Die maagdelike geboorte—Feit of verdigsel?
DIE meeste mense ken die Bybelverslag oor hoe Jesus uit ’n maagd gebore is. Maar nie almal glo dit nie. Dink jy dat die maagdelike geboorte redelik is? Maak dit saak of jy dit glo of nie?
Onder die persone wat die Bybelverslag verwerp, is daar diegene wat ’n maagdelike geboorte as biologies onaanvaarbaar beskou. Maar party van hierdie persone oordink miskien opnuut hulle posisie as gevolg van huidige wetenskaplike verwikkelinge op die gebied van genetiese manipulasie. Is dit moontlik dat so iets ’n rol gespeel het by die maagdelike geboorte van Jesus?
Ander persone word gehinder deur al die stories wat die Roomse en Ortodoks-Katolieke Kerk by die eenvoudige Bybelverslag oor die maagdelike geboorte aangelas het. Die verheffing of verering van die maagd Maria het die hele verhaal vir party bederf.
En nog ander beskou die gedagte van die maagdelike geboorte as effens onsmaaklik. Hulle dink: ‘As God almagtig is, hoef hy tog sekerlik nie van so ’n metode gebruik te maak om sy doel te bereik nie.’ Hulle beskou die maagdelike geboorte miskien bloot as ’n gelykenis.
Ons sal elk van hierdie sienings bespreek en kyk hoe die saak ons lewe en opvattings kan raak. Maar eers sal dit goed wees om kortliks te kyk na wat die Bybel inderdaad oor die maagdelike geboorte sê.
Wat die Bybel inderdaad sê
Daar is twee verslae, albei deur intelligente manne wat gelewe het toe Jesus op aarde was. Die een is gepas deur ’n geneesheer, Lukas, geskryf. Die ander is geskryf deur Mattheüs, ’n man wat gewoond was aan die dissipline om met rekeninge te werk en wat deur Jesus as een van sy twaalf apostels gekies is.
Mattheüs se verslag vestig die aandag op die rol van Josef, “die man van Maria uit wie gebore is Jesus” (Mattheüs 1:16). Hoofstuk 1, vers 18, verduidelik dat Maria, ’n maagd, swanger geraak het voordat sy met haar verloofde, Josef, getrou het. Toe Josef, ’n ‘regverdige’ man, hiervan te hore kom, het hy hom voorgeneem om in die geheim van Maria te skei om haar nie aan openbare skande bloot te stel nie. Maar God het hom laat weet dat die bevrugting deur die heilige gees geskied het en dat hy Maria vir ’n spesiale rol as die moeder van die Verlosser gekies het. Met daardie versekering het Josef Maria huis toe geneem, maar “hy het haar nie beken totdat sy haar eersgebore Seun gebaar het nie”.—Mattheüs 1:25.
Lukas weer beskryf sake uit Maria se oogpunt. Die wesenlike feite is dieselfde, maar hy verstrek besonderhede oor die gesprek tussen Maria en die engel wat vir haar vertel het van die voorreg van moederskap wat haar aangebied is. Maria het verbaas geantwoord: “Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie?” Vir haar het dit ongelooflik geklink, net soos dit miskien vir jou klink. Die engel het toe vir haar verduidelik dat die bevrugting wonderdadig sou geskied deur middel van die heilige gees, deur die krag van die Allerhoogste, wie se seun die kind gevolglik sou wees. Maria het die eer geredelik aanvaar en het mettertyd die lewe geskenk aan ’n seun, Jesus.—Lukas 1:26-38.
Die Bybel sê betreklik min oor Maria na Jesus se geboorte. Sy word ’n paar keer in verband met hom gemeld, maar daar is geen aanduiding dat sy ’n prominente plek onder die dissipels beklee het nie. Sy het beslis geen invloed oor Jesus gehad nadat hy grootgeword het nie. Hy moes haar en ander soms hieraan herinner (Johannes 2:4; Mattheüs 12:46-50). Hy het haar nietemin liefgehad. Selfs toe hy besig was om te sterf, het Jesus die apostel Johannes beveel om vir haar te sorg.—Johannes 19:26, 27.
Maria was ook onder die dissipels na Jesus se opstanding en was waarskynlik teenwoordig toe omtrent 120 op Pinkster met heilige gees vervul is (Handelinge 1:13, 14; 2:1-4). Maria se rol tydens haar latere jare was duidelik dié van ’n getroue, nederige dissipel, sonder enige sweem van vernaamheid, gesag of spesiale aansien.
Noudat ons gekyk het na wat die Bybel oor die maagdelike geboorte te sê het, kan ons die vrae bespreek wat in baie se gedagtes ontstaan, naamlik of dit wetenskaplik aanvaarbaar of selfs redelik geloofwaardig is.