Hoe om tieners se probleme op te los
Die volgende is ’n uittreksel uit ’n brief wat die takkantoor van Jehovah se Getuies in São Paulo, Brasilië, ontvang het. Dit kom van ’n moeder met vier kinders en ’n ongelowige man. Sy het van haar dertienjarige dogter geskryf:
“Ek moet erken dat ek nie genoeg aandag aan haar geskenk het nie . . .
“Ek het opgemerk dat my dogter se belangstelling in vergaderinge, die gesin se Bybelbesprekings en velddiens afgeneem het. Toe ek vir haar gevra het wat skort, was haar antwoord: ‘Niks nie.’ Maar eendag het sy vir my vertel dat sy aan hierdie Christelike bedrywighede meedoen omdat sy verplig gevoel het om dit te doen, nie omdat sy wou nie. Sy het gesê dat sy nie soos haar suster wou wees, met een van Jehovah se Getuies wou uitgaan en dan ‘in die waarheid’ trou nie. Sy wou lewe soos alle ander mense lewe. Ek kon my ore nie glo nie, aangesien ons as ’n gesin wel aangename tye geniet.
“Toe ek haar verder pols, het sy gesê dat haar gesprekke met haar skoolmaats haar laat besef het wat die wêreld aanbied. En volgens hulle was ek gemeen en te streng. Sy het dus vir my gevra om vyf maande lank van Christelike bedrywighede verskoon te word sodat sy kon besluit wat sy wou hê.
“Nadat ek goed daaroor nagedink het, het ek die volgende voorgestel: Dat sy my eerder vyf maande moes gee om nader aan haar te kom, in plaas daarvan dat ek haar vyf maande van Christelike bedrywighede verskoon. Ek het saam met haar skool toe en terug geloop en sy het my op my Bybelstudies en herbesoeke vergesel. Met ander woorde, sy het ’n groter deelname aan my Christelike bedrywighede gehad.
“Sy het ingestem, en twee maande het sedertdien verstryk en die resultate is uitstekend. Sy erken self dat haar gesindheid kinderagtig was. Ek sien weer eens Jehovah se hand oor al vier my kinders. Ek is in werklikheid die bevoorregte persoon. ln my gebede het ek my kinders vir Jehovah aangebied, maar ek is die een wat die gawe ontvang.”
Vier maande later het die jong meisie weer ten volle en uit haar eie aan alle Christelike bedrywighede deelgeneem. Die moeder is verstandiger en het meer waardering. Haar voorstel sal ander dalk help om probleme op te los wat opduik wanneer hulle kinders grootmaak.