Vasbeslote om Jehovah met al my krag te dien
Soos vertel deur Henry E. Atiemoh
MY VERHAAL begin in my geboorteland, Ghana. Dit was ’n Woensdagmiddag in Maart 1951. Twee jong Christene—Daniel S. Acquah en James K. Ameyaw—het gedurende die siësta aan my deur geklop. Vroeër daardie dag het Dan, my medewerker in die Kakaorehabilitasie-afdeling van die Departement van Landbou, gedurende die pouse ’n woordetwis met ’n groepie jongmanne in ons kantoor gehad. In die bus op pad huis toe het hy kortliks vir my vertel dat hulle gepraat het oor ’n hoer wat in hoofstuk 17 van die Bybelboek Openbaring beskryf word.
Ons het gegroet, en ek het net klaar geëet en gaan lê om ’n uiltjie te knip toe Dan met sy vriend James opgedaag het. Maar voordat ek vir julle vertel waartoe ons gesprek aanleiding gegee het, wil ek eers vir julle my agtergrond skets.
Godsdienstige agtergrond
My vader het die gewoonte gehad om die hele gesin na die woud te neem waar hy namens ons tot sekere gode gebid het. Aangesien ek die oudste seun in die gesin van vier dogters en ses seuns was, het my vader my by hierdie geleenthede altyd baie naby aan hom gehou.
Op die ouderdom van sewe is ek in die Presbiteriaanse Kerk gedoop sonder dat ek enige juiste kennis van die Bybel gehad het. Maar op skool het ons sekere Bybelpassasies uit die hoof geleer en opgesê en ook ’n paar Bybelverhale geleer. In 1946 is ek op die ouderdom van 15 in die kerk aangeneem en het ek my eerste en enigste Kommunie ontvang. Intussen het my vader ons van tyd tot tyd na die woud geneem om drankoffers uit te giet en hoenders ten behoewe van ons te offer. My gewete het my nie in die minste gepla nie aangesien baie ander gedoopte, nominale Christene ook voortgegaan het om aan sulke seremonies mee te doen.
Nadat ek in 1947 my middelbare skoolopleiding voltooi het, het ek ’n ruk lank na ’n handelskool gegaan en toe ’n sekulêre werk in Koforidua, Ghana, gekry. In 1950 het ek na Akkra verhuis om vir die Departement van Landbou te werk. Terwyl ek in daardie stad gewoon het, het ek nie kerk toe gegaan nie, maar wel nou en dan die Bybel gelees sonder om dit ooit werklik te verstaan totdat daardie twee Christene—Dan en James—my daardie onvergeetlike Woensdagmiddag besoek het.
Die gevolg van die vinnige leerstellige “stryd”
Eerstens, ek is maklik en gou “uitgeslaan” waar dit by die leerstelling oor die onsterflikheid van die siel kom. Dit was byvoorbeeld insiggewend om te leer dat die mens se oortreding of sonde tot die dood gelei het en dat die siel sterf (Esegiel 18:4, 20). By die dood keer diere sowel as mense tot stof terug.—Prediker 3:18-20.
Tweedens, ek is oortuigend “verslaan” waar dit kom by die leerstelling oor kinderdoop. Daar is uit die Bybel vir my gewys dat ’n persoon moet besluit om ’n dissipel van Jesus Christus te word voordat hy gedoop word (Mattheüs 28:19, 20). En weens hulle onontwikkelde geestesvermoëns is babas natuurlik nie in staat om tussen reg en verkeerd te onderskei of om dissipels te word nie.—Hebreërs 5:13, 14.
Ons bespreking daardie middag het ’n groot rol gespeel in die gebeure wat my uiteindelik beweeg het om liefde vir Jehovah God te bewys deur hom met al my krag te dien (Deuteronomium 6:5). Ek wou natuurlik destyds weet waar Dan en James die dinge geleer het wat hulle vir my vertel het. ‘By die Koninkryksaal’, het hulle gesê. Kon enigiemand soontoe gaan en luister? Die antwoord was Ja. Daardie Vrydag het ek dus besluit om na die Koninkryksaal te gaan om die Bybel goed te leer ken. Dan en James het my met breë glimlagte verwelkom, en ek is beïndruk deur die vraag-en-antwoord-Bybelbespreking. Ek het ’n verkeerde antwoord gegee, maar ek is nietemin deur die studiehouer geprys, en dit het my baie goed laat voel.
Omdat ek besluit het om die vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon, het ek gevra of daar een op Sondag sou wees. My vriende het Ja gesê, maar verduidelik dat hulle in die oggend van huis tot huis sou gaan om mense te nooi om die openbare vergadering daardie aand by te woon. Toe ek gevra het of ek hulle in daardie werk kon vergesel, het Dan Ja gesê. Ek het dus daardie dag saam met hom velddiens gedoen en ’n klomp strooibiljette versprei. Sedertdien kon ek nie ophou om tuis en by die werk vir ander van Bybelwaarhede te vertel nie.
Teenstand verduur
Een van my tantes was baie gekant teen my vaste voorneme om met Jehovah se Getuies te assosieer. Sy het gesê dat ek ’n Protestant moes bly en vir ons kerk se mense moes preek selfs al het ek die waarheid gevind. My antwoord was dat ek my hoorders na Jesus se getroue dissipels sou moes verwys en tog seker self ook teenwoordig moes wees om daardie nuwelinge te verwelkom. Sy was glad nie ingenome met my besluit nie, maar ek het nie eens daaraan gedink om van plan te verander nie.
Die volgende maand het ek my toewyding aan Jehovah op 29 April 1951 gesimboliseer deur in water gedoop te word by ’n kringbyeenkoms in Suhum, waar my tante gewoon het. Hierdie stap is gedoen sonder om ‘vlees en bloed te raadpleeg’ (Galasiërs 1:16). Drie maande later was daar ’n toespraak oor pionierdiens tydens die diensvergadering, en binne ’n week het ek besluit om ’n pionier (of voltydse Koninkryksverkondiger) te word. My pionierdiens het op 1 November 1951 begin. Omdat ek destyds 20 jaar oud was, het ek my voorgeneem om ten minste 20 jaar lank voltyds te dien om te vergoed vir die tyd sedert my kinderdae toe ek Jehovah nie geloof het nie.—Prediker 12:1.
My groter predikingsbedrywigheid het tot vuriger teenstand gelei, daar boodskappe na my vader gestuur is dat ek kranksinnig geword het, van my sekulêre werk af weggeloop het en met boeke en traktate in my hande deur die stad Akkra swerf. Hy het dus my ouer suster gestuur om uit te vind of die berigte waar is. Sy het ’n oortuigende getuienis uit die Bybel ontvang en ’n gunstige verslag aan my vader gestuur, al was sy ongelukkig oor die feit dat ek die Presbiteriaanse Kerk verlaat het.
Nadat ons ’n paar maande lank gewone pioniers was, het ek en my vriend Dan S. Acquah om spesiale pionierdiens aansoek gedoen. Terwyl ons op ’n antwoord gewag het, het ek ’n boodskap aan my ouers gestuur en vir hulle gesê dat ek moontlik na noordelike Ghana sou reis om die “evangelie” daar te verkondig. My vader het my persoonlik kom besoek om my te oorreed om nie te gaan nie en het aangebied om my te help om ’n huis te bou. Hy wou hê dat ek in Akkra moes preek en nie in die noorde nie. Hy het ook ’n getuienis ontvang, en ek het hom meegedeel dat ek reeds vir Jehovah gesê het: “Hier is ek, stuur my” (Jesaja 6:8). Ek het ook vir hom gesê dat as ek aan God getrou bly, ek eendag my eie huis sou bou en vir ewig sou lewe. (Vergelyk Jesaja 65:21, 22.) Toe my vader my vasberadenheid sien, het hy nie langer daarop aangedring dat ek van my besluit afsien nie, en dit het my bly gemaak om hom te hoor sê: “Niemand kan iemand anders verhoed om God se wil te doen nie.”
Ek bedank uit my sekulêre werk
Ons aansoeke om spesiale pionierdiens is goedgekeur. Ek het dus my bedanking ingedien. Tot my verbasing het die onderkommissaris van die Kakaore-habilitasie-afdeling en die hoofrekenmeester ’n onderhoud aangevra. Hulle het vir my gevra of ek ’n verhoging wou hê omdat ek getrou toesig gehou het oor die regering se skryfgoedmagasyn sonder enige verliese of tekorte. Ek het Nee gesê. Toe het die onderkommissaris my ’n brief laat lees waarin hy aanbeveel het dat ek opleiding ontvang om ’n afdelingshoof te word in plaas daarvan om ’n klerklike assistent te bly. Ek het hom opreg vir sy vriendelikheid bedank, maar gesê dat ek reeds my besluit geneem het. Hulle het my toe toegelaat om te gaan en ek het my loon ontvang, waarvan ek ’n deel gebruik het om ’n fiets vir my pionierdiens te koop. Dan het ook bedank, en baie van die werkers het gedink dat Bybelkennis ons kranksinnig gemaak het. Maar dit het ons nie gepla nie.
Ons waardeer die nuwe toewysing
Op 1 Augustus 1952 het ons begin om as spesiale pioniers in Navrongo in noordelike Ghana te dien. Daar het ons animiste, ’n paar Katolieke en enkele Moslems gevind, en uit liefde het ons vir almal getuig.
Ons het eers vir die Engelssprekende inwoners getuig. Maar hulle het nie juis die Koninkryksboodskap waardeer nie. Ons moes toe Kasem leer om die waarheid in die ore van die goedhartige boorlinge wat animisme beoefen het, te laat weerklink. Ons pogings is deur Jehovah geseën en ons het daarin geslaag om daardie taal te leer.
In 1954, nadat ’n gemeentetjie met omtrent 30 ywerige plaaslike verkondiger in Navrongo opgebou is, is Dan S. Acquah aangestel om kringwerk te doen. My nuwe pioniermaat was broer Opare Adu, vir wie ek die hooftolk in Kasem geword het. Teen die einde van 1956, toe ek ook kringwerk begin doen het, het die gemeente ’n hoogtepunt van 105 Koninkryksverkondigers bereik.
Ander diensvoorregte
Vroeg in 1958 het die Genootskap vir my en Dan genooi om die Wagtoring-Bybelskool Gilead in die Verenigde State saam by te woon. Dit was egter nie moontlik nie omdat ek ’n paar weke voor ons beplande vertrekdatum siek geword het en my appendiks moes laat uithaal. Die operasie is suksesvol sonder ’n bloedoortapping uitgevoer, en ek is twee weke later ontslaan.—Handelinge 15:28, 29.
Omdat ek my krag gou herwin het, het ek in 1958 die Goddelike Wil- Internasionale Byeenkoms in die stad New York bygewoon, toe Dan uit die 31 ste klas van Gilead-skool gegradueer het. Hy is na Sierra Leone gestuur. Nadat ek in Februarie 1959 as ’n student van die 32ste klas gegradueer het, is ek na Ghana teruggestuur om my kringwerk voort te sit.
In 1960 het ek ’n tydelike Betheltoewysing in die Wagtoringgenootskap se takkantoor in Ghana ontvang, waar ek 10 jaar gedien het, sewe jaar daarvan in die Twi-vertaalafdeling. My vreugde het toegeneem toe my jonger broers Nicholas en Edward die waarheid aangeneem het. Nicholas het gesterf, maar dit het gebeur terwyl hy getrou as die presiderende opsiener in een van die gemeentes in Akkra gedien het. Edward dien steeds as ’n aangestelde Christen-opsiener. Hy sien goed na sy verantwoordelikheid as die vader van drie kinders om terwyl hy in die spesiale pionierdiens aanbly.
’n Nabygeleë buitelandse toewysing
Nadat ek in 1970 die kringwerk hervat het, het die behoefte aan spesiale pioniers in die Ivoorkus groter geword. Ek het dadelik aansoek gedoen. Op 2 Desember 1972 het broer Daniel Anim en ek dus by die lughawe in Abidjan gearriveer. Twee dae later het ons met ons Franse taalkursus begin wat ons suksesvol aan die einde van die maand voltooi het.
Vroeg in Januarie 1973 het broer Anim en ek ons toewysing ontvang—Agboville, omtrent 90 kilometer van Abidjan af. Ons het voortdurend tot Jehovah gebid vir sy seën op ons pogings om Frans beter te praat om die “evangelie” beter aan die gasvrye mense van die Ivoorkus aan te bied. Ja, ons gebede is verhoor en ons geniet die predikingswerk in hierdie land.
Ek wil graag my waardering uitspreek vir die broederliefde en materiële steun wat ek ontvang het van sekere dierbare medegelowiges in Ghana sowel as die Ivoorkus. Ek is aldus gehelp om in die voltydse diens te bly. My dank gaan natuurlik hoofsaaklik aan Jehovah vir al hierdie weldade, aangesien hy die bron van ‘elke goeie gif en volmaakte gawe’ is.—Jakobus 1:17.
Sedert 1977 doen ek kringwerk in hierdie land. Nog ’n voorreg wat ek ontvang het, is om as ’n lid van die Ivoorkus se Takkomitee te dien. Ek dank en loof Jehovah God met my hele hart dat hy my die krag gegee het om hom nou al meer as 30 jaar voltyds te dien. Op 50 voel ek net so energiek soos ’n arend, en dit is my hoop om in die voltydse diens aan te bly (Jesaja 40:31). Maar wat die toekoms ook al inhou, dit is my voorneme om met al my krag tot Jehovah se lof en eer te dien.
[Venster op bladsy 24]
‘My suster het ’n gunstige verslag aan my vader gestuur, al was sy ongelukkig oor die feit dat ek die kerk verlaat het’