Wat het van waardering geword?
DIE twaalfjarige seun was effens teësinnig besig om skottelgoed af te droog. Skielik het ’n groot bord uit sy vingers geglip en op die kombuisvloer aan skerwe gespat. Dit het gevoel of die kort stilte wat daarop gevolg het vir ewig duur. Toe het sy moeder gesê: “Weet jy, Robert, dit is die heel eerste keer dat jy ’n bord laat val het wanneer jy skottelgoed afdroog. Ek dink jy het ’n rekord opgestel.”
Die bekommerde uitdrukking het die seun se gesig verlaat en hy het liefdevol vir sy moeder geglimlag. Haar paar woorde van waardering op die regte oomblik het die situasie vir haar en haar seun gered. Hoe waar is die woorde van die wyse man Salomo tog! “Goue appels op versierde silwerborde, so is ’n woord op sy tyd gespreek.”—Spreuke 25:1, 11.
“Hulle sal ondankbaar wees”
Dit is voorwaar hartverblydend om ’n paar woorde van lof of waardering te ontvang. Maar wat het van waardering geword? In vandag se materialistiese wêreld is opregte betuigings van waardering aan die verdwyn! Dankbaarheid word deur egoïsme vervang. Die eenvoudige uitdrukking “Baie dankie!” kom nie meer in baie se woordeskat voor nie. Hierdie toedrag van sake is ’n vervulling van die apostel Paulus se woorde: “Jy moet onthou: in die laaste dae van die wêreld sal daar moeilike tye wees. Mense sal net aan hulleself dink. . . . Hulle sal ondankbaar wees.”—2 Timotheüs 3:1-5, Die Lewende Nuwe Testament.
Waardering word insgelyks dikwels deur vleiery vervang. Betuigings van waardering kom uit die hart met geen gedagte aan persoonlike gewin nie. Maar vleitaal, wat gewoonlik geveins en oordrewe is, spruit voort uit eersug of baatsug (Judas 16). Wie wil onopreg gevlei word? Maar opregte waardering—wel, dit is ’n heeltemal ander saak!
Die skrywer Mark Twain het eenkeer gesê: “Ek kan twee maande lank van ’n goeie kompliment lewe.” Die meeste van ons is in ons noppies wanneer iemand ons opreg komplimenteer. Trouens, as ons lof of woorde van opregte waardering ontvang, kan dit ons stimuleer om steeds ons bes te doen en om ook ander te loof of te bedank wanneer ons die geleentheid kry.
Baie verklarings in die Bybel toon duidelik dat innige dankbaarheid ’n godvrugtige deug is. Talle psalms bevat byvoorbeeld dankbetuigings. Ter toeligting: Die psalmis Dawid het gebid dat hy sy hele lewe lank in Jehovah God se huis van aanbidding mag woon en “met waardering” na God se tempel kon kyk (Psalm 27:4, NW). Asaf, nog ’n psalmis, het gesê: “Ons dank u, o God, ons dank u” (Psalm 75:1, NW). Dit is dus gepas dat ons nadink oor die betuiging van waardering.
Maar hoe kan ons waardering teenoor ander toon? En moet ons nie teenoor die Skepper van alle dinge waardering toon nie?