Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 6/1 bl. 10-11
  • ’n Besoek aan die Falkland-eilande

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • ’n Besoek aan die Falkland-eilande
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • In Port Stanley, die hoofstad
  • ’n Reis na ’n nedersetting
  • Tyd om huis toe te gaan
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 6/1 bl. 10-11

’n Besoek aan die Falkland-eilande

SOWAT 480 kilometer oos van die suidelike puntjie van Suid-Amerika het ons vliegtuig deur die wolkbedekking gedaal. Onder ons was daar ’n mag der menigte eilande, groot en klein, groen, vol mere, met ’n kuslyn vol baaie en inhamme. Dit was die Falkland-eilande—ons bestemming.

Die lughawe was net ’n smal strook op ’n onherbergsame, winderige skiereiland. Ons was feitlik onmiddellik bewus van die sterk, heersende westewinde en die meedoënlose aanslag van die stormagtige branders van die Suid-Atlantiese Oseaan. Maar die dorheid het verdwyn toe ons deur twee vriendelike, glimlaggende gesigte begroet is—Arthur Nutter en jong Dorcas Reid, wat die helfte van die gedoopte getuies van Jehovah op hierdie afgeleë eilande uitmaak. Die ander twee was Arthur se vrou, Josie, en Dorcas se moeder.

In Port Stanley, die hoofstad

Na ’n kort rit in ’n Land Rover-taxi wat deur die polisiehoof se vrou bestuur is, het ons in Port Stanley, die hoofstad en enigste stad op die eilande, aangekom. Op pad soontoe is ons aandag gevestig op ’n vorige landingstrook wat met metaalaanloopbane gebou was. Dit is deur ’n storm weggewaai. Ons het ook wrakke in die hawe gesien, wat getuig van die ontberings van die vroeë setlaars, waarvan baie hulle hier gevestig het nadat hulle hier gestrand het.

Daardie aand het ons Dorcas se familie ontmoet—agt jonger broers en susters en haar moeder, wat haar kinders feitlik sonder enige hulp in hierdie afgeleë plek “in die tug en vermaning van die Here” grootgemaak het (Efesiërs 6:4). Die gesig van al die netjies geklede kinders wat tydens die vergadering so stil gesit het, het ’n diep indruk op ons gemaak.

Die volgende dag het Arthur ons aan sy vrou, Josie, voorgestel. Saam met hulle twee jong kinders en Dorcas het ons toe vertrek om die goeie nuus van God se koninkryk aan die mense in Port Stanley te verkondig. Die sterk, koue winde en reën het nie die plaaslike Getuies afgeskrik nie. “As ons moes wag totdat dit mooi weer is, sal ons nooit iets gedaan kry nie” het een van hulle gesê. Die sterk windstote het ons sambrele binnenstebuite gedraai. Dit was nie lank nie of ons was nat en koud al was dit ’n somersdag. Maar ons harte is verbly deur die gewillige hoorders wat ons gevind het. In elk geval, tuis het ’n lekker bord warm skaapvleis, die stapelvoedsel van die Falklanders, ons sommer weer beter laat voel.

Die eiland se enigste uitsaaistasie het saamgewerk en die spesiale skyfievertoning oor die “Bybellande” geadverteer. Ons was verheug toe 23 Saterdagmiddag na die ontspanningsaal van die Stadhuis gekom het om die vertoning te sien. Ons het gemeen dat dit ’n baie goeie opkoms was vir ’n stad met 900 inwoners.

’n Reis na ’n nedersetting

Die Nutters het ons genooi om hulle huis in ’n nedersetting in Walker Creek te besoek. Arthur is vooruit op sy motorfiets—’n rit van agt uur oor ’n gebied waar daar geen paaie is nie. Die res van ons sou Maandagoggend met die “Beaver” ’n seevliegtuig met sewe sitplekke, kom. Maar weens stormsterk winde en reën moes ons vertrek voortdurend uitgestel word. Dinsdagaand het ons gehoor hoedat ons name oor die radio uitgeroep word vir die volgende dag se vlug. Teen die middel van die oggend het die winde gaan lê en het die telefoon gelui. ’n Halfuur later het ons vertrek.

Dit was ’n vlug van 30 minute na die weste oor baie interessante gebied. Aan ons regterkant kon ons die hoogste piek op Oos-Falkland sien—Mount Usborne, 705 meter hoog. Onder ons was daar ’n uitgestrekte, boomlose, boslose grasveld, met lappe donkergroen moerasse. Dit is skaapwêreld.

Die nedersettings is klein groepies huise wat aan die Falkland Islands Company behoort en waar die lewe om skaapboerdery draai. Daar is vyf huise en 35 000 skape in Walker Creek.

’n Glanspunt van ons besoek by die Nutters was ’n Bybelstudie met behulp van Die Wagtoring. Alhoewel slegs ses persone in die kombuis vergader het, was almal netjies aangetrek, en het hulle aldus die nodige eerbied vir die geleentheid getoon en opgetree in harmonie met Jesus se woorde: “Waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde” (Mattheüs 18:20). Hierdie gees het die afgesonderde gesin gehelp om die gevoel van eenheid met die res van hulle wêreldwye geestelike familie te bewaar.

Sondag het ons in die veld gaan ry. En ons het dit baie geniet om van die inheemse dierelewe te sien, veral die pikkewyne.

Tyd om huis toe te gaan

“Beaver” was ons enigste vervoer terug na Port Stanley. Daar was die gewone onsekerheid weens die weer. Toe ons eindelik van die Choiseul-seestraat af vertrek, het die vlieënier ons aandag gevestig op ’n storm wat in die weste aan die broei was. ’n Brief wat ons later ontvang het, het ons meegedeel dat ons net-net ’n sneeustorm in die middel van die somer vrygespring het!

In Port Stanley het ons kans gehad vir ’n laaste, kort besoekie by die Reids. Dorcas en haar elf-jarige broer Alex het reeds na die vasteland gegaan om hulle skoolopleiding voort te sit, sodat hulle moeder as die enigste Getuie in Port Stanley agtergebly het. Dit was vir ons moeilik om hierdie voorbeeldige gesin alleen agter te laat.

Toe ons vliegtuig na die vasteland vertrek, het ons besef dat hierdie besoek ’n groot indruk op ons gemaak het. Dit was baie geloofversterkend om die liefde, ywer en toewyding van hierdie paar Getuies op die eilande te sien. Hulle het gehoor gegee aan die ‘Macedoniese oproep’ om na die Falkland-eilande ‘te kom en ons te help’.—Handelinge 16:9.

[Kaart op bladsy 11]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Falkland-eilande

Atlantiese Oseaan

Suid-Amerika

[Kaart]

Mt. Usborne

Port Stanley

Choiseulseestraat

Walker Creek

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel