Jehovah onderskraag sy leër voltydse knegte
“U liefderyke goedheid, o Jehovah, het my bly onderskraag.”—Psalm 94:18, NW.
1. Wat het koning Dawid na aan Jehovah gebring?
ELKE dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd” (Psalm 145:2). Kan jy jou indink hoe na aan God koning Dawid, die skrywer van daardie woorde, moes gevoel het? Jy kan sy waardering, sy diepe toewyding, aanvoel. En daarbenewens het hy uiting gegee aan sy vrees en eerbied vir sy Skepper, die Een wat soveel vir hom gedoen het.
2. Hoe het Dawid sy waardering vir God se goedheid getoon?
2 Soos Psalm 145:2 toon, het Dawid se waardering vir God se goedheid by tye uitgeborrel in die vorm van woorde van lof en lofliedere. Maar hierdie woorde en liedere is ook deur sy lewensweg gestaaf. Beskou van die getuienis. Hy wou ’n tempel vir God bou, maar toe hierdie voorreg hom ontsê is, het Dawid reusebedrae geld en ontsaglike hoeveelhede materiaal ter voorbereiding daarvan gegee. Hy was nie tevrede voordat hy nie al God se vyande uit die Beloofde Land verdryf het nie. ’n Ruk lank het hy ontbering en gebrek, selfs vervolging, verduur eerder as om God te mishaag deur wraak te neem op God se gesalfde, koning Saul. Dawid kon die tyd onthou toe hy teen Goliat geveg het en ’n leeu en ’n beer verslaan het. Ja, God het Dawid onderskraag.
3. Hoe voel jy oor God se goedheid, en hoe kan dit getoon word?
3 Het jy al ooit soos Dawid gevoel, dat jy oorweldig word deur waardering vir God se goedheid teenoor jou? Jy het moontlik selfs gefrustreerd gevoel omdat jy graag jou waardering tot ’n groter mate wou toon. Op sulke tye is dit vertroostend om te onthou dat heelhartige diens Jehovah behaag, ongeag tot watter mate daardie diens beperk word omdat jy ander Skriftuurlike verpligtinge het. (Vergelyk Kolossense 3:23.) Baie Christene het egter hulle lewens biddend ontleed om te sien waar hulle plek kon maak om meer te doen om hulle liefde en toewyding aan God te toon. Duisende kon hulle sake so reël dat hulle die werk om die Bybel voltyds te verkondig en aan ander te leer, die pionierdiens, kon begin doen.
Jongmense nader tot Jehovah
4. (a) Wat het baie jongmense gesien, en wat het dit hulle beweeg om te doen? (b) Wat doen die Organisasie-boek hieromtrent aan die hand?
4 Baie van diegene wat in die laaste jare tot Jehovah genader het, was jongmense. Hulle het die geveinsdheid van valse godsdiens gesien, asook sy onvermoë om die vloedgolf goddeloosheid wat oor die aarde spoel, te stuit. Hulle het ook die mens se algehele onvermoë gesien om homself met welslae te regeer en is ontstel deur die wyse waarop hebsugtige handelaars ons kosbare aarde ruïneer. Nadat hulle die Bybel se bevredigende oplossing vir hierdie probleme te wete gekom het, het hulle die raad aanvaar van die wyse skrywer wat gesê het: “Dink aan jou Skepper in die dae van jou jonkheid” (Prediker 12:1). Dit het dikwels gelei tot diens as ’n pionierprediker. Waarom? Die boek Organisasie vir Koninkryksprediking en die maak van dissipels lewer hieroor kommentaar: “Elke jong persoon moet hierdie diensveld [die pionierdiens] ernstig oorweeg. Wat gaan hy met sy lewe doen nadat hy sy jare van vereiste sekulêre opleiding agter die rug het? Het hy Jehovah waarlik lief, en voel hy innig jammer vir diegene wat teen hulle sin in slawerny aan die ou stelsel van dinge verkeer? Indien hy ’n toegewyde, gedoopte lower van Jehovah is, behoort daar geen twyfel te wees nie. Sy hart sal hom beweeg om Jehovah met hart en siel te dien.”—Bladsy 135.
5. Hoe het twee jong persone hulle situasie beskou?
5 Een tienderjarige in Japan het die Skriftuurlike waarheid wat hy geleer het so waardeer dat hy 19 keer hulppionierdiens gedoen het nadat hy in 1978 gedoop is. In Desember 1980, op die ouderdom van 18 en drie maande voordat hy gematrikuleer het, het hy ’n gewone pionier geword. Toe sy moeder, ook ’n pionier, vir hom gevra het wat sy toekomsplanne was, het hy sonder aarseling geantwoord dat daar nou niks belangrikers was as om die predikingswerk te doen en die “groot verdrukking” te oorlewe nie (Mattheüs 24:21). Soortgelyke waardering is deur ’n pionier in Nederland getoon wat nege jaar gelede op die ouderdom van 19 begin het. Toe daar vir hom gevra is waarom hy voltydse diens begin doen het, het hy geantwoord: “My gewete het my gekwel omdat ek in my werk opgegaan het en slegs die tyd wat oorgebly het aan Jehovah gegee het.”
Hoe Jehovah hulle onderskraag
6. Waarom kan jy seker wees van God se onderskragende krag?
6 Wanneer persone op hierdie wyse gewetensgetrou tot Jehovah nader, lok dit ’n reaksie by hom uit. Die dissipel Jakobus deel ons mee: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader” (Jakobus 4:8). Dink net daaraan! Die almagtige Soewerein van die heelal sal inderdaad nader tot ’n persoon wat opreg na hom uitreik deur dade van innige toewyding. Hoe doen God dit? Hy doen dit deels deur die persoon geestelik en selfs materieel te onderskraag, indien nodig (Psalm 34:11; 146:7). ’n Een-en-sewentigjarige pionier-suster in die Filippyne, wat al 31 jaar lank ’n baie produktiewe pionier is, skryf: “Met ’n klein inkomste is ons in staat om in ons behoeftes te voorsien en my in die pionierdiens te hou. Ek het nog nooit geestelik swak gevoel nie.”
7. (a) Hoe hou blydskap en geestelike krag met mekaar verband? (b) Hoe is dit waar bewys in die geval van twee susters?
7 Nog ’n manier waarop Jehovah sy leër voltydse knegte onderskraag, is deur vir hulle BLYDSKAP, ’n vrug van sy gees, te gee (Galasiërs 5:22). Die apostel Paulus meld dit tweede en plaas slegs liefde daarvoor wanneer hy die vrugte van die gees opnoem, en dit is gepas. Blydskap gee krag, waarsonder geen “soldaat” kan volhard nie. Nehemia 8:11 sê: “Die blydskap in die HERE—dit is julle beskutting [of, “sal julle sterk maak” Today’s English Version]”. Die waarheid hiervan word gestaaf deur die kommentaar van ’n Christin in Los Angeles, Kalifornië:
“Ek wil net vir julle sê hoe gelukkig ek is. Ek het my aansoekvorm vir pionierdiens by die kringopsiener gekry . . . en gereël om op 1 Januarie 1981 te begin. Toe Januarie aangebreek het, was ek baie onseker, maar ek het tot Jehovah gebid dat hy my pogings moet seën en my asseblief moet help om iemand te vind wat waarlik wou studeer en die waarheid wou hê. Wel ‘my beker het oorgeloop’. Bo en behalwe die feit dat ek talle belangstellendes gevind het, was my rapport vir Januarie 1981 102 uur in die predikingswerk, 135 tydskrifte, 23 boeke, 47 herbesoeke, 2 boekies, 3 intekeninge en 9 Bybelstudies. Die vensters van die hemel het eenvoudig oopgegaan en die seën van Jehovah het my so gevul dat dit vir my voel of my hart sommer uit my bors wil spring.”
Hierdie versterkende blydskap is ook betuig deur ’n 14-jarige suster in Brasilië wat haar skoolvakansie gebruik het om saam met haar moeder hulppionierdiens te doen. Sy verduidelik:
“Elke keer wanneer ek velddiens doen, voel ek bemoedig, en namate ek voortgaan om te preek, vind ek dat dit vir my makliker is om met mense te praat. Dit is ’n diens wat my groot vreugde verskaf, want ek weet dat ek Jehovah behaag en dat dit die beste manier is om my jonkheid te benut.”
8. Watter uitwerking kan die pionierdiens op jou openbare predikingswerk hê?
8 Het jy opgemerk dat die jong suster gesê het dat dit vir haar makliker geword het om met mense te praat namate sy ‘voortgegaan het om te preek’? Het jy dit ondervind? Baie pioniers het hierdie feit bevestig en gesê dat hulle velddiens soveel meer begin geniet het wanneer hulle dit elke dag kon doen. Waarom? Wel, baie Christene wat slegs nou en dan daaraan kan deelneem, ondervind ’n bietjie vrees elke keer wanneer hulle van deur tot deur begin preek. Nadat die eerste paar besoeke eers agter die rug is, vind hulle dit waarlik genotvol. Maar pioniers neem daagliks aan die openbare predikings- en onderrigtingswerk deel, en hulle het groot bekwaamheid daarin verkry, sodat dit makliker en aangenamer is.
9. Watter voorstel het een reisende opsiener omtrent pionierdiens gedoen?
9 ’n Reisende opsiener in die Verenigde State het besef dat baie ongetwyfeld puik pioniers sou uitmaak as hulle net die vreugde en krag wat pionierdiens verskaf, kon smaak en die vertroue kon hê dat hulle in die pionierdiens kon bly. Hy verduidelik wat hy voorgestel het:
“Dit lyk asof baie wat die pioniergees het, terughou uit vrees dat hulle dit nie sal kan volhou nie. Ek het voorgestel dat hulle hulle dit ten doel stel om een jaar pionierdiens te doen; dan kan hulle sien wat hulle gesondheid, rooster, ensovoorts hulle toelaat om te doen. As hulle aan die einde van die jaar meen dat hulle nie daarmee kan voortgaan nie, sal hulle nietemin ’n goeie jaar van pionierdiens gehad het wat hulle nooit sal vergeet nie. Maar baie kan daarmee voortgaan nadat hulle eers die vreugde daarvan gesmaak het.”
Die hulppionierdiensreëling, wat ’n Christen die geleentheid bied om ten minste een maand lank of soveel maande as wat hy wil, te dien, was dikwels die treeplank tot gewone pionierdiens.
10. Wat is tereg pioniers se beskouing van materiële steun?
10 Pioniers is in die voorhoede in die geestelike oorlog en doen ’n edel werk. Maar hulle dink nie dat hulle spesiale behandeling as gevolg hiervan verdien nie. Hulle besef dat hulle bloot ‘medesoldate’ is saam met die miljoene wat God getrou dien maar wat nie in die posisie is om as pioniers te dien nie. As gevolg van hulle omstandighede help pionierdiens hulle om heelhartige diens te verrig, ’n vereiste vir almal wat God se goedkeuring wil wegdra. Hulle verwag nie dat ander hulle moet voed, klee of op enige ander wyse materieel moet onderhou nie. Hulle het dieselfde beskouing as Paulus wat gesê het: “Ons het dag en nag geswoeg en gesweet om nie vir een van julle ’n las te wees nie.”—2 Thessalonicense 3:8, NTP.
11. Waarom is dit vir baie Christene ’n genot om diegene in die voltydse bediening te help?
11 Alhoewel Paulus vir niemand ’n las wou wees nie, het party van die vroeë Christene hulle waardering vir sy bediening getoon deur hom materieel te help. So het hulle hom gehelp om aan te hou doen wat hulle dalk nie in staat was om te doen nie (Filippense 4:14-19; 2 Korinthiërs 11:8). Daar is vandag eweneens baie Christene wat hulle dit waarlik ten doel gestel het om pionierdiens te doen, maar wie se omstandighede dit op die oomblik onmoontlik maak. Hulle gee dikwels vrywillig materiële dinge aan diegene wat nou pionierdiens kan doen, en alhoewel die pioniers nie hierdie vrygewigheid verwag nie, stel hulle dit hoog op prys.
12. Watter vertroue moet pioniers nogtans hê, soos deur die voorbeeld van een suster toegelig?
12 Ondanks die vrygewigheid van talle Christenmetgeselle moet pioniers nogtans vertrou op God se vermoë om hulle te help. ’n Pionier het onlangs die volgende geskryf:
“Ek het die genot gehad om drie volle jare ’n gewone pionier te wees. Dit was die beste jare van my lewe. Ek is Jehovah baie dankbaar dat hy my toegelaat het om hom in hierdie hoedanigheid te dien. Dit was die mees geloofversterkende aspek van my lewe in die waarheid, daar ek talle kere gesien het hoedat Jehovah vir my sorg. Die voltydse diens het my gehelp om Jesus se woorde in Mattheüs 6:25-33 diep te waardeer. Ek moet erken dat ek soms effens besorg was, maar dit was gewoonlik van korte duur, want ek moes net onthou hoedat Jehovah sy belofte in die verlede gehou het. Waarom sou ek nou aan hom twyfel? Ek probeer elke dag om my situasie op te som en ek kom tot die gevolgtrekking dat ek kos, klere en ’n dak oor my kop het, net soos Jesus gesê het die geval sou wees. Wanneer jy slegs twee aande per week sekulêre werk doen, weet jy dat dit Jehovah is wat vir jou sorg. Watter gevoel van sekuriteit is dit tog!”
Die pionierdiens—’n blyk van geloof
13. Watter blyke van geloof vind ons in die Bybel?
13 Die Bybel is vol voorbeelde van geloof. Die bou van die ark was ’n merkwaardige bewys van Noag en sy gesin se geloof. Ons moet ook nie vergeet van die geloof wat deur Abraham, Sara, Josef, Moses en Ragab betoon is nie. Maar soos Paulus gesê het: “Die tyd sal my ontbreek as ek van Gideon, Barak en Simson en Jefta, Dawid en Samuel en die profete sou verhaal” (Hebreërs 11:32). Hulle werke van geloof was buitengewoon, en party sal geneig wees om dit te beskryf as ‘bo en behalwe die plig’. Maar dit was nie blote pligsgevoel wat hulle beweeg het nie. Dit was hulle liefde vir God en hulle geloof in hom, plus die feit dat God ’n “beter” plek vir hulle in gedagte gehad het, wat hulle beweeg het om hulle geloof in die openbaar te “bely”. Hoe het Jehovah oor hulle dade van geloof gevoel? Sy Woord antwoord: “Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ’n stad berei.”—Hebreërs 11:13-16.
14. Hoe kan die pionierdiens vandag vir jou ’n werk van geloof wees?
14 Watter buitengewone werke van geloof kan vandag gedoen word? Vir baie sluit die antwoord voltydse diens, die pionierbediening, in. Dit is te begrype dat nie almal wat die “broederskap” in die wêreld uitmaak pionierdiens kan doen of selfs gereeld hulppioniers kan wees nie (1 Petrus 2:17). Maar dit verg geloof selfs van diegene wie se omstandighede dit toelaat. ’n Broer in Europa skryf: “Baie het my afgeraai om ’n pionier te word, want dit is vir sterk mense. Ek is nie fisies sterk nie. Trouens, ek het ’n boggelrug. Ek het nietemin begin en met Jehovah se hulp is ek nou al 30 jaar lank ’n pionier.” Hy voeg by dat ‘hy baie bevrediging geput het uit ’n besige rooster wat hom help om na aan Jehovah te kom’. Jehovah het beslis hierdie broer in die pionierdiens onderskraag.
15. Hoe het ’n broer in Japan sy geloof getoon?
15 En dit is nie net een ouderdomsgroep beskore om hulle geloof in die pionierbediening te toon nie. ’n Broer in Japan het die Christelike waarheid geleer nadat hy as ’n onderwyser afgetree het. Dit was nie lank voordat hy op die ouderdom van 60 gedoop is en dadelik ’n hulppionier geword het nie. Toe hy op die ouderdom van 61 ’n gewone pionier geword het, het hy gedink aan die dorp in die berge waar hy grootgeword het en waar daar nie een van Jehovah se Getuies was nie. Hy en sy vrou, ook ’n pionier, het hulle huis in die stad verkoop en na daardie dorp verhuis. Met die geld wat hulle vir hulle huis gekry het, het die gesin ’n Koninkryksaal daar gebou, en hulle het die seën ontvang om te sien hoe ’n gemeente gevorm word.
16, 17. Waarom is dit nou ’n gepaste tyd vir jou om die pionierdiens ernstig te oorweeg?
16 Die teenswoordige goddelose stelsel se tyd is vinnig besig om te verstryk. Net soos die Israeliete meer kere om die goddelose stad Jerigo geloop het net voordat dit vernietig is, nooi Jehovah mense nou, net voordat hy die teenswoordige stelsel vernietig, om ’n groot geskreeu aan te hef (Josua 6:20). Kan jy ’n groter aandeel in daardie oorwinningskreet hê deur ’n pionier te word? Het jy die geloof om dit te doen indien jou omstandighede jou toelaat om dit te doen? Jy kan daarvan seker wees dat Jehovah sý deel sal doen deur jou te onderskraag en jou blydskap te vergroot. Hy sal jou pogings seën. Dit gaan dalk met jou soos met die suster wat al 10 jaar lank in Nederland pionierdiens doen en wat gesê het: “My gewete het my begin kwel omdat ek wel die tyd gehad het. Ek het begin om pionierdiens te doen om my lastige gewete die swye op te lê en om vir myself te toon dat my swak gesondheid my nie sou toelaat om as ’n pionier aan te bly nie. Ek is nog steeds ’n pionier.”
17 Ja, Jehovah doen groot dinge in die “laaste dae” van die teenswoordige goddelose stelsel. Dit is nou die tyd om tot hom te nader en sy naam elke dag te prys, net soos Dawid gedoen het. Stel geloof in God se belofte om jou te onderskraag. Dawid het geskryf: “As ek dink: My voet wankel—dan ondersteun [onderskraag, NW] u goedertierenheid my, o Here!”—Psalm 94:18.
KAN JY VERDUIDELIK . . .
◻ Waarom dit gepas is vir jong Christene om die pionierdiens te oorweeg?
◻ Hoe Jehovah sy voltydse knegte onderskraag?
◻ Waarom die pionierdiens ’n buitengewone blyk van geloof is?
[Prent op bladsy 23]
Pioniers vind die openbare predikingswerk aangenaam en word dikwels baie bekwaam
[Prent op bladsy 25]
Baie wat nie nou pioniers kan wees nie, deel materiële dinge met diegene in die voltydse diens