Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 6/15 bl. 9-12
  • Die lig skyn in die hartjie van Afrika

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die lig skyn in die hartjie van Afrika
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Vroeë probleme
  • Vordering danksy beter organisasie
  • Bybelwaarheid verander lewens
  • Godsdiensvryheid—Verkry en beperk
  • Probleme
  • Goeie vooruitsigte
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 6/15 bl. 9-12

Die lig skyn in die hartjie van Afrika

DIE Republiek van Zaïre, wat soos ’n groot ruiter wydsbeen op die ewenaar sit, lê in die hartjie van Afrika. Zaïre, voorheen bekend as die Kongo, se reusewoude en grasvlaktes bied ’n tuiste vir leeus, gorillas, luiperds, ape, olifante, okapi’s en talle ander wilde diere. Omdat dit ryk is aan mineraalbronne, is dit al lank die voorwerp van internasionale belangstelling en was dit dikwels die terrein van invalle of burgeroorloë. En tog is die meeste van sy 26 000 000 inwoners glad nie oorlogsugtig nie. Hulle is nederige, goedhartige, vredeliewende mense wat eerbied vir die Bybel het, hoewel hulle besonder sterk beïnvloed word deur die gebruike van hulle voorouers.

In die verlede is die godsdienslewe hoofsaaklik gekenmerk deur bygelowigheid en geloof in die bestaan van die geeste van afgestorwenes. Mense het in vrees gelewe vir die onbekende en hulle het hulp gesoek deur die gebruik van fetisje, soos geluksteentjies en gelukbringers. Hierdie geloof het die mense in groot duisternis gehou.

Vroeë probleme

Dit was teen die einde van die veertigerjare van hierdie eeu dat daar begin is om die publikasies van Jehovah se Getuies in die Kongo te versprei, maar daar was geen ware Getuies om mense te help om hulle te gebruik nie. Boorlinggroepe het hulself “Wagtoring”-lede genoem, maar hulle het Bybelleerstellings verdraai en dit met hulle bygelowige gebruike en onsedelike lewenswyse vermeng. Hulle het dikwels geweier om belasting te betaal en die regering op ander maniere teëgestaan. Dit verbaas ’n mens dus nie dat die Belgiese regering hierdie “Kitawala”-bewegings, soos hulle genoem is, onwettig verklaar het nie. Maar hulle het Jehovah se Getuies verkeerdelik met die beoefenaars van hierdie valse “Wagtoring-beweging” geassosieer en geweier om enige ware sendelinge van Jehovah se Getuies, wat die saak kon help opklaar het, toe te laat.

Daar was nietemin ’n groepie wat, ondanks ’n regeringsverbod, Bybelwaarhede ywerig aan ander verkondig het. Hulle opregte, eerlike gedrag het hulle duidelik onderskei van die onrusstokende Kitawala.

Toe die Kongolese Onafhanklikheid in 1960 nader gekom het, het dit vir hulle effens makliker geword om die waarheid te verkondig. Maar neutraliteit in politieke aangeleenthede het groot insig en sterk geloof van hulle geverg. Onafhanklikheid het groter verdraagsaamheid meegebring en teen die einde van 1960 het die aantal wat die Koninkrykslig laat skyn het, toegeneem tot byna ’n duisend.

Vordering danksy beter organisasie

In 1961 het die eerste sendelinge van Jehovah se Getuies eindelik toestemming gekry om die land binne te kom. ’n Takkantoor is in die hoofstad, Leopoldville, nou Kinshasa, opgerig, en dit het beter leiding tot gevolg gehad. Daar was nou vinnige vordering. Maar baie probleme moes nog opgelos word, onder meer taalskeidsmure, veelwywery, stamorganisasie, bygelowigheid en spiritisme. Swak kommunikasiegeriewe het dit moeilik gemaak om in aanraking te kom met groepe belangstellende persone dwarsoor die land. Reisende opsieners moes vasstel wie werklik Bybelwaarhede wou naleef en wie lede van die valse Kitawala-beweging was. Dit was nie ’n maklike taak nie.

Bybelwaarheid verander lewens

Regskape persone het ingrypende veranderinge in hulle lewens aangebring. Een man het geskryf:

“Voordat ek van die Christelike lewenswyse te wete gekom het, was ek ’n groot sportentoesias wat die tradisionele stoei- en bokskuns beoefen het. Gevegte was vir my ’n lewenswyse, en handgemene was ’n groot genot. Ek was ook lief vir gewigoptel. In 1963 was ek die Kongo se stoeikampioen, en daardie selfde jaar het ek eerste gekom in gewigoptel, daar ek 85 kilogram met een hand en 150 kilogram met twee hande opgestoot het. Ek het voortdurend op my gelukbringer staatgemaak vir krag en volharding. Dit was veral die geval toe hulle my Japan toe wou stuur om my land te verteenwoordig.

“Ek het weer eens my vrou weggejaag om op my sport te konsentreer. Sy het by ’n luitenant ingetrek. Ek het haar nog nou en dan gesien, en eendag afgekom op ’n boek met die titel ‘Van die verlore paradys tot die herwonne paradys’, wat hierdie luitenant vir haar gekoop het. Die boek het my beïndruk en ek het dit vir twee weke geleen. Ek is veral getref deur die opskrif op bladsy 203, ‘Hoe hierdie wêreld aan sy einde kom’. Ek het die boek aandagtig gelees, en toe ek daaroor nagedink het, het dit my bang gemaak. Ek het besluit om aan die uitgewers te skryf vir nog boeke, en het terselfdertyd my fetisje uit my kamer gehaal en in my vader se kamer gesit. Die ander lede van die gesin was baie verbaas daaroor.

“Op die dag dat ek my brief geskryf het, het iemand aan my deur geklop. Dit was twee van Jehovah se Getuies wat die goeie nuus uit die Bybel met my wou deel. Ek het aanvanklik gedink dat hulle my vader, wat waarnemende pastor was, kom spreek het. Ek het gesê dat my vader nie tuis was nie, maar hulle het taktvol vir my gewys dat hulle boodskap ook vir my was. Toe ek nog ’n Paradys-boek in hulle oop boeketas sien, het ek my hand in die tas gesteek en dit gegryp. Ek het vir hulle die Paradys-boek gewys wat ek gehad het en ook die brief wat ek pas tevore geskryf het. Ek was baie beïndruk deur die antwoorde wat hierdie Getuies gegee het, en ek het ’n eksemplaar van elke boek wat hulle in hulle tas gehad het, geneem. Hulle het vir my die adres gegee van die Koninkryksaaltjie waar hulle vergader het.

“Ondanks die teenstand en dreigemente van my vader het ek steeds hulp van die Getuies ontvang en het ek nie een vergadering misgeloop nie. Ek het al my fetisje vernietig en op 8 November 1964 het ek amptelik in die huwelik getree met my vrou met wie ek weer saamgelewe het. Toe het ek my lewe aan Jehovah toegewy en my toewyding deur waterdoop gesimboliseer.”

Hierdie Getuie is nou ’n spesiale pionier (voltydse prediker) en ’n ouere man in ’n gemeente in noordelike Zaïre. Hy is net een voorbeeld van die duisende wat uit die duisternis gekom het en wat nou hulle geestelike lig laat skyn.

Godsdiensvryheid—Verkry en beperk

Teen 1966 het die aantal Getuies van Jehovah in Zaïre tot byna 4 000 toegeneem. Op 9 Junie van daardie jaar is die organisasie amptelik by die regering geregistreer. Van toe af kon Jehovah se Getuies in die openbaar preek, vryelik vergader en byeenkomste vir Christelike omgang en onderrig reël. Sendelinge kon die land binnekom en met die werk help. Bybelstudiehulpe is in die ses vernaamste tale van die land vertaal.

Maar hierdie groter vryheid was van korte duur. Op 31 Desember 1971 is ’n wetsontwerp aangeneem wat vereis het dat almal benewens die drie grootste godsdiensdenominasies weer om wetlike status aansoek moes doen. Almal wat nie binne drie maande wetlike erkenning verkry het nie, moes ontbind word. Enigiemand wat ’n onwettige godsdiens beoefen het, kon ’n groot boete opgelê en vyf tot tien jaar lank tronk toe gestuur word. Jehovah se Getuies het weer aansoek gedoen, maar die perkdatum van 31 Maart het aangebreek en geen erkenning was nog verleen nie.

Hierdie beperking van godsdiensvryheid het meer probleme geskep. Groot openbare saamtrekke was verbode. Nuwe sendelinge kon nie meer die land vryelik binnekom nie. En in party plekke waar die plaaslike owerhede verkeerde inligting van die godsdiensleiers ontvang het, is die Getuies kwaai vervolg.

In die omgewing van Moba, Shaba, is meer as 200 Getuies in 1973 in die tronk gestop. Hulle is gedwing om buitengewoon harde werk te doen—hulle moes landerye skoonmaak, gewasse aanplant, brûe herstel en huise bou, alles met die hand en terwyl hulle baie min kos gekry het. Maar Jehovah se Getuies het stil voortgegaan met hulle Christelike lewenswyse en hulle tot Jehovah gewend vir krag en leiding, en die lig van Bybelwaarheid het al helderder geskyn.

Probleme

Die uitgestrektheid van die gebied en die gebrek aan goeie paaie maak dit baie moeilik om die “goeie nuus” te verkondig. ’n Mens moet dikwels weke lank wag vir ’n plek op ’n boot oor een van die talle waterweë dwarsoor die land. Of jy moet dalk dae lank agter op ’n trok vol sakke mielies of maniok ry. En diegene wat nie die duur reisgeld kan bekostig nie, moet maar voetslaan.

Een Getuie van die Bulungu-gemeente het gehoor dat ’n kringbyeenkoms 108 kilometer van haar huis af in Kikwit gehou sou word. Sy het al dikwels van sulke byeenkomste gehoor, maar kon nog nooit een bywoon nie en wou graag uitvind hoe hulle georganiseer word. Omdat sy geen geld gehad het nie, het sy besluit om die hele afstand saam met haar dertienjarige kind te loop. Na drie dae het hulle moeg en honger in Kikwit aangekom. Daar het sy vir die broers gesê: “Ondanks die afstand wat ek saam met my seun afgelê het, het dit nie so ver gelyk nie. Jehovah het my gehelp.”

Veral reisende opsieners moet groot moed en geloof aan die dag lê om hulle broers te besoek en geestelik te bemoedig. Gemeentes is dikwels ver van mekaar af en baiemaal moet hulle tsetsevlieggeteisterde gebiede, woude vol wilde diere of bruisende riviere oorsteek. Dit is verder van Kinshasa na Lubumbashi, die tweede-grootste stad, as van Londen na Rome.

Een kringopsiener het onlangs die volgende aan die tak geskryf om te verduidelik waarom sy rapporte laat was:

“Die vertraging is te wyte aan die omstandighede wat ek hieronder beskryf. Die trein na Ubundu sou Kisangani op 12 April verlaat. Die trein vertrek om 8 vm., maar omdat die sitplek so beperk is, moet die mense al 3 vm. daar wees om sitplek te kry. Ons huisvesting was aan die oorkant van die rivier en ons het besluit dat dit die beste vir my, my vrou en ons seuntjie, Moza, sou wees om die rivier die vorige aand oor te steek en daar te slaap.

“Dit was in die middel van die reënseisoen en die rivier was in vloed. Om 7:30 nm. het ons ’n bus na die rivier gehaal met die doel om ’n boomkano met ’n klein buiteboordmotor te huur om ons oor die rivier te neem. Toe ons in die boot klim, het ons dadelik besef dat daar gans te veel mense in die boot was. Ons het by die stuurman daarop aangedring om party mense uit die boomkano te laat klim of ons ten minste te laat uitklim. Maar omdat hy geldgierig was, het hy geantwoord: ‘Likambo te!’—‘Dit maak nie saak nie. Moet jou nie bekommer nie’, en die klein buiteboordmotor aangeskakel. Ons was skaars 15 meter of wat van die oewer af toe die boot ’n groot klip onder die water getref en amper omgeslaan het. Dertig gillende, skreeuende en armswaaiende mense het in die water beland.

“Liewe broers, stel julle die gesig in die Zaïre-rivier voor. Al ons bagasie, onder meer my lêers, my vorms, die projektor en al die skyfies het in die water beland. Ek het vir my vrou geskreeu om kalm te bly en aan die kind vas te hou totdat ek by hulle kon uitkom. Gelukkig was my vrou en kind die enigstes wat nie uit die boomkano geval het nie. Water was besig om in die boomkano in te stroom en dit was reeds half onder die water. Gelukkig was almal op die ou end veilig en ongedeerd op droë grond. Maar ons het al ons bagasie en die projektor verloor.”

Goeie vooruitsigte

Op 30 April 1980 het die president van die Republiek van Zaïre Dekreet nr. 124 geteken wat weer eens wetlike erkenning aan die Vereniging van Jehovah se Getuies verleen. Sedertdien het die groter vryheid groter vermeerderinge in die Koninkrykswerk tot gevolg gehad as wat in die verlede ondervind is.

Aan die einde van die veertigerjare was daar slegs ’n handjievol Koninkryksverkondigers wat hulle lig daadwerklik in die Kongo laat skyn het. Maar in 1981 het die aantal bedrywige predikers van die goeie nuus van God se koninkryk in Zaïre ’n hoogtepunt van 25 753 bereik. Daar is heelwat meer as 2 200 voltydse pionierpredikers, onder meer sowat 450 spesiale pioniers wat hulle daarop toelê om die weg in nuwe gebiede te baan. Meer as 36 000 individue en gesinne bestudeer elke maand die Bybel saam met Jehovah se Getuies. En te oordeel na die 107 766 persone wat die Herdenking van Christus se dood op 19 April 1981 in die 838 gemeentes dwarsoor Zaïre bygewoon het, is daar nog baie ander mense wat baat wil vind by die lig van waarheid wat nou in hierdie land skyn. Meer as 200 stamme wat sowat 300 tale of dialekte praat, ontvang ’n getuienis oor die Koninkryk.

Daar is nog steeds baie probleme wat opgelos moet word, soos taalskeidsmure, stamorganisasie, veelwywery, bygelowigheid, spiritisme en ’n gebrek aan vervoer en kommunikasie, om net ’n paar te meld. En die wêreldwye ekonomiese probleme met inflasie wat die hoogte inskiet, het Zaïre ook geraak. Maar hierdie dinge laat baie mense soek na ’n gewisse hoop vir die toekoms. Jehovah se Getuies bied hulle daardie hoop—God se nuwe orde onder sy koninkryk in die hande van Christus Jesus!

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel