Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 9/15 bl. 6-8
  • Hoe ons ons waardering teenoor God kan toon

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe ons ons waardering teenoor God kan toon
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom moet ons waardering teenoor God toon?
  • Woorde en dade van waardering
  • Ons dank u, Jehovah
    Sing lofliedere voor Jehovah
  • Ons dank u, Jehovah
    Sing vir Jehovah
  • Ons dank u, Jehovah
    ‘Sing met vreugde’ vir Jehovah
  • Hoekom moet ons wys dat ons dankbaar is?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 9/15 bl. 6-8

Hoe ons ons waardering teenoor God kan toon

Ons dank u, Jehovah, vir u kosbaar’ lig

Wat ons op die weg van die waarheid rig!

Ons dank u, Jehovah, vir sang en gebed,

So loof ons u naam en prys ons u wet!

Ons dank u, Jehovah, vir u troue Seun,

Wat nou aan u knegte groot hulp verleen.

Ons dank u vir leiding om u wil te doen,

Want daardeur kan ons ons met u versoen.

Ons dank u, Jehovah, vir broers, rein en trou.

Hul vriendskap en liefde wil ons behou.

Ons dank u, o God, vir u heilige gees—

Dit stel ons in staat om getrou te wees!

Ons dank u, o God, vir die eer om te preek,

En so van u naam en u wil te spreek!

Ons dank u, Jehovah, vir u koninkryk

Wat boosheid en siekte en dood laat wyk!

DIT is die woorde van die lied “Ons dank u Jehovah!” soos dit verskyn in die publikasie “Sing en begelei julself met musiek in julle hart”, ’n liedereboek wat Jehovah se Getuies gebruik. Hierdie lied lewer bewys van hulle begeerte om waardering aan God te betuig, en dit strook met die Skriftuurlike aansporing om ‘met musiek in ons hart tot Jehovah te sing’, en sodoende “onse God en Vader altyd vir alle dinge in die naam van onse Here Jesus Christus te dank” (Efesiërs 5:18-20, NW). Maar wat is enkele redes om Jehovah God te dank en waardering teenoor hom te toon?

Waarom moet ons waardering teenoor God toon?

Die lewe self is ’n gawe van God waarvoor ons dankbaar moet wees. Trouens, Jehovah is die een wat alle goeie en nuttige dinge voorsien (Handelinge 17:24, 25). Die goeie dinge wat gemeld word in die lied wat so pas aangehaal is, sluit die volgende in: kosbare geestelike lig (Psalm 43:3; Johannes 17:3); die voorreg van gebed (Spreuke 15:8); die soenoffer van God se Seun, Jesus Christus (Romeine 6:23; 1 Johannes 2:1, 2); Skriftuurlike leiding om God se wil te doen (Psalm 40:9; 119:9-16, 105); liefdevolle Christenbroers (1 Petrus 2:17); God se heilige gees of werkende krag wat ons lei (Psalm 143:10); en die ewige Koninkrykseëninge wat die wee op aarde sal vervang (Mattheüs 6:9, 10; Openbaring 11:15-18; 12:9-12). Dit is ’n paar van die dinge waarvoor Jehovah se Getuies God dank wanneer hulle tydens gemeentelike vergaderinge sing.

Ons het soveel redes om waardering teenoor God te toon. Dink byvoorbeeld hoe jy voel wanneer jy op ’n lieflike oggend wakker word! Die son skyn helder, jy hoor voëlgesang en jy ruik die soet geur van blomme of gras wat pas gesny is. Oorstelp van vreugde roep jy uit: Hoe gepas is dit tog om jou waardering te betuig aan die Een wat al hierdie dinge moontlik gemaak het!

God het voorwaar baie dinge vir die mensdom se voordeel en genot voorsien. Dink aan die son, die maan en die sterre wat aan ons lig verskaf. Daar is lug om in te asem en plante om dit te suiwer. Jehovah het volop voedsel en water voorsien. En dink aan al die voëls en diere wat ’n uitstappie na die platteland so aangenaam maak (Job 37:5-16; Psalm 8:4-10; Handelinge 14:15-17). Daarbenewens het God gesig, gehoor, die tas-, smaak- en reuksin aan ons gegee wat ons in staat stel om hierdie voorsienings ten volle te geniet. Hoe dankbaar behoort ons tog te wees!

Jehovah se geestelike voorsienings is vir toegewyde Christene van veel groter belang. ’n Paar van hulle word gemeld in die lied wat aan die begin van die artikel verskyn. Dit is beslis gepas om God dankbaar te wees vir sulke geestelike seëninge.

Dit is ook goed om gereeld te peins oor al Jehovah God se oorvloedige voorsienings, geestelik sowel as materieel. Sulke bepeinsing sal ons ongetwyfeld beweeg om iets te doen. Dit sal ons heel waarskynlik aanspoor om ons waardering deur woord en daad teenoor God te toon.—Psalm 1:1-3; 77:12, 13.

Woorde en dade van waardering

Opregte gebed is duidelik een manier waarop ons ons waardering kan betuig aan die Gewer van “elke goeie gif en elke volmaakte gawe” (Jakobus 1:17). Dank ons God dus gereeld in gebed? Ons sal heel moontlik beweeg word om dit te doen, net soos die psalmis Dawid, wat gesê het: “Groot dinge het U gedoen, HERE my God—u wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie. Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel.”—Psalm 40:6.

Dawid was ook vasbeslote om sy waardering teenoor God te toon deur woorde wat tot ander gerig is. Hy het gevolglik gesê: “Ek wil die HERE loof met my hele hart; ek wil al u wonders vertel” (Psalm 9:2). In dieselfde trant sê die lied “Ons dank u, Jehovah!”: “Ons dank u, o God, vir die eer om te preek, en so van u naam en u wil te spreek!” Ja, gesprekke met ander oor God waartydens ons ons gedagtes mondelings uitdruk deur vir hulle die waarheid uit sy Woord te vertel, is waarskynlik die beste manier om ons dank teenoor hom te toon.

Dink terug aan daardie een melaatse wat teruggekom het om sy dank te betuig dat hy genees is. Hoe het hy dit gedoen? Ons word meegedeel: “En een van hulle, toe hy sien dat hy gesond was, het omgedraai en God met ’n groot stem verheerlik. En hy het op sy aangesig neergeval by [Jesus se] voete en Hom gedank” (Lukas 17:15, 16). Die man het nie alleen Jesus bedank omdat hy hom genees het nie, maar hy het ook God, die Fontein van die lewe en ware genesing, verheerlik. En die geneesde man het dit “met ’n groot stem” gedoen. Hy het heelwaarskynlik weke en selfs maande lank Jehovah se lof besing en daaroor gepraat! Dit lig goed toe hoe ons ons dank kan betuig deur te praat oor wat ons omtrent God gesien, gehoor en geleer het.

Dit is basies waarom Jehovah se Getuies van huis tot huis gaan. Dank aan God beweeg hulle om goeie werke, godvrugtige dade, te verrig (Jakobus 2:26). Hierdie werke sluit die verkondiging van die goeie nuus van God se koninkryk in. Die Getuies wil graag vir ander vertel wat hulle uit God se Woord, die Bybel, geleer het, en wil vir hulle verduidelik hoe hierdie kennis hulle ’n hoop vir die toekoms gegee het. Net soos die melaatse met waardering wil hulle God ook verheerlik.

Het jy ook die begeerte om met ander te praat oor die dinge wat jy uit die Skrif geleer het? Moet dit dan nie onderdruk nie. Jy kan begin deur met gesinslede, bure, medewerkers en vriende daaroor te praat. As jy dit doen, sal jy vind dat jou waardering vir geestelike dinge sal toeneem, dat jou insig sal vermeerder en dat jou begeerte na meer kennis groter sal word. ’n Bybelspreuk sê: “Deel mee aan die wyse, en hy sal nog wyser word, leer die regverdige, en hy sal insig vermeerder” (Spreuke 9:9). Miljoene persone word beweeg om hulle waardering aan God op hierdie wyse te betuig, en hulle doen dit as Jehovah se Getuies.

Dit is dus duidelik dat ons waardering teenoor God en ons medemens moet toon. Ons kan dank aan God betuig deur middel van gebed en lofliedere. Ons kan bowenal ons waardering teenoor Jehovah God toon deur vir ander van sy wonderlike werke te vertel.

As jy hulp verlang om die Skepper van alle dinge se wil te leer ken en te doen, sal Jehovah se Getuies jou met graagte help. Saam met hulle sal jy die vreugde smaak wat ervaar word as ’n mens jou innige waardering teenoor God toon.

[Prent op bladsy 7]

“Dis heerlik om te lewe!”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel