Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 5/1 bl. 4-6
  • Die maagdelike geboorte—Kan jy dit glo?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Die maagdelike geboorte—Kan jy dit glo?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wetenskaplik moontlik?
  • Godsdienstige toevoegsels
  • Was Jesus ’n Godmens?
  • Die maagd Maria – Wat sê die Bybel oor haar?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Die maagdelike geboorte—Feit of verdigsel?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Maria (Jesus se moeder)
    Redenering uit die Skrif
  • Wat ons uit Maria se voorbeeld kan leer
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 5/1 bl. 4-6

Die maagdelike geboorte—Kan jy dit glo?

INDIEN Jesus, die Seun van God, waarlik uit ’n maagd gebore is, moet jy saamstem dat dit inderdaad ’n geskiedkundige wonderwerk was. Maar kan jy glo dat dit plaasgevind het? Het dit hoegenaamd enige invloed op jou lewe?

Party van diegene wat nie aan die maagdelike geboorte glo nie, sê dat dit in stryd met die wetenskap en die “natuurwette” is. Dink wetenskaplikes so? Het onlangse ontdekkings op die gebied van die genetika enige lig op die saak gewerp?

Wetenskaplik moontlik?

Voortplanting sonder ’n man staan bekend as partenogenese [Grieks, parthenos wat “maagd” beteken plus “genesis”]. Wetenskaplikes het onlangs geslaagde eksperimente met partenogenese in soogdiere uitgevoer. The Economist van 1 Augustus 1981 berig: “Embrionale ontwikkeling in die afwesigheid van saadselle is die natuurlike voortplantingsmetode by talle laer dierespesies. . . . Partenogenese word met behulp van laboratoriummuise bestudeer. Daar bestaan verskeie metodes om ’n onbevrugte muiseier kunsmatig te aktiveer.”

Dr. M. B. V. Roberts van Marlborough College, Engeland, het eweneens geskryf: “’n Onbevrugte eier is uit ’n konynwyfie gehaal, geaktiveer deur dit te prik en toe in die uterus teruggesit. Die wyfie het toe reeds hormoonbehandeling ontvang sodat haar uteruswand voorbereid was vir inplanting. Normale ontwikkeling het gevolg, en ’n uiterlik normale kleintjie is gebore.”

Moet ons hieruit aflei dat God Maria se swangerskap op ’n soortgelyke wyse met ’n onbevrugte eiersel bewerk het? Nee. Uit die meegaande tabel kan jy sien waarom nie. As Maria se eersgeborene albei chromosome (X) van haar ontvang het, sou die kind noodwendig ’n dogter gewees het.

Jesus se ontvangenis moes dus meer behels het. Die engel het vir Josef verduidelik presies wat dit was: “Wat in haar verwek is, is uit die Heilige Gees” (Mattheüs 1:20). Ons weet nie hoe dit presies gedoen is nie. Maar ons moet erken dat indien ’n blote mens die bevrugtingsproses tot ’n mindere mate in die laboratorium kan manipuleer, dit beslis nie bo die vermoë van die Skepper en Lewegewer van die heelal is om dit te doen en die lewenskrag van sy Seun uit die hemele na die eiersel van ’n maagd oor te plaas nie.

Godsdienstige toevoegsels

Maar soos ons reeds gemeld het, het party ’n ander beswaar teen die maagdelike geboorte. Dit staan in verband met godsdienstige toevoegsels tot die Bybelverslag wat deur die eeue heen ontwikkel het. Dit wil voorkom of die Rooms-Katolieke en Ortodokse Kerk nie geneë was om te erken dat Maria geen besondere plek in die Christengemeente beklee het nadat sy haar rol vervul het deur die Seun van God in die wêreld te bring nie. Deur die eeue heen het hulle stappe gedoen om haar so te verhoog dat sy amper gelyk is aan hulle sogenaamde Drie-enige God.

In die jaar 533 G.J. het die Tweede Konsilie van Konstantinopel verklaar dat Maria “ewig Maagd” is, wat sou beteken dat sy nooit met haar man Josef geslagsomgang gehad het of kinders by hom gehad het nie. In 1854 het pous Pius IX die Onbevlekte Ontvangenis van Maria geproklameer. Daardie leerstelling sê dat sy bewaar is van alle sonde wat van Adam geërf word; trouens, sy kon nie sondig nie. In 1950 het pous Pius XII dit ’n geloofsartikel gemaak dat Maria, aan die einde van haar menslike lewe, liggaamlik hemel toe opgevaar het. En sedert 1950 wonder die Vatikaan of die maagd Maria hoegenaamd gesterf het.

Ondanks amptelike Kerkleer kan ons dit wel in twyfel trek of Maria na Jesus se geboorte “ewig maagd” gebly het. Of het sy na Jesus se geboorte ander kinders vir Josef gebaar? Maak dit saak? Ja, as die waarheid saak maak. Wat sê die Skrif dan?

Mattheüs sê Josef “het [Maria] nie beken totdat sy haar eersgebore Seun [Jesus) gebaar het nie” (Mattheüs 1:25). Waar die Katolieke uitgawe van die Revised Standard Version, wat deur die Catholic Truth Society, Londen, uitgegee is, kommentaar lewer oor die betekenis van “totdat” sê dit: “Dit beteken slegs dat Josef niks met Jesus se ontvangenis te doen gehad het nie. Dit sinspeel geensins op wat daarna gebeur het nie.”

Maar daar is geen grond in die Skrif om aan te neem dat niks daarna gebeur het nie en dat Josef en Maria nooit ’n normale huwelik gehad het nie. Geen profesie het selfs op so iets gesinspeel nie en geen goddelike vereiste het dit nodig gemaak nie. Hulle intieme lewe saam en enige kinders wat as gevolg daarvan gebore is, het hoegenaamd niks te doen met Jesus se aardse bediening of sy daaropvolgende bedrywighede in die hemel nie. Trouens, in plaas daarvan om die gedagte te steun dat Maria ewig maagd was, sê die Evangelies dat Jesus Maria se eersgeborene was en dat hy halfbroers en halfsusters gehad het. Markus skryf dat Jesus in sy tuisdorp, Nasaret, in die sinagoge gepreek het vir mense wat hom herken het. Die meeste was verbaas oor Jesus se leer en het gesê: “Is Hy nie die timmerman, die seun van Maria, en die broer van Jakobus en Joses en Judas en Simon nie? En is sy susters nie hier by ons nie?”—Markus 6:2, 3; Lukas 2:7.

Katolieke teoloë sê dat hierdie ‘broers en susters’ in werklikheid neefs en niggies was. Die New Catholic Encyclopedia (DI. 9, bl. 337) erken egter dat “die Griekse woorde . . . wat gebruik word om die verwantskap tussen Jesus en hierdie familielede aan te dui, die betekenis van volle bloedbroer en -suster het”. Dit is die woorde adelphos en adelphé. Maar die woord vir neef is anepsios en vir bloedverwante, syggenon (Kolossense 4:10; Lukas 1:36). Daar bestaan geen gegronde rede om te dink dat die Evangelieskrywers hierdie woorde met mekaar verwar het nie. (Vergelyk Markus 6:4; Lukas 14:12.) Daar bestaan ook geen rede om te loën dat Josef en Maria na Jesus se geboorte ’n gesin gehad het nie.

Was Jesus ’n Godmens?

’n Latere toevoegsel tot die eenvoudige Bybelverslag oor die maagdelike geboorte is dat die baba wat gebore was nie heeltemal mens was nie, maar ’n inkarnasie. Die tweede “Geloofsartikel” van die Anglikaanse Kerk lui dus: “ . . . die goddelike natuur en die menslike natuur is in een Persoon saamgevoeg om nooit verdeel te word nie, waarvan daar een Christus is, waarlik God, en waarlik Mens.”

Kerke wat die Drie-eenheid verkondig, glo dat Jesus albei nature gehad het toe hy op aarde was. Maar die Bybel steun nie so ’n gedagte nie. Die apostel Paulus sê van Jesus: “Aangesien die kinders dan vlees en bloed deelagtig is, het Hy dit ook op dieselfde manier deelagtig geword . . . Daarom moet Hy in alle opsigte aan sy broeders gelyk word” (Hebreërs 2:14, 17). Hoe kon hy “in alle opsigte aan sy broeders gelyk” wees as hy ’n Godmens was? Paulus het aan die Filippense geskryf oor “Christus Jesus . . . wat in die gestalte van God was, . . . maar . . . die gestalte van ’n dienskneg [aangeneem het] en aan die mense gelyk geword” het (Filippense 2:5-7). Hierdie hemelse Seun van God het hom dus heeltemal van “die gestalte van God” ontledig om ’n menslike natuur aan te neem en ’n mens te word. Ons sal nou bespreek presies waarom hy ten volle mens moes wees en nie ’n Godmens nie, asook wat die implikasies van die maagdelike geboorte is.

[Diagram op bladsy 5]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

’n Vrou se eiersel bevat twee X-chromosome. Die manlike saadsel bevat ’n X en ’n Y. Elke ouer voorsien een chromosoom. As twee X’e verbind, word ’n dogter voortgebring. As ’n X en ’n Y verbind, sal die kind ’n seun wees.

Partenogenese wat in die laboratorium veroorsaak is, laat ’n vroulike eiersel verdeel en groei, en daarom moet die resultaat (XX) vroulik wees.

Sulke partenogenese kon nie in Maria se geval plaasgevind het nie, want haar eersgeborene (Jesus) was ’n seun. Aangesien sy ’n maagd was, moes die Y-chromosoom wonderdadig voorsien gewees het, soos die Bybel toon.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel