Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 6/1 bl. 5-7
  • Jy kan ’n goeie buurman of buurvrou wees

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jy kan ’n goeie buurman of buurvrou wees
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat ’n mens moet doen
  • Wat ’n mens nie moet doen nie
  • Die krag van goeie buurskap
  • Goeie bure is ’n seën
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Wat het van goeie buurskap geword?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Gee ’n getuienis as goeie bure
    Ons Koninkryksbediening—2001
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 6/1 bl. 5-7

Jy kan ’n goeie buurman of buurvrou wees

WAARAAN dink ouer mense wanneer hulle van die “goeie ou dae” praat? In terme van materiële rykdom, geriewe of mediese dienste was die ou dae vir die meeste mense nie so “goed” nie. Daar was geen beeldradio’s nie, min motors, telefone of ander dinge waarsonder baie mense vandag moeilik sal klaarkom. Wat was dan so goed? Hulle dink ongetwyfeld aan die goeie buurskap wat destyds bestaan het.

Alhoewel daar min finansiële sekuriteit was, het mense mekaar gehelp. Volgens talle bejaardes het ’n man altyd ietsie gehad om vir sy buurman te leen, ongeag hoe arm hy self was. As iemand ernstig siek was, het die bure hulp verleen deur byvoorbeeld maaltye te kook of die kinders op te pas. As ’n man ’n groot werk in of om die huis moes doen, het die bure dikwels kom hand bysit.

Maar namate die owerheid al hoe meer vir mense doen, het hulle mekaar al hoe minder nodig. Ons moet nietemin met ons bure saamlewe. Die Bybel het lank gelede gewaarsku: “Hy wat hom afskei, soek sy eie begeerte” (Spreuke 18:1). ’n Persoon wat weier om met ander te meng, raak mettertyd ongebalanseerd, selfs eksentriek.

Ons kies weliswaar gewoonlik nie ons bure nie, en hulle kies ons nie. En “slegte gesprekke” bederf beslis “goeie sedes” (1 Korinthiërs 15:33). Maar as ons leer om verstandig met hulle saam te lewe, sal dit hulle en ons tot voordeel strek. Wat behels dit?

Wat ’n mens moet doen

Goeie buurskap verg begrip. Verskillende dinge is in verskillende buurte aanneemlik. As ons van ’n plattelandse gebied kom waar mense mekaar voortdurend besoek, moet ons aanpassings maak as ons stad toe trek en dit nie kan doen nie. In party stede is buurte gemeng en het die mense verskillende agtergronde. Party tree dalk anders op as waaraan ons gewoond is, maar solank hulle nie ’n openbare steurnis is of ons gesin bedreig nie, hoef ons hulle nie te kritiseer nie.

Goeie bure moet ook vriendelik wees. Hoeveel tyd neem dit in beslag om vriendelik “Goeiemore” te sê aan diegene wat ons op die sypaadjie of in die hyser teëkom? Selfs net een vriendelike gesig kan ’n hele groep mense opbeur.

As ons vriendelik is, sal ons ook die name van die mense om ons wil leer ken. As ons ons bure op die naam aanspreek, toon ons dat ons hulle as individue beskou en sal hulle waarskynlik vriendeliker met ons wees.

Goeie bure moet ook besorgdheid openbaar. As iemand wat naby ’n mens woon, siek is, toon dit besorgdheid as jy onthou om hom te vra hoe dit gaan en ’n paar trooswoorde spreek. Ons kan moontlik selfs ’n klein takie vir hom verrig om sy las te verlig. En as ’n bejaarde persoon in die omgewing woon, kan jy gerus probeer om besonder bedagsaam teenoor hom te wees. As ons byvoorbeeld inkopies gaan doen, kan ons moontlik iets vir die bejaarde koop. As ’n lig in sy huis buitengewoon lank brand, of ’n deur lank oopstaan, kan jy gerus ondersoek instel om seker te maak dat alles in orde is.

En gestel ons sien hoedat ’n misdaad gepleeg word of dat iets verdags gebeur. Dit is gewoonlik nie verstandig om heldhaftig in te storm en die situasie te probeer hanteer

nie. Opgeleide mense doen dit gewoonlik beter as wat ons kan. Maar buurmanskap sal ons ten minste beweeg om die polisie gou daarvan te verwittig en moontlik op besonderhede ag te slaan wat hulle later kan help.

’n Nuttige riglyn vir handelinge met bure is die sogenaamde gulde reël: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen” (Mattheüs 7:12). As ons dus sien dat ’n buurman of buurvrou ’n probleem het, en wonder wat ons moet doen, kan ons onsself afvra: “Wat sou ek graag wou hê dat iemand vir my moes doen as ek in daardie situasie was?” Die antwoord sal ons help om ’n verstandige besluit te neem.

’n Bystander het eenkeer vir Jesus gevra: “Wie is my naaste?” Jesus het geantwoord deur die gelykenis van die “barmhartige Samaritaan” te vertel. Hy het getoon dat ’n ware naaste of buurman iemand is wat hulp verleen wanneer hy sien dat daar êrens ’n behoefte bestaan. As ons vriendelikheid, begrip en besorgdheid teenoor ons bure aan die dag lê, sal ons daardie goeie voorbeeld volg.—Lukas 10:29-37.

Wat ’n mens nie moet doen nie

Daar is ook dinge wat ’n goeie buurman of buurvrou nie sal doen nie. Dit is omdat hy bedagsaam is. Hy sal byvoorbeeld nie sy hoëtroustel of beeldradio so hard laat speel dat die hele buurt dit hoor nie. Hy sal sy huis en werf netjies en skoon hou en sodoende nie afbreuk doen aan die voorkoms van die buurt nie.

’n Wyse man het lank gelede geskryf: “Sit jou voet selde in jou naaste se huis, sodat hy nie van jou genoeg kry en jou haat nie” (Spreuke 25:17). Ja, hoewel ’n besoekie nou en dan verwelkom word, kan bure gou moeg word vir iemand wat hulle voortdurend besoek.

En die apostel Paulus het gewaarsku teen diegene wat voortdurend ‘ledig by die huise rondgaan’ en “praatsiek en bemoeisiek” is (1 Timotheüs 5:13). Ons vermy plaaslike skinderpraatjies en kwaadpratery as ons nie te veel tyd by ons bure deurbring nie. Die meeste mense kla buitendien vandag dat hulle nie genoeg tyd het om alles te doen wat hulle wil doen nie. Tyd wat bestee word aan onmatige sosiale omgang kan beteken dat ’n mens die geleentheid laat verbygaan om iets belangrikers te doen.

Goeie bure het respek vir diegene om hulle en behandel hulle met sagmoedigheid. Hulle sal dus nie ’n berg van ’n molshoop maak nie. Een somersaand in Amsterdam was ’n vader ontsteld omdat die geraas van ’n radio oorkant die straat sy kinders wakker gehou het. Sy vrou het sagaardig voorgestel dat hy na die buurman gaan en die probleem verduidelik. Sy buurman het met graagte saamgewerk nadat die probleem op ’n redelike wyse met hom bespreek is. Hy het die radio afgeskakel en gesê: “Ek luister buitendien nooit na al daardie politieke propaganda nie!” Iets wat in ’n slegte situasie kon ontaard het, is dus vermy deur die saak sagmoedig te hanteer, en die twee bure het goeie vriende geword.

Ons het laastelik insig en balans nodig. Party van ons bure het slegte gewoontes. Hulle rook, vloek of lewe onsedelik. In party gebiede gebruik tienderjariges dwelms en vorm hulle bendes. Ons moet dus ons goeie buurskap balanseer met stappe om te verseker dat ons of ons kinders nie slegte gewoontes aanleer nie. Ja, goeie buurskap behels baie dinge.

Die krag van goeie buurskap

Vroeg in 1980 het John, ’n ouere man in ’n gemeente van Jehovah se Getuies, homself in ’n situasie bevind waar buurmanskap heeltemal verbrokkel het. Dit was in ’n dorp in Oklahoma, V.S.A. ’n Swart tienderjarige is vermoor, en die plaaslike Swart bevolking het die indruk gekry dat die polisie niks daaromtrent doen nie. Rasse-onluste het uitgebreek en koeëls het in alle rigtings getrek.

Maar John se huis was soos ’n oase in die warboel. Alhoewel hy, sy vrou en tienderjarige dogter ure lank op die vloer moes lê om verdwaalde koeëls te vermy, het daar geen rassespanning of -haat in hulle huis bestaan nie. Trouens, hierdie Blankegesin het hulle skuilplek met ’n Swart meisie en ’n Mexikaanse gesin gedeel. John se vrou het gesê: “Ek weet daar is moeilikheid; ek is nie blind nie. Maar op die basis waarop ons onderhandelinge met mense het—Swartes en Blankes—is daar ’n goeie verwantskap.”

Ja, hierdie gesin is goeie bure vir die mense rondom hulle. Hulle het hulle met eerbied en bedagsaamheid behandel en is gevolglik weer deur die mense gerespekteer. Die rassehaat was nie teen hulle gemik nie.

’n Paar dae na die oproer het hulle tydens hulle predikingswerk van huis tot huis (’n diens wat al Jehovah se Getuies vir hulle bure verrig) uitgekom by die familielede van die seun wie se dood tot die geweld aanleiding gegee het. Hulle het vriendelik hulle medelye uitgespreek en die beste hulp moontlik verleen. Hulle het gepraat oor die gewisse hoop van ’n opstanding en die vooruitsig om binnekort in ’n wêreld te lewe waar almal goeie bure sal wees. Daardie wêreld word beskryf in ’n vers in die Bybelboek Jesaja: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek.”—Jesaja 11:9.

Ons sal almal beslis graag in so ’n wêreld wil lewe. Maar terwyl ons daarop wag, moet ons vir lief neem met sake soos hulle is. As ons egter soos John en sy gesin op ’n gebalanseerde, buurskaplike wyse optree teenoor die mense wat om ons woon en hulle bedagsaam en eerbiedig behandel, sal die lewe aangenamer wees. En—wie weet?—moontlik sal ons bure ons buurskapliker behandel.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel