Hoe om pionierdiens te doen—Praktiese ondervindinge
“WAT verhinder my . . . was deel van ’n vraag oor doop wat ’n Ethiopier aan Filippus die evangelis gestel het.—Handelinge 8:36.
Maar ons kan ’n ewe belangrike vraag stel wat baie Christene vandag raak. Jy het moontlik al self die vraag oordink. Dit is: ‘Wat verhinder my’ om pionierdiens te doen?
In jou geval is die kern van die vraag moontlik: ‘Wat verhinder my om pionierdiens te begin doen?’ Of jy meen miskien dat die eintlike kwessie is: ‘Hoe kan ek ’n pionier bly?’ In beide gevalle kan die ondervindinge van party Christene ons help. Kom ons luister dus na ’n paar suksesvolle en gelukkige pioniers.
Maak aanpassings—Tyd en geld
Om ’n pionier te word en te bly, moet jy die begeerte hê om Jehovah met jou hele hart, siel, verstand en krag te dien (Mattheüs 22:37-39). Jy moet terdeë bewus wees van die belangrikheid daarvan om God se waarskuwingsboodskap vandag te verkondig en persone te help om die pad na die lewe te vind terwyl daar nog tyd is. En jy het beslis God se heilige gees en seën nodig. Maar jy bekommer jou dalk oor sekere dinge, soos hoe om genoeg tyd en geld te kry. Baie moes hulle lewe en rooster aanpas om tyd vir pionierdiens in te ruim. En jy sal moontlik jou werk moet aanpas sodat jy jouself steeds kan onderhou terwyl jy pionierdiens doen. Is dit moontlik?
’n Egpaar in Pomona, Kalifornië, moes daardie vraag beantwoord. Die broer verduidelik dat hy nie die waarheid ernstig opgeneem het nie en “diep betrokke was in ‘rock’-musiek en taamlik baie gedrink het”. Maar ’n toespraak tydens ’n kringbyeenkoms in 1979 het meegebring dat hy die volgende vraag ernstig oorweeg het: ‘Weerspieël my lewe ’n innige begeerte dat die teenswoordige, onrein stelsel vervang moet word?’ Nadat hy en sy vrou die saak bespreek het, het hulle besef dat daar ’n aantal gebiede is waarop hulle nie goddelike raad toegepas het nie, en daarom het hulle besluit om hulle lewenswyse te verander en hulle dit ten doel te stel om pioniers te word. Hy skryf: “Jy sal nie glo watter aanpassings ons moes maak nie. Ons het ons huis verkoop en in ’n woonbus ingetrek. Ons het opgehou om saans duur vermaak te geniet. Ek het my onderneming verkoop, wat elke maand meer as [R2 000] wins gelewer het, en werk gekry waar ek net twee dae per week moes werk.” Noudat hulle amper twee jaar lank pionierdiens doen, sê hy: “Dit voel vir my asof ’n groot las van my skouers afgerol het; dit is asof ons bevry is uit ’n strik wat om ons toegeslaan het.”
’n Blinde broer in Yucatan, Mexiko, is 56 jaar oud en het ’n vrou en kinders om te onderhou. Hoe verdien hy sy geld? Eleuterio Pinto staan 5 vm. op om kokosneute voor te berei. Hy kap die buitenste dop met ’n kapmes af en maak dan ’n gat in die kokosneut met ’n yspik sodat klante die verkwikkende melk aan die binnekant kan drink. Broer Pinto verkoop sy handelsware van 8 vm. tot na middagete, waarna hy pionierdiens doen, iets wat hy al vyf jaar lank geniet.
In Suid-Afrika het V. Standley beplan om universiteit toe te gaan om hom vir ’n loopbaan in die landbou te bekwaam. Maar nadat hy ’n Getuie geword het, het hy etlike jare lank in die Wagtoring-drukkery gewerk en later het hy en sy vrou spesiale pioniers geword. Toe het swangerskap aanpassings geverg. Hulle het ’n goedkoop woonstel gevind en broer Standley het deeltydse werk gekry by ’n firma wat kantore skoonmaak. Meer onlangs het hulle na ’n gebied verhuis waar daar ’n groter behoefte aan pioniers was en was hy in staat om ’n tak vir dieselfde firma te open en steeds deeltyds te werk. Hy sê: “Vandag het ons ’n baie gerieflike tuiste, op materiële gebied het ons oorgenoeg en ons geniet steeds die voorreg van voltydse diens. Ek het al herhaaldelik die waarheid van Dawid se woorde bewys waar hy gesê het dat hy jonk was en oud geword het en nooit ‘’n regverdige verlate gesien het’ nie.”—Psalm 37:25.
Is die jare na aftrede ’n goeie tyd om pionierdiens te doen? Dit is vir baie. Maar selfs hier is spesiale inspanning en aanpassings nodig. Broer Balmaceda het byvoorbeeld afgetree as ’n staatsamptenaar in die Filippynse Eilande en daarna uitgesien om pionierdiens te doen. Maar wat kon hy doen om geld te verdien? Hy het gevind dat varkboerdery hom goed pas, want dit bied ’n inkomste en hy het nogtans ’n rooster met heelwat vrye tyd. Hierdie sewentigjarige pionier sê dat hy ‘nader aan Jehovah voel as ooit tevore’, en hy het gesien hoedat sy pioniergees drie lede van sy gesin beweeg om in daardie bevoorregte diens te tree.
Aanpassings is moontlik selfs nodig as jy ’n maatskappybeampte met ’n ‘goeie salaris’ is. Dit was die situasie van Shozo Mima, die president van ’n florerende Japannese vervoersaak. Omdat broer Mima die pioniergees het, het hy pionierdiens begin doen terwyl hy nog die maatskappy se president was. Maar hy was van mening dat hy, “in sy posisie as ’n president van ’n maatskappy en as ’n pionier, Jehovah en Mammon dien” (Mattheüs 6:24). Hy het mettertyd sy werk aan ander oorgedra en ander werk gekry wat nie soveel tyd en aandag geverg het nie. Met die geld wat hy verdien het en wat hy gespaar het, kon hy vir sy gesin sorg en pionierdiens doen. Ja, hy het gemeen dat hy hom nie daarop moet toelê om ’n maatskappy te laat floreer nie, maar om Jehovah beter te dien.
Gesinsamewerking
Jy meen moontlik dat jy op jou eie nooit ’n pionier sal kan word of bly nie. Wel, in daardie geval sal dit dalk vir jou moontlik wees om dit te doen met die samewerking van jou gesin, jou kinders inkluis. Talle ondervindinge toon dat ’n gesamentlike gesinspoging om een of meer lede pionierdiens te laat doen, vrugte afwerp, en dit lei ook tot baie gelukkige gesinne.
Broer Kozo Sato in Japan het ’n vrou, asook twee kinders op hoërskool. Hy het sy intense begeerte om ’n goeie voorbeeld as ouere man te stel met hulle bespreek. Wat was die besluit? Hy het uit sy werk bedank by ’n maatskappy wat werkdae van agt uur gehad het. Toe het hy met sy eie onderneming begin. Wat het hy gedoen? Vier dae per week maak hy ’n paar uur lank ou koerante, tydskrifte en ander papier bymekaar en verkoop dit dan aan maatskappye wat papier herwin. En elke oggend lewer al vier lede van die gesin omtrent ’n uur lank koerante af. Deur dit te doen, en onkoste te besnoei, kan broer Sato as ’n gewone pionier dien, en dit is ook sy twee kinders se doelwit.
Suster Toshiko Zenko woon in dieselfde land. Sy het nie meer ’n man nie, maar moes vir drie kinders sorg. Sy het geld vir ’n stukkie grond ontvang, en dit het haar huur gedek. Om kos te koop en ander onkoste te dek, werk sy twee dae per week en is sy steeds in staat om ’n pionier te wees. ‘Waar pas gesinsamewerking in?’ wonder jy dalk. Sy verduidelik dat haar twee seuns “baie goed saamwerk deur inkopies te doen, werk tuis te doen en dat hulle selfs die pit in die lampoliestoof en die wasters in die krane kan vervang”. Haar dogter help ook deur kos te kook en skoon te maak. Die dogter het ná skool deeltydse werk gehad, maar noudat sy gematrikuleer het, het sy pionierdiens begin doen en werk sy al om die ander dag wanneer haar moeder nie werk nie. Trouens, al vier lede van die gesin beplan om binnekort saam pionierdiens te doen.
Ja, as jy ’n gesin het, sal dit waarskynlik die samewerking en steun van al die lede verg as jy ’n pionier wil wees. Maar watter vrede en tevredenheid kan dit tog verskaf! En ’n neweproduk kan bykomende pionierpredikers wees.
Jou omstandighede verskil natuurlik van ander persone s’n. Maar as liefde en toewyding die begeerte by jou gewek het om pionierdiens te doen, kan daardie doel bereik word selfs al is daar hindernisse wat te bowe gekom moet word. Bespreek die saak met ander Christene, veral met diegene wat suksesvolle pioniers is of was. Hulle sal bykomende praktiese wenke hê oor hoe jy pionierdiens kan doen.