Die eerste leuen—Hoe die gevolge daarvan ongedaan gemaak sal word
NIE almal het Satan gevolg of sy nuwe godsdiensleerstellings aanvaar nie. Abraham het byvoorbeeld aangehou om die ware God te aanbid. Hy het geglo dat die lewe basies van gehoorsaamheid aan God afhang. Jehovah het hom gevolglik geseën en gesê: “In jou nageslag [saad, NW] sal al die nasies van die aarde geseën word” (Genesis 22:18). Wat het dit beteken? Klaarblyklik dat die “saad” wat lank tevore in Eden beloof is onder die kinders van Abraham sou verskyn.—Galasiërs 3:16.
Later is ander besonderhede omtrent die “saad” aan getroue persone geopenbaar. Hy sou in die stam van Juda gebore word en ’n afstammeling van koning Dawid wees. Hy sou uit ’n maagd in die dorp Betlehem gebore word (Genesis 49:10; 2 Samuel 7:16; Jesaja 7:14; Miga 5:1). Op die bestemde tyd is die beloofde “saad” op presies die regte plek in presies die regte familie gebore. Dit was Jesus, wat later die Christus genoem is.—Lukas 2:8-11.
Ten tye van Jesus se geboorte het Satan se wêreld in diepe godsdiensduisternis verkeer. Onder die heerskappy van Rome, die magtigste ryk tot op daardie tyd, het talle vorme van Babiloniese godsdiens gefloreer. Baie van getroue Abraham se afstammelinge, die Israeliete, het van ware aanbidding afgedwaal. Hulle godsdiensleiers was eiegeregtig en hoogmoedig. Party het Babiloniese leerstellings aangeneem. Volgens die Joodse geskiedskrywer Josephus het die Fariseërs (’n vername godsdienssekte) geglo dat “siele ’n onsterflike krag besit” en “dat die siele van slegte mense vir ewig gestraf word”.
Jesus het baie mense gehelp om hulle tot reine aanbidding te bekeer. Hy het sy volgelinge geleer om geen deel van Satan se stelsel, hetsy die godsdienstige of politieke deel, te wees nie (Johannes 15:19). Hy het siekes genees, dooies opgewek en groot medelye met die nederiges geopenbaar. Laasgenoemdes het Jesus liefgehad, maar baie van die priesters het hom gehaat omdat hy hulle verdrukkende gebruike en valse leerstellings blootgelê het. Daarom het hulle hom eindelik om die lewe laat bring.
Jesus se dood moes vir Satan na ’n oorwinning gelyk het, maar indien dit die geval was, was dit van korte duur. God het Jesus kort daarna tot geeslewe opgewek. En deur Jesus se dood en opstanding het God ’n groot stap gedoen in die proses om die ergste gevolge van Satan se leuen ongedaan te maak. Hy het dit vir diegene wat die weg van die waarheid wou bewandel, moontlik gemaak om die lewe wat Adam deur sy ongehoorsaamheid verloor het, terug te kry. “Soos hulle almal in Adam sterwe” het die apostel Paulus gesê, “so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word.”—1 Korinthiërs 15:22-26.
Die Christelike godsdiens en die afval
Dit was nou vir die mens moontlik om van sonde en die dood verlos te word. Die paradys sou deur middel van God se koninkryk herstel word, en die verrese Jesus Christus sou die heerser in daardie koninkryk wees. Party mense sou selfs die voorreg hê om ’n aandeel in daardie Koninkryksheerskappy te hê. Toe hierdie dinamiese boodskap in die eerste eeu van ons Gewone Jaartelling verkondig is, het dit die harte van baie mense geroer. ’n Gemeente volgelinge van Christus—later Christene genoem—is in Jerusalem gestig, en dit was nie lank voordat dit duisende lede gehad het nie.
Verwoed het Satan hulle aangeval. Dit was nie lank nie of Christene het in Jerusalem gesterf vir hulle geloof. Vervolging het baie van die stad af weggedryf, maar hulle het die “evangelie” met hulle saamgeneem. Samaritane, en later nie-Jode, is as Christene gedoop. Binne ’n paar dekades het die boodskap dwarsdeur die wêreld van daardie tyd versprei. Dit was veelbewoë tye!—Handelinge 17:6; Kolossense 1:23.
Toe, in die dae van die sadistiese keiser Nero, is die mag van die Romeinse Ryk teen die Christene ontketen. Die brandende liggame van Christene het as fakkels by Romeinse feeste gedien. In die arenas is hulle lewend vir wilde diere gevoer. Die Christelike godsdiens het nietemin aangehou om te versprei. Maar Satan het ’n ander taktiek gehad.
Verdorwenheid van binne
Die apostel Paulus het die Christene in Kolosse gewaarsku: “Pas op dat niemand julle as ’n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie” (Kolossense 2:8). Vir die ouere manne van Efese het hy gesê: “Ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan” (Handelinge 20:29, 30). Sy waarskuwing het nou in vervulling begin gaan. Bedrieglike elemente het in die gemeentes ingesypel en geleidelik die ywer van baie lede met slim en valse argumente ondermyn.
Na ’n paar eeue het ’n gewilde vorm van die Christelike godsdiens ontstaan wat deeglik deur onskriftuurlike leerstellings verderf is. Die Babiloniese leerstelling oor die onsterflikheid van die siel was reeds ingegrawe. ’n Drie-eenheid is aanbid, soortgelyk aan die triades gode wat eens in Babilon aanbid is. Die helse vuur is verkondig, en later die vaevuur. Gebede is gedoen tot die “Moeder van God”. In plaas daarvan om afgeskeie te bly van die wêreld het hierdie afvallige vorm van die Christelike godsdiens in die dae van Romeinse keiser Konstantyn die staatsgodsdiens van die ryk geword.
Jesus het voorspel dat ’n saad van valse Christelikheid na die dood van die apostels in die wêreld gesaai sou word en dat valse en ware Christene naas mekaar sou bestaan tot die “oes” toe (Mattheüs 13:24-30, 36-43). Dit is wat nou gebeur het. Toe die valse Christelike godsdiens sterk geword het, het dit diegene wat nie sy weg wou bewandel nie, wreedaardig vervolg. Party erkende Christene is lewend verbrand weens hulle geloof, maar hierdie keer was dit monnike en priesters wat toegekyk het hoe hulle verbrand word.
Eeue lank het die Bybel se lig slegs flou geskyn. God se Woord is in Latyn, ’n sterwende taal, bewaar en persone wat dit in die volkstale vertaal het, is meedoënloos vervolg. Maar die Bybel het voortbestaan. En so ook die ware Christelike godsdiens, net soos Jesus gesê het die geval sou wees. Albei bestaan vandag nog.
Paradys herstel
Daardie een leuen wat duisende jare gelede in die tuin van Eden vertel is, was inderdaad vir die mensdom rampspoedig. Dit het matelose lyding meegebring. Gelukkig sal die mensdom nie die slegte gevolge daarvan veel langer hoef te verduur nie.
Die “saad” wat Satan en sy planne tot niet sou maak, het as Jesus verskyn. Na Jesus se dood is hy tot geeslewe opgewek en het hy opgevaar hemel toe, waar hy nou “wag . . . totdat sy vyande gemaak is ’n voetbank van sy voete” (Hebreërs 10:13). Alles dui daarop dat hierdie wagtyd nou verstryk het. Profesieë en Bybelchronologie wys op die jaar 1914 as die tyd toe Jesus ‘in sy heerlikheid gekom het’ om as ’n hemelse koning te regeer.—Kyk Mattheüs 24, 25; Markus 13; Lukas 21.
Dit beteken dat Satan, by wie die eerste leuen ontstaan het, min tyd oor het (Openbaring 12:12). Die wêreldwye beroering wat die mensdom sedert 1914 ondervind het, is bewys van sy groot woede hieroor. Hy sal binnekort vir ewig saam met die verdrukkende politieke en godsdiensstelsels wat as gevolg van sy leuen ontstaan het, vernietig word.—Daniël 2:44; Openbaring 18:4-8.
Watter verligting sal dit tog vir die mensdom wees! Die vrede, prag en geluk van die oorspronklike tuin van God sal eindelik herstel word, en die paradys sal oor die hele aarde uitgebrei word (Openbaring 21:3, 4). Wil jy dit graag sien? Dit is God se wil dat “alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom” (1 Timotheüs 2:4). Benut gerus die goedheid wat Jehovah God aan jou betoon. Vermy Satan se leuens en soek die waarheid in God se Woord, die Bybel. Dan sal jy sien hoedat die tragiese gevolge van daardie duiwelse, eerste leuen finaal en volkome ongedaan gemaak word.