Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w82 4/15 bl. 4-8
  • Hedendaagse Christelikheid—Hoeveel daarvan is eg?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hedendaagse Christelikheid—Hoeveel daarvan is eg?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • IS JY ’N WARE CHRISTEN?
  • Is jy al ooit teleurgestel deur ’n etiket?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
  • Gee die wêreld se godsdienste die regte leiding?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Wie is ware Christene?
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Het die Christelike godsdiens gefaal?
    Ontwaak!—2007
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1982
w82 4/15 bl. 4-8

Hedendaagse Christelikheid—Hoeveel daarvan is eg?

GEDURENDE die Tweede Wêreldoorlog het ’n Hollander, Hans van Meegeren, aan ’n Duitser ’n skildery verkoop wat na bewering die vroegste werk van die 17de-eeuse Nederlandse skilder Jan Vermeer was. Dit is allerweë as ’n meesterstuk beskou. Aan die einde van die oorlog is Van Meegeren in hegtenis geneem omdat hy hierdie kunsskat aan die vyand verkoop het. Stel jou die verbasing van sy beskuldigers voor toe hy beken het dat hy die “Vermeer-meester-stuk” vervals het. Hy het dit toe bewys deur in die gevangenis nog ’n “Vermeer” te skilder!

Wat leer ons hieruit? Dat ’n handtekening of ’n etiket nie noodwendig beteken dat iets eg is nie. Dit kan ’n vervalsing wees. In die geval van kunswerke kan dit bepaal word deur die tegniek en die materiale met gewaarmerkte oorsponklike werke te vergelyk en so die twyfelagtige skildery van die egte werk te onderskei.

Vandag gebruik miljoene der miljoene mense die Christelike “etiket” of “handtekening”. Miskien is jy een van hulle. Maar hoe kan jy seker wees of jy ’n egte, ware Christen is? Vergelyk in die eerste plek jou gedrag en oortuigings met die Bybelverslag oor die leringe van Jesus Christus en sy apostels. Ondersoek dan die Skrif om te sien hoe vroeë Christene daardie leringe toegepas het. Ontleed in die derde plek jou eie godsdiens om te kyk of dit ooreenkom met die voorbeeld wat Christus gestel het. Vra jouself nou af: Is my godsdiens waarlik Christelik? Beoefen ek dit?

Om jou met jou ontleding te help, sal ons nou ’n paar basiese gedragsterreine bespreek om vas te stel wat egte Christelikheid is.

OORLOGVOERING: Jesus Christus het gesê: “Almal wat die swaard neem, sal deur die swaard vergaan.”—Mattheüs 26:52.

Die apostel Paulus het geskryf: “Vergeld niemand kwaad vir kwaad nie: bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sover as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.” “Die liefde doen die naaste geen kwaad nie” (Romeine 12:17, 18; 13:10). Hy het ook gesê: “Ons [voer] die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie.”—2 Korinthiërs 10:3, 4.

Tertullianus, ’n Christenskrywer wat meer as 100 jaar na Christus se dood gebore is, help ons om te sien hoe baie van die vroeë Christene oorlogvoering en deelname daaraan beskou het: “Ek dink ons moet eers vasstel of oorlogvoering hoegenaamd toelaatbaar is vir Christene. . . . Sou dit geoorloof wees om die swaard tot beroep te maak, wanneer die Here verklaar dat hy wat die swaard gebruik deur die swaard sal vergaan? En kan die kind van vrede aan die oorlog deelneem as dit hom nie eens betaam om kragtens die wet te vervolg nie?”

Hoe het die Christendom gevaar in die rol van vredemaker en vredebewaarder? Hoe vaar die godsdiens waarin jy grootgeword het in hierdie opsig? Vra jouself af: Watter nasies het die twee wêreldoorloë aangestig wat in hierdie eeu soveel bloedvergieting en lyding veroorsaak het? Was dit Moslem-, Hindoe- of Boeddhistenasies? Nee, dit was die sogenaamde Christelike nasies van Europa, aangehits deur Katolieke en Protestantse politici en geestelikes. Hoe gepas is die kommentaar van die Britse omroeper en skrywer Malcolm Muggeridge dus, wat geskryf het: “ln die verskillende oorloë van ons tyd het die Kerk volgehou dat God aan ons kant is en dat hy sy onvoorwaardelike seën gee aan watter metodes van oorlogvoering die generaals en politici ook al gerade ag. . . . Een van die wysste verklarings van die stigter van die Christelike godsdiens was dat Sy koninkryk nie van hierdie wêreld is nie.”

MISDADIGHEID: Christus het geleer: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”—Mattheüs 22:39.

Watter normale persoon wil graag beroof, geslaan of vermoor word? Op grond hiervan kan geen ware Christen sulke misdade teen sy medemens pleeg nie, want Christus het gesê: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen.”—Mattheüs 7:12.

Die apostel Petrus het duidelike raad gegee: “Niemand van julle moet ly as moordenaar of dief of kwaaddoener . . . nie.”—1 Petrus 4:15.

Wat het Tertullianus te sê gehad oor Christelike gedrag in sy dag? “Was daar al ooit, in julle lang lyste van mense wat van allerlei gruwele aangekla is, ’n sluipmoordenaar, ’n sakkeroller, ’n man skuldig aan . . . verleiding, of die diefstal van baaiers se klere, wat gesê het dat hy die naam Christen dra? . . . Dit is altyd van julle mense dat die gevangenis vol is . . . Julle vind geen Christen daar nie, behalwe juis omrede hy een is; of as iemand om ’n ander rede daar is, is hy nie langer ’n Christen nie.”

Wat is die huidige toedrag van sake in die “Christelike” nasies ten opsigte van misdadigheid? Misdaadsyfers skiet die hoogte in, tronke is stampvol en in baie stede is mense bang om dit op straat te waag. Is dit nie waar dat baie boewe en kindermisdadigers nog die “Christenetiket” dra, soos blyk uit die feit dat hulle die Mis, of Kommunie, ontvang nie? Hoogmisse is al selfs vir bekende rampokkers opgedra. Daar word feitlik geen tugstappe gedoen om die kerk rein te hou nie. Getuig dit van ware Christelikheid?

ABORSIE: Hier kan ons weer Jesus se reël toepas: “Alles wat julle dan wil hê dat die mense aan julle moet doen, net so moet julle aan hulle ook doen.”—Mattheüs 7:12.

Wil jy graag sterf? Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het die Nazi’s miljoene mense in hulle konsentrasiekampe gedood. Sou jy een van hulle wou wees? Net soos daardie slagoffers het afgedryfde fetusse geen keuse nie, en hulle sterf elke jaar by die tienmiljoene. Die apostel Petrus se bevel geld hier: “Niemand van julle moet ly as moordenaar . . . nie.”—1 Petrus 4:15.

In hierdie verband is die kommentare van die tweede-eeuse Christene Tertullianus en Athenagoras ter sake: “In ons geval, daar moord eens en vir altyd verbied is, mag ons nie eens die fetus in die baarmoeder dood nie” (Tertullianus). “En hoe kan ons moord pleeg as ons sê dat die vroue wat medisyne gebruik om ’n aborsie te bewerkstellig aan moord skuldig is en voor God rekenskap sal moet gee vir die aborsie?” (Athenagoras).

Die aborsiesyfers wat vir die meeste “Christelike” lande in die Westerse wêreld aangegee word, is verbysterend. Die amptelike syfer vir aborsies in die V.S.A. gedurende 1978 alleen was byvoorbeeld 1 157 776! In Nederland en die Bondsrepubliek van Duitsland word daar geraam dat 25 persent van alle swangerskappe op wettige of onwettige aborsie uitloop. Die syfer vir Katolieke Frankryk is 50 persent. Wanneer ons die bogemelde verklarings van vroeë Christene met sulke skokkende statistiek vergelyk, kan ons met reg vra: Is hedendaagse “Christene” wat aborsies bewerkstellig, en die kerke wat die gebruik deur die vingers sien, werklik Christelik?

GESLAGSEDELIKHEID: Die stigter van die Christelike godsdiens het gesê: “Van binne, uit die hart van die mense, kom die slegte gedagtes, egbreuk, hoerery . . . losbandigheid . . . Al hierdie booshede . . . maak die mens onrein.”—Markus 7:21, 22.

Die Christensendeling Paulus stem saam dat sulke dinge ’n mens onrein maak, want hy skryf: “Geen hoereerders . . . of egbrekers of wellustelinge of sodomiete . . . sal die koninkryk van God beërwe nie.”—1 Korinthiërs 6:10.

Kom ons kyk weer wat die tweede-eeuse Christene te sê gehad het: “Dit is so ver van ons om promiskue geslagsomgang te bedryf dat dit onder ons nie eens geoorloof is om uit wellus na ’n vrou te kyk nie” (Athenagoras). “Die Christen beperk hom tot die vroulike geslag. . . . Die Christeneggenoot het niks te doen met enigeen behalwe sy eie vrou nie” (Tertullianus).

Het die hedendaagse Christendom die vroeë Christene se voorbeeld ten opsigte van sedelikheid gevolg? Is die ‘tegniek en materiale’ dieselfde as die oorsponklike? In hierdie verband is die vroeër aangehaalde Malcolm Muggeridge beweeg om te skryf: “Wat egskeiding, homoseksualiteit en die sogenaamde Nuwe Moraliteit betref, is daar ’n sterk stroming téén die tradisionele Christelike standpunt, dikwels met die oogluikende toelating van vooraanstaande kerkmanne.”

In die ryk van die Christendom vier hoerery, owerspel en homoseksualiteit oral hoogty. Die geslagsiektes wat daaruit voortspruit, neem nou pandemiese afmetings aan. Is dit die beeld van egte Christelikheid? Of bewys dit dat ons met ’n namaaksel, ’n walglike vervalsing, te doen het?

BETROKKENHEID BY DIE POLITIEK: Christus het van sy volgelinge gesê: “Hulle is nie van die wêreld nie, net soos Ek nie van die wêreld is nie.” Hy het ook voor Pilatus gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; . . . my koninkryk [is] nie van hier nie.”—Johannes 17:16; 18:36.

In antieke Rome was die politiek en die staatsgodsdiens nou verweef. Hoe het die vroeë Christene op daardie situasie gereageer? Die Encyclopœdia Britannica verduidelik: “Christene van die eerste drie eeue het die staatsgodsdiens van Rome ondubbelsinnig die rug toegekeer . . . Christene het hulleself beskou as burgers van die komende hemelse stad en as pelgrims en vreemdelinge op aarde . . . as lede van die Koninkryk van God . . . wat sy bande met hierdie verbygaande wêreld en derhalwe ook met die politieke orde verbreek het.”

Wat kan ons sê oor die hedendaagse Christendom en die politiek? Dat daar groot verdeeldheid heers. Daar is geestelikes wat verbonde is aan feitlik elke politieke party wat bestaan, van Katolieke priesters wat die Kommunisme in Spanje en Latyns-Amerika ondersteun tot Protestantse predikante wat in die Britse parlement dien of hulleself met die politieke regtervleuel in die Verenigde State vereenselwig. Ingeligte persone is terdeë bewus van die willose onderworpenheid van geestelikes, met weinig uitsonderings, aan Nazisme en Fascisme gedurende onlangse dekades in Duitsland, Italië en Spanje.

Daar is skeuringe in die Christendom se geledere, en die getroues is verdeeld ten opsigte van hulle politieke verbintenisse. Die twintigste-eeuse Spaanse skrywer en geleerde Miguel de Unamuno het volkome gelyk gehad toe hy geskryf het: “’n Christen se vaderland is nie van hierdie wêreld nie.” “Die Christelike godsdiens is apolities.” In teenstelling hiermee het die Britse joernalis Anthony Lejeune geskryf: “Die politieke priester is iets algemeens. . . . As die Kerk niks meer aan te bied het as die wêreld nie, waarom dan kerk toe gaan?”

En wat van die vleiende titels wat in so baie kerke vir die geestelikes gebruik word? Jesus het vir sy dissipels gesê: “Laat jul nie Rabbi [“my meester; my hoogheid”—dit herinner ons aan kerklike titels soos “dominee”, “eerwaarde”, “hoogeerwaarde”, ens.] noem nie, want een is julle leermeester: Christus, en julle is almal broeders. En julle moet niemand op die aarde julle vader noem nie, want een is julle Vader, Hy wat in die hemele is” (Mattheüs 23:8, 9). Dit is dus duidelik dat daar in die ware Christelike godsdiens geen onderskeid tussen geestelikes en leke moes wees nie.

DIE VERKONDIGING VAN DIE “GOEIE NUUS”: In sy Bergpredikasie het Jesus gesê: “Julle is die lig van die wêreld. . . . Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.”—Mattheüs 5:14-16.

Die apostel Paulus spoor Christene eweneens aan om in woord en in daad te skyn: “Laat ons dan gedurig deur Hom [Jesus] aan God ’n lofoffer bring, dit is die vrug van die lippe wat sy Naam bely” (Hebreërs 13:15). Dit is die voorreg en plig van elke volgeling van Christus om die Christelike “goeie nuus” te verkondig.

Het die vroeë Christene as ’n liggaam “sy Naam bely”? Of is hulle onmiddellik na die dood van die apostels die swye opgelê weens die totstandkoming van ’n klas geestelikes? Die volgende aanhaling uit dr. Neander se History of the Christian Religion and Church During the Three First Centuries behoort daardie vraag te beantwoord:

“Celsus [2de eeu G.J.], die eerste skrywer téén die Christelike godsdiens, dryf die spot met die feit dat arbeiders, skoenmakers, boere, die mees oningeligte en belaglikste onder die mense, ywerige predikers van die Evangelie is.”

Vra jouself nou hierdie indringende vrae af: Spoor my kerk my aan om my Christelike oortuigings aktief te verkondig, en berei dit my vir hierdie taak voor? Beweeg die gees van my Christelikheid my om ander mense by hulle huise te besoek om diegene te vind wat ’n behoefte aan ware Christelikheid het? Indien nie, watter Christelike godsdiens voer werklik daardie bevel van Christus uit?—Mattheüs 24:14; Handelinge 1:8; 1 Korinthiërs 9:16.

IS JY ’N WARE CHRISTEN?

Dit is noodsaaklik dat elke persoon wat bely dat hy ’n Christen is hierdie vraag met sekerheid beantwoord. Waarom? Omdat God se goedkeuring daarvan afhang. Christelikheid is nie bloot ’n opvatting of ’n etiket nie, maar ’n lewenswyse. Weerspieël jou lewenswyse die voorbeeld van Christus? Kom jou godsdiensbeoefening ooreen met dié van die vroeë Christene wat ons pas bespreek het?

Dit apostel Paulus nooi ons: “Ondersoek julself of julle in die geloof is; stel julself op die proef (2 Korinthiërs 13:5). Met hierdie doel voor oë nooi ons jou om die volgende kort lysie te beskou, en om die teksverwysings in jou eie Bybel na te slaan.

1. Neem jy deel aan nasionale of politieke bedrywighede wat verdeeldheid onder voorgewende Christene veroorsaak?—1 Korinthiërs 1:10; Johannes 18:36; Jakobus 1:27.

2. Hoe omskryf jy Christelike liefde?—1 Korinthiërs 13:4-8.

3. Probeer jy om in jou daaglikse omgang ware naasteliefde te toon? Hoe?—Mattheüs 22:39; Johannes 13:34, 35.

4. Is jy vriendelik, vol ontferming en vergewensgesind teenoor ander?—Efesiërs 4:31; Romeine 12:10.

5. Vermy jy leuens, diefstal, kullery en die gebruik van vuil en skeltaal in jou daaglikse lewe?—Efesiërs 5:3-5; 4:25-31.

6. Is jy geneig om te dink dat geslagsedelikheid van weinig belang is?—Markus 7:20-23.

7. Is jy geneig om te veel te eet en te drink?—Spreuke 23:20, 21; Efesiërs 5:18.

8. Probeer jy om die ware Christelike geloof deur woord en daad uit te dra?—Romeine 10:9, 10; 1 Korinthiërs 9:16.

Tot watter gevolgtrekking kom jy? Is daar werklik vandag ware Christene? Weet jy van mense wat opreg probeer om soos Christus te lewe en wat terselfdertyd ’n ware poging aanwend om hulle Christelike oortuiging en lewenswyse aan hulle naaste uit te dra? Is jou godsdiens waarlik Christelik, in leer sowel as in die praktyk? Of is dit bloot ’n aantreklike etiket of imponerende handtekening?

As jy hulle nie reeds persoonlik ken nie, doen ons aan die hand dat jy Jehovah se Getuies in jou omgewing van naderby beskou om te sien of hulle opreg probeer om aan die bogemelde Bybelse standaarde te voldoen. As jy nie weet waar om hulle te vind nie, sal ons jou met genoeë help om met hulle in verbinding te tree.—Jesaja 43:10-12; Handelinge 11:26.

[Lokteks op bladsy 6]

In die Christendom is daar vandag “’n sterk stroming téén die tradisionele Christelike standpunt, dikwels met die oogluikende toelating van vooraanstaande kerkmanne”

[Lokteks p bladsy 7]

’n Britse joernalis skryf: “Die politieke priester is iets algemeens . . . As die Kerk niks meer aan te bied het as die wêreld nie, waarom dan kerk toe gaan?”

    Afrikaanse publikasies (1975-2026)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2026 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel