Einstein se taksering van die mens se kennis
“Die grootste enkele prestasie van die wetenskap” beweer beroemde wetenskapskrywer Lewis Thomas in ’n essay in New York se Times, “is die ontdekking dat ons geweldig onkundig is.” Het hy oordryf? Inteendeel, in ’n brief aan die Times het Ely E. Pilchik geskryf: “Laat ek steun [vir Thomas se verklaring] uit ’n taamlik gesaghebbende bron voorlê.” Hy het verduidelik dat hy op 20 Mei 1954 soos volg navraag gedoen het by professor Albert Einstein:
“Ek is meegedeel dat u ’n maand of wat gelede gesprekke met ’n besoeker gevoer het waarin die onderwerp van ons kennis van die wette van die heelal ter sprake gekom het. U het te kenne gegee dat ons kennis taamlik power is ondanks onlangse vooruitgang. U het dit met twee voorbeelde toegelig: Eerstens, die toename in ons kennis kan vergelyk word met dié van ’n man wat meer omtrent die maan wil weet en dan op sy huis se dak klim om daardie lig van naderby te beskou.
“Volgens die berig het u tweede illustrasie van ons geringe kennis van die heelal verband gehou met die oomblik toe u u formule vir die algemene relatiwiteitsteorie voltooi het. Op daardie oomblik het ’n gewone vlieg op u verhandeling kom sit. Dit het by u opgekom dat u daar al die vernaamste universele fisiese wette neergeskryf het, as ’t ware die sleutel tot al die geheime van die heelal. En tog het u nie veel omtrent die aard van daardie vliegie geweet nie.
“Dit is hoe hierdie woorde aan my oorgedra is. Met u toestemming sou ek dit graag wou aanhaal indien dit korrek is. Indien dit nie korrek is nie, sal ek dit baie waardeer as u my kan reghelp.”
Die navraer het ’n antwoord ontvang wat gedateer was 21 Mei 1954, wat gelui het: “Die beskrywing van my gesprek met u informant is wesenlik korrek en u kan dit in hierdie vorm gebruik. Met beste wense, Die uwe, (geteken) A. Einstein.”—New York se Times, 1 September 1981.
Alhoewel die mens se kennis van die heelal toeneem, is dit steeds betreklik gering, en dit herinner ’n mens aan Job se woorde oor God en sy skepping: “Kyk, dit is maar die uitlopers van sy weë, en wat ’n fluisterwoord hoor ons maar van Hom! Wie sou dan die donder van sy magtige dade verstaan?”