Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 7/15 bl. 3-6
  • Op soek na sukses

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Op soek na sukses
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Vroeë invloed
  • Die strewe na sukses
  • Ek verander my beskouing
  • Veranderinge in my lewe
  • Ruimteverkenning—Hoe ver het die mens al gegaan?
    Ontwaak!—1992
  • Die nuwe era van ontdekking
    Ontwaak!—1992
  • Ruimteverkenning—Wat hou die toekoms in?
    Ontwaak!—1992
  • Die Internasionale Ruimtestasie—’n laboratorium in ’n wentelbaan
    Ontwaak!—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 7/15 bl. 3-6

Op soek na sukses

DIT was 20 Julie 1969. Die Apollo-11-ruimtetuig en die maanlandingstuig genaamd “Eagle” het om die maan gewentel terwyl die laaste voorbereidings getref is vir die eerste historiese landing van die mens op die maan. Ek het in die sendingkontrolevertrek by die Bemande-Ruimtetuigsentrum in Houston, Texas, gesit terwyl dosyne gedagtes deur my brein flits: Sal hulle veilig land? Sal die stelsel waarvoor ek verantwoordelik was behoorlik werk en die nodige funksies uitvoer?

Ek en talle ander wat jare lank hard gewerk het vir hierdie oomblik, het gewag en gespanne geluister. Skielik het ’n stem 386 000 kilometer ver uit die ruimte gesê: “Houston, die Eagle het geland.” Hoe opgewonde en verheug was ek tog by die aanhoor van daardie woorde!

En tog, al het ek gehelp om die ruimtetuig wat die mens na die maanoppervlak geneem het te ontwerp, te bou en te toets, het ek eerlank besef dat ek nie sukses—ware sukses—en geluk in die lewe gevind het nie. Maar voordat ek daaroor uitwei, wil ek eers verduidelik hoe ek by die ruimteprogram betrokke geraak het en watter uitwerking dit op my lewe gehad het.

Vroeë invloed

Ek het grootgeword op ’n plaas in Oklahoma waar harde werk ’n lewenswyse was. Alhoewel ons genoeg kos en klere en ’n toereikende woonplek gehad het, was daar tye dat ons nie genoeg geld gehad het om ’n posseël, wat destyds slegs drie sent gekos het, te koop nie.

My vader het uit ’n baie arm gesin gekom en hy het nie ’n goeie skoolopleiding gehad nie. Hy het dit dus by sy kinders ingeskerp dat dit nodig is om ’n goeie universiteits-opleiding te kry om welslae te behaal. Dit was my voorneme. Gedurende die somermaande het ek die hele dag gewerk en gedurende skoolmaande deeltyds. Ek het heeldag klasse bygewoon en elke nag tot die vroeë oggendure gestudeer. In 1961 het ek ’n graad in elektriese ingenieurswese aan die Universiteit van Oklahoma behaal.

Gedurende die vier jaar wat ek op universiteit was, het die ruimteprogram baie uitgebrei en baie maatskappye het na persone met ’n graad in die ingenieurswese gesoek. Dit was vir my baie aanloklik omdat dit, vergeleke met die plaaslewe, na ’n groot tree vorentoe gelyk het. Aangesien ek op universiteit gepresteer het, het ek talle werksaanbiedings van oor die hele Verenigde State ontvang. Ek het een by Cape Canaveral, Florida, die lanseerterrein vir alle bemande ruimtevlugte, aanvaar.

Die strewe na sukses

Dit was nie lank voordat ek ook aangesteek is deur die atmosfeer van die ruimteprogram nie. Net drie weke nadat ek daar begin werk het, is Amerika se eerste bemande ruimtetuig in ’n wentelbaan om die aarde geplaas. Alhoewel ek nie met daardie spesifieke sending gehelp het nie, het dit nietemin vir my gevoel of ek ’n deel daaraan gehad het. Die gees van nasionalisme het destyds hoog geloop, aangesien die president van die Verenigde State die land in die openbaar daartoe verbind het om voor die einde van daardie dekade (die sestigerjare) ’n man op die maan te laat land en veilig terug te bring aarde toe. Die Sowjet-Unie het skynbaar dieselfde oogmerk gehad, en daarom is dit as ’n “ruimtewedloop” beskou. Ek wou graag my patriotiese plig doen en Amerika help om die wedloop te wen.

Ek wou baie graag sukses in my loopbaan behaal. Daarom het ek elke geleentheid om vooruitgang te maak, aangegryp. Ek het gereeld oortyd gewerk (sonder om daarvoor betaal te word) en gewillig lang sakereise onderneem wat ander van die hand gewys het omdat hulle nie van hulle gesinne af weg wou wees nie. Ek het aandklasse geloop en ’n Meestersgraad behaal, daar my hoof my aangespoor het om dit te doen om vordering te maak. Omdat my onmiddellike hoof daarvan gehou het om poker te speel, het ek saamgespeel daar ek dit ook as ’n middel tot sukses beskou het.

In minder as twee jaar is ek bevorder tot hoof van ’n groep van vyf tot sewe ingenieurs, en alhoewel dit ’n klein groep was, het dit met groot verantwoordelikheid gepaard gegaan. Teen daardie tyd het ek party van die ruimtemanne leer ken, en ’n deel van my werk was om hulle op hoogte te hou van die vordering met die ruimtetuig se traagheidsgeleidingstelsel. Ek het nie alleen my werk geniet nie, maar ook die aansien wat omgang met die ruimtemanne aan my verleen het.

Ek is eerlank bevorder om toesig te hou oor die bedrywighede van 10 tot 12 ingenieurs tydens toetse met die ruimtetuig terwyl dit op die lanseerkussing was. Aangesien ons werk in verband gestaan het met een van die vernaamste ruimtetuigstelsels en ek die groep se woordvoerder was, het dit my beslis baie belangrik laat voel. Ek het destyds gemeen dat ek sukses behaal het.

Na afloop van die Gemini-program (tweepersoonsruimtetuie), is ek die geleentheid gebied om van die Kennedy-Ruimtesentrum in Florida na die Bemande-Ruimtetuigsentrum in Houston, Texas, te gaan om aan die Apollo-Maanlandingsprogram, met ruimtetuie vir drie persone, te werk. Omdat dit na ’n goeie manier gelyk het om verdere vordering te maak, het ek geen tyd verspil om die aanbod te aanvaar nie.

Die volgende paar jaar het ek hard gewerk aan die eerste maanlandingsvlug deur rekenaarprogrammatuur vir die geleidings- en navigasiestelsel te ontwikkel, sendingstegnieke te beplan en die vlug met ’n rekenaar hier op aarde te simuleer. Ek onthou dat een van my opsieners vir my gesê het: “Niks is belangriker as die sukses van hierdie vlug nie.”

Ek het gevolglik aan werk verslaaf geraak. Ek het my hele lewe daaraan gewy om van die maanlanding ’n sukses te help maak en om naam te maak by my opsieners. My gesin het baie min aandag gekry. Ek was ooglopend trots toe iemand wat ek geken en met wie ek saamgewerk het vir die eerste keer in die geskiedenis op 20 Julie 1969 uit ’n ruimtetuig, wat ek help ontwerp en bou het, op die maanoppervlak uitgeklim het.

Ek verander my beskouing

Gedurende die jaar of wat na hierdie eerste maanlanding het ek ernstig nagedink oor my loopbaan en wat die toekoms vir my ingehou het. Ek het oënskynlik ’n mate van sukses behaal—’n goed besoldigde betrekking, sogenaamde sekuriteit, ’n huis, ’n gesin en vooraanstaande metgeselle. Maar dit het vir my al hoe duideliker geword dat ek verstrik was in ’n stelsel wat in werklikheid nêrens heen gelei het nie. Hoe meer ek bereik het, hoe meer moes ek bereik, en daar was geen einde in sig nie. Ek het in werklikheid ’n valse sekuriteitsgevoel verkry. Die dinge wat ek bereik het, het nie ware sukses en ware geluk meegebring nie.

In die somer van 1973 het ’n familielid van my vrou vir ons kom kuier. Hy en sy vrou het die Bybel saam met Jehovah se Getuies bestudeer, en hulle het gekom om ’n byeenkoms van die Getuies in Houston, Texas, by te woon. Omdat ek en my gesin daardie naweek niks anders te doen gehad het nie, het ons die byeenkoms saam met hulle bygewoon. Ek is baie beïndruk deur die eerlikheid en deur die geduld en hoflikheid van die mense terwyl hulle in toue vir maaltye gewag het.

Kort na daardie byeenkoms het ek en my gesin begin om die vergaderinge by die plaaslike Koninkryksaal van Jehovah se Getuies by te woon, en ’n weeklikse Bybelstudie is met ons gereël. Die eerste ding wat my diep beïndruk het, was die vooruitsig om op ’n aarde te lewe waar daar geen hebsug, goddeloosheid en ongeregtigheid is nie (Psalm 37:10, 11, 29; Spreuke 2:21, 22; 2 Petrus 3:13). Dit het beslis ’n skerp teenstelling gevorm met die selfsugtige, mededingende gees wat ek soveel jare gesien en self besit het.

Namate my Bybelstudie gevorder het, was ek bly dat ek my eie situasie in die lewe in verband kon bring met die dinge wat ek geleer het. Ek het my byvoorbeeld in koning Salomo se posisie geplaas toe ek sy woorde in Prediker 4:4 gelees het: “Verder het ek gesien dat al die moeitevolle arbeid en al die bekwaamheid by die werk naywer is van die een teenoor die ander. Ook dit is tevergeefs en ’n gejaag na wind.” Hoe waar was dit tog in my geval! Ek het hard gewerk en baie bekwaam geword in my werk. Tog kon dit nie blywende geluk en gemoedsrus aan my verskaf nie.

Veranderinge in my lewe

Op grond van die kennis wat ek verkry het, het ek besluit dat ek ’n paar veranderinge in my lewe sou moes aanbring. Ek het byvoorbeeld uit Galasiërs 5:26 geleer dat Christene nie ‘soekers van ydele eer moet word wat mekaar uittart en mekaar beny nie’. Hoewel ek reeds daaraan gedink het om my mededingende loopbaan te verlaat, was ek nou daarvan oortuig dat ek dit moes doen.

‘Maar hoe sou ek dit kon doen en steeds die lewenstandaard kon handhaaf waaraan my gesin van vyf gewoond geraak het?’ het ek myself afgevra. Ek is bemoedig deur Jesus se gerusstellende woorde in Mattheüs 6:33, waar hy gesê het: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge [die lewensbenodigdhede] sal vir julle bygevoeg word.”

‘Wat sal my voormalige metgeselle dink wanneer ek ’n sogenaamd veilige, goed besoldigde betrekking prysgee?’ het ek ook gewonder. Maar ek en my vrou was albei vasbeslote om die regte besluit te neem, ongeag wat voormalige metgeselle sou dink.

’n Paar jaar voordat ons die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin bestudeer het, het ons ’n huis en 50 hektaar grond gekoop naby die plek waar ek in Oklahoma grootgeword het. Ons het al talle kere die moontlikheid bespreek om soontoe te verhuis, maar het dit nog nooit gedoen nie. Maar nou was ons seker dat dit die beste ding sou wees. Omtrent ses maande nadat ons daardie byeenkoms van Jehovah se Getuies in 1973 bygewoon het, het ek dus uit my werk by die ruimteprogram bedank en met my gesin na ons nuwe tuiste in Oklahoma verhuis.

Om my gesin te onderhou nadat ek die ruimteprogram verlaat het, het ek vir ’n klein elektronikafirma gaan werk waar ek omtrent die helfte verdien het as tevore. Maar dit was nie lank voordat ek nog ’n groot besluit moes neem nie.

Ek het besef dat die werk wat ek toe gedoen het, regstreeks verband gehou het met die vervaardiging van militêre toerusting. Ek kon so iets nie gewetensgetrou steun en steeds in ooreenstemming lewe met wat die Bybel in Jesaja 2:4 en 1 Johannes 3:11, 12 sê nie. Ek het dus besluit om uit my werk te bedank. Dit het moed geverg, asook vertroue in Jehovah se vermoë om ons van die lewensbenodigdhede te voorsien. Maar wanneer ek terugkyk, kan ek eerlik sê dat ek en my gesin nooit sonder voedsel, woonplek en klere was nie.

Agt jaar het nou verstryk sedert ek besluit het om die ruimteprogram te verlaat. Ek en my gesin het inderdaad die waarheid ervaar van wat die Bybel in 1 Timotheüs 4:8 sê: “Die godsaligheid is nuttig vir alles, omdat dit die belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe het.” Ja, ons geniet nou ’n beter lewe omdat ons Jehovah dien.

Ons het ook geldelik daarby baat gevind deurdat ons geleer het om met die lewensbenodigdhede vergenoegd te wees (1 Timotheüs 6:8). In teenstelling met die prestige-betrekking wat ek vantevore beklee het, maak ek nou twee dae per week parkeerterreine skoon. Dit gee my die tyd om gereeld aan die openbare predikingswerk deel te neem, en dit gee my ook meer tyd om saam met my gesin te wees, wat ek jare lank verwaarloos het toe ek aan die ruimteprogram gewerk het.

Dit beteken natuurlik nie dat ons hoegenaamd geen probleme het net omdat ons Jehovah dien nie. Maar dit het ons beslis beter toegerus om hulle die hoof te bied. Ek bekommer my nie meer oor hoe ek sukses gaan behaal of vooruitgang in hierdie wêreld gaan maak nie, want ek weet nou dat hierdie stelsel verby sal gaan en vervang sal word deur ’n regverdige nuwe orde wat God gaan skep.—1 Johannes 2:17; 2 Petrus 3:11-13.

Wanneer ek terugdink aan die veranderinge wat ek in my lewe aangebring het, moet ek volmondig saamstem met die woorde van die apostel Paulus wat in Filippense 3:8 opgeteken is. Wêreldlike prestige en aansien is soos drek in vergelyking met juiste kennis van God en Christus, en die wonderlike hoop op ewige lewe op ’n paradysaarde.—Bygedra deur Wendell Marley.

[Lokteks op bladsy 4]

‘”Die Eagle het geland!” Ek het gehelp om die geleidingstelsel te ontwerp wat die eerste man op die maan besorg het’

[Prent op bladsy 5]

‘Ek en my gesin het beslis gevind dat ons nou ’n beter lewe lei omdat ons Jehovah dien’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel