“Wedergeboorte”—Die mens se aandeel en God se aandeel
“Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.”—1 Johannes 3:9.
1, 2. Wat het ons geleer (a) in verband met die bestemmings van gereddes? (b) in verband met die rede waarom Jehovah sekeres “weer gebore” laat word?
IN DIE voorgaande artikels het ons gesien dat miljoene sogenaamde Christene bely dat hulle “weer gebore” is. Ons het ook uit die Skrif gesien dat hoewel daar slegs een redding is—gegrond op geloof in Christus se losprysoffer—daar twee verskillende bestemmings is wat op hierdie geredde groepe wag, ’n hemelse bestemming en ’n aardse bestemming.
2 Ons het ook geleer dat Jesus Christus, na sy doop in die Jordaan, weer gebore is. Toe het Jehovah God heilige gees in die vorm van ’n duif op Jesus laat neerdaal en terselfdertyd erken dat Jesus sy geesverwekte Seun is. Verder het ons gesien met watter doel Jehovah gereël het dat Jesus weer gebore is, naamlik sodat hy na sy dood en opstanding die glorieryke, magtige Koning van God se koninkryk kon word. Ons het ook gesien dat dit Jehovah se wil is dat Jesus Christus medeheersers moet hê en dat hulle ook “weer gebore” moet word.—Mattheüs 3:13-17; Johannes 1:12; 3:3; Hebreërs 10:5-10; Openbaring 20:6.
3. Hoe verskil Jesus se Koninkryksdeelgenote van hom wat hulle “wedergeboorte” betref?
3 Wanneer word hierdie gesalfde volgelinge van Jesus Christus “weer gebore”? Watter stappe moet hulle doen voordat Jehovah ten behoewe van hulle optree en hulle as geestelike seuns voortbring? Omdat God sy Vader was, is Jesus as ’n volmaakte mens gebore. Dertig jaar later het sy Vader hom as ’n geestelike Seun voortgebring deur hom “weer gebore” te laat word. Maar al Adam se nakomelinge is gebore sondaars, ‘vervreemd en inderdaad vyande van God omdat hulle verstande op bose werke gerig is’. Gevolglik is hulle nie in ’n toestand waar Jehovah met hulle kan handel en hulle as geestelike seuns kan voortbring nie.—Psalm 51:7; Kolossense 1:21, NW.
Die mens se aandeel: Ses belangrike stappe
4, 5. (a) Hoeveel stappe moet voornemende dissipels doen voordat God dit sal oorweeg om hulle as geestelike seuns te verwek, en van wie anders word hierdie stappe ook vereis? (b) Wat is die eerste stap?
4 Watter stappe word van voornemende dissipels verwag voordat Jehovah dit sal oorweeg om hulle as geestelike seuns te verwek? Daar is ses afsonderlike stappe wat hulle moet doen. Maar hou in gedagte dat God hierdie selfde stappe van almal vereis wat ware Christene wil word en redding wil verkry, ongeag of hulle uiteindelike beloning ’n hemelse of ’n aardse sal wees.
5 Sulke persone moet allereers juiste kennis verkry omtrent Jehovah God, hulle Skepper en Lewegewer, en omtrent sy Seun, Jesus Christus, hulle Verlosser en Vrykoper (Psalm 36:10; 100:3; Mattheüs 20:28; Romeine 10:13-15). In Jesus se gebed tot God gedurende sy laaste nag as ’n mens op aarde, het hy die belangrikheid van hierdie stap só beklemtoon: “Dit is die ewige lewe, dat hulle U ken, die enige waaragtige God, en Jesus Christus wat U gestuur het.”—Johannes 17:3.
6. Wat is die tweede stap wat hulle moet doen?
6 Maar kennis op sigself is nie genoeg nie. ’n Mens moet geloof beoefen, soos ons ook lees: “So liefhet God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo [geloof beoefen], nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Ja, soos die apostel Paulus so duidelik toon, is dit “sonder geloof . . . onmoontlik om God te behaag”. Hierdie geloof beskou God se beloftes as ’n werklikheid, as so te sê vervul. Dit beteken meer as om bloot te glo dat iets of iemand bestaan, want die dissipel Jakobus herinner ons daaraan dat selfs die duiwels glo en tog sidder, en verder dat ‘die geloof sonder die werke dood is’.—Johannes 3:16, vgl. NW; Hebreërs 11:1, 6; Jakobus 2:19, 26.
7. Wat is die heel eerste werk wat vereis word as bewys dat iemand geloof het?
7 Die heel eerste werk wat vereis word as bewys van ’n persoon se geloof is berou. Ja, ’n persoon moet berou hê oor sy verkeerde lewenswandel en moet ophou om geredelik sonde te doen. Toe Jesus begin preek het, het hy gesê: “Toon berou, want die koninkryk van die hemele het naby gekom” (Mattheüs 4:17, NW). As iemand berou het oor sy verkeerde lewensweg, moet hy ophou om daardie weg te bewandel. Hy moet innig spyt en bedroef wees daaroor. Trouens, dit is ook ’n noodsaaklike vereiste vir almal wat eendag op die paradysaarde wil lewe, want God “verdelg al die goddelose”.—Psalm 145:20.
8. Watter stap moet volg nadat iemand berou gehad het oor sy sondes?
8 Dit is egter nie genoeg om bloot op te hou doen wat sondig is nie. ’n Persoon moet ’n verdere stap doen, naamlik bekering. Dit beteken dat hy moet omdraai en vooruitgang moet maak in die teenoorgestelde rigting. Hy moet ag slaan op die raad wat Petrus aan die Jode in sy dag gegee het: “Kom dan tot inkeer en bekeer julle, sodat julle sondes uitgewis kan word.” Ja, doen werke wat by berou pas’ (Handelinge 3:19; 26:20, NW). Dat hierdie stap selfs vereis word van diegene wat hoop om vir ewig op aarde te lewe, blyk uit die woorde in Spreuke 2:20, 21.
9. (a) Watter twee verdere stappe word van hulle vereis, soos trouens van almal wat volgelinge van Jesus wil word? (b) Waarvan was Jesus se doop ’n simbool?
9 Net soos Jesus homself by die Jordaan aangebied het om sy Vader se wil te doen, so moet almal wat graag volgelinge van Jesus Christus wil word, ongeag watter hoop hulle koester, hulleself vervolgens vir God aanbied. Vandag sluit dit toewyding aan Jehovah God in, waarna hulle die voetspoor van sy Seun, Jesus, moet volga (Lukas 9:23). Verder moet hulle, as ’n sesde stap, hierdie toewyding simboliseer en ’n openlike belydenis daarvan doen deur soos Jesus waterdoop te ondergaan.—Mattheüs 28:19; vergelyk Handelinge 2:41.
Jehovah God se allerbelangrikste aandeel
10. Watter illustrasie toon dat meer as die mens se aandeel nodig is voordat iemand “weer gebore” kan word?
10 Kennis van Jehovah God en Jesus Christus, geloof, berou, bekering, toewyding en doop—lei hierdie stappe outomaties tot “wedergeboorte”? Glad nie! Jy kan net so min deur jou eie pogings geestelik “weer gebore” word as wat jy in die eerste plek deur jou eie pogings gebore kon word. Net soos menslike ouers ’n aktiewe rol by fisiese geboorte vervul, so vereis hierdie geestelike geboorte, hierdie “wedergeboorte”, ’n aktiewe rol deur die goddelike Ouer, Jehovah God, en sy hemelse organisasie, of “vrou” (Jesaja 54:1, 5, NW). Die persoon wat die voormelde stappe doen, kan maar net sorg dat hy voldoen aan die vereistes om “weer gebore” te word, as dit God se wil is.
11. Wat doen God vir diegene wat hulle deel gedoen het, indien dit sy wil is?
11 Weens die mensdom se oorgeërfde onvolmaaktheid tree God nou self op ten behoewe van diegene wat hy, na sy welbehae, tot die hemelse koninkryk roep. Dit is waarom ons lees: “Ons [is] as gevolg van geloof regverdig verklaar.” Geloof waarin? Geloof in Christus se offerande, want daar is geskrywe: “Ons [is] nou deur sy bloed regverdig . . . verklaar” (Romeine 5:1, 9, NW). Let daarop dat dit God is en nie die persoon self nie wat die betrokke individu aldus amptelik regverdig verklaar. Hy beklee nou ’n ander posisie as “die skepping”, die algemene mensdom wat moet wag op “die openbaarmaking van die [geestelike] kinders van God” voordat hulle “vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die [aardse] kinders van God” (Romeine 8:19-22). Diegene wat deur God regverdig verklaar word, ontvang dus die reg tot volmaakte menslike lewe. Om hierdie rede kan Jehovah God nou deur middel van sy gees regstreeks op hulle inwerk.—Romeine 8:33.
12. Watter verskynsel het met Jesus en die vroeë dissipels se “wedergeboorte” gepaard gegaan, en waarom het dit opgehou?
12 God bring nou diegene wat hy regverdig verklaar het as sy geestelike kinders voort. Hoe? Deur middel van sy heilige gees, of werkende krag, wat hy ten behoewe van hulle in werking stel sodat hulle “weer gebore” word. In die geval van Jesus sowel as in die geval van sy dissipels wat op Pinksterdag byeen was, het God deur middel van ’n bonatuurlike verskynsel aangedui dat hy hulle as geestelike seuns voortgebring het. Maar toe die ware Christelike godsdiens eers behoorlik gevestig was, was sulke verskynsels nie meer nodig nie en het hulle ‘opgehou’.—Mattheüs 3:16; Handelinge 2:3; 10:44-48; 1 Korinthiërs 13:8-10.
13. Waarop het die “water” en die “Gees” betrekking? (Johannes 3:5).
13 Jesus het na hierdie reëling vir geestelike wedergeboorte verwys toe hy vir die Joodse owerste Nikodemus gesê het: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie” (Johannes 3:1, 5-7). Die water wat hier gemeld word, het ongetwyfeld betrekking op die letterlike doopwater. En die gees? Op Jehovah se heilige gees wat op die persoon inwerk.
14. Hoe word hierdie Christene “geroep” en “uitverkies”, en vir watter werk word hulle gesalf?
14 Die Skrif sê dat diegene wat “weer gebore” word eers “geroep” word. Hierdie roeping is ’n uitnodiging wat God self tot hulle rig om deelgenote van Jesus Christus te wees. Die wat hierdie uitnodiging aanneem, word “uitverkies” (Openbaring 17:14, NTP). Hulle word deel van die “uitverkore” gemeente, wat die opdrag het om “te verkondig die deugde” van Jehovah God (1 Petrus 2:9). Soos Jesus word hierdie “wedergebore” Christene met God se heilige gees gesalf om te preek. Daarom lees ons: “Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God.”—Jesaja 61:1, 2; Lukas 4:16-21; 2 Korinthiërs 1:21.
15. Hoe getuig die gees dat iemand “weer gebore’’ is, en hoe word die persoon gesterk in daardie oortuiging?
15 Die apostel Paulus het aangaande hierdie ‘uitverkorenes’ gesê: “Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is” (Romeine 8:16). Hoe doen God se heilige gees dit? Deur die hemelse hoop by hierdie Christene in te plant. “Na sy grote barmhartigheid [het God] ons die wedergeboorte geskenk . . . tot ’n lewende hoop deur die opstanding van Jesus Christus uit die dode, sodat ons ’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons” (1 Petrus 1:3, 4). Terwyl hierdie persone ’n goeie verhouding met hulle hemelse Vader bewaar, sterk hy hulle in die oortuiging dat hulle inderdaad “wedergebore” Christene is.
Hoe kan ’n mens seker wees?
16. Van wanneer af plaas die “getroue en verstandige dienskneg” die klem op die aardse hoop, en tot watter gevolgtrekking lei dit ons?
16 Diegene wat vandag deelneem aan die verkondiging van hierdie goeie nuus van die Koninkryk is vol vertroue dat Jehovah God sy knegte deur middel van sy sigbare, geesverwekte organisasie, die “getroue en verstandige dienskneg”, lei (Mattheüs 24:45-47). Onder die leiding van hierdie “dienskneg” is die hemelse hoop tot ongeveer die jaar 1935 aan mense voorgehou en beklemtoon. Toe het daar ‘lig opgegaan’ wat die identiteit van die “groot menigte” van Openbaring 7:9 duidelik geopenbaar het en het die klem op die aardse hoop begin val (Psalm 97:11, vgl. NW). Dit is dus redelik om aan te neem dat die 144 000 teen daardie tyd byna voltallig was. Individue wat ontrou geword het, sou natuurlik vervang moes word. Maar daar sou begryplikerwys min sulkes wees. En deur wie sou hulle vervang word? Dit lyk ook redelik om aan te neem dat hierdie hemelse hoop eerder aan persone geskenk sou word wat in hulle onkreukbaarheid volhard het, wat deur die jare heen aan hulle toewyding getrou gebly het, as aan onlangs toegewyde persone wat nog nie hulle getrouheid bewys het nie. (Vergelyk Lukas 22:28-30.) Volgens berigte wat ontvang is, wil dit egter voorkom of selfs sommige pastoegewyde Christene meen dat hulle “weer gebore” is.
17. Watter sienswyses of gevoelens laat sommige verkeerdelik dink dat God die hemelse hoop in hulle geplant het?
17 Enigiemand wat maar betreklik onlangs eers toegewy en gedoop is en wat meen dat hy “weer gebore” is, kan gerus ernstig nadink oor die volgende vrae: Watter redes het jy om te dink dat Jehovah God hierdie hoop in jou geplant het? Kan dit wees dat jou emosionele gevoel ’n oorblyfsel is van die verkeerde opvatting wat jy voorheen gehuldig het toe jy nog in Babilon die Grote was, naamlik dat alle goeie mense hemel toe gaan? Of kan dit wees dat jy so voel omdat jy ’n groot innerlike worsteling gehad het, dat jy aanvanklik teen die idee gestry het maar dat dit mettertyd die oorhand gekry het? Het dit egter die oorhand gekry omdat jy dit graag so wou hê, miskien selfs onbewustelik? Sulke worstelinge bewys nie op sigself dat jy “weer gebore” is nie.
18. Waarom sou waardering vir diep geestelike sake nie op sigself bewys dat ’n persoon “weer gebore” is nie?
18 Of dink jy dat jy deur God gekies is om een van die 144 000 gesalfdes te wees weens jou innige waardering vir geestelike dinge, weens jou liefde vir diep geestelike waarhede? Let dan daarop dat talle wat nie bely dat hulle “weer gebore” is nie in die volste sin van die woord ‘geestelike mense’ is (1 Korinthiërs 2:14, 15). En daar bestaan geen twyfel oor die geestelike krag van die manne en vroue van geloof wat in Hebreërs hoofstuk 11 gemeld word nie. Nie een van hulle is “weer gebore” nie. Hulle het almal uitgesien na “’n beter opstanding [tot lewe onder God se koninkryk]” hier op hierdie einste aarde.—Hebreërs 11:35.
19. (a) Waarom sou groot ywer nie noodwendig bewys dat God aan iemand die hemelse hoop geskenk het nie? (b) Watter insident dui daarop dat dit weens ’n gebrek aan beskeidenheid kan wees dat sommige bely dat hulle die hemelse hoop het?
19 Of spruit jou beskouing moontlik uit die feit dat jy groter ywer aan die dag lê as sommige van jou mede-Christene? Maar dit kan nie op sigself die bepalende faktor wees nie, want die apostel Paulus het dit keer op keer nodig gevind om gesalfde Christene te vermaan om hulle geestelike verpligtinge ernstig op te neem (1 Korinthiërs 11:20-22; Galasiërs 4:9-11). Of kan jou belydenis dat jy een van die gesalfdes is moontlik toegeskryf word aan ’n gebrek aan beskeidenheid? Party wat heel onlangs verklaar het dat hulle tot die gesalfdes behoort, het byvoorbeeld gedink dat hulle hulle eie Bybelstudiegroep moet hê, in plaas daarvan om die eenheid in die gemeente te probeer opbou. Ryp, “wedergebore” Christene bly daarenteen na aan die plaaslike gemeente, al bestaan dit ook grotendeels uit lede van die “ander skape” (Johannes 10:16). “Wedergeboorte” is egter ’n persoonlike saak tussen God en elke Christen. Niemand kan ’n ander oor hierdie kwessie oordeel nie.—Romeine 14:10, vgl. NW.
20. Tot watter gevolgtrekking kom ons, in die lig van die voorgaande, oor die kwessie van “wedergeboorte”?
20 Watter gevolgtrekking maak ons uit al die voorgaande? Dat Jehovah God billik en regverdig, wys en liefdevol is. Hy het die reg om aan sy intelligente skepsele hulle onderskeie rolle toe te wys—party om sy voorneme in die hemele te vervul en ander om dit hier op aarde te doen. Dit is nie asof die hemelse prys iets is wat deur persoonlike keuse of inspanning verwerf of selfsugtig begeer moet word nie. Dit is uniek, en geen mens mag hom dit aanmatig nie. Dit is inderdaad ’n wonderlike, onverdiende gawe wat Jehovah God aan ’n paar van sy skepsele gee, ter bevordering van sy wyse, regverdige en liefdevolle voornemens, maar nie weens enige spesiale verdienste aan hulle kant nie. Die “wedergeboorte” is tot hierdie groep beperk (Romeine 3:23, 24; 11:33-36). Ewige lewe op die paradysaarde is ook ’n onuitspreeklike voorreg waarna regskape persone kan strewe (Openbaring 21:1, 3, 4). Dit is alles onverdiende goedheid. Niemand moet so vermetel wees om vir Jehovah te sê “Wat doen U” nie?—Daniël 4:35.
[Voetnoot]
a Aangesien Jesus reeds lid van ’n toegewyde nasie was, was sy nadering tot Jehovah en sy doop nie ’n simbool van sy toewyding nie, maar eerder van sy aanbieding van homself aan Jehovah om te begin met die spesiale werk wat God vir hom in gedagte gehad het.
[Prent op bladsy 28]
Net soos menslike ouers ’n aktiewe rol by fisiese geboorte vervul, so vereis “wedergeboorte” ’n aktiewe rol deur die Vader en sy hemelse “vrou”
[Prent op bladsy 29]
Babilon die Grote het baie persone laat glo dat alle goeie mense hemel toe gaan