Die soektog na Alaska se kosbaarste skat
ALASKA is die grootste staat van die Verenigde State, maar die een met die minste inwoners. Die naam beteken “die vasteland” of “Die Groot Land”. Die naam op sigself maak die verbeelding gaande. Met ’n oppervlakte van 1 517 733 vierkante kilometer bestaan dit uit verskeie geografiese gebiede.
Daar is die uitgestrekte noordelike gebied met sy yl plantegroei in die vorm van struike, bessies, mos en korsmos. Daar is hoë bergreekse met honderde aktiewe vulkane en 51 800 vierkante kilometer gletsers. En laastens is daar die suidelike smal strook met die reusereënwoude. Daar is altesaam 3 000 000 mere. Die staat word bewoon deur drie etniese groepe—Eskimo’s, Indiane en mense van Europese afkoms.
Hierdie groot land is letterlik ’n skatkamer. Die vroeë handelaars het aanvanklik na kosbare pelse gesoek. Daarna het manne en nywerhede gekom om uit die goud, vis en hout ryk te word. En in die laaste tyd is olie die gesogte skat.
Maar daar is nog ’n ander soort skat waarna mense in Alaska soek. Hierdie skat word in die Bybel beskryf as “die skatte van al die nasies” (Haggai 2:7). Hierdie “skatte” is mense wat versamel word na die ware aanbidding van God. Daar word na hierdie skat gesoek deur die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig.
Die soektog begin
Omstreeks 1910 het die kaptein van ’n walvisvaarder, kaptein Beams, die boodskap oor God se koninkryk na Alaska begin bring. Hy het gesels met die mense wat hy teëgekom het en Bybellektuur wat deur die Wagtoringgenootskap uitgegee is, versprei.
Teen die einde van die twintigerjare en in die dertigerjare het Frank Day, ’n inwoner van Seattle, Washington, ’n aantal sendingreise na afgeleë dorpe en nedersettings in Alaska onderneem. Hy het geld verdien deur brille te verkoop. Alhoewel Day ’n kunsbeen gehad het, het hy feitlik die hele Alaska gedek, saadjies van Bybelwaarheid geplant en Bybellektuur versprei. Hy het gemeenskappe van Ketchikan tot Nome, 2 044 kilometer van mekaar af, besoek.
Teen die einde van die dertigerjare het Karl Liebau die Koninkryksboodskap verkondig aan die mense tussen Anchorage, Alaska se grootste stad, en die kusdorp Seward. Anchorage het in 1915 tot stand gekom as ’n basis om die Alaska-spoorlyn te bou wat van Seward aan die Golf van Alaska 785 kilometer noordwaarts na die binnelandse stad Fairbanks loop. Liebau het 290 kilometer van Anchorage na Seward en terug geloop en God se Woord verkondig aan die mense wat in die “seksiehuise” elke 42 kilometer langs die spoorlyn gewoon het.
Die harde werk van sulke broers het ’n goeie grondslag gevorm vir die gegradueerdes van die sendelingskool Gilead wat later sou kom. In 1944 het agt sendelinge—ses ongetroude broers en een egpaar—in Alaska aangekom om die werk in Anchorage, Juneau en Ketchikan te doen.
Mettertyd het hulle ook na ander bewoonde gebiede in die binneland, langs die kus en op die talle eilande langs die kus gegaan. Hulle het baie ontberinge verduur. Soms het hulle per trein gereis, maar meestal per boot, en hulle het hulle reisgeld verdien deur as stuwadoors te werk. Hulle het ook met kleiner bootjies geseil wat hulle gehuur of gekoop het, en het dikwels gevare ter see ondervind.
Hulle het hulle slaapsakke oopgerol waar hulle skuiling kon vind. Hulle het allerhande deeltydse werk gedoen om hulle reisonkoste in hierdie ylbewoonde gebied te dek. Hulle het die eerbied van die mense afgedwing, want dié was nie daaraan gewoond om te sien dat evangeliedienaars harde handearbeid verrig nie. Hierdie voltydse sendelinge het waarlik veel gedoen om die “evangelie” dwarsoor Alaska te verkondig en het aldus gehelp om baie van die gemeentes in daardie staat te vorm.
Predikingswerk ondanks ongure weer
Dit is nie net Alaska se terrein wat die werk bemoeilik nie, maar die weer kan ook baie onguur wees. Een huisvrou, wat sedert 1948 in suidoostelike Alaska woon, beskryf haar eerste winter in Juneau: “Die winter was vir my baie koud, en daar was baie sneeu. Die wind, bekend as ‘Die Taku’, het die meeste van die tyd gewaai. Dit voel asof dit tegelyk in alle rigtings waai. Ek het al gesien hoedat dit ruite uitwaai en by ’n ander geleentheid ’n bejaarde dame op die straat omwaai. Dit het eenkeer ’n inmaakfabriek van sy heipale afgeruk en in die Gastineau-kanaal gewerp. Dit het selfs ’n klein vliegtuig voor ons huis in die kanaal laat neerstort.”
In Fairbanks, in die binneland, kan die temperatuur wissel van 38°C in die somer tot -57°C in die winter. Dit was na hierdie omgewing dat ’n groep van vyf Christenegpare uit die suidelike deel van die Verenigde State verhuis het om met die predikingswerk te help. Daar was destyds, in 1959, slegs twee Koninkryksale in Alaska. Die een was in Anchorage en die ander, ’n klein, ongebruikte militêre geboutjie, in Fairbanks. Een van die Getuies wat pas tevore aangekom het en toe as presiderende opsiener gedien het, het toevallig baie ervaring in die boubedryf gehad. Hy het die wiele aan die rol gesit vir die bou van ’n nuwe Koninkryksaal in Fairbanks met sitplek vir 200. Hierdie gebou is in September 1961 toegewy, net nege weke nadat daar met die bouwerk begin is, en dit word tot vandag toe deur twee gemeentes gebruik.
Hierdie opsiener het ’n aandeel gehad in die bou of verandering van ten minste 11 Koninkryksale en ander teokratiese bouprojekte dwarsoor Alaska. In Alaska se gebied is daar vandag 14 moderne Koninkryksale. Daar is ook ’n gebou wat huisvesting aan ’n groep voltydse evangeliedienaars bied en ’n takkantoor wat toesig hou oor die gemeentes en die predikingswerk in Alaska.
Probleme met isolasie
Wat sou jy doen as jy 14 jaar lank nie met ’n gemeente van Jehovah se volk kon omgaan nie? Dit was die geval van ’n Christeneggenote en moeder wat in 1954 saam met haar man na ’n afgeleë, drywende houtkapperskamp getrek het. Dit was geleë naby die suidelike punt van Admiraliteits-Eiland. Gedurende al daardie jare het hierdie getroue Getuie en haar drie jong dogters al die Christenvergaderinge gehou wat normaalweg in die gemeente gehou word. Hulle het hulle “prospekteerwerk” voortgesit deur die “evangelie” per brief te verkondig en deur vir die persone wat nou en dan hulle “drywende” tuiste besoek het, te getuig. Baie mense wat in afgeleë dorpe dwarsoor Alaska woon, het briewe van hierdie toegewyde knegte van God ontvang, en ’n aantal het op die briewe gereageer deur die skat van God se Woord hulle eie te maak.
Die moeder woon vandag in Alaska se suidelikste stad, Ketchikan, en is die afgelope 12 jaar ’n voltydse prediker. Al drie dogters volhard op die getroue weg van hulle moeder. Een is getroud met ’n ouere man in Anchorage en die jongste dien as lid van die Bethelgesin in Duitsland.
Die predikingswerk in die afgeleë noorde
Omdat die drie gemeentes in die Fairbanks/Noordpool-gebied vasbeslote was om die predikingswerk in elke afgeleë nedersetting in hulle gebied te doen, het hulle gereël om vier vliegtuie wat aan Getuies behoort het, te gebruik. Oor ’n tydperk van twee jaar het hierdie gemeentes meer as R14 000 bygedra om die bedryfskoste van hierdie vliegtuie te dek wat hulle oor die uitgestrekte gebiede noord van die Alaska-bergreeks geneem het. Tot 14 mans het op ’n slag deelgeneem aan die poging om elke gemeenskap in die gebied, wat nagenoeg 844 340 vierkante kilometer beslaan, te bereik. Meer as 200 dorpe en nedersettings is tydens die twee kort somers besoek.
Langs die weskus het die Eskimo-bevolking die Getuies oor die algemeen verwelkom en was hulle gretig om die Koninkryksboodskap te hoor. Nadat ’n bejaarde Eskimo-egpaar in die dorp Shaktoolik van die Bybel se belofte van ’n “nuwe stelsel” gehoor het, het hulle met trane in hulle oë gesmeek: “Bid asseblief tot Jehovah en vra vir hom om ons in daardie nuwe orde toe te laat.”
Die resultate van die “prospekteerwerk”
Kan jy sê hoeveel prospekteerders in Alaska se uitgestrekte gebiede na goud gesoek het of hoeveel grawevol grond omgedolwe is of hoeveel water gebruik is om die goudhoudende gruis te spoel? Nee, ’n mens kan maar net raai hoeveel krag bestee is om die stoflike rykdom te bekom wat slegs ’n verbasende klein groepie ooit gevind het. ’n Geweldige hoeveelheid “prospekteerwerk” is eweneens deur die verkondigers van die “evangelie” gedoen om die “skatte van al die nasies” te vind. En dit het “goud opgelewer” soms op onverwagte plekke en met verbasend min inspanning.
Beskou die volgende ondervinding:
“Ek en my man het ’n kleim sowat 645 kilometer wes van Mt. Susitna gehad. Vroeg in April is ons na Wisconsin om my suster en haar man te besoek. Omdat ons twee uur in Anchorage moes wag, het ons ingeloer by my ander suster wat daar woon. Terwyl ons daar was, het twee van Jehovah se Getuies daar aangeklop in ’n ‘Christelike predikingswerk’. Ek het nog nooit van Jehovah se Getuies gehoor nie en daarom het ek na hulle geluister. Ons het in werklikheid net ’n paar minute gehad om te gesels, maar ek het gehou van wat ek gehoor het en het Die Wagtoring en Ontwaak! en die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe geneem. Dit is die wonderlikste boek wat ek nog ooit gelees het! My man het dit ook nou gelees en voel net soos ek daaroor.” Hulle is in Oktober 1980 gedoop.
Die soektog na diegene in Alaska wat in God se oë skatte is, is ’n lonende werk. Volgens die 1940 Yearbook of Jehovah’s Witnesses was daar destyds geen getuies van Jehovah in Alaska nie. Maar in 1970 het 814 aan die predikingswerk deelgeneem. Gedurende die afgelope 11 jaar het die getal met 57 persent toegeneem tot 1 290 wat die predikingswerk doen. In April 1981 het 3 282 die Herdenking van Christus se dood bygewoon. Net soos in die res van die wêreld is daar hier ook waarlik goeie vooruitsigte vir vermeerdering in die toekoms.