Insig in die nuus
Waarskuwing teen afsprake
“Hofmakery is tydeloos, maar afsprake as ’n sosiale mode is uitsluitlik ’n twintigsteeeuse verskynsel” sê ’n artikel in Londen se Sunday Telegraph met die titel “Afsprake is skadelik”. Die artikel wys daarop dat “studente aan die Ivy League-Universiteite van Amerika gedurende en na die Eerste Wêreldoorlog daarmee begin het. . . . Nadat dit deur rolprente gewild gemaak is, het dit vinnig versprei.” Omdat “die noodsaaklike begeerte om te trou dikwels heeltemal ontbreek” het hedendaagse afsprake “’n vorm van onverstandige ontspanning geword” sê die artikel. Wat is die ‘skadelike’ gevolge? “Dit kan angs, neerslagtigheid, naarheid, geestesiekte, kwale, buite-egtelike geboortes, aborsie en selfs pogings tot selfmoord wees. En iets wat nie uit die oog verloor moet word nie, is daardie ontsaglike, jaarlikse aantal ontydige huwelike wat gedoem is om op die bitterheid van egskeiding uit te loop.” Volgens die artikel het afsprake die neiging om ’n baie jong persoon se belange te beperk en persoonlike ontwikkeling te vertraag.
ln plaas daarvan om slagoffers van hierdie “sosiale mode” en “onverstandige ontspanning” te word, moet jong Christene die vryheid en krag wat hulle geniet, benut om hulle belange, vaardighede, kennis en Christelike omgang te ontwikkel en te verbreed. So sal hulle, “vir hulle ’n skat weglê, ’n goeie fondament vir die toekoms, sodat hulle die ewige lewe kan verwerf”.—1 Timotheüs 6:19.
Katkisasie belemmer verstandelike ontwikkeling
ln ’n onlangse onderhoud het Serge Larivee van die Universiteit van Montreal gesê dat laerskool-kinders se Rooms-Katolieke katkisasieklasse “verhinder dat intelligensie ’n rol speel, met die gevolg dat die ontwikkeling daarvan vertraag word”. Volgens Toronto se Star het Larivee, redakteur van La Revue Canadienne de Psycho-Pedagogie, sy gevolgtrekkings gebaseer op nagenoeg 100 navorsingsdokumente wat onlangs gepubliseer is. ln verband met die bewering dat sulke onderrig “die kinders ’n lewende, persoonlike verhouding met elke goddelike persoon (van die drie-eenheidsleer) sal laat aanknoop” het Larivee gevra: “Het jy al ooit op ’n konkrete wyse probeer om ’n lewende en persoonlike verhouding aan te knoop met drie onsigbare persone wat een uitmaak?”
Die geestesverwarring en -belemmering wat voortspruit uit die napratery van Kerkleerstellings vorm ’n skerp teenstelling met die voordele van studie wat op God se Woord, die Bybel, gebaseer is. “Die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige” sê die psalmis. En as jy “die kennis van God vind” sal ‘oorleg oor jou wag hou en verstand jou bewaak’ (Psalm 19:8; Spreuke 2:5-11). Maar wat kan die godsdiensleiers verwag om aan ander, jonk of oud, oor te dra as hulle self die Bybel die rug toegekeer het en menslike tradisie en filosofie in die plek daarvan verkondig? “Kyk, hulle het die woord van die HERE verwerp, en watter wysheid sou hulle hê?”—Jeremia 8:9.
ln die gene geskryf?
ln ’n resensie oor die boek Genetic Prophecy het Malcolm Browne die volgende in die tydskrif Discover se nommer vir November 1981 geskryf: “Vir die eerste keer begin dit moontlik lyk om na die chemiese samestelling van selfs ’n ongebore kind te kyk en ’n paar skerpsinnige voorspellings oor sy toekoms te maak—sy waarskynlike gesondheidstoestand en vatbaarheid vir kwale, sy atletiese potensiaal, waarvan hy sal hou, waarin hy belang sal stel, sy vermoë om met ander mense klaar te kom, sy vermoedelike lewensduur en selfs sy intelligensie.”
Hieruit kan party aflei dat ’n persoon se lewensweg deur sy genetiese samestelling bepaal word. Selfs die skrywer van die boek meen dat “die gene wik, maar die milieu beskik”. Die Bybel toon bowendien dat die mens, wat “na die beeld van God” geskape is, begaaf is met ’n groot mate van vrye wil en keuse (Genesis 1:27). Oorgeërfde eienskappe kan ’n persoon in ’n sekere rigting laat neig, maar sy opvoeding en, bowenal, sy beoefening van vrye wil en keuse sal op die ou end die uitslag bepaal. Jehovah God het dus duidelik deur Moses gesê: “Die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag.”—Deuteronomium 30:19.