‘Kragtige groei’ op tropiese eilande
Hoewel die nuwe takkantoor van Jehovah se Getuies op die Salomons-eilande indrukwekkend is, is die gebeure wat daartoe aanleiding gegee het, selfs indrukwekkender.
DERTIG jaar gelede was die stuk grond waarop die naaswit tweeverdiepinggebou nou staan digte oerwoud. In die tronk in die dorpie daar naby het ’n jong man, wat weens onwettige bedrywighede opgesluit is, die boek “Laat God waaragtig wees”, wat ’n medegevangene vir hom geleen het, verslind. Met behulp van hierdie Bybelhulp wat deur Jehovah se Getuies gepubliseer is, het waardering vir geestelike dinge in Clem Fa’abasua se hart begin groei. Hy wou meer weet. Maar daar was nie nog ’n Getuie in die hele Salomons-eilande nie.
Clem het meer lektuur bestel en het kort daarna begin om die Bybel per brief saam met ’n Getuie in Australië te bestudeer. Net waar Clem gegaan het, het hy gepraat oor die dinge wat hy geleer het. Sy pogings was die enigste flikkering van geestelike lig in hierdie tropiese eilande in die Stille Suidsee, 1 600 kilometer noordoos van Australië.
Clem het nie eens in sy wildste drome gedink dat meer as 500 ander stemme binne drie dekades saam met syne sou opgaan en dat 2 624 persone in 1981 in die 31 gemeentes in die Salomons-eilande vir die jaarlikse Gedenkmaal byeen sou kom nie! Clem sou ook nie geglo het dat hy presies 30 jaar na sy gevangesetting in ’n pasgeboude takkantoor sou sit en wag dat die toewydingsprogram moet begin nie.
Die situasie in die Salomons-eilande kom ooreen met dié in Klein-Asië gedurende die eerste eeu toe die Christelike godsdiens vinnig vooruitgang gemaak het. Die Bybelverslag lui: “So het die woord van die Here met krag gegroei en sterk geword” (Handelinge 19:20). Die kragtige groei van God se Woord in die eilande het geblyk uit die gebeure wat aanleiding gegee het tot die toewydingsprogram op 20, 21 Junie 1981.
Wie het die toewyding bygewoon?
Baie Getuies het lank gespaar om die bootrit van sewe uur vanaf die naburige eiland Malaita na hierdie stad Honiara op die eiland Guadalcanal te onderneem. Hulle het gearriveer met sakke wortelgroente, taro, patats, broodwortel en selfs lewende hoenders en varke. ’n Maaltyd is vir die Saterdagaand van die toewyding beplan en elke gemeente wou sy deel bydra.
Hoewel Clem bejaard en stokdoof is, wy hy nog elke maand baie ure aan die verkondiging van die Woord van God as ’n spesiale pionier. Hy het vir die 688 wat tydens die toewydingsprogram aanwesig was sy verhaal van die probleme in die vroeë dae vertel. Daarna is ’n bandopname gespeel van iemand wat ook ’n groot rol in die vroeë vyftigerjare gespeel het—Les Carnie.
Les Carnie het vertel dat hy in 1955 ‘moerasse, krokodille en muskiete tydens een uitputtende reis oor 14 kilometer die hoof moes bied voordat hy die gebied bereik het’. Hy was die eerste buitelandse Getuie wat na die Salomons-eilande gekom het. Met sy hulp het baie van die eilandbewoners die valse leerstellings en skynheiligheid van tradisionele gelowe onderskei. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het hulle gesien hoedat twee “godsdienstige” nasies hulle eilande met bloed deurweek het, aangesien Guadalcanal ’n middelpunt in die stryd om die Stille Suidsee was.
Terwyl Carnie eendag op ’n rivierboot gevaar het, het ’n onbekende boorling-seun wat agter hom gesit het, met hom gepraat: “Te veel gelowe praat nie die waarheid nie. Hulle sê ‘moenie moor nie’, maar hulle veg almal. Ek hou nie van hulle nie. Ek glo net soos u. Sal u asseblief ’n Bybeltjie vir my kry?” Hoe het hierdie jong seun daarvan gehoor? “Ander seuns het vir my vertel”, het hy gesê. God se Woord het dus op verskeie maniere ‘gegroei en sterk geword’.
Onderrigters van God se Woord
’n Skraal man met ’n bruingebrande gesig en spierwit hare, John Cutforth, het die gehoor tydens die toewydings-plegtigheid toegespreek. Hy was die eerste reisende opsiener in die Salomons-eilande. Hy het vertel van sy reise gedurende die laat vyftigerjare na Malaita-eiland. Dit het ’n volle dagreis op die dek van ’n kleinerige boot beteken, waarna ’n mens tot 10 uur lank met wildernispaadjies teen die berge moes uitklim. Hy was soms sopnat as gevolg van tropiese reënstorms. Talle gebiede in die Salomons-eilande kry elke maand gemiddeld 250 tot 300 millimeter reën.
John het ander geleer om die Woord van God te verkondig. Hoe verheug was hy tog om te sien dat baie van die wat hom op daardie merkwaardige reise oor die eiland Malaita vergesel het Jehovah na meer as 20 jaar steeds getrou dien. Hy het vertel van kere toe die belangstellendes hulle amper die hele nag wakker gehou het met vrae. Eindelik moes party van die broers ’n uiltjie knip terwyl die ander die Bybelvrae beantwoord het. Maar hierdie volharding was die moeite werd.
‘Ek voer Bybelgesprekke met 60 persone! Daar is nou meer as 655 persone wat die Bybel wil bestudeer. Stuur asseblief hulp!’ het een van die spesiale pioniers in 1959 aan die Genootskap geskryf. Jim Smith, wat ook ’n boodskap op band vir die toewydingsplegtigheid gestuur het, het vertel van die tyd toe meer as 1 000 mense op Noord-Malaita op een slag besluit het om hulle kerk te verlaat en die Bybel saam met Jehovah se Getuies te bestudeer (hoewel nie almal volgehou het en Getuies geword het nie). Baie van hulle is met behulp van tekeninge op skoolborde geleer om die probleem van ongeletterdheid te bowe te kom.
Hele dorpe wil leer
God se Woord het ‘kragtig gegroei’ toe hele dorpe graag deur die Getuies onderrig wou word. Onder diegene wat gekom het om hierdie ywerige hoorders te leer, was ’n egpaar uit die Verenigde State, Charles en Carolyn Isbill, wat ’n ruk lank op die Salomons-eilande gewoon het. Gedurende die toewydingsplegtigheid het hulle vertel hoedat die groot begeerte van die nuwelinge om Bybelwaarhede te leer en die liefde van die broers wat hulle vergesel het meer as vergoed het vir die fisiese ontberings om ure lank met slegte paaie langs te loop en vir die vervelige dieet.
Nie eens ’n twintigjarige verbod op Die Wagtoring en Ontwaak! het geestelike groei verhoed nie. Toe die verbod in 1974 opgehef is en die verspreiding van die tydskrifte toegeneem het van 3 000 in 1975 tot 12 000 drie jaar later, het dit duidelik geword dat groter fasiliteite nodig sou wees vir berging en verskeping. Maar wie sou die nodige gebou oprig? In die Salomons-eilande is daar nie baie vakmanne nie, en die paar broers met sulke vermoëns het voltyds gewerk om vir hulle gesinne te sorg.
Die konstruksiewerkers
Daar is besluit om 10 jong broers onder die toesig van Rodney Fraser, ’n Australiese Getuie wat ’n bouer was, te gebruik. Maar baie van hierdie jong manne het nog nooit tevore bougereedskap gehanteer nie! Hulle het egter verbasende werk gedoen. Hulle moes ’n gat van 139 vierkante meter uit klipharde koraal grawe tot ’n diepte twee keer hulle lengte! En hulle het dit met pik, graaf en koevoet gedoen. Die groep het ’n hegte werkspan geword en het geleer hoe om beton te giet en te messel.
Lede van die gemeentes op die eiland het naweke gehelp. Getuies in die buitegebiede het kos en geld bygedra. Nog ’n paar bedrewe Getuies uit Australië het by die werkspan aangesluit en gehelp om die werk te bespoedig. Eindelik, na amper drie jaar se werk, het almal hulle verheug om die voltooide gebou te sien. Die gebou is geleë teen ’n skuinste aan die onderpunt van ’n straat en word deur vrugtebome en blomstruike omring. Die voorkoms daarvan pas by die doel van die gebou.
“Branch belong you-me winnim every house long town!” was die uitroep van die Salomons-eilandse Getuies wat op ’n toer deur die takgebou geneem is. Of, met ander woorde: “Ons tak is die beste gebou in die dorp!”
“Die woord van die Here” het inderdaad in die Salomons-eilande “met krag gegroei”. Die pragtige takgebou sal ’n voortdurende herinnering wees aan die groter invloed van die Woord van God op die harte van die mense van hierdie tropiese eilande.
[Prent op bladsy 30]
John Cutforth, een van die eerste reisende opsieners wat die Salomons-eilande besoek het, besig om Bybelwaarhede aan ander te leer