God se Woord is lewend
Waarom Martha aan die opstanding geglo het
TOE Martha hoor dat Jesus kom, het sy hom tegemoetgegaan. “Here, as U hier gewees het, sou my broer nie gesterf het nie” het sy gesê. Toe Jesus haar droefheid sien, het hy haar getroos met die woorde: “Jou broer sal opstaan.” Soos jy hier kan sien, het Martha geantwoord: “Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag.”—Johannes 11:17-24.
Waarom het Martha so vas geglo dat haar broer Lasarus opgewek sou word? Sy het byvoorbeeld geweet dat God se profete Elia en Elisa baie jare tevore met God se krag elk ’n kind opgewek het (1 Konings 17:17-24; 2 Konings 4:32-37). En sy het geweet dat ’n dooie man lewend geword het toe hy in ’n graf gegooi is en met Elisa se bene in aanraking gekom het (2 Konings 13:20, 21). Maar dit was wat Jesus self geleer en gedoen het wat haar geloof in die opstanding die meeste versterk het.
Minder as twee jaar tevore het Jesus gesê: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan” (Johannes 5:28, 29). Daar is geen verslag in die Bybel dat Jesus voor daardie tyd enigiemand opgewek het nie. Maar kort daarna het hy die enigste seun van ’n weduwee in die stad Nain opgewek. Die nuus hiervan het suidwaarts tot in Judea versprei, sodat Martha beslis daarvan te hore gekom het (Lukas 7:11-17). Martha het later ongetwyfeld ook gehoor dat Jesus die twaalfjarige dogter van Jaïrus opgewek het.—Lukas 8:40-56.
Martha het egter nie verwag dat Jesus haar broer destyds sou opwek nie. Dit is waarom sy gesê het: “Ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding in die laaste dag.” Maar om Martha bewus te maak van sy aandeel in die opwekking van die dode, het Jesus gesê: “Ek is die opstanding en die lewe.” En toe het hy Lasarus opgewek, selfs al was hy vier dae lank dood!—Johannes 11:24-27, 38-44.
Ons het vandag selfs sterker rede om aan die opstanding te glo. Waarom? Veral weens die opstanding van Jesus Christus self. “Hierdie Jesus het God opgewek, waarvan ons almal getuies is” het Petrus gesê (Handelinge 2:32). Daar kan geen twyfel bestaan dat Christus opgewek is nie, want daarna het hy aan baie van sy dissipels verskyn, eenkeer aan nagenoeg 500 van hulle (1 Korinthiërs 15:3-8). Sy dissipels het so vas aan die opstanding geglo dat hulle bereid was om vervolging te verduur en selfs doodgemaak te word om God te dien. Het jy sulke geloof in die opstanding?
[Prente op bladsye 8, 9]
OPSTANDINGS . . .
deur Elia
deur Elisa
“Here, . . . ek weet dat hy sal opstaan in die opstanding”
deur Jesus
Lasarus ‘kom uit’