Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 4/15 bl. 30
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Soortgelyke materiaal
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1985
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
  • Vrae van lesers
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Gelukkig is diegene wat God teregwys
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1981
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 4/15 bl. 30

Vrae van lesers

♦ Kan ek ’n onordelike persoon in die gemeente ‘teken’ wanneer ek dit nodig ag, of moet ek wag totdat die ouere manne ’n toespraak oor die probleem gehou het?

Om ’n ander Christen te ‘teken’, is ’n ernstige stap wat nie ligtelik gedoen moet word nie. Jy moet self besluit wanneer om hierdie stap te doen. Maar in die meeste gevalle moet die sondaar eers ‘geteken’ word nadat die ouere manne pogings aangewend het om die persoon te help, en nadat hulle uiteindelik ’n toespraak voor die gemeente gehou het oor die betrokke oortreding.

Toe die apostel Paulus aan die Thessalonicense geskryf en gesê het dat hulle lede van daardie gemeente moet ‘teken’, was sy teregwysing gemunt teen sekere persone wat ver afgewyk het van God se raad. Hulle was mense wat “onordelik wandel . . . [en] nie werk nie, maar bemoeisiek is” (2 Thessalonicense 3:6, 10-12). Ondanks die Skriftuurlike raad teen luiheid wou hierdie onordelikes nie werk nie en was hulle vir die res ’n swaar finansiële las (Spreuke 6:6-11; 10:4, 5; 12:11, 24, 27; 24:30-34; 26:13-16). Paulus het hulle handelwyse dus openlik afgekeur. Hy het verder beveel dat indien hulle nie gehoor wou gee aan hierdie streng raad wat voor die hele gemeente gegee is nie, hulle ‘geteken’ en vermy moes word, klaarblyklik op sosiale gebied.

Party wonder nou of hulle ’n persoon wat godvrugtige raad veronagsaam, kan ‘teken’, selfs al het die ouere manne nog nie ’n gemeentelike toespraak oor die sonde gehou nie. Dit kan dalk in uiters seldsame gevalle nodig wees. (Vergelyk 1 Korinthiërs 5:1, 2.) Maar daar is redes waarom dit in die meeste gevalle beter sou wees om nie ’n persoon te ‘teken’ alvorens die ouere manne besliste stappe gedoen het nie, waaronder ook die hou van ’n toespraak voor die gemeente.

Ten eerste, as onvolmaakte mense kan ons geneig wees om hierdie reëling te misbruik, om dit te gebruik as ’n vorm van straf vir geringe oortredings of persoonlike verskille. ln ’n gemeente is daar miskien ’n suster met ’n irriterende geaardheid. Sy ‘werk op ander se senuwees’ en hulle vind dit moeilik om met haar oor die weg te kom. Party susters kan gevolglik dink dat hulle haar moet ‘teken’ en moet vermy. Dit sou beslis nie strook met Jesus se liefdevolle raad dat ons barmhartig moet wees teenoor ons broers en susters en hulle tekortkominge en kleinere gebreke oor die hoof moet sien nie. Dink byvoorbeeld aan wat hy in die Onse Vader geleer het oor wanneer God ons ons skulde of oortredings sal vergewe. En Jesus het ons aangespoor om onenighede dadelik te probeer uitstryk (Mattheüs 5:23-25; 6:12). Dit sou dus verkeerd wees om ’n broer oor geringe persoonlike verskille of misstappe te ‘teken’.

Ten tweede, toe Paulus geskryf het dat sekeres ‘geteken’ moet word, was dit nie omdat hulle aan geringe afwykings rakende persoonlikheid, individuele smaak of private opinie skuldig was nie. Die ouere manne sal nie noodwendig betrokke raak by of raad gee oor sulke dinge nie. Maar soos Paulus moet hulle gou optree wanneer persone Bybelbeginsels ernstig skend (al is die sonde nog nie so ernstig dat hulle daarvoor uitgesit kan word nie). Die ouere manne moet daardie sondige of onordelike persone privaat raad gee. Soos ons in Galasiërs 6:1 lees: “As iemand ewenwel deur een of ander misdaad oorval word, moet julle wat geestelik is, so een reghelp met die gees van sagmoedigheid.”

As die ouere manne se herhaalde pogings om so ’n persoon privaat te help geen vrugte afwerp nie, kan hulle die saak bespreek en moontlik een van die ouere manne aanwys om ’n reguit, Skriftuurlike toespraak oor die saak voor die gemeente te hou. Hoewel hulle, soos Paulus, nie die persoon sal identifiseer nie, sal hulle teen die verkeerde denke of gedrag waarsku. Op hierdie manier sal die gemeente herinner word aan God se denke en sal hulle op hulle hoede gestel word sodat hulle nie “besmet” of mislei sal word nie. Dan kan Christene, ooreenkomstig Paulus se woorde, die onordelike persoon individueel ‘teken’ en ophou om met hom om te gaan. En aangesien die ouere manne openlike raad oor die saak gegee het, sal die sondaar verstaan waarom ander in die gemeente nie sy uitnodigings aanvaar om gesellig saam te verkeer nie.—2 Thessalonicense 3:13-15.

Oor die algemeen is dit dus verstandig om nie iemand te ‘teken’ alvorens die saak openlik deur die ouere manne gehanteer is nie, net soos Paulus ook openlik raad gegee het oor ’n ernstige aangeleentheid, waarna individue sy advies kon toepas en die persone kon ‘teken’. Deur sake so te beskou, sal ons die gevaar vermy om persone te ‘teken’ weens geringe misstappe of weens verskille in smaak of persoonlikheid. Dit toon ook eerbied vir die ouere manne as liefdevolle herders wat na die behoeftes van die kudde omsien.—1 Petrus 5:2.

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel