Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 4/15 bl. 20-24
  • Waarom God sommige “weer gebore” laat word

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom God sommige “weer gebore” laat word
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • God se voorneme met die aarde en die mens
  • Hoe God se oorspronklike voorneme verwesenlik gaan word
  • Waarom ander “weer gebore” word
  • ’n Volk vir Sy naam
  • God se oorspronklike voorneme het nie verander nie
  • Een redding—twee verwagtinge
  • “Wedergeboorte”—Die mens se aandeel en God se aandeel
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Wedergeboorte
    Redenering uit die Skrif
  • Waarom party weer gebore word
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Wat beteken dit om weer gebore te word?
    Antwoorde op Bybelvrae
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 4/15 bl. 20-24

Waarom God sommige “weer gebore” laat word

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie. Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie.”—Johannes 3:5, 7.

1, 2. (a) Wat moet ons te wete kom en verstaan voordat ons bevredigend kan verduidelik waarom God sommige “weer gebore” laat word? (b) Watter getuienis gee God se Woord oor sy regverdigheid, maar wat vereis sy regverdigheid nie van hom nie?

VOORDAT ons bevredigend kan verduidelik waarom God sommige “weer gebore” laat word, moet ons eers iets te wete kom en verstaan omtrent die basiese eienskappe van Jehovah God en sy voornemens met die aarde en die mens.

2 Die getuienis van God se Woord laat ons met geen twyfel dat regverdigheid een van God se vernaamste eienskappe is nie. Ja, geregtigheid is die grondslag van sy troon (Deuteronomium 32:4; Psalm 89:15). Die feit dat hy billik en regverdig is, verplig hom egter nie om identiese voorregte aan al sy intelligente skepsele te skenk nie. Hy het byvoorbeeld party wesens as geespersone of engele geskape wat ver bo mense verhewe is. Hy beloon ook nie al sy getroue aardse skepsele op dieselfde manier nie. Daarom het Jesus van Johannes die Doper gesê: “Die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy” (Mattheüs 11:11). Ons kan gerus hierdie feite in gedagte hou wanneer ons die “wedergeboorte” bespreek.

God se voorneme met die aarde en die mens

3. Watter heerlike vooruitsig het Adam en Eva gehad toe hulle geskape is?

3 Om te begryp met watter doel God sommige mense “weer gebore” laat word, is dit noodsaaklik dat ons die omstandighede verstaan wat meegebring het dat God aan party ’n “wedergeboorte” moes skenk. God het die volgende opdrag aan ons heel eerste ouers gegee: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor . . . al die diere wat op die aarde kruip” (Genesis 1:28). In hulle volmaakte staat was Adam en Eva kinders van God. Aangesien God hulle in ’n lieflike lushof met ’n groot verskeidenheid pragtige diere en blomme en heerlike vrugte geplaas het, het hulle inderdaad ’n geseënde lewenslot gehad. Namate hulle die aarde onderwerp en dit met hulle kroos gevul het, sou die hele aarde uiteindelik ’n paradys vol volmaakte mense word, net soos Adam en Eva volmaak was. Watter heerlike vooruitsig het hulle tog gehad!

4, 5. (a) Waarom het ons eerste ouers nie beantwoord aan God se doel met hulle skepping nie? (b) Deur wie het Jehovah dus gereël dat sy voorneme met die aarde en die mens vervul word?

4 Maar ons eerste ouers het nie waardering gehad vir al God se voorsienings nie en het sy wet oortree. Daarom het God hulle uit sy gesin van kinders verdryf en hulle ter dood veroordeel. Gevolglik is al hulle nakomelinge gebore as sondaars wat aan die dood onderworpe is (Genesis 3:19; Romeine 5:12). Nòg ons eerste ouers, nòg enige van hulle nakomelinge was in staat om God se oorspronklike opdrag aan die mens uit te voer. Beteken dit dat God se voornemens met die aarde en die mens nooit verwesenlik sal word nie? Glad nie, want God se Woord verseker ons dat sy voornemens nooit misluk nie.—Jesaja 46:10, 11; 55:10, 11.

5 Hoe sal God se oorspronklike voorneme met betrekking tot die aarde en die mens dan vervul word? Deur middel van ’n Saad, net soos God in die tuin van Eden voorspel en ook aan Abraham belowe het. Die apostel Paulus toon dat daardie Saad vernaamlik Jesus Christus is.—Genesis 3:15; 22:17, 18; Galasiërs 3:16, 29.

Hoe God se oorspronklike voorneme verwesenlik gaan word

6. Hoe het God die weg vir Adam se nakomelinge geopen om weer deel te word van God se gesin?

6 Hoe kan Jesus Christus daarvoor sorg dat God se oorspronklike voorneme verwesenlik word? Deur in die eerste plek die veroordeling te verwyder wat weens Adam se opstand op die mensdom gerus het. Jesus kon dit doen omdat hy as ’n volmaakte mens gebore is, met Jehovah God—nie Maria se man Josef nie—as sy Vader. Dit was deur sy offerdood aan die teregstellingspaal dat Jesus hierdie veroordeling weggeneem het. Trouens, een van die hoofredes waarom hy na die aarde gekom het, was om sy lewe as ’n losprys te gee. Sodoende het hy die weg vir Adam se nakomelinge geopen om weer deel te word van Jehovah se goedgekeurde gesin.—Mattheüs 20:28.

7. Op grond waarvan is Jesus as ’n geespersoon uit die dood opgewek?

7 Maar ’n dooie Vrykoper kon nie die mensdom help nie. Jehovah God het Jesus Christus derhalwe op die derde dag opgewek en hom aldus “lewend gemaak in die gees” (1 Petrus 3:18, NW). Jehovah het dit gedoen op grond van wat by die Jordaan gebeur het toe Jesus gedoop is. God het Jesus daar, deur middel van sy heilige gees, as ’n geesverwekte Seun voortgebring. Johannes die Doper het nie alleen gesien hoe God se gees in die vorm van ’n duif op Jesus neerdaal nie, maar het ook God se stem hoor sê: “Dit is my geliefde Seun in wie Ek ’n welbehae het.”—Mattheüs 3:16, 17; Hebreërs 10:5-10.

8. Tot watter amp is Jesus by die Jordaan gesalf en georden, benewens dat hy “weer gebore” is?

8 Op hierdie manier het Jesus nie alleen ’n geestelike Seun van God geword nie, maar ook die Messias, die Christus of Een wat gesalf is om die koning van God se koninkryk te wees. En hy is terselfdertyd georden as hoëpriester ten behoewe van die sterwende mensdom, sodat hy die sondelas kon verwyder (Hebreërs 7:26). Verder was die woorde van Jesaja 61:1, 2 nou op hom van toepassing: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ’n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis.” Jesus is toe deur die gees verwek, “weer gebore”. As God se geesgesalfde Seun het hy tot die dood toe getrou gebly, in weerwil van al Satan die Duiwel se pogings om Jesus sy onkreukbaarheid te laat verbreek. God het hom dus uit die dood opgewek.

9. Hoe en met watter doel het God Jesus ten volle toegerus weens sy getrouheid tot die dood toe?

9 Daarna “het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ’n naam gegee wat bo elke naam is” (Filippense 2:9-11). Daar was honderde getuies van die feit dat Jesus uit die dood opgewek is. Kort voor hy na sy Vader in die hemel teruggekeer het, het hy vir sy dissipels gesê: “Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde” (Mattheüs 28:18). Op grond van sy offerdood was hy nou ten volle toegerus met die reg om die mensdom te herstel, en op grond van sy opstanding en hemelvaart na die regterhand van God het hy ook die mag gehad om dit te doen (Lukas 22:69). Jesus Christus is dus nou in die posisie om toe te sien dat God se oorspronklike voorneme met betrekking tot die aarde en die mens verwesenlik word. Gevolglik is al die Messiaanse profesieë op hom van toepassing.—Kyk Psalm 72; Jesaja 9:5, 6; 11:1-10.

Waarom ander “weer gebore” word

10, 11. (a) Watter Skriftuurlike getuienis toon dat Jesus medeheersers in sy koninkryk sal hê? (b) Hoeveel sal in hierdie voorreg deel, en hoe weet ons dat die getal letterlik opgeneem moet word?

10 Sal Jesus Christus al hierdie dinge vingeralleen doen? Nee. Sal daar engele saam met hom in sy regering heers? Nee. Sy deelgenote in die vervulling van daardie Messiaanse profesieë sal persone wees wat voorheen mense op aarde was, net soos hy eens was. Maar voordat hulle deel kan hê in Christus se Koninkryksregering moet hulle eers, net soos hy, ‘weer gebore” word terwyl hulle nog op aarde is. Jehovah se gees werk op hulle in en bring hulle voort as geestelike seuns met die vooruitsig op ewige lewe in die hemele. As sodanig geniet hulle ’n spesiale, intieme verhouding met God, “die Gees van aanneming tot kinders, deur wie [hulle] roep: Abba, Vader!” (Romeine 8:15). Jesus het herhaaldelik hierdie hoop aan sy apostels voorgehou (Lukas 22:28-30; Johannes 14:2, 3). Die apostels het ook melding gemaak van hierdie hoop.—Romeine 8:17; 1 Korinthiërs 15:52, 53; 1 Johannes 3:2.

11 Hoeveel persone sal hierdie hemelse posisie ontvang? Volgens al die Skrifgedeeltes wat die onderwerp aanroer, sal betreklik min “weer gebore” word. Dit is wat ons sou verwag, aangesien dit ’n baie spesiale prys is, ’n hoogs bevoorregte amp. Jesus het van hulle gesê: “Moenie vrees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het ’n welbehae daarin gehad om aan julle die koninkryk te gee” (Lukas 12:32). Hoeveel sal daar presies wees? Die apostel Johannes sê dat hy 144 000 geestelike Israeliete gesien het wat op hulle voorhoofde verseël was, en ook 144 000 wat saam met die Lam Jesus Christus op die berg Sion staan. Dat ons hierdie getal letterlik moet opneem, blyk uit die verband wat ook vertel van ’n “groot menigte wat niemand kon tel nie”.—Openbaring 7:3, 4, 9; 14:1, 3; 20:4, 6.

’n Volk vir Sy naam

12, 13. Wat is Jehovah se huidige doel met hierdie toekomstige Koninkryksdeelgenote?

12 Jehovah God het egter ’n werk vir hierdie toekomstige konings en priesters in gedagte gehad terwyl hulle nog mense op aarde is. En wat is dit? Net soos Jesus gesalf is om “’n blye boodskap te bring aan die ootmoediges”, so is hulle gesalf om die evangelie of goeie nuus van God se koninkryk te verkondig (Jesaja 61:1, 2; Lukas 4:16-21; Handelinge 8:4, 12). Daarom het Jesus die volgende afskeidsbevel aan sy vroeë dissipels gegee: “Maak dissipels van al die nasies, en doop hulle” (Mattheüs 28:19). En net voor Jesus na die hemel opgevaar het, het hy vir sy 11 getroue apostels gesê dat hulle ‘sy getuies sou wees tot aan die uiterste van die aarde’—Handelinge 1:8.

13 Een van die hoofredes waarom God die “goeie nuus” in al die nasies laat verkondig, is “om ’n volk uit die heidene vir sy Naam aan te neem” (Handelinge 15:14). Aangesien God se naam Jehovah is, is hulle bekend as getuies vir Jehovah (Jesaja 43:10-12). Dit beteken nie dat hierdie gesalfde volgelinge van Jesus Christus die enigstes is wat die “goeie nuus” aan die ootmoediges vertel of wat dissipels maak en vir Jehovah God getuig nie. Nee, net soos Jehovah se wette in eertydse Israel ook vir die vreemdelinge in hulle midde gegeld het, so geld die bevele wat aan die geestelike Israeliete gegee word ook vir hulle metgeselle, die “groot menigte” “ander skape”.—Johannes 10:16; Openbaring 7:9.

14. Watter ander verpligting rus op hierdie gesalfde volgelinge van Jesus Christus?

14 Nog ’n verpligting wat op die gesalfde volgelinge van Jesus Christus rus, is dat hulle die vrug van God se gees moet voortbring, naamlik “liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing” (Galasiërs 5:22). Jesus het gesê dat sy ware volgelinge uitgeken sou word aan die liefde wat hulle teenoor mekaar toon (Johannes 13:34, 35). Dit is waarom die apostel Paulus vir hulle sê dat hulle “die oue mens [persoonlikheid] moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat [hulle] vernuwe moet word in die gees van [hulle] gemoed en [hulle] met die nuwe mens [persoonlikheid] moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid”. Die verdere woorde van die apostel dui aan hoe belangrik hierdie verpligting vir Christene is: “Ek kasty my liggaam en maak dit diensbaar, dat ek nie miskien, terwyl ek vir ander gepreek het, self verwerplik sou wees nie” (Efesiërs 4:22-24, vgl. NW; 1 Korinthiërs 9:27). Slegs deur tot die dood toe getrou te bly, kan die gesalfdes hoop om “die kroon van die lewe” te ontvang.—Openbaring 2:10.

God se oorspronklike voorneme het nie verander nie

15. (a) Watter fout begaan baie sogenaamde Christene met betrekking tot God se voorneme? (b) Die beklemtoning van watter hoop in die Christelike Griekse Skrifte het hiertoe aanleiding gegee?

15 Baie sogenaamde Christene begaan die fout om Jehovah se oorspronklik voorneme met betrekking tot die aarde en die mens te ignoreer. Sy Woord sê duidelik wat daardie voorneme was en is, en hy verseker ons dat hy nie verander nie (Genesis 1:28; Jesaja 45:18; Maleagi 3:6). Die Christelike Griekse Skrifte lê egter klem op Jehovah se verdere voorneme, wat ná die mens se sondeval aangekondig is, om ’n beperkte aantal mense op grond van Jesus se offerande te kies om medeheersers van sy Seun in die hemelse koninkryk te word (Genesis 3:15; 2 Timotheüs 4:7, 8, 18). Al hierdie persone moet inderdaad eers “weer gebore” word, net soos in die geval van Jesus Christus (Johannes 3:3). Maar God se voorsiening vir redding op grond van Christus se offerande is nie beperk tot diegene met ’n hemelse hoop nie. Dit blyk selfs uit die Christelike Griekse Skrifte.

Een redding—twee verwagtinge

16, 17. Watter tekste toon dat die voordele van Christus se offerande nie beperk is tot diegene met ’n hemelse hoop nie?

16 Jesus het sy volgelinge leer bid: “Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde” (Mattheüs 6:9, 10). As God se wil op die aarde moet geskied net soos in die hemel, moet daar regverdige mense wees wat op die aarde woon. Oor hulle word daar voorspel: “God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.” Dit kan nie na die hemel verwys nie, want daar was nog nooit droefheid, geween, moeite of dood daar nie.—Openbaring 21:3, 4.

17 Die woorde van die apostel Paulus in Romeine 8:19-21 dui aan dat daar twee groepe mense is wat by God se genadige voorsienings baat sal vind: “Want die skepping [een groep] wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van God [’n ander groep]. Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe—nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het—in die hoop dat ook die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God.” Uiteindelik sal almal wat redding ontvang weens hulle geloof in Christus se offerande dus die lewe geniet as kinders of seuns van God—144 000 wat “van die aarde vrygekoop is” tot lewe in die hemel en duisendmiljoene wat die ewige lewe op ’n aardse paradys sal geniet.—Openbaring 7:4, 9; 14:3; Mattheüs 25:31-34.

18, 19. (a) Wat toon dat die verwesenliking van God se voorneme met die aarde en die mens ophande is? (b) Watter individue maak God se koninkryk en die ‘nageslag van Abraham’ uit? (c) Watter vraag moet nog bespreek word?

18 Uit die voorgaande is dit duidelik dat God se oorspronklike voorneme met die aarde en die mensdom nog verwesenlik gaan word. En die vervulling van Bybelprofesieë, soos dié in Mattheüs hoofstuk 24, Markus hoofstuk 13, Lukas hoofstuk 21, 2 Timotheüs 3:1-5 en Openbaring 6:1-8, toon dat die tyd ophande is! Weens Satan se opstand en Adam en Eva se ongehoorsaamheid het Jehovah ’n hemelse beloning vir ’n bevoorregte groep gereël, ’n groep wat hy sal gebruik om sy oorspronklike voornemens te verwesenlik. Dit is slegs hulle wat “weer gebore” word. Saam met hulle Here en Meester, Jesus Christus, maak hulle die koninkryk uit waarvoor Jesus sy volgelinge leer bid het. Hulle is die ‘nageslag van Abraham’ waardeur “al die nasies van die aarde” geseën sal word.—Genesis 22:18; Galasiërs 3:29.

19 Ons het gesien waarom die Seun van God en sy Koninkryksmetgeselle “weer gebore” moes word, en wat hulle getal en huidige verpligtinge is. Daar bly egter nog die vraag: Wat is nou eintlik God se aandeel en die mens se aandeel in die “wedergeboorte”?

[Prent op bladsy 21]

By sy doop het Jesus die een geword wat gesalf is om koning van God se koninkryk te wees

[Prent op bladsy 24]

Jesus het vir sy getroue volgelinge gesê dat hulle ‘sy getuies moes wees tot aan die uiterste van die aarde’

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel