Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 9/15 bl. 4-6
  • ‘Waar is die ander nege?’

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ‘Waar is die ander nege?’
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Toon waardering teenoor gesinslede
  • Buite die gesinskring
  • Waarom moet ons waardering toon?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2008
  • Hoekom moet ons wys dat ons dankbaar is?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
  • Hoe ons ons waardering teenoor God kan toon
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Wat het van waardering geword?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 9/15 bl. 4-6

‘Waar is die ander nege?’

DIE verskil tussen persone wat waardering toon en diegene wat nalaat om dit te doen, word goed toegelig in die Bybelverhaal oor die tien melaatses wat deur Jesus Christus genees is. Die melaatses, wat deur die Wet verbied is om na aan ander te kom, het na Jesus geroep toe hy ’n sekere dorp ingaan. Hulle het hom gesmeek om hulle barmhartig te wees. Jesus het gesien dat hulle melaats was en vir hulle gesê: “Gaan vertoon julle aan die priesters.” En wat het gebeur? Die geïnspireerde verslag voeg by:

“En onderwyl hulle weggaan, het hulle rein geword. En een van hulle, toe hy sien dat hy gesond was, het omgedraai en God met ’n groot stem verheerlik. En hy het op sy aangesig neergeval by sy voete en Hom gedank. En hy was ’n Samaritaan. Toe antwoord Jesus en sê: Het tien nie rein geword nie? En waar is die nege? Was daar niemand onder hulle te vinde wat omgedraai het om God te verheerlik behalwe hierdie vreemdeling nie?”—Lukas 17:11-19.

‘Hoe jammer tog!’ roep jy dalk uit. ‘Al tien is genees, maar slegs een het sy waardering betuig.’ Ons moet almal die les ter harte neem waarop Jesus se kommentaar en die vraag ‘Waar is die ander nege?’ gesinspeel het. Ja, en hierdie voorval behoort ons te beweeg om waardering te toon.

Toon waardering teenoor gesinslede

Daar is talle geleenthede om waardering teenoor ander, vriende en gesinslede inkluis, te toon. Dit is waar selfs in die geval van klein dingetjies: vir ’n onverwagte geskenk, vir ’n besoek van ’n vriend, vir ’n heerlike maaltyd, of omdat ons klere gewas en gestryk is.

Kinders, julle kan waardering teenoor julle ouers toon. Hoe? Deur take dadelik te verrig en sonder om te mor, deur julle kamer skoon en julle klere netjies te hou. Julle kan waardering toon vir die opleiding wat julle ontvang deur hard te werk in die klaskamer sowel as wanneer julle huiswerk doen. Daar word geraam dat dit in een land tot R54 000 kos om vir ’n kind te sorg totdat hy agttien is. Wanneer laas het julle julle ouers bedank vir alles wat hulle vir julle doen?

Ouers, toon julle waardering vir die dinge wat julle kinders doen? Hulle het iets weliswaar miskien nie so goed gedoen soos julle dit kon doen nie. Maar ’n woordjie van waardering vir hulle poging sal hulle gelukkig maak. En dit sal julle kinders aanspoor om in die toekoms selfs te verbeter.

Mans, onthou julle die gesegde dat ‘’n vrou se werk nooit klaarkom nie’? Wel, prys jy ook jou vrou sodat haar huiswerk nie vir haar sloofwerk word nie? Die Bybel sê van ’n “deugsame vrou”: “Haar seuns tree op en noem haar gelukkig, haar man ook, en hy prys haar: Baie dogters het hulle knap gedra, maar jy oortref hulle almal” (Spreuke 31:10, 28, 29). ’n Man kan sy waardering op baie maniere aan sy vrou toon, soos deur een aand saam uit te gaan of deur ’n liefdevolle gebaar.

Vroue het ook talle geleenthede om waardering te toon. Om die lewensbenodigdhede te voorsien, moet ’n man gewoonlik met persone werk wat uiteenlopende geaardhede en gewoontes het, en dit kan baie neerdrukkend wees. Hoe hartverblydend is dit gevolglik vir hom om met sy tuiskoms liefdevol verwelkom te word of ’n paar woorde van waardering van sy vrou te kry vir wat hy vir die gesin doen! Ja, en hoe dankbaar kan ’n man tog wees as hy ’n deugsame—en waarderende—vrou het! Die Bybel sê: “Haar waarde is ver bo korale. Die hart van haar man vertrou op haar, en aan wins sal dit hom nie ontbreek nie. Sy doen aan hom goed, en nie kwaad nie, al die dae van haar lewe.”—Spreuke 31:10-12.

En ons moet nie van bejaarde ouers vergeet nie. Hulle het deur die jare heen baie vir ons gedoen. Kinders is ’n “erfdeel van die HERE” maar dit is ’n groot verantwoordelikheid om hulle groot te maak (Psalm 127:3). Trouens, dit kan ’n twintigjarige opleidingsprogram genoem word. Maar baie toon geen dankbaarheid teenoor hulle ouers vir al daardie jare van diens en opoffering nie. Bejaarde ouers word alte dikwels in ’n ouetehuis geprop. In party gevalle kan die professionele aandag in sulke plekke natuurlik noodsaaklik wees. Maar ongeag hoe goed opgelei vreemdelinge is, hulle sorg vir die bejaardes kan nooit opweeg teen dié van hulle eie familie nie. Wanneer dit dus nodig en moontlik is, is dit ’n puik manier om waardering teenoor ons bejaarde ouers te toon deur hulle te nooi om by ons te kom woon! Die apostel Paulus het dit só gestel: “As ’n weduwee kinders of kleinkinders het, dan moet hulle leer dat ’n mens jou godsdiens by jou huis moet begin uitlewe en dat ’n mens vir jou ouers iets moet probeer doen vir alles wat hulle vir jou gedoen het. Dit is wat God van ons verwag” (1 Timotheüs 5:3, 4, Die Lewende Nuwe Testament). Bejaarde ouers en grootouers moet natuurlik saamwerk en waardering toon vir wat vir hulle gedoen word.

Buite die gesinskring

Hoe verbly dit tog nie ons hart wanneer gesinslede hulle dankbaarheid toon oor iets wat ons gesê of gedoen het nie! Dit verbly eweneens die harte van diegene buite ons gesinskring wanneer ons ons waardering aan hulle betuig vir wat hulle doen of sê. Daar is soveel geleenthede om dit te doen, dat dit onmoontlik is om almal te meld.

Jy het moontlik onlangs begin om jou kennis van die Bybel te verbreed deur dit persoonlik te bestudeer en met Jehovah se Getuies te assosieer. Is dit nie geestelik lonend om kennis van God se Woord te verkry nie? Jy waardeer dit gewis. En wat van die Christenmetgeselle wat jy nou het? Die Skrif sê dat Jehovah God “al die nasies laat bewe” en dat die “skatte” van al die nasies na sy huis van aanbidding sou kom. Hierdie “skatte” is klaarblyklik mense wat na “die berg van die huis van die HERE” toestroom en hom nou “in gees en waarheid aanbid” (Jesaja 2:2-4; Haggai 2:7; Johannes 4:23, 24). Hulle is liefdevol, eerlik, regskape en ten volle toegewy aan God en sy regverdige beginsels. En dink net! In ’n wêreld wat gekenmerk word deur karaktertrekke soos liefdeloosheid, oneerlikheid en ondankbaarheid, het jy die voorreg om sulke godvrugtige metgeselle te hê (2 Timotheüs 3:1-5). Is hulle omgang nie iets wat jy innig moet waardeer nie? Beslis.

Ons is andersyds dalk al jare lank Christene. Dink dan aan diegene wat al geruime tyd ons getroue mede-Christene is. Dit sal beslis gepas wees om hulle te bedank vir die talle goeie dinge wat hulle aan ons gesê het en die weldade wat hulle aan ons bewys het. Was ons gaste in hulle huis? Of het ons ’n maaltyd saam met hulle genuttig? Sal dit dan nie gepas wees om ’n briefie of ’n kaartjie te stuur wat waardering betuig eerder as om net mondelings dankie te sê nie?

Elkeen van ons kan ongetwyfeld baie maniere vind om onsself en ander gelukkiger te maak deur ons opregte waardering te toon. Laat ons wees soos die een geneesde melaatse wat waarlik waardering gehad het. Laat ons nie ondankbares wees soos die ander geneesde melaatses van wie Jesus gevra het nie: ‘Waar is die ander nege?’

Dit is duidelik dat ons waardering teenoor ons medemens moet toon. Maar wat van die Een wat alle dinge gemaak het? (Openbaring 4:11). Wat is enkele redes waarom ons dankbaar teenoor hom moet wees? En hoe kan ons ons waardering teenoor Jehovah God toon?

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel