“Die evangelie van vrede” dra vrug in Switserland
IN DIE verlede is Switserland al dikwels beskryf as ’n “Eiland van vrede”. En sedert Napoleon die samestelling van Europa vroeg in die 19de eeu verander het, het die land inderdaad nog nie weer oorlog gevoer nie.
Vandag geniet Switserland se 6 000 000 inwoners een van die wêreld se hoogste lewenstandaarde. En hulle geniet hierdie voorspoed sonder konvensionele natuurlike hulpbronne. In ’n buitengewoon vreedsame milieu moes harde werk, wat met stipte presisie gepaard gaan, eenvoudig resultate lewer. As ’n mens egter onder die oppervlak van hierdie skynbare idille delf, vind jy probleme wat inherent is aan die Westerse wêreld se lewenswyse. ’n Mens vind hier ook gebroke huwelike en tienderjariges wat aan dwelmmiddels verslaaf is. Opregte persone is waarlik bekommerd, en “die evangelie van vrede” wat op God se Woord die Bybel gebaseer is, is ook vir die Switserse “Eiland van vrede” goeie nuus.—Efesiërs 6:15.
“Die evangelie van vrede” bereik Switserland
Toe Charles Taze Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap, Switserland die eerste keer in 1891 besoek het, het hy die indruk gekry dat ‘die oes ryp is’ (Mattheüs 9:37, 38; Johannes 4:35-38). Maar wie sou help om hierdie oes in te samel? Soos sake verloop het, het Adolf Weber ’n belangrike aandeel in hierdie werk gehad. Weber het sy geboorteland as ’n jong man verlaat en na die Verenigde State geëmigreer. Daar het hy Bybelwaarheid leer ken en later as C. T. Russell se tuinier gewerk. Maar toe het hy die aansporing om as ’n “tuinier in die wingerd van die Here” na Switserland terug te keer ter harte geneem.
In sy tuisdorpie Les Convers het Weber werk as ’n tuinier en boswagter gekry. Hy was nou terug in die kanton Neuchâtel, hoog in die Jura-gebergte met sy afgesonderde, beboste valleie waar daar amper geen riviere ontstaan nie omdat die reënwater so vinnig deur die poreuse kalksteen wegsak. Wat word van die water? Die pragtige Neuchâtel-en Bienne-meer aan die suidelike voet van die Jura-gebergte is deel van die antwoord.
Maar Adolf Weber het nie sy tyd verwyl deur na die rustige natuurskoon te kyk nie. Veral gedurende die lang wintermaande het hy te voet of met sy fiets deur die laagland gereis en oral “die evangelie van vrede” verkondig. Sy bedrywigheid was glad nie tot westelike, Franssprekende Switserland en die aangrensende gebied in Frankryk beperk nie. Weber se kennis van Duits en Italiaans het hom in staat gestel om die Koninkryksboodskap dwarsoor Switserland tot by die Gotthard-gebergte en oor die Alpe tot by Milaan in noordelike Italië te verkondig. En Jehovah het nie nagelaat om hom en ander heelhartige werkers in die oes te seën nie.
Die boodskap dra vrug
In 1899 is ’n rapport ontvang dat 14 persone in die plattelandse dorpie Thun, 30 kilometer suidoos van die land se hoofstad, Bern, Jesus Christus se dood herdenk het. Later het ander studiegroepe in die Duitse sowel as die Franse dele van die land tot stand gekom, en eerlank was daar twee takkantore van die Wagtoringgenootskap wat volgens taalgroepe toesig oor die Koninkryksbedieningswerk gehou het. In die twintigerjare is die werk om toesig te hou toevertrou aan die vergrote takkantoor in Bern, waarby daar ’n aansienlike drukkery gevoeg is. ’n Halfeeu later is ’n groot takgebou in Thun opgerig, en die werk word al etlike jare lank van daar af bestuur.
Die predikingswerk onder die honderdduisende buitelandse werkers het ook seëninge meegebring. Die gevolg is dat daar vandag talle Italiaanse en Spaanse getuies van Jehovah in hierdie land is. Individue uit talle nasionaliteite is deur die krag van “die evangelie van vrede” aangetrek. Die helfte van Switserland se meer as 11 000 Koninkryksverkondigers is Duits, een derde Italiaans of Spaans en skaars een vyfde Frans. In 1981 het altesaam 19 785 persone die Gedenkmaalviering in 231 gemeentes aldaar bygewoon.
’n Merkwaardige verandering in lewenswyse
Die omstandighede waaronder “die evangelie van vrede” party harte bereik het, was heel buitengewoon. ’n Jong man het byvoorbeeld saam met ’n boesemvriend uit Spanje in Genève aangekom. Dwelmverslaafdheid was reeds hulle vernaamste ondeug, en hulle was grootskaalse winkeldiewe. Eendag is die jong man se vriend gevang en in die tronk opgesluit, maar die jong man het nietemin met sy winkeldiefstal voortgegaan. Eensaamheid het hom eerlank oor die ware sin van die lewe laat nadink. Hy het dikwels hier en daar in die Bybel en die boek Die waarheid wat lei tot die ewige lewe, ’n Wagtoring-publikasie wat hy in Spanje bekom het, gelees. Hy het mettertyd ’n hoë dunk van die uitgewers verkry en na Jehovah se Getuies begin soek. Toe hy dus eendag twee welgeklede mans met tasse sien kom uit die gebou waar hy woon, het hy die moed bymekaargeskraap, hulle genader en gevra: “Is julle Jehovah se Getuies?” Stel jou voor hoe bly hy was toe hulle bevestigend geantwoord het! Daar is dadelik reëlings vir ’n Bybelstudie getref.
Na vier maande het die jong man genoeg geleer om belangrike veranderinge in sy lewe aan te bring. Hy het vir die Getuies wat met hom gestudeer het, vertel van sy loopbaan as winkeldief en vir hulle die gesteelde goedere gewys wat nog in sy kelder versteek was: jasse, pakke, dasse en selfs radio’s en beeldradiostelle. Dit was nou sy opregte wens om die goedere aan hulle eienaars terug te besorg. Dit het raadsaam gelyk om ’n prokureur te raadpleeg, en dié was so verbaas dat hy sy hulp gratis aangebied het. “Ek het nog nooit so ’n eerlike dief teëgekom nie!” het hy uitgeroep. Wanneer die gesteelde artikels terugbesorg is, het die prokureur altyd verduidelik dat dit ’n Bybelstudie was wat tot hierdie onverwagte wending aanleiding gegee het, en sodoende is ’n uitstekende getuienis gelewer (Hebreërs 13:18, NW). Die jong man is kort daarna as een van Jehovah se Getuies gedoop.
Die verkondiging van die “evangelie” in afgesonderde valleie
Tussen die Jura-gebergte aan die weste en die Alpe aan die ooste, lê ’n derde van Switserland wat bestaan uit deinende plaasgrond bekend as Mittelland, die “middelland” waar die grootste deel van die bevolking hulle gevestig het. Maar namate ’n mens nader aan die voorheuwels en die Alpe self kom, tref ’n mens hoofsaaklik tradisionele lewenswyses aan wat dikwels met die Katolieke geloof in verband staan. Hier woon die mense, wat dikwels ’n beskeie inkomste het, in dorpgemeenskappies. Mensevrees is veral in hierdie dele ’n verraderlike strik (Spreuke 29:25). Alhoewel daar net ’n paar klein gemeentes van Jehovah se Getuies in hierdie streke is, word geen steen onaangeroer gelaat om die bergbevolking met “die evangelie van vrede” te bereik nie. ’n Paar jaar gelede het honderde Getuies van die vlaktes byvoorbeeld deelgeneem aan ’n spesiale kampanje in die vroeë somer.
Ywerige Getuies was destyds ook bedrywig in die drietalige kanton Grisons in die suidooste. ’n Saal in ’n nuwe hotel in die wêreldberoemde St. Moritz is vir ’n filmvertoning gehuur. Dit is naby hierdie vakansieoord in die Alpe dat die gebiede waar Duits, Italiaans en Romaanse tale gepraat word, bymekaarkom. Die hotelbestuurder en sy gesin was in die verbasend groot gehoor wat die Italiaanse program bygewoon het. Na die sessie het hy die broers hartlik bedank en selfs geweier om geld te aanvaar vir die gebruik van die saal.
Van St. Moritz af is daar twee paaie na Italië. Langs die Maloja-pas daal die reisiger af na die oorheersend Protestantse Bregaglia-vallei, terwyl hy die Poschiavo-vallei, ’n Katolieke vesting, sal bereik as hy verkies om oor die Bernina-pas te gaan—met ’n onbelemmerde uitsig op die 4 049 meter hoë Piz Bernina. In albei valleie praat die mense Italiaans. Naby die dorpie Poschiavo word die omliggende berge deur ’n meertjie weerkaats. Dit is daar naby dat ’n gesin—die vader ’n erkende Katoliek en die moeder een van die seldsame plaaslike Protestante—die Bybel begin bestudeer het. Hulle kontak met Jehovah se Getuies het nie onopgemerk gebly nie, en mettertyd het die predikers van albei kerke hulle besoek. Alhoewel geweldige druk op die gesin uitgeoefen is, het Bybelwaarheid uiteindelik geseëvier. Die ouers is vandag gedoopte Getuies, en hulle en hulle drie kinders vergader gereeld saam met mede-Christene oorkant die grens in Italië.
Die Katolieke priester het die gemeentelede egter van die kansel af aangespoor om hierdie broer se onderneming te boikot. Talle familielede in die dorpsgemeenskap het opgehou om met die gesin te assosieer (Mattheüs 10:35). Maar die lede van hierdie gesin is dankbaar oor hulle verhouding met Jehovah. Hulle het ook hulle naaste lief en leef, sover as dit van hulle afhang, in vrede met alle mense.—Romeine 12:18.
Hy het met die dwelmgewoonte gebreek
’n Jong man van Zürich was ’n geesdriftige atleet en sokkerspeler. Hy het geglo dat dit sin aan sy lewe sou gee as hy sy beste op die atletiekbaan en sokkerveld gelewer het. Maar mededinging en selfs haat onder mede-atlete het hom dikwels terneergedruk gemaak. Daar was ook die voortdurende druk om te verbeter en die verheerliking van baanrekords en kampioene, terwyl die pogings van ander wat nie so suksesvol was nie, bloot geïgnoreer is. Hierdie omstandighede het grootliks daartoe bygedra dat hy dwelmmiddels aanvaar het toe ’n skoolvriend hom dit eendag aangebied het. En dit het gelyk of die dwelmmiddels sy probleme tydelik laat afneem, maar dit het hulle natuurlik nie opgelos nie.
Toe hy een aand van die werk af tuiskom, het die jong man gevind dat iemand ’n eksemplaar van Koninkryksnuus by sy woonplek gelaat het. Die dinge wat hy omtrent die einde van hierdie stelsel gelees het, het sy belangstelling gaande gemaak. Hy het die boeke wat in die traktaat gemeld word, bestel, en die inhoud daarvan ywerig bestudeer. Kort daarna het ’n bejaarde broer en sy vrou hom besoek. Die suster het kort tevore saam met hierdie jong man se moeder begin studeer. Die seun het ook ingestem om die Bybel te bestudeer en gou vordering gemaak en opgehou om dwelmmiddels te gebruik en te rook. Sy moeder het ook goeie geestelike vordering gemaak en albei is in 1977 tydens die streekbyeenkoms in Zürich gedoop. Hierdie jong man het ’n ruk lank as ’n ywerige lid van die Bethelgesin in Thun gedien.
’n Gelukkige Bethelgesin
“God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” het die apostel Paulus geskryf (1 Korinthiërs 14:33). Aangesien die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Thun ander dikwels aanspoor om “die evangelie van vrede” te verkondig, is dit belangrik dat die werkers aldaar die orde en vrede in die Bethelgesin bewaar. Dag na dag dra die pragtige natuurskoon om die takgebou by tot hulle innige waardering vir die “God van vrede” wat hulle dien (Filippense 4:9). Hoe asemrowend is die panorama op die sneeubedekte berge! Van die dak af kan ’n mens ’n stukkie van die Thun-meer sien en word jou aandag getrek deur die indrukwekkende middelstuk van die Berner-Alpe, naamlik die Eiger, Mönch en Jungfrau.
Dit verbaas ’n mens nie dat die Bethelgesin net so veeltalig is soos die veld wat hulle bedien nie. Die Duits-, Frans-, Italiaans- en Spaanssprekende lede van die gesin behoort aan agt nasionaliteite. Die jongste werker is skaars 20 en die oudste—’n broer wat in 1909 gedoop is—is ouer as 92.
Een aspek van die tak se werk is geestelike hulp aan die gemeentes wat in 13 kringe (ses Duits, vier Italiaans, twee Frans en een Spaans) gegroepeer is. Dan is daar ook nog die drukwerk. Op die oomblik word daar jaarliks 18 000 000 tydskrifte gedruk en gepos. Dit bevorder hoofsaaklik die verkondiging van “die evangelie van vrede” in Switserland, Oostenryk, België, Portugal, Spanje en die Franssprekende state van Afrika. Gedurende 1978 is die takkantoor in Thun vergroot sodat daar meer werkruimte vir toekomstige gebruik is.
Daar word steeds vredevolle vrug gedra
Jehovah se volk in Switserland werk hard. En daar is nog steeds regskape individue wat besef dat God se “evangelie van vrede” van lewensbelang is vir die bewoners van die bergagtige “Eiland van vrede” indien hulle ewige geluk wil smaak.
Op Vrydagaand, 26 Januarie 1979, het Switserland se Italiaanse televisiediens ’n dokumentêre film van ’n halfuur oor Jehovah se Getuies in daardie land vertoon. Die merkwaardig onbevooroordeelde program het die lewe en bedrywigheid van die Getuies in ’n gunstige lig gestel. Dit was roerend om ’n 97-jarige suster se antwoord te hoor op die ondervraer se vraag oor hoe haar lewe verander is sedert sy die waarheid op die ouderdom van 80 aangeneem het. “Ek is gelukkig!” was haar spontane antwoord. En dit is ook hoe al die duisende knegte van Jehovah en hulle vriende voel. Daar word voortdurend nuwe tuis-Bybelstudies begin. Hoe sal hierdie persone, en nog baie meer, baat vind by God se lankmoedigheid? Die toekoms sal leer.
Intussen sal Jehovah se volk in Switserland voortgaan om die Koninkryksboodskap te verkondig. Hulle sal aanhou om “die evangelie van vrede” na allerhande mense uit te dra, of hulle nou in die stede en dorpe van die laagland woon of in afgeleë plekkies en rustige valleie wat tussen die berge versteek is.
[Lokteks op bladsy 13]
“Ek het nog nooit so ’n eerlike dief teëgekom nie!” het die prokureur uitgeroep
[Lokteks op bladsy 14]
Dit was nie dwelmmiddels nie, maar ’n eksemplaar van Koninkryksnuus wat ’n jong atleet gehelp het om blywende verligting van terneergedruktheid te verkry