Wat het van goeie buurskap geword?
WAAROM tree baie van die mense langsaan nie meer soos bure op nie? Navorsers verstrek ’n aantal redes, waarvan die meeste met hedendaagse lewenswyses in verband staan.
Rondtrekkery is een. Baie mense verhuis dikwels. Hulle het dus nie baie tyd om hulle bure te leer ken en ’n gees van buurmanskap op te bou nie.
Spookdorpe is nog ’n rede wat verstrek word. Dit is buurte waar die hele gesin bedags by die werk of skool is. Saans gaan hulle weer uit of sit hulle tjoepstil voor die beeldradio. In hierdie soort huis is gesinslede dikwels nie alleen vir die bure nie, maar ook vir mekaar vreemdelinge.
Argitektuur en dorpsbeplanning dra ook ’n deel van die skuld. Hoë woonstelgeboue bestaan uit selfstandige eenhede. Gesinne wat daarin woon, het min fisiese kontak met hulle bure.
Die prestige van privaatheid word ook geblameer. In party gebiede heg mense groot waarde aan privaatheid. “Jy kan nie sommer by ’n vriend inval vir ’n kuiertjie nie”, het ’n inwoner van die voorstede gesê. Een vrou is onverwags besoek deur ’n weduwee wat daar naby gewoon het en wat gekla het dat sy eensaam is. Die vrou het haar kil weggewys omdat sy haar kwalik geneem het weens die inbreuk op haar privaatheid.
Daardie nag het die eensame weduwee selfmoord gepleeg.
Misdadigheid is nog ’n faktor wat genoem word. Vrees vir misdadigheid het party buurte in nagtelike tronke omgeskep waar gesinne vreesbevange die deur sluit wanneer die son ondergaan, en min dit buite waag.
Al hierdie dinge het ongetwyfeld bygedra tot die afname in goeie buurskap. Maar daar moet dieperliggende redes wees vir party van die dinge wat gebeur. In een woongebied is ’n jong vrou ’n halfuur lank deur ’n man agtervolg. Hy het haar drie keer aangeval en haar eindelik doodgesteek. Agt-en-dertig bure het haar hulpgeroep gehoor en die aanval gesien, maar hulle het die hele voorval geïgnoreer. Slegs een het die polisie ontbied—te laat. Sulke kille onverskilligheid teenoor bure is nie buitengewoon nie.
Sulke onmenslikheid verraai ernstige persoonlikheidsgebreke in die betrokke persone. ’n Bybelstudent word herinner aan die profesie van die apostel Paulus oor ons dag: “Die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, . . . sonder natuurlike liefde, onversoenlik, . . . bandeloos, . . . sonder liefde vir die goeie, . . . meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God.”—2 Timotheüs 3:2-4.
Die vervulling van hierdie woorde beteken dat ons in baie moeilike tye lewe, en daardie gesindhede word heel moontlik aangetref in die buurt waar jy woon. Maar daar bestaan geen rede waarom ons nie individueel goeie buurskap teenoor die mense om ons moet openbaar nie. Dit kan ’n hartverblydende reaksie uitlok. Hoe kan ’n mens vandag op verstandige wyse ’n goeie buurman of buurvrou wees?