Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 5/15 bl. 4-6
  • Waar kom hulle vandaan?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waar kom hulle vandaan?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hoe dit alles begin het
  • Godsdiens—Hoe het dit ontstaan?
    Die mensdom se soeke na God
  • So baie gelowe!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Kan ons die regte een vind?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Hulle het nie vir hulle ’n beroemde naam gemaak nie
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1998
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 5/15 bl. 4-6

Waar kom hulle vandaan?

HOEWEL die gelowe van die wêreld baie uiteenlopend is, is daar sekere algemene ooreenkomste. Die voedoegelowe van Suid-Amerika, die stamgelowe van Afrika, die groot gelowe van die Ooste, die boorlinggelowe van Australië—trouens, amper alle gelowe—glo byvoorbeeld dat die mens ’n geestelike deel het wat na die dood van die stoflike liggaam voortlewe. Die meeste gelowe glo ook aan die bestaan van onsigbare geeste wat die mensdom ten goede of ten kwade kan beïnvloed.

Het jy ook opgemerk hoe algemeen die gebruik van godsdiensbeelde is? Baie gelowe beoefen boonop waarsêery of sterrewiggelary. En ’n verbasende aantal gelowe deur die geskiedenis heen het triades gode, soos die Christendom se Drie-eenheid, gehad.

Meen jy dat dit moontlik is dat al hierdie gelowe sulke eenderse godsdiensgebruike onafhanklik van mekaar verkry het? Of is dit waarskynliker dat hulle op die een of ander wyse hulle idees van ’n gemeenskaplike bron gekry het? Dit is beslis redeliker. Maar wat was daardie gemeenskaplike bron?

Om hierdie vraag te beantwoord, moet ons kyk waar godsdiens vandaan kom. Dit is ’n onderwerp wat geskiedkundiges nie goed verstaan nie. The World Book Encyclopedia sê: “Sekere geleerdes het met teorieë vorendag gekom oor hoe godsdiens in prehistoriese tye ontstaan het. Geen enkele teorie is deur alle geleerdes aanvaar nie.” Maar daar is ’n goeie gesag wat vir ons van die oorsprong van godsdiens vertel. Daardie gesag is die Bybel.

Hoe dit alles begin het

Soos jy weet, is die Bybel ’n boek wat eens alom gerespekteer is. Vandag is dit ongelukkig so dat al hoe minder mense dit lees. Maar wanneer ons godsdiens bespreek, kan ons dit nie op ’n bevredigende wyse doen tensy ons na die Bybel verwys nie, want op godsdiensgebied het dit ’n groter uitwerking as enige ander boek op die mensdom gehad.

Buitendien dra die Bybel se verduideliking oor hoe godsdiens ontstaan het gewig omdat dit neergeskryf is deur manne wat baie nader as ons aan die gebeure gelewe het. Kom ons kyk wat die Bybel sê en vergelyk dan ons bevindinge met party van die teorieë van hedendaagse geleerdes.

Die Bybel sê vir ons dat die mens oorspronklik slegs in een God geglo het. Dit was nie sy eie idee nie. Volgens die verslag het God hom reg aan die begin as die groot Bron van die lewe aan die mens geopenbaar. Hy het hulp en voorligting aangebied sodat die mens ’n sukses van sy lewe kon maak (Genesis 1:26-2:25). Alles het dus met net een geloof begin. Hoe het vandag se verwarrende situasie dan ontstaan?

Volgens die Bybel is dit die gevolg van ’n opstand teen daardie een oorspronklike Bron. In ’n dokument wat meer as 3 000 jaar oud is, word ene Nimrod geïdentifiseer as die man wat met hierdie opstand begin het. Nimrod het stede in die antieke gebied bekend as Mesopotamië gebou. Daardie gebied is vandag deel van Irak. Party van die stede wat hy gebou het, is Babel, Ereg, Akkad en Kalne genoem.—Genesis 10:10-12.

In die tydskrif Scientific American het dr. Robert M. Adams die bou van stede “die tweede groot ‘revolusie’ in menslike kultuur” genoem. Aangesien die stede wat Nimrod gebou het onder die eerstes is wat in die Bybel genoem word, kan ons besef watter invloed hierdie man moes gehad het.

Babel (of Babilon) het mettertyd die grootste van hierdie antieke stede geword. Die Bybel deel ons mee dat daar in Babel ’n poging aangewend is om God se uitdruklike wil dat die mensdom oor die aarde moet versprei en dit moet bevolk, teë te gaan. Die mense het gesê: “Kom, laat ons vir ons ’n stad bou en ’n toring waarvan die spits tot aan die hemel reik; en laat ons vir ons ’n naam maak, sodat ons nie oor die hele aarde verstrooid raak nie” (Genesis 11:4). Maar weens goddelike tussenkoms het hulle nie in hulle doel geslaag nie en is hulle geleidelik na verskillende dele van die aarde verstrooi. Hulle het egter hulle opstandige godsdiensidees met hulle saamgeneem.

Hoe vergelyk dit met die huidige teorieë van geleerdes?

Eerstens: Die Encyclopedia Americana sê: “Geleerdes is dit feitlik almal eens dat die vroegste beskawing waarvan ons weet onder die Sumeriërs in Mesopotamië ontstaan het.” In ’n artikel in Scientific American stem dr. Gideon Sjoborg saam en sê: “Sover ons weet, het die wêreld se eerste stede vorm aangeneem . . . in die Vrugbare Boog, waarvan die oostelike deel Mesopotamië insluit.” Wetenskaplikes meen gevolglik dat die mensdom begin het om groot stede te bou in ongeveer dieselfde gebied waar die Bybel sê hulle begin het.

Tweedens: Die name en ligging van die meeste van daardie stede wat volgens die Bybel deur Nimrod gebou is, is aan argeoloë bekend.

Derdens: Dit is bekend dat die inwoners van Mesopotamië groot torings vir godsdiensdoeleindes gebou het. Hulle het dit ziggoerats genoem. Die toring waarna daar in Genesis hoofstuk 11 verwys word, is natuurlik nie voltooi nie. Maar argeoloë het talle voltooide torings ontdek wat waarskynlik soortgelyk was.

Vierdens: Die naam “Nimrod” is nog nie in ander geskrifte benewens die Bybel gevind nie, maar party ensiklopedieë assosieer dit met die naam van die vernaamste Babiloniese God, Mardoek. Die letters “MRD” wat in albei name voorkom, is skynbaar die wortel of sinvolle deel van albei woorde. As hierdie assosiasie korrek is, is Nimrod mettertyd as ’n god aanbid net soos die keisers van Rome en die farao’s van Egipte later as gode aanbid is.

Daar is natuurlik perke aan die dinge wat argeoloë omtrent gebeure van lank gelede kan ontdek. Baie van die ruïnes wat hulle oopgrawe, is in ’n swak toestand, en dit is moeilik om hulle korrek te vertolk. ’n Magdom belangrike getuienis is ongetwyfeld vir ewig verlore. ’n Bybelstudent maak gevolglik nie op die argeologie staat om te bewys dat die Bybelverslag waar is nie.a Dit is nietemin opmerkenswaardig dat hierdie wetenskap die algemene trekke van die gebeure wat in die Bybel opgeteken is, bevestig het.

Dit is ook opmerkenswaardig dat hierdie antieke geskiedenis ons help om aspekte van die hedendaagse godsdienstoneel van die wêreld te verstaan. Hoe? Omdat die inwoners van Mesopotamië baie godsdienstig was na daardie oorspronklike opstand. Hulle het geglo dat die mens ’n geestelike deel het wat na die dood voortlewe. Hulle het vas geglo aan duiwels. Hulle het beelde gebruik. Hulle het waarsêery en sterrewiggelary beoefen, en hulle het selfs triades gode gehad. Dit is ’n paar van die opvattings wat vandag deur so baie gehuldig word.

Beteken dit dat die godsdiens van antieke Mesopotamië versprei en gelowe rondom die wêreld beïnvloed het? Baie geleerdes het daardie gevolgtrekking gemaak. In Handbooks of the History of Religions het prof. Morris Jastrow gepraat van “die diep indruk wat die merkwaardige verskynsels van godsdiensdenke in Babilonië op die antieke wêreld gemaak het”.

In die boek The Worship of the Dead het kol. J. Garnier geskryf: “Nie alleen die Egiptenare, Chaldeërs, Feniciërs, Grieke en Romeine nie, maar ook die Hindoes, Boeddhiste, . . . die Gote, Angel-Saksers, Druïdes, Mexikane en Peruane . . . moes almal hulle godsdiensopvattings van ’n gemeenskaplike bron en ’n gemeenskaplike sentrum gekry het. Oral vind ons die verbasendste ooreenkomste in die ritusse, seremonies, gebruike, tradisies en in die name en verhoudings van hulle besondere gode en godinne.” Toe daardie vroeë Babiloniërs gedwing is om om die aarde te trek, het hulle klaarblyklik hulle godsdiensidees saam met hulle na hulle nuwe tuistes geneem.

Maar kan hierdie inligting ons vandag help om die regte geloof te vind?

[Voetnoot]

a Kyk die boek Is die Bybel werklik die Woord van God?, uitgegee deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap, vir verdere goeie redes waarom die Bybel as die waarheid aanvaar moet word.

[Prent op bladsy 4]

ANTIEKE BABILON

Maja-piramide

Hindoe-drie-eenheid

Christendom se drie-eenheid

Mariaverering

Vooroueraanbidding

[Lokteks op bladsy 5]

Triades gode. Die gebruik van beelde. Sterrewiggelary. Die bestaan van onsigbare geeste. ’n Geestelike deel van die mens wat na die dood voortlewe. Hierdie opvattings kom algemeen voor in gelowe in die meeste lande

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel