn” NW]! Maar hulle sal beskaamd staan!”—Jesaja 66:5.
3. Hoe toon Jehovah se Getuies dat hulle vir sy Woord bewe, en wat benewens hoorders daarvan is hulle?
3 Jehovah se Getuies is vandag diegene wat “vir sy woord bewe”. Hulle is bang om in stryd met sy geskrewe Woord op te tree. Dit is waarom hulle voortdurend die geïnspireerde Skrif bestudeer. Hulle besef dat die God en Vader van hulle Here en Verlosser, Jesus Christus, die Outeur van die Bybel is. Hulle aanvaar al nege-en-dertig boeke van die Hebreeuse Skrifte en al sewe-en-twintig boeke van die Christelike Griekse Skrifte as die woord van Jehovah, waarvan hulle nie alleen hoorders moet wees nie, maar ook daders.
4. (a) Wat is die basiese rede waarom die valse Christendom hulle broers haat en verstoot? (b) Watter beweegrede voer hulle vir hulle handelwyse aan?
4 Waarom word Jehovah se Getuies nou eintlik deur die valse Christendom gehaat, deur mense wat beweer dat hulle aan Jesus Christus se broederskap behoort? Waarom sluit die valse Christendom hulle uit die geledere van diegene wat as Christene erken word uit, en wil hulle niks met hulle te doen hê nie omdat hulle niks met hulle gemeen het nie? Jehovah self verstrek die rede hiervoor wanneer hy sê: “Om my Naam ontwil.” En tog verstrek diegene wat hulle haat en verstoot die mees verhewe rede vir hulle handelwyse deur uit te roep: “Laat [Jehovah] heerlik word.” Of, volgens Bybelvertalings wat die gebruik van die goddelike naam vermy, roep hulle uit: “Laat die HERE heerlik word.” Maar die Here God beskou dit nie as iets wat hom verheerlik as hulle sy getuies haat en hulle van sy getuies distansieer nie.
5. (a) Wie verheug hulle wanneer Jehovah verskyn? (b) Wat beteken dit vir diegene wat beskaamd gemaak word?
5 Wie verheug hulle wanneer Hy verskyn deur die een of ander blyk te lewer dat hy sekere persone goedkeur en ander afkeur? Wie sal dan beskaamd staan? Vir diegene wat gehaat en verstoot word omdat hulle sy naam waarlik respekteer, sê Jehovah: “Hy moet ook met verheuging van julle kant verskyn, en hulle is diegene wat beskaamd gemaak sal word” (NW). Dit het ontsettende moeilikheid beteken vir diegene wat hulle gehaat en verstoot het. Die moeilikheid wat hulle lank gelede getref het, het die grootste van alle moeilikhede afgeskadu wat binnekort diegene gaan tref wat Jehovah se Getuies in hierdie “tyd van die einde” haat en verstoot (Daniël 12:4). In sy volgende woorde verwys die profeet Jesaja hierna wanneer hy sê: “Hoor—’n rumoer uit die stad! Hoor—uit die tempel! Hoor—dit is die HERE wat sy vyande hulle dade vergeld!”—Jesaja 66:6.
6. In watter stad was daar ’n “rumoer” en wat was die rede vir so ’n geluid?
6 Die stad wat nie by name genoem word nie en waaruit daar “’n rumoer” kom, is natuurlik Jerusalem, want dit is waar die tempel vir die aanbidding van Jehovah gestaan het. Die gedagte hier is dat Jehovah na die tempel vir sy aanbidding kom om ondersoek in te stel, en dan geval die wyse waarop hy aanbid word hom nie. Dit is bloot uiterlike, huigelagtige vormaanbidding. Dit het sy heilige naam smaad aangedoen. ’n Blyk dat Jehovah dit afkeur, sou ’n “rumoer” wees wat veroorsaak word deur die inval van die wêreldverowerende Babiloniërs, wat Jehovah as sy instrumente sou gebruik om “sy vyande” die beoefenaars van skynheilige aanbidding wat sy tempel onteer het, “hulle dade [te] vergeld”. Hulle was Jehovah se vyande omdat hulle vyandiggesinde haters was van diegene wat waarlik “vir sy woord bewe” en wat hulle “om my Naam ontwil” verstoot het.—Jesaja 66:2, 5.
7. Wanneer is Jesaja se profesie vervul, wat het met Jeremia gebeur, en wie het gesien dat Jehovah se woord waar was?
7 In die daaropvolgende eeu, gedurende die dae van die profete Jeremia, Esegiel en Daniël, het Jehovah gevolglik die leërs van Babilonië as sy agente gebruik om die verbondsverbrekende Israeliete “hulle dade [te] vergeld”. Watter “rumoer” het dit tog in 607 v.G.J. in Jerusalem veroorsaak toe die hele stad vernietig is en nie eens die pragtige tempel wat deur wyse koning Salomo gebou is, gespaar is nie! Die oorlewende Jode is na Babilon weggevoer. Die paar Jode wat in die land agtergebly het, het eindelik na Egipte gevlug en die profeet Jeremia teen sy sin met hulle saamgeneem. Sodoende is sy voorspelling vervul toe die land heeltemal verlate gelaat is. Aldus het die gebied wat eens deur ’n nasie bewoon is ook opgehou om die tuisland van ’n lewende nasie met Jehovah God as hulle hemelse Koning te wees. Getroue Jode wat ‘vir God se woord gebewe het’, het gesien dat sy woord waar was.
8, 9. (a) Wat is die hedendaagse teenbeeldige Jerusalem? (b) Wat sal volgens Jesus se profesie met haar gebeur, en waarom?
8 Baie skokkender gebeure as dié van 607 v.G.J. wag op diegene wat Jehovah se Getuies, wat vandag vir Jehovah se Woord bewe, haat en vermy. Al daardie tragiese dinge wat in die dae van Jeremia, Esegiel en Daniël plaasgevind het, “het hulle oorgekom as voorbeelde [of as tipes] en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11). Dan sal daar inderdaad “’n rumoer uit die stad” kom, die teenbeeldige Jerusalem wat deur God veroordeel is, naamlik die valse Christendom. Net soos Israel van die ou tyd beweer sy ook dat sy in ’n verbond met God is, naamlik die “nuwe verbond” met Jesus Christus as Middelaar (Hebreërs 8:7-9). Maar sy het nie haar beweerde verbondsverhouding met God gestand gebly nie. Daar wag dus ’n “groot verdrukking” op die valse Christendom. Dit is afgeskadu deur die verdrukking op eertydse Jerusalem. Jesus self het voorspel:
9 “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word.”—Mattheüs 24:21, 22; Markus 13:19, 20.
10. Wie benewens die valse Christendom sal deur daardie verdrukking verswelg word, en wie sal die “vlees” uitmaak wat behoue bly?
10 Hierdie weergalose groot verdrukking is ophande. Dit kom van die God van “die uitverkorenes” Jehovah, af. Dit sal nie net die valse Christendom, die teenbeeldige Jerusalem, verswelg nie, maar ook die hele stelsel waarmee die valse Christendom bevriend is (Jakobus 4:4). Die toegewyde, gedoopte Christene van vandag wat bewe vir Jehovah se Woord, sal die “vlees” wees wat behoue bly.
’n Versnelde geboorte wat nie voorkom kon word nie
11. (a) Deur watter tydperk word menslike geboorte voorafgegaan, maar sou iets soortgelyks plaasvind in die geval van ’n herboude Jerusalem? (b) Op wie se bevel sou ’n ander Jerusalem op dieselfde plek gebou word? (c) Het Jesaja voorspel hoe lank die terrein van ou Jerusalem ’n verlate woesteny sou wees?
11 Kom ons gaan nou terug na Jesaja se aangrypende profesie! As ’n teëvoeter vir die droewige vooruitsig wat hy so pas onder inspirasie geskilder het, voorspel hy nou ’n verblydende gebeurtenis. Die geboorte van ’n egte kind is iets waarna die wettig getroude egpaar met groot afwagting en die grootste verwagtinge uitsien. In die geval van mense moet geboorte voorafgegaan word deur die goddelik voorgeskrewe tyd vir die volledige ontwikkeling van die gewenste kind. Maar in hierdie verband het die Groot Insteller van die geboorteproses iets buitengewoons voorspel, iets wat hy self sou reël. Sy profeet Jesaja het die vernietiging van die besoedelde stad Jerusalem voorspel, en gevolglik sou die oorspronklike stad wat op die berg Sion gebou is, ophou bestaan. Maar ’n ander stad sou op die bevel van die Persiese veroweraar, Kores die Grote, die dienaar van Jehovah wat die Babiloniese Ryk omver sou werp, op dieselfde berg Sion in aansyn kom (Jesaja 44:28; 45:1). Maar Jesaja het nie voorspel hoe lank die ou Jerusalem nie sou bestaan nie en gevolglik sonder “kinders” of burgers sou wees nie. En Jesaja het ook nie voorspel hoe lank die berg Sion en die hele land wat daarmee geassosieer is ’n verlate woesteny sou wees wat deur mense vermy word nie.
12. Hoe sou ’n nuwe land op die kaart van die antieke wêreld verskyn, en waarvan sou dit die moederland wees?
12 Maar in die dae van Kores die Grote sou ’n ander Jerusalem verrys en die moeder van baie “kinders” word, dit wil sê, van baie burgers en onderdane wat op haar toegewese grondgebied woon. Het dit beteken dat ’n “land” op die kaart van die antieke wêreld sou verskyn wat die moederland van mense sou wees wat eens nie ’n “nasie” was nie? Jehovah God se profetiese antwoord op hierdie vraag was Ja!
13, 14. (a) Sou die Joodse gevangenes met die volgende gereelde Jubeljaar na hulle wegvoering in hulle land herstel word? (b) Sou Jerusalem deur die buitengewone pogings van Joodse gevangenes
13 Die vraag was dus: Wanneer en hoe? Deur sy profeet Jeremia het Jehovah voorspel dat die land van die eertydse “nasie” sewentig jaar lank verlate sou lê. Dit sou twintig jaar langer wees as die tydperk van vyftig jaar tussen Jubeljare. Wanneer die gereelde Jubeljaar in 573 v.G.J. aangebreek het, sou daar dus geen Jubeljaarviering in die voormalige tuisland wees nie, en daar sou ook geen Jerusalem of Sion in aansyn kom om ’n groep burgers as haar “kinders” te bemoeder nie. Die eerste oorlewende Joodse ballinge sou eers in die jaar 537 v.G.J. na hulle voormalige tuisland terugkeer. So iets sou plaasvind sonder buitengewone, kragtige inspanning deur die Joodse gevangenes in Babilon. Dit sou ’n daad van God wees wat met sy profetiese belofte strook. Al het dit ook hoe onwaarskynlik gelyk, sou ’n “nasie” na die ballingskap in aansyn kom in ’n land wat Jehovah God vir hierdie “nasie” in bewaring gehou het. Jehovah het so iets te kenne gegee toe hy Jesaja vervolgens beweeg het om die volgende te sê oor wat na die volksramp in 607 v.G.J. sou gebeur:
14 “Voordat sy [dit wil sê, ’n ander Jerusalem] weë gekry het, het sy gebaar; voordat smart oor haar gekom het, is sy van ’n seuntjie verlos. Wie het so iets gehoor? Wie het sulke dinge gesien? Word ’n land in een enkele dag gebore? Of word ’n nasie met een slag gebaar? Want Sion het weë gekry, meteens haar kinders gebaar.”—Jesaja 66:7, 8.
15. Hoe vergelyk daardie bevalling met die een wat in Openbaring 12:1-17 beskryf word?
15 Hierdie buitengewone geboorte is net mooi die teenoorgestelde van die beskrywing van die geboorte van ’n manlike kind in die laaste boek van die Heilige Bybel. Daar lees ons in Openbaring 12:1-17: “En ’n groot teken het in die hemel verskyn: ’n vrou wat met die son bekleed was, en die maan was onder haar voete, en op haar hoof ’n kroon van twaalf sterre; en sy was swanger en het uitgeroep in haar weë en barensnood. En ’n ander teken het in die hemel verskyn, en daar was ’n groot vuurrooi draak met sewe koppe en tien horings, en op sy koppe sewe krone; en sy stert het die derde van die sterre van die hemel meegesleep en hulle op die aarde gegooi. En die draak het gestaan voor die vrou wat op die punt was om te baar, sodat hy haar kind sou verslind sodra sy gebaar het. En sy het ’n manlike kind gebaar [Sy het ’n kind in die wêreld gebring, ’n seun, NTP], wat al die nasies met ’n ystersepter sou regeer; en haar kind is weggeruk na God en sy troon. . . . En die draak was vertoornd op die vrou, en hy het weggegaan om oorlog te voer teen haar ander nakomelinge wat die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou.”
16. Wat of wie is daardie simboliese vrou en haar “manlike kind”?
16 Aangesien geen vrou op aarde die maan onder haar voete het en ’n band van twaalf sterre soos ’n kroon op haar hoof het nie, moet die voormelde sinnebeeldige vrou simbolies wees. Aangesien God haar kind aanvaar en erken het, moet Hy die een wees wat haar swanger gemaak het. Sy is dus as ’t ware met hom getroud. Alles in ag genome, moet die sinnebeeldige vrou in die hemel ’n afbeelding wees van God se gemalin-organisasie van hemelse geesskepsele waarvan sy eniggebore Seun, Jesus Christus, die vernaamste is. Die vrou se kind, “’n seun” moet eweneens simbolies wees, en dit beeld God se koninkryk af, aangesien die manlike kind na God se troon weggeruk is. As die koninkryk meer as ’n blote abstrakte, teoretiese ding moet wees, moet daar ’n lewende persoon wees wat as die koninklike heerser kan dien. Daardie werklike persoon moet die een wees met wie Jehovah God ’n verbond vir die koninkryk gesluit het.
17. Hoe het God se eniggebore Seun die regmatige erfgenaam van die troon aan sy Vader se sy geword?
17 Ja, daardie persoon is sy eniggebore Seun, Jesus Christus, wat uit hoofde van sy wonderdadige geboorte as mens in Betlehem en in die geslag van koning Dawid van Israel, die natuurlike erfgenaam van die koninkryk is (Jesaja 9:5, 6; Lukas 22:29, 30; Mattheüs 1:17-25). In die geval van die hemelse “vrou” is daar dus tereg beklemtoon dat haar kind ’n “seun” is, aangesien die koninklike amp vir ’n manlike afstammeling in die dinastie van Dawid bestem was.
18. Hoe vergelyk die omstandighede tydens die geboorte van daardie simboliese manlike kind, met
18 Al daardie omstandighede wat die geboorte van ’n “manlike kind” van die hemelse “vrou” omring, verskil van dié wat in Jesaja se profesie beskryf word, veral ten opsigte van die swangerskap en die barensweë en barensnood. Daar bestaan dus belangrike redes om tot die gevolgtrekking te kom dat die “seuntjie” van Jesaja 66:7 profeties op ’n ander situasie sien as die “manlike kind” in Openbaring 12:5. Die “seuntjie” verwys klaarblyklik na die “nasie” wat voortgebring is in die “land” in Jesaja se profesie. In die geval van die herstelde Israeliete was koningskap of heerskappy daarbenewens nie die belangrike aspek toe hulle hulle in 537 v.G.J. in Jerusalem hervestig het nie. ’n Koning in die geslag van Dawid is nie weer op die troon geplaas nie. Daar Judea ’n Persiese provinsie was, was hulle onder die bewind van koning Kores wat die bevel uitgevaardig het dat die tempel in Jerusalem herbou moes word en dat ware aanbidding aldaar herstel moes word. Die herstelling het nietemin skielik, onverwags geskied. Jesaja 66:7, 8 lui: “Voordat sy weë gekry het, het sy gebaar; voordat smart oor haar gekom het, is sy van ’n seuntjie verlos. Wie het so iets gehoor? Wie het sulke dinge gesien? Word ’n land op een enkele dag gebore? Of word ’n nasie met een slag gebaar? Want Sion het weë gekry, meteens haar kinders gebaar.”
19. (a) Vir wie het dit gelyk of die geboorte van die nasie Israel na hul ballingskap bespoedig is, en waarom? (b) In watter sin was dit ’n splinternuwe geslag wat in die land van hul voorvaders kom woon het, en in watter sin was dit ’n pasgebore land?
19 Net soos die profesie voorspel het, is die geboorte van die herstelde nasie Israel as ’t ware bespoedig. In 537 v.G.J. het dit die antieke wêreld skielik oorval. Die heidense wêreld het nooit verwag dat die nasie Israel, wat lank dood was, in sy Godgegewe land sou herlewe nie. Dit was in werklikheid ’n nuwe Sion wat in aansyn gekom en die lewe aan ’n nuwe nasie geskenk het. Ons sal onthou dat Israeliete op verskillende tye na Babilon weggevoer is. Die Bybelverslag toon dat 10 000 met die eerste gevangenskap in 617 v.G.J. weggevoer is. Honderde is later weggevoer (2 Konings 24:14; Jeremia 52:28-30). Maar die groep wat in 537 v.G.J. uit daardie heidense land vrygelaat is en in die land van hulle voorvaders gaan woon het, het 42 360 manne ingesluit, benewens talle slawe en professionele sangers. Onder die Israeliete was daar ’n aantal bejaardes wat die tempel gesien het wat deur koning Salomo in Jerusalem gebou is (Esra 2:64, 65; 3:12). Dit was dus hoofsaaklik ’n splinternuwe geslag wat in die land kom woon het met die doel om ’n nuwe tempel te bou. ’n Nuwe Sion het in ’n pasgebore land verrys. Sy het die moeder geword van ’n nuwe nasie wat uit ballingskap teruggekeer het. Dit het die nuwe Persiese provinsie Judea bewoon.
20. Wat was die hedendaagse parallel hiervan in die geval van die Internasionale Bybelstudente in die eerste na-oorlogse jaar 1919?
20 Het die “geboorte” van die herstelde Israeliete as ’n “nasie” in 537 v.G.J. ’n hedendaagse teenbeeld? Ja, want in die jaar na die Eerste Wêreldoorlog van 1914-1918 is ’n geestelike “nasie” onder die Grotere Kores, die gekroonde Koning Jesus Christus, gebore! Hoe so? Wel, gedurende die oorlog is die hoofkwartier van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, die Internasionale Bybelstudente se uitgewers, van Brooklyn, New York, na kleiner kwartiere in Pittsburgh, Pennsylvanië, verskuif. Sy jongste lektuur is in Kanada en die Verenigde State van Amerika verbied, en die Genootskap se president, die sekretaris-penningmeester en ses ander lede van die hoofkwartierpersoneel is in 1918 lang tronkvonnisse opgelê. Die vyande se doel met al hierdie dinge word in Psalm 83:5 beskryf: “Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie.” Maar tot die skok en verbasing van die valse Christendom is hulle in die noordelike lente van 1919 vrygelaat! Daardie selfde jaar het die vervolgde Internasionale Bybelstudente hulle eerste na-oorlogse byeenkoms in Cedar Point, Ohio, gehou. Daar is vir die byeenkomsgangers aangekondig dat ’n nuwe tydskrif, The Golden Age (nou Ontwaak! genoem) bo en behalwe Die Wagtoring uitgegee gaan word.
21. Wat is dus vyf jaar na die einde van die Tye van die Nasies gebore, as wat moes dit dien, en hoe sou dit dit in ’n pasgebore “land” doen?
21 Vyf jaar na die einde van die “tye van die nasies” in 1914 en die oprigting van God se koninkryk in die hande van die Grotere Kores, Jesus Christus, het ’n nuwe “nasie” ’n geestelike “nasie” dus in aansyn gekom. Die lede van hierdie nuwe “nasie” moes dien as ambassadeurs van God se pasopgerigte koninkryk in die hemele en as getuies wat sy naam dra. Hy het die “nasie” ’n plek in sy regmatige “land” sy aardse terrein, sy simboliese “land” gegee noudat die Tye van die Nasies om sy sigbare organisasie te vertrap, geëindig het.—Lukas 21:24.
22. Watter vrae het Jehovah gestel oor sy vermoë om die Vader van die “nasie” te word, en hoe het hy in antwoord daarop in die eertydse beeld en die hedendaagse teenbeeld opgetree?
22 Jehovah God die Almagtige was verantwoordelik vir daardie merkwaardige geboorte, en hy was vasbeslote dat niks dit sou verhoed nie. In Jesaja 66:9 het hy gesê: “Sou Ek naby die geboorte bring en nie laat baar nie? sê die HERE. Of sou Ek wat laat baar, self toesluit [naamlik die baarmoeder]? sê jou God.” Sy eerste antwoord op daardie uitdagende vrae was om sy volk in 537 v.G.J. uit Babilon te bevry en om daarna toe te sien dat Jerusalem herbou word en wemel van Joodse inwoners as haar kinders. God se hedendaagse, teenbeeldige antwoord op sy eie vrae was deur die teenbeeldige Jerusalem, sy hemelse organisasie, vrugbaar te maak sodat sy ’n geestelike “nasie” op aarde voortgebring het. Dit was onder die toesig van die Grotere Kores, die pasgekroonde Koning in die hemel. Hierdie geboorte het plaasgevind in die na-oorlogse jaar 1919, en dit het ’n volk voortgebring, die “kinders” van Sion, wat ten volle toegewy is aan die belange van God se opgerigte koninkryk en wat streng neutraliteit teenoor die politieke regerings van hierdie wêreld handhaaf. Die almagtige God het niks toegelaat om die volledige ontplooiing van sy voorneme van 1914 tot vandag toe te verhoed nie!
Kan jy die volgende vrae beantwoord na hierdie studie van Jesaja 66:5-8?
Vers 5: Hoe haat en verstoot “broeders” ware aanbidders? Hoe word hierdie “broeders” skaam gemaak?
Vers 6: Hoe was daar in vervloë tye “’n rumoer uit die stad”? ln ons dag?
Vers 7: Wat is die “seuntjie” wat sonder “smart” deur ’n “vrou” voortgebring is? Is dit dieselfde as “’n manlike kind” in Openbaring 12:5?
Vers 8: Hoe is ’n “nasie” en ’n “land” skielik en onverwags in 537 v.G.J. gebore?
weer ’n moeder van “kinders” word, en wat het Jesaja 66:7, 8 hieromtrent geprofeteer?
dié wat in Jesaja 66:7, 8 uiteengesit word?
[Prente op bladsy 12]
In 1914 is die koninkryk soos ’n baba deur God se “vrou” voortgebring
In 1919 is geestelike Israel skielik in sy “land” “gebore”