Is tergery goed of sleg?
DAAR was ’n Duitse gesin wat uit die ouers en vyf kinders bestaan het. Die oudste en jongste kinders was dogters, met drie seuns tussenin. Die oudste seun het daarvan gehou om sy ouer suster te terg. Wanneer sy haar tot haar moeder, ’n streng ordehouer, gewend het omdat hy haar gepla het, het die moeder maar net haar dogter getroos deur haar te herinner aan die Duitse spreuk Was sich liebt, das neckt sich (‘’n Persoon terg diegene wat hy liefhet’). Met ander woorde, tergery is ’n blyk van liefde. En dit is moontlik die geval.
Daar is egter ’n ander soort tergery. Wanneer een bejaarde Christenevangeliedienaar met paartjies gesels wat hy in die eg gaan verbind, vermaan hy hulle met die woorde: ‘Moenie mekaar terg nie, veral nie in die openbaar nie. Dit lyk moontlik na ’n bietjie onskadelike pret, maar dit laat altyd die een wat geterg word seergemaak, verleë of vernederd voel.’
Daar is klaarblyklik goeie en slegte tergery. Dit is duidelik uit die voorgaande voorbeelde en uit definisies van die woord. Dit sluit in: ‘pla; gekskeer op ’n goedaardige wyse; kwel deur grappies; aanhoudend vra; sar’. Die omstandighede en die aard van die tergery sal dus bepaal of dit goed of sleg is en of jy dit moet doen of nie.
Wanneer kinders terg
Weens onbedagsaamheid is baie kinders geneig om diegene met ’n gebrek of belemmering, moontlik van geboorte af of weens ’n ongeluk, te terg of te spot. Of jongmense terg ander omdat hulle aan ’n ander ras behoort of ’n ander nasionaliteit het. Soos in die gemelde geval is dit dikwels die seuns wat die tergwerk doen, moontlik omdat hulle oor die algemeen aggressiewer as meisies is. Maar ouers sal ’n fout begaan as hulle nie ag slaan op die aard van die tergery en dit nie verbied as dit verkeerd is of ’n gebrek aan vriendelikheid verraai nie.
Tergery getuig dikwels van ’n gebrek aan empatie, want dit kom feitlik sonder uitsondering neer op pret ten koste van ’n ander persoon se gemak of gevoelens. Jonk sowel as oud hou immers daarvan om met die nodige respek behandel te word, nie waar nie? Die Bybel vertel van God se misnoeë met jong tergers. ’n Groep jong seuns het eenkeer Jehovah se getroue profeet Elisa geterg deur hom spottenderwys “kaalkop” te noem. Hulle het nie ongestraf gebly nie, want twee berinne het uit die bos gekom en twee-en-veertig van hulle verskeur.—2 Konings 2:23, 24.
Kinders is ook geneig om hulle aan ’n ander vorm van tergery skuldig te maak as dit deur hulle ouers geduld word. Hulle hou aan om hulle vader of moeder te terg of te pla totdat hulle hulle sin kry. Maar die ouers kan net soveel skuld daaraan hê as die kinders. Hoe so? Wel, die kinders sal gou uitvind dat hulle niks bereik deur hulle ouers te terg om hulle van plan te laat verander as die ouers sake deeglik deurdink het en hulle dan onversetlik by die Skriftuurlike reël gehou het nie: “Laat julle woord wees: Ja ja, nee nee.”—Mattheüs 5:37.
Tergery onder volwassenes
Party mans hou daarvan om hulle vrouens of vroulike familielede of kennisse te terg. Dit is die soort tergery waarna die bejaarde evangeliedienaar wat vroeër gemeld is, verwys het. Dit is snaaks vir die persoon wat terg, en dit is dalk ook vir party omstanders snaaks. Maar tergery veroorsaak gewoonlik ten minste ’n stekie pyn of verleentheid. Dit is duidelik dat godvresende persone wat deur Jehovah se heilige gees gelei word en die vrug daarvan, naamlik liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing, aan die dag lê, nie ook liefdeloos, onvriendelik, ensovoorts kan wees nie (Galasiërs 5:22). Hoe kan hulle ander net vir die pret terg of vir die gek hou?—Vergelyk Spreuke 26:18, 19.
Maar soms is tergery positief en opbouend—die produk van opregte liefde. Hierdie soort tergery neem ander se gevoelens in ag; dit het empatie. ’n Man kan sy vrou sagkens terg wanneer sy te veel snoepgoed of nagereg eet deur haar aan haar gewigsprobleem te herinner. Met ’n goeie sin vir humor kan hy sy gedagte baie beter tuisbring as deur te kla, met haar te raas of haar te kritiseer.
Onsedelike tergery
Daar is egter ’n ander soort tergery wat afkeurenswaardig is. Wat is dit? Dit is tergery waar daar met ander se gevoelens of emosies gespeel word, soos deur met iemand te flankeer of deur so aan te trek en/of op te tree dat dit ander geslagtelik prikkel. Dit is in werklikheid ’n skreiende vorm van selfsug, alhoewel mense hulle dikwels daaraan skuldig maak sonder om deeglik bewus te wees van al die implikasies.
Daar is onteenseglik baie mans wat nie volgens Bybelbeginsels lewe nie en wat daarvan hou om geslagtelik geterg te word, want dit wek hulle aptyt vir promiskuïteit. Maar Christene, wat vasbeslote is om te lewe volgens die beginsels in God se Woord, waardeer dit nie wanneer hulle op hierdie wyse aan versoeking blootgestel word nie. Hulle wil eerstens nie in die klas beland wat deur Jesus se volgende woorde berispe of veroordeel word nie: “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Mattheüs 5:28). Godvresende manne en vroue wil bowendien nie versoek word om hulle aan hoerery of owerspel skuldig te maak nie, want hulle weet hoe Jehovah God sulke oortredings beskou. “Laat die huwelik in alle opsigte eerbaar wees en die bed onbesmet” sê Jehovah se Woord, “want God sal hoereerders en egbrekers oordeel.”—Hebreërs 13:4.
Daar is gevolglik tergery wat onskadelik en selfs konstruktief, ’n blyk van liefde, kan wees. Maar ander tergery kan skade berokken en ander selfs in die versoeking bring om voor onchristelike emosies te swig en onchristelik op te tree. Hou jy daarvan om ander te terg? Dan moet jy nie vergeet dat hoewel tergery goed kan wees, dit dikwels sleg is nie.