Uitbreiding by die “huis van God”
“SOU God werklik op die aarde woon?” het koning Salomo 3 000 jaar gelede gevra. “Kyk, die hemel, ja, die hoogste hemel kan U nie bevat nie, hoeveel minder hierdie huis wat ek gebou het” (1 Konings 8:27). Kan enige plek op aarde, in die lig van hierdie verklaring, tereg die “huis van God” genoem word?
Ja! In tientalle lande bedryf Jehovah se Getuies woonplekke bekend as Bethel, van die Hebreeuse woord wat “huis van God” beteken. Vrywilligerwerkers in die takkantore en drukkerye van Jehovah se Getuies woon in hierdie huise. Jehovah God woon natuurlik nie fisies in hierdie geboue nie, maar die mense daarin dien hom voltyds. Hierdie Bethelhuise is geheel en al aan God se diens gewy en verdien die naam Bethel, “huis van God”. Die grootste van die talle Bethelhuise wêreldwyd is in Brooklyn, New York, by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies.
Groei vereis uitbreiding en modernisering
Baie werk word verrig by die drukkery en kantore wat aan die Brooklynse Bethel verbonde is. Die Wagtoring en sy medetydskrif Ontwaak! word hier gepubliseer, tesame met ’n groot stroom Bybels en Bybelstudiehulpe in tientalle tale. Hiervoor is drukperse, bindtoerusting en kantoorpersoneel nodig, asook kombuis- en huiswerkers om die groot span vrywilligers te onderhou. Van die handjievol mense wat in 1879 begin het om Die Wagtoring uit te gee, het die Bethelgesin by die hoofkwartier teen 1982 tot ongeveer 2 000 aangegroei. Dit sluit studente en tydelike werkers in.
Die Brooklynse perskamer word tans vinnig gemoderniseer. Tot onlangs toe is die meeste drukwerk op 42 rolgevoerde hoogdrukperse gedoen, maar nou is daar vier moderne Harris-rubberdruk-perse in werking, en ’n vyfde word tans gemonteer. Wat sal van die ou hoogdrukperse word? Hierdie goed geboude en betroubare masjiene word tot rubber-drukperse omgebou. Twee van die hoogdrukperse sal gekombineer word om elke nuwe rubberdrukpers te maak. As die ombouing geslaagd is, sal hulle betroubare diens lewer by Getuie-drukkerye in ’n aantal lande rondom die wêreld.
Jehovah se seën op die uitbreiding in die perskamer het onlangs uit ’n onverwagte oord gekom (Spreuke 10:22). ’n Fabrieksopsiener vertel: “Ons het heel onverwags ’n brief van ’n groot drukkersfirma ontvang waarin hulle gesê het dat hulle ’n gebruikte drukpers aan ons wil skenk.” Die goeie gedrag van hulle Getuie-werknemers was ’n faktor by die maatskappy se besluit om die skenking te doen (Spreuke 22:1). Jehovah se Getuies het hierdie aanbod van ’n Levey-vierkleur-rubberdrukpers, met die vermoë om 50 000 eksemplare van Die Wagtoring of Ontwaak! per uur te druk, met dank aanvaar. Hierdie stewige masjien, wat in puik toestand is, word tans uitmekaargehaal sodat dit vervoer kan word na die Wagtoringplaas in die staat New York, waar Jehovah se Getuies ook drukwerk doen. Die 7-meterhoë pers is so groot dat die plafon van die Plaasfabriek op een plek gelig moes word om daarvoor plek te maak.
Die boekbindery, waar meer as 22 miljoen gebonde boeke en Bybels verlede jaar gebind is, word eweneens gemoderniseer. Die arbeidsbesparende lymbindmetode is besig om die ou handnaaiwerk te vervang. Tydens ’n onlangse proefneming het 12 man met behulp van lymbindtoerusting in vier uur net soveel gedoen as wat 40 man voorheen in agt uur gedoen het!
Die ou bindtoerusting kan egter nog jare lank gebruik word en word dus nie weggegooi nie. Van die toerusting word eerder aan Getuie-drukkerye in ander lande geskenk. Twee bindeenhede wat voorheen in Brooklyn gestaan het, is nou in Japan in gebruik. Twee ander bindeenhede is na Brasilië gestuur, waar ervare werkers van Brooklyn hulle geïnstalleer het. Vroeër vanjaar is ’n bindeenheid ook van Brooklyn af na Italië verskeep.
Opknapping van die Towers-hotel
Die werk by die Brooklynse Bethel het veral gedurende die afgelope 10 jaar vinnig gegroei, en dit het vereis dat addisionele verblyfplek gevind moes word. Vroeg in 1975 het die Genootskap die Towers-hotel gekoop, ’n 15-verdiepinggebou, 50 jaar oud, wat naby die ander Bethel-woongeboue geleë is. Op daardie tydstip was die tapyte deurgetrap, die pleister gebars en die verf aan die afdop, maar die gebou was struktureel nog goed. Dit was egter ’n reusetaak om die hotel nuut in te rig sodat dit aan Bethelvereistes voldoen.
Die Towers-hotel is nie net bolangs opgeknap nie. Deur die hele gebou is binnemure gesloop en nuwes gebou. ’n Groot deel van die loodgieterswerk moes vervang word. Al die pleister is van bestaande mure verwyder en vervang. Trouens, daar het 60 000 vate rommel uit die gebou gekom. Opmekaar gestapel, sal daardie vate 48 kilometer hoog staan!
Jehovah voorsien geskoolde werkers
Baie van die werk aan die Towers-hotel het geskoolde ambagsmanne vereis—loodgieters, elektrisiëns, skrynwerkers, skilders en pleisteraars. Daar was geweldig baie werk. Die totale oppervlakte wat geverf en gepleister moes word, was byvoorbeeld gelykstaande aan 60 rugbyvelde en hulle doelgebiede. Waar sou die geskoolde werkers vandaan kom?
Deur middel van sy gees het Jehovah God die werkers vir sy huis voorsien. Geskoolde Getuies van oor die hele Verenigde State het aangebied om by Bethel te kom werk en met die konstruksie te help. ’n Dakwerker het uit Michigan gekom, teëllêers uit Connecticut, ’n verfondernemer uit Florida, en nog talle ander. Hierdie ervare vakmanne het hulle ambagte geduldig aan gewillige jong Bethelliete geleer, wat hard gewerk en so gou geleer het dat besoekende ambagsmanne verstom was.
Sulke progressiewe opleiding is kenmerkend van Bethelbouwerk. Die bouopsiener by Bethel het onlangs ’n brief van ’n amptenaar van die New Yorkse Onderwysraad ontvang. Hierdie man het die Bethelbouery tydens die Towers-projek en ook tydens ’n meer onlangse projek kom besigtig. “Ek het die voorreg en die geleentheid gehad om taamlik indringende, informele onderhoude met julle mense te voer”, het hy geskryf. “Ek was verbaas om te vind dat jong manne met weinig of geen ondervinding in die ambagte, na ’n betreklik kort leertyd onder geskoolde en begrypende opsieners, in staat was om werk te verrig met die vaardigheid van ervare vakmanne. Dit het gou vir my duidelik geword dat elkeen van hulle die professionalisme, die verantwoordelikheidsin en die vasberadenheid gehad het om sy heel beste te lewer in sy toegewese werk.”
Behoort dit ons te verbaas? Nee, want het Jehovah God nie vir Besaleël en Oholiab met sy gees vervul toe hulle gehelp het met die bouwerk aan Sy “huis” in die woestyn nie? (Exodus 35:30-35). En wat van die manne wat onder hulle toesig gewerk het? Die Bybel sê: “Moses het Besaleël en Oholiab geroep en elkeen wat kunsvaardig was, in wie se hart die HERE wysheid gegee het; elkeen wie se hart hom opgewek het om aan die werk te gaan om dit klaar te maak” (Exodus 36:2). Vandag kom die “wysheid” van die jong vrywilligers wat by Jehovah se huis werk eweneens van Hom.
Sedert die werk aan die Towers-hotel in 1978 voltooi is, verskaf dit woonruimte en eetsale vir meer as 1 000 mense. Daar is was- en droogskoonmaakgeriewe, asook verskeie werkswinkels vir instandhouding en herstelwerk, ’n naaldwerk- en verstellingafdeling, ’n haarkappersalon en ’n groot nuwe sieke-afdeling. Die mense wat by die “huis van God” dien, is baie dankbaar vir hierdie uitstekende geriewe.
Meer kantoorruimte nodig
Die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., is ’n godsdiensgenootskap wat deur Jehovah se Getuies gebruik word om hulle bedieningswerk in die Verenigde State te bestuur. Die kantore van hierdie Genootskap was jare lank in verskillende geboue in die Bethel- en fabriekskompleks geleë. Teen die einde van die sewentigerjare het hierdie kantore te klein begin word.
Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies het toe besluit om ’n groot pakhuis om te skep tot ’n administratiewe gebou waarin al hierdie kantore gehuisves sal kan word. Dit was ’n stap wat van versiendheid getuig het. Nie alleen sou dit vroeëre kantoorruimte beskikbaar maak vir gebruik as wooneenhede nie, maar dit sou kommunikasie tussen die verskillende kantore verbeter omdat hulle nou almal onder een dak sou wees. Daar was nog ’n belangrike rede vir die stap.
Rekenaars het al hoe belangriker geword in baie aspekte van die Genootskap se werk. Maar grootskaalse rekenarisering is moeilik tensy die rekenaars naby die kantore kan wees wat van hulle gebruik maak. Die nuwe kantoorskikking maak dit moontlik.
Die gebou wat gekies is om in ’n kantoorblok omgeskep te word, was ’n 13-verdiepinggebou van gewapende beton wat in November 1969 van die Squibb-Farmaseutiese Maatskappy gekoop is. Daar was ses kleiner geboutjies, merendeels van hout, aan die hoofgebou vas, en elkeen het verdiepings op verskillende hoogtes gehad. Hierdie ou en ietwat lamlendige bygeboue is gesloop om plek te maak vir ’n nuwe toevoegsel van 11 verdiepings tot die hoofgebou.
Dit is geen geringe taak om ’n fabriekspakhuis in ’n moderne, energiebesparende kantoorblok te verander nie. Lekkende vensters is deur nuwe rame en geïsoleerde ruite vervang. Die nuwe getinte vensters is in die buitemuur van die gebou versink. Dit gee die venster ’n “oogbank” wat die warm somerson uithou, maar die winterson inlaat. Die verligting en ventilasie van die nuwe kantore word deur ’n rekenaar beheer, sodat ligte wat per abuis ná werk aan gelaat is outomaties afgeskakel word voordat hulle energie verkwis. Persone wat oortyd werk, bevind hulle soms onverwags in die donker, maar die nodige ligte kan natuurlik maklik weer aangeskakel word.
Energie- en geldbesparing
“Die stad New York se brandregulasies is so streng en vereis so baie outomatiese funksies in die geval van ’n brand dat die gebou in ieder geval ’n rekenaar nodig gehad het”, sê die operateur van die rekenaar. “Ons het ’n effens kragtiger stelsel geïnstalleer en kan nou ons elektrisiteitsverbruik elke uur kontroleer. As die rekenaar vind dat te veel krag gebruik word, kan dit minder noodsaaklike ligte en ander dinge outomaties afskakel om die verbruik ‘binne perke’ te hou. In slegs twee maande het ons met behulp van die rekenaar meer as $4 000 [R4 000] bespaar, en dit is maar net die begin!”
Die 12de verdieping van die gebou het ’n oop stoep van 3 meter reg rondom gehad. Om hierdie ruimte vir kantore te gebruik, is die oorspronklike buitemuur afgebreek en die dak verleng. Die nuwe dak was ’n solarium, of geboë, metaal-versterkte isoleerstof wat soos glas lyk. Party het gedink dat dit ’n kweekhuis is!
Binne is die gebou smaakvol en funksioneel ingerig. Diegene wat in die Genootskap se kantore werk, was baie ingenome met die ruimheid en gerief van die nuwe kantore toe hulle teen die tweede helfte van 1980 hulle intrek begin neem het.
Jehovah seën die bouwerk
Intussen het die groot aanbousel langs die kantoorblok vinnig opgeskiet. Dit was duidelik dat Jehovah die projek geseën het. “Alles het net reg verloop”, het die bouopsiener gesê. “Een van die wêreld se grootste boufirmas het ingestem om die raamwerk van die gebou op te rig en toe te laat dat ons spanne die binnewerk voltooi. Dit is heel buitengewoon, want hulle het beslis nie ons klandisie nodig gehad nie! Buitendien verkies ’n kontrakteur gewoonlik om beheer te hê oor al die werk, maar hulle was bereid om dinge op ons manier te doen en was baie hulpvaardig.
“Nog ’n faktor was die weer. Ons het in Oktober 1979 met die sloopwerk begin en die hele winter deur gewerk. In Januarie 1980 het ons die beton vir die fondament gestort. Ons kon nie vertragings weens gure weer bekostig nie, en jou waarlik, dit was die matigste winter in jare. Meer as een maal het die betonsubkontrakteurs vir ons gesê dat hulle dink dat ons Iemand moet ken wat in beheer van die weer is.
“Selfs wat die verkryging van permitte vir die gebou betref, het dit gelyk of Jehovah die ‘rompslomp’ vir ons uit die weg ruim. By een geleentheid het ons ’n vergadering met ons hoofkontrakteur gehou en moes ons hoor dat dit twee weke sou duur voordat ons sekere belangrike permitte sou kon kry. Stel jou hulle verbasing voor toe een van ons broers na die Stadsaal gegaan en nog voor die einde van die vergadering met die nodige permitte teruggekom het!
“Toe ons al ’n ent ver was met die werk aan die aanbousel, het een van ons bure ons voor die hof gedaag om ons bouwerk stop te sit. Omstreeks daardie tyd het ’n brandinspekteur opgemerk dat die loodgieter-subkontrakteur nagelaat het om ’n belangrike staanpyp vir brandbeskerming te installeer. Dit was Vrydag en die inspekteur het gesê dat hy ons sou dagvaar, wat beteken dat al die werk aan die gebou gestaak sou moes word, as die staanpyp nie teen Maandagoggend geïnstalleer was nie.
“So ’n onderbreking kon ons buurman die geleentheid gegee het wat hy wou hê om die bouery vir goed stop te sit! Dit het geweldige inspanning gekos om die staanpyp betyds te installeer, maar vyf van ons broers het daardie naweek een stryk deur gewerk om die kontrakteur se span te help om die werk klaar te kry. Vroeg Maandagoggend was die brandinspekteur verbaas om te sien dat die werk afgehandel was, en hy het toegelaat dat ons met die bouwerk voortgaan.
“Onnodig om te sê, die regstappe wat ons onvriendelike buurman probeer doen het om ons bouwerk te beëindig, het hopeloos misluk.”
Die gebou word betrek
In Desember 1981 het kantoorpersoneel die nuwe aanbousel begin betrek. Die rekenaars wat deur die skryf-, kuns- en fotosetafdelings gebruik word, is terselfdertyd van die fabriek, 800 meter daarvandaan, na die nuwe gebou verskuif. Altesaam 93 fabriekswerkers moes ook trek. Rekenaars word nou gebruik vir al die voorbereidingswerk aan die tydskrifte, soos die skryfwerk, verbetering, proeflesery en setwerk. Dit sal dus tyd bespaar en groter doeltreffendheid meebring as hierdie voorheen verspreide afdelings onder een dak is, naby die rekenaars wat deur hulle gebruik word.
Van die begin van hierdie jaar af word die Engelse uitgawes van Die Wagtoring en Ontwaak! ook in hulle geheel met behulp van rekenaars geset. “Die rekenarisering het ons reeds tyd bespaar”, berig ’n fabrieksopsiener. “Ons proefleeswerk is byvoorbeeld met die helfte verminder!” Namate meer van die Genootskap se skrywers hulle materiaal regstreeks by rekenaar terminale invoer, word baie sekretariële werk uitgeskakel. En ’n rekenaarstelsel vir bladuitleg sal die taak van die persklaarmakers grootliks vergemaklik. Party van die Genootskap se rekenaartoerusting is na bestelling ontwerp en gebou deur Getuies wat op die Wagtoringplaas werk. Die eerste van hierdie terminale wat deur Getuies self gebou is, het ’n paar maande gelede in Brooklyn aangekom om getoets te word.
Die Wagtoringgenootskap waardeer werklik die milde bydraes van Jehovah se Getuies in alle dele van die wêreld wat gehelp het om hierdie bouprojekte moontlik te maak. Hierdie geld word so spaarsaam moontlik gebruik, soos in die geval van die nuwe kantoorblok, wat ontwerp is om elke jaar duisende rande in energiekoste te bespaar. Die nuwe geriewe wat by die Brooklynse Bethel voorsien is, help die groot “gesin” aldaar in hulle lewensbelangrike taak om geestelike voedsel en leiding aan Jehovah se volk wêreldwyd te verskaf. Mag Jehovah aanhou om hulle werk te seën, asook die werk van sy hele volk, terwyl hulle hom in hierdie “laaste dae” met ’n volkome hart dien!—Mattheüs 22:36-38; 2 Timotheüs 3:1.
[Prent op bladsy 10]
Die “Towers”-gebou
[Prent op bladsy 13]
Die nuwe hoofkantoor van die Wagtoringgenootskap